Jongmense—Aan wie se leringe gee julle gehoor?
‘Party sal van die geloof afval, deurdat hulle aandag skenk aan leringe van demone.’—1 TIMOTHEÜS 4:1, NW.
1. (a) Watter keuse het jongmense? (b) Hoe leer Jehovah mense?
DIE vraag wat hier aan jongmense gestel word, is: Aan wie se leringe gee julle gehoor? Dit gee te kenne dat julle as jongmense ’n keuse het. Die keuse is: Sal julle aan Goddelike onderrigting gehoor gee of die leringe van demone volg? Jehovah leer ons deur middel van sy Woord, die Bybel, sowel as deur die bediening van diegene wat hy as sy verteenwoordigers op aarde gebruik (Jesaja 54:13; Handelinge 8:26-39; Mattheüs 24:45-47). Maar is jy verbaas dat die demone ook mense leer?
2. Waarom is dit noodsaaklik om veral nóú teen die leringe van demone te waak?
2 Die apostel Paulus het geskryf dat “party in latere tydperke van die geloof sal afval, deurdat hulle aandag skenk aan misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone” (1 Timotheüs 4:1, NW). Aangesien ons in “die laaste dae” lewe wanneer Satan en sy demone besonder bedrywig is, kan jy ongetwyfeld sien waarom ons die vraag vra: Aan wie se leringe gee jy gehoor? (2 Timotheüs 3:1-5; Openbaring 12:7-12). Omdat Satan en sy demone so listig is en hulle sulke verloklike metodes gebruik, is dit noodsaaklik dat jy ernstig oor hierdie vraag nadink.—2 Korinthiërs 11:14, 15.
Die demone en hulle leringe
3. Wie is die demone, wat is hulle doelwit, en hoe probeer hulle dit bereik?
3 Die demone was vroeër engele van Jehovah, maar hulle het teen hulle Skepper in opstand gekom en sodoende Satan se trawante geword (Mattheüs 12:24). Hulle doelwit is om mense te verlei en hulle van God se diens af weg te lok. Om dit te bereik, gebruik die demone menslike leraars om ’n selfsugtige, onsedelike lewenswyse te bevorder wat deur Jehovah veroordeel word. (Vergelyk 2 Petrus 2:1, 12-15.) ’n Hersiening van hoe eens getroue engele demone geword het, sal jou help om hulle leringe sowel as die lewenswyse wat deur hierdie leringe bevorder word te identifiseer.
4. (a) Waarom het ongehoorsame engele in Noag se dag na die aarde toe gekom? (b) Wat het gedurende die Vloed met die goddelose engele en hulle kinders gebeur?
4 In die dae van Noag het sekere engele in so ’n mate tot die pragtige dogters van mense aangetrokke geraak dat hierdie geesskepsele hulle posisie in die hemel verlaat het om na die aarde toe te kom. As gevolg van hulle geslagsomgang met vroue is basterkinders voortgebring wat die Nefilim genoem is. Aangesien dit vir geesskepsele iets onnatuurliks is om met mense geslagsomgang te hê, was dít wat die ongehoorsame engele met daardie vroue gedoen het net so verkeerd soos die homoseksuele dade wat later deur die manne en seuns van Sodom gepleeg is (Genesis 6:1-4; 19:4-11; Judas 6, 7). Die engele se vrouens sowel as hulle basterkinders het in die vloedwaters omgekom, maar die goddelose engele het hulle gematerialiseerde vleeslike liggame afgelê en na die hemele teruggekeer waar hulle demone van Satan die Duiwel geword het.—2 Petrus 2:4.
5. Watter soort skepsele is die demone, en hoe probeer hulle God se wette ondermyn?
5 Kan jy, in die lig van hierdie geskiedkundige agtergrond, sien watter soort skepsele die demone werklik is? Hulle is seksperverte wat hierdie seksbehepte wêreld van agter die skerms manipuleer. Hoewel hulle nie meer as mense kan materialiseer nie, put hulle genot uit die seksuele perversiteite van diegene wat hulle op aarde verdorwe kan maak (Efesiërs 6:11, 12). Die demone probeer Jehovah se wette ten opsigte van kuisheid en sedelikheid ondermyn deur dit onnodig bekrompe te laat lyk. Hierdie goddelose engele staan geslagsonsedelikheid as ’n normale, genotvolle lewenswyse voor.
