Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 5/15 bl. 10-15
  • Ouers, julle kinders het spesiale aandag nodig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ouers, julle kinders het spesiale aandag nodig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Daaglikse aandag van kleins af
  • Die spesiale aandag wat nodig is
  • Koester julle tyd saam
  • ’n Ryk beloning
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ouers—Bereik julle kind se hart van kleins af
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Ouers, skep behae in julle kinders
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 5/15 bl. 10-15

Ouers, julle kinders het spesiale aandag nodig

“Jou kinders [is] soos olyfboompies rondom jou tafel.”—PSALM 128:3.

1. Hoe kan die kweek van plante en die grootmaak van kinders met mekaar vergelyk word?

KINDERS groei en ontwikkel in baie opsigte soos plante. Dit is dus nie verbasend nie dat die Bybel van ’n man se vrou as “’n vrugbare wingerdstok” praat en dat dit sy kinders met “olyfboompies rondom [sy] tafel” vergelyk (Psalm 128:3). ’n Boer sal jou vertel dat dit nie maklik is om jong gesaaides te kweek nie, veral nie wanneer die klimaat en die toestand van die grond ongunstig is nie. Dit is in hierdie kritieke “laaste dae” eweneens baie moeilik om kinders groot te maak sodat hulle goed aangepaste, godvresende volwassenes sal word.—2 Timotheüs 3:1-5.

2. Wat is gewoonlik nodig om ’n goeie oes voort te bring?

2 As ’n boer ’n goeie oes wil hê, het hy vrugbare grond, warm sonskyn en water nodig. Hy moet nie alleen die grond bewerk en onkruid uitroei nie, maar ook plae bestry en ander beskermende sorg voorsien. Daar sal dalk tot en met die oestyd probleme wees. Hoe teleurstellend is dit tog wanneer die oes ’n mislukking is! Maar hoe tevrede kan ’n boer tog wees wanneer hy ná veel harde werk ’n goeie oes kan insamel!—Jesaja 60:20-22; 61:3, NAV.

3. Hoe vergelyk plante en kinders wat belangrikheid betref, en watter soort aandag behoort kinders te ontvang?

3 ’n Suksesvolle, produktiewe menselewe is ongetwyfeld kosbaarder as ’n boer se oes. Dit is derhalwe nie verbasend nie dat dit selfs meer tyd en inspanning kan verg om ’n kind met welslae groot te maak as om ’n goeie oes voort te bring (Deuteronomium 11:18-21). ’n Jong kind wat in die lewenstuin geplant word, kan selfs in ’n wêreld vol verdorwe sedelike waardes geestelik groei en floreer as hy met liefde opgevoed en gekoester word en daar vir hom heilsame perke gestel word. Maar as die kind mishandel of onderdruk word, sal hy innerlik kwyn en moontlik geestelik sterf. (Kolossense 3:21; vergelyk Jeremia 2:21; 12:2.) Ja, alle kinders het spesiale aandag nodig!

Daaglikse aandag van kleins af

4. Watter soort aandag het kinders “van kleins af” nodig?

4 Ouers moet ’n pasgebore baba feitlik ononderbroke aandag gee. Maar het die baba daagliks net fisiese of materiële sorg nodig? Die apostel Paulus het aan God se kneg Timotheüs geskryf: ‘Jy ken van kleins af die heilige Skrifte wat jou wys kan maak tot saligheid’ (2 Timotheüs 3:15). Die ouerlike aandag wat Timotheüs ontvang het, was dus, selfs van kleins af, ook van ’n geestelike aard. Maar wat word bedoel met ‘van kleins af’?

5, 6. (a) Wat sê die Bybel oor ongebore babas? (b) Wat toon dat ouers oor die welsyn van die ongebore kind besorg moet wees?

5 Die Griekse woord wat Paulus hier gebruik het (breʹfos), word ook met verwysing na ’n ongebore kind gebruik. Elisabet, die moeder van Johannes die Doper, het vir haar bloedverwant Maria gesê: “Toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie [breʹfos] in my skoot van vreugde opgespring” (Lukas 1:44). Daar word dus selfs na ongebore babas as kindertjies verwys en die Bybel toon dat hulle op bedrywighede buite die baarmoeder kan reageer. Behels voorgeboortelike sorg, iets wat vandag dikwels aangemoedig word, dus ook dat ’n mens na die ongebore baba se geestelike welsyn moet omsien?

6 Dit is iets wat in ag geneem moet word, aangesien bewyse toon dat die dinge wat die ongebore baba hoor óf ’n goeie óf ’n slegte uitwerking op hom kan hê. Een dirigent het gevind dat verskeie musiekstukke wat hy geoefen het, veral die dele vir die tjello, om die een of ander rede bekend geklink het. Toe hy die name van die musiekstukke aan sy ma, ’n professionele tjellis, gemeld het, het sy gesê dat dit die einste musiekstukke was wat sy geoefen het toe sy hom verwag het. Ongebore babas kan insgelyks benadeel word wanneer hulle ma’s die gewoonte het om na TV-strooisages te kyk. ’n Mediese tydskrif het gevolglik van ’n “fetale strooisage-verslawing” gepraat.

7. (a) Hoe het baie ouers al na die welsyn van hulle ongebore kind omgesien? (b) Watter vermoëns het ’n kind?

7 Baie ouers wat besef hoe nuttig positiewe stimulering vir ’n baba is, begin selfs voor hulle kind se geboorte vir hom te lees, met hom te praat en vir hom te sing. Jy kan dit ook doen. Hoewel jou baba nie die woorde verstaan nie, sal jou strelende stem en liefdevolle stemtoon beslis ’n goeie uitwerking op hom hê. Ná die geboorte sal die kindjie jou woorde, dalk veel vroeër as wat jy dink, begin verstaan. Binne ’n kwessie van slegs twee of drie jaar leer ’n kind ’n ingewikkelde taal deur net daaraan blootgestel te word. ’n Baba kan ook die “suiwer taal” van Bybelwaarheid begin leer.—Sefanja 3:9, NW.

8. (a) Wat bedoel die Bybel klaarblyklik wanneer dit sê dat Timotheüs die heilige Skrifte “van kleins af” geken het? (b) Wat is in Timotheüs se geval waar