Hoe die leringe van demone bevorder word
6. Waarom moet dit ons nie verbaas dat die demone hulle leringe op ’n subtiele wyse bevorder nie?
6 Dit moet ons nie verbaas dat die demone hulle leringe op ’n subtiele wyse bevorder nie, want dit is die metode wat hulle leier, Satan die Duiwel, gebruik het toe hy Eva mislei het. Onthou dat hy met haar gepraat het asof hy haar wou help. “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” het Satan gevra. Toe het hy die dinge wat God gesê het op ’n listige wyse probeer ondermyn deur vir Eva te sê dat sy daarby baat sou vind as sy van die verbode boom sou eet. ‘As julle daarvan eet’, het die Duiwel belowe, ‘sal julle oë oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken’ (Genesis 3:1-5). Eva is aldus verlei, ja bedrieg, en was gevolglik aan God ongehoorsaam.—2 Korinthiërs 11:3; 1 Timotheüs 2:13, 14.
7. Watter uitwerking het die listige leringe van demone gehad, en watter waarskuwing hou dit in?
7 In onlangse tye is baie eweneens bedrieg. Die demone bevorder geslagsonsedelikheid op so ’n listige wyse dat baie wat dit voorheen veroordeel het dit nou aanvaar. Toe ’n bekende adviesrubriekskryfster in die Verenigde State byvoorbeeld ’n brief oor die kwessie van geslagsomgang tussen ongetroude mense geantwoord het, het sy geskryf: “Ek het nooit gedink ek sou my beskouing oor hierdie kwessie verander nie, maar ek is nou van mening dat paartjies wat dit ernstig oorweeg om te trou ’n paar keer saam vir ’n naweek moet weggaan om vas te stel of hulle by mekaar sal kan aanpas.” Toe het sy bygevoeg: “Ek kan nie glo ek het dit geskryf nie!” Selfs sý kon nie glo dat sy hoerery aanbeveel het nie, maar sy het! Dit is duidelik dat ons op ons hoede moet wees dat die leringe van demone nie ons beskouing van gebruike wat deur God veroordeel word, beïnvloed nie.—Romeine 1:26, 27; Efesiërs 5:5, 10-12.
8. (a) Hoe word die woord “wêreld” in die Bybel gebruik? (b) Wie heers oor die wêreld, en hoe moet Jesus se volgelinge die wêreld beskou?
8 Ons moet nooit vergeet dat Satan “die owerste van hierdie wêreld” is nie. Trouens, die apostel Johannes het gesê dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (Johannes 12:31; 1 Johannes 5:19). Jesus het weliswaar partykeer die woord “wêreld” gebruik om na die hele mensdom te verwys (Mattheüs 26:13; Johannes 3:16; 12:46). Maar hy het meer dikwels die woord “wêreld” gebruik om na die hele georganiseerde mensegemeenskap buite die ware Christengemeente te verwys. Jesus het byvoorbeeld gesê dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld” (die onregverdige mensegemeenskap) moet wees nie en dat die wêreld hulle sal haat omdat hulle geen deel van die wêreld is nie (Johannes 15:19, NW; 17:14-16, NW). Die Bybel het ook gewaarsku dat ons nie vriende moet word van hierdie wêreld waaroor Satan heers nie.—Jakobus 4:4.
9, 10. (a) Deur watter wêreldse dinge word onbetaamlike seksuele begeertes opgewek? (b) Hoe kan ’n mens vasstel wie agter die dinge sit wat mense deur middel van die wêreld se vermaak geleer word?
9 Die apostel Johannes het hierdie vermaning gegee: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie.” Hy het ook gesê: “Alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie” (1 Johannes 2:15, 16). Dink ’n bietjie hieroor. Wat is daar vandag in die wêreld wat verkeerde begeertes, byvoorbeeld vir ongeoorloofde geslagsomgang, opwek? (1 Thessalonicense 4:3-5). Wat van baie van die wêreld se musiek? ’n Kaliforniese polisie-proefbeampte het gesê: “Basies leer die musiek jou dat jy nie na jou ouers hoef te luister nie en dat jy jou lewe moet lei soos jy wil.” Herken jy die bron van die leringe wat deur sulke musiek oorgedra word?
10 Onthou dat Satan in werklikheid vir Eva gesê het: ‘Jy mis iets. Lei jou lewe soos jý wil. Besluit self wat goed en wat sleg is. Jy hoef nie na God te luister nie’ (Genesis 3:1-5). Is dit nie dieselfde soort boodskap wat deur baie van die wêreld se musiek oorgedra word nie? Maar die demone se leringe word nie net in musiek oorgedra nie. Hulle gebruik ook televisieprogramme, rolprente en video’s om hulle leringe te bevorder. Waarom sê ons so? Wel, die kommunikasiekanale van die wêreld bied vermaak aan wat die indruk gee dat die sedelike leringe van God ’n mens te veel inperk. Dit staan hoerery voor deur dit te beklemtoon en dit as iets begeerliks voor te stel.
11. Wat leer televisie mense dikwels ten opsigte van sedes?
11 Die tydskrif U.S.News & World Report het gesê: “In 1991 het die drie [Amerikaanse] televisiestasies meer as 10 000 sekstonele gedurende prima tyd vertoon; vir elke toneel waar geslagsgemeenskap tussen getroude paartjies uitgebeeld is, het die televisiestasies 14 tonele van seks buite die huwelik vertoon.” Wat dink jy leer televisie mense as dit in een jaar meer as 9 000 tonele van ongeoorloofde geslagsomgang gedurende prima tyd vertoon? Barry S. Sapolsky, medeskrywer van die verslag “Seks op primatydtelevisie: 1979 teenoor 1989”, sê: “As adolessente jare lank op TV sien hoe mense flankeer of hulle aan seksueel eksplisiete gedrag skuldig maak, sal hierdie duisende beelde deur die jare heen hulle leer dat seks aangenaam—en sonder enige gevolge—is.” Dit ly geen twyfel nie: Die wêreld se vermaak leer jongmense dat daar geen reëls is nie, dat hoerery aanvaarbaar is en dat daar geen slegte gevolge is wanneer ’n mens ’n lewenswyse volg wat deur God veroordeel word nie.—1 Korinthiërs 6:18; Efesiërs 5:3-5.
12. Waarom hou die wêreld se vermaak veral vir jong Christene gevaar in?
12 Die wêreld se musiek, rolprente, video’s en televisieprogramme word op so ’n wyse aangebied dat dit by jongmense byval sal vind. Dit bevorder die verdorwe leringe van demone! Maar moet dit ons verbaas? Dink daaroor. As valse godsdiens en die politiek deel van Satan se wêreld uitmaak—en dit ly geen twyfel dat dit die geval is nie—sal dit dan nie dwaas wees om te glo dat die vermaak wat deur die wêreld aangebied word vry van demooninvloed is nie? Jongmense, veral júlle moet daarteen waak dat “die wêreld rondom julle julle nie in sy vorm druk nie”.—Romeine 12:2, The New Testament in Modern English, deur J. B. Phillips.
Ondersoek jouself
13. Watter selfondersoek moet ons doen?
13 Dit is nie net jou spraak wat toon aan wie se leringe jy gehoor gee nie, maar ook jou dade (Romeine 6:16). Vra jou dus af: ‘Word my gesindheid en my lewenswandel in ’n groot mate beïnvloed deur wat ek deur middel van die wêreld se propaganda-kanale leer? Is dit moontlik dat die leringe van die demone my lewe beïnvloed?’ Om jou te help om sulke vrae te beantwoord, kan jy gerus die hoeveelheid tyd en krag wat jy daaraan wy om die Bybel te bestudeer, Christelike vergaderinge by te woon en met ander oor God se Koninkryk te praat, vergelyk met die hoeveelheid wat jy daaraan bestee om TV te kyk, na musiek te luister of aan jou gunstelingsport of aan soortgelyke bedrywighede deel te neem. Aangesien soveel—ja, in werklikheid jou lewe—op die spel is, moet jy jouself eerlik ondersoek.—2 Korinthiërs 13:5.
14. Wat sal ’n uitwerking op ons geestelike welsyn hê, en watter belangrike feit moet ons in gedagte hou?
14 Jy is ongetwyfeld daarvan bewus dat die materiële voedsel wat jy eet ’n uitwerking op jou fisiese gesondheid het. Dít waarmee jy jou verstand en hart voed, sal eweneens ’n uitwerking op jou geestelike welsyn hê (1 Petrus 2:1, 2). Hoewel jy jouself kan bedrieg oor die dinge waarin jy werklik belangstel, kan jy ons Regter, Jesus Christus, nie bedrieg nie (Johannes 5:30). Vra jou dus af: ‘Sou ek, as Jesus op aarde was, verleë voel as hy sou instap en my musiek moes hoor of moes sien waarna ek kyk?’ Die feit is egter dat Jesus ons wel sien en ons werke ken.—Openbaring 3:15.
Weerstaan die leringe van demone
15. Waarom moet Christene hard stry om die leringe van demone te weerstaan?
15 Die demone oefen geweldige druk op jongmense uit om aan hulle leringe gehoor te gee. Hierdie bose geeste bied oënskynlik ’n lewe van onmiddellike bevrediging aan—’n lewe van pret en plesier. Om God te behaag, het Moses van die ou tyd die geleentheid verwerp “om ’n tyd lank die genot van die sonde” as ’n prominente lid van Farao se huishouding te hê (Hebreërs 11:24-27). Dit is nie maklik om die dinge wat die demone aanbied te verwerp nie, en daarom moet ’n mens hard stry om te doen wat reg is. Dit is veral so omdat ons sonde oorgeërf het en ons hart dikwels ’n sterk begeerte het om te doen wat sleg is (Genesis 8:21; Romeine 5:12). Selfs die apostel Paulus moes vanweë sondige neigings streng met homself wees en nie toelaat dat sy vleeslike begeertes die oorhand kry nie.—1 Korinthiërs 9:27; Romeine 7:21-23.
16. Hoe kan jongmense die druk weerstaan om hulle aan onsedelike gedrag skuldig te maak?
16 Hoewel jy in die versoeking kan kom om ‘die meerderheid te volg in verkeerde dinge’ kan God jou help om die druk te weerstaan wat jou portuurs op jou uitoefen om hulle verkeerde weg te volg (Exodus 23:2; 1 Korinthiërs 10:13). Maar jy moet God se riglyne volg en sy woord in jou hart bewaar (Psalm 119:9, 11). ’n Mens moet besef dat wanneer jongmense hulle afsonder hulle geslagsdrange in so ’n mate geprikkel kan word dat hulle God se wet oortree. “Wanneer ek en my kêrel alleen is, wil my liggaam een ding doen terwyl my brein vir my sê om ’n ander te doen”, het een meisie erken. Erken dus jou beperkings en besef dat jou hart bedrieglik is (Jeremia 17:9). Moenie jou afsonder nie (Spreuke 18:1, NW). Stel beperkings op liefdeblyke. En iets wat van besondere belang is, is om slegs met diegene noue omgang te hê wat Jehovah liefhet en wat ’n diepe eerbied vir sy wette het.—Psalm 119:63; Spreuke 13:20; 1 Korinthiërs 15:33.
17. Wat kan jong Christene help om die krag te verkry om die leringe van demone te weerstaan?
17 ’n Noukeurige studie van Christelike publikasies wat geskryf is om jou geestelik te versterk, sal jou help. Dink byvoorbeeld aan die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk en die hoofstuk “Die stryd om te doen wat reg is” in die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe. As jy die skriftuurlike riglyne wat voorsien word diep in jou verstand en hart laat insink, sal dit jou versterk. ’n Feit wat jy nooit uit die oog moet verloor nie, is dat dit in hierdie demoonbeheerde wêreld nie maklik is om te doen wat reg is nie. Jy moet dus hard stry (Lukas 13:24). Bou jou geestelike krag op. Moenie soos die swak, vreesagtige mense wees wat die stroom volg nie.
Put voordeel uit Goddelike onderrigting
18. Wat is sommige van die voordele wat dit inhou as ons aan Goddelike onderrigting gehoor gee?
18 ’n Mens moet ook onthou dat jy nooit iets nuttigs sal verbeur as jy aan Jehovah se onderrigting gehoor gee nie. Hy het jou werklik lief, en dit is waarom hy “jou leer om jouself te bevoordeel” (Jesaja 48:17, NW). Gee dus gehoor aan wat Jehovah jou leer, en dan sal jy die hartseer van ’n slegte gewete, die verlies van selfrespek, ongewenste swangerskappe, seksueel oordraagbare siektes of soortgelyke tragedies vermy. Jehovah is verheug wanneer sy knegte hom van ’n antwoord voorsien op Satan se bewering dat mense nie onder beproewing aan God getrou sal bly nie (Job 1:6-12). As jy Jehovah se hart verbly deur getrou aan hom te wees, sal jy behoue bly wanneer hy sy oordeel aan hierdie wêreld voltrek, terwyl almal wat sy wette met minagting verwerp, sal omkom.—Spreuke 27:11; 1 Korinthiërs 6:9, 10; 1 Johannes 2:17.
19. Hoe kan dit ons tot nut strek as ons met diegene omgaan wat die voordele van Jehovah se onderrigting waardeer?
19 As jy noue omgang het met diegene wat waardering toon vir wat Jehovah vir hulle doen, kan jy uit hulle ondervinding leer. Iemand wat voorheen aan dwelms verslaaf was en ’n onsedelike lewe gelei het, het verduidelik: “As ek nie na Jehovah geluister het nie, sou ek nou dood gewees het. Die man met wie ek sou getrou het, is dood aan vigs. Al my vorige wêreldse vriende is óf dood aan vigs óf is besig om dood te gaan. Ek sien hulle dikwels op straat, en ek dank Jehovah elke dag vir sy wette wat sy volk lei en ons heilig sal hou as ons hulle maar net toepas. Ek het nog nooit in my lewe soveel geluk, tevredenheid en gemoedsrus ervaar nie.” Waarlik, as ons gehoor gee aan wat Jehovah ons leer, strek dit ons altyd tot voordeel!
Maak die regte keuse
20, 21. (a) Tussen watter twee weë moet jongmense kies? (b) Watter blywende voordeel sal ’n mens geniet as jy aan Goddelike onderrigting gehoor gee?
20 Jongmense, ons spoor julle aan: Maak die regte keuse deur Jehovah te dien. Wees dan vasbeslote om by dié besluit te bly (Josua 24:15). ’n Mens kan eintlik net een van twee weë kies. Jesus het gesê dat daar ’n breë pad is—die maklike pad waarop mense doen wat hulle behaag. Dit is ’n pad wat doodloop, ’n pad wat na vernietiging lei. Die ander pad is smal. In hierdie losbandige, demoonbeheerde wêreld is dit ’n moeilike pad om op te wandel. Maar diegene wat op hierdie pad wandel, sal uiteindelik in God se wonderlike nuwe wêreld ingaan (Mattheüs 7:13, 14). Watter pad gaan jy kies? Aan wie se leringe gaan jy gehoor gee?
21 Jehovah laat die keuse aan jou oor. Hy probeer jou nie dwing om hom te dien nie. “Die lewe en die dood . . . het ek jou voorgehou”, het God se profeet Moses gesê en toe hierdie aansporing bygevoeg: “Kies dan die lewe.” ’n Mens maak hierdie keuse “deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang” (Deuteronomium 29:2; 30:19, 20). Mag jy wyslik die keuse maak om aan Goddelike onderrigting gehoor te gee en die ewige lewe in God se glorieryke nuwe wêreld geniet.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wie is die demone, en wat leer hulle mense?
◻ Hoe bevorder die demone vandag hulle leringe?
◻ Hoe kan ’n mens die leringe van die demone weerstaan?
◻ Watter voordele sal jy geniet as jy aan Jehovah se onderrigting gehoor gee?
[Prent op bladsy 16]
Voor die Vloed het die ongehoorsame engele en hulle kinders geweld en losbandigheid bevorder
[Prent op bladsy 18]
Sou jy verleë voel as Jesus jou gunstelingmusiek moes hoor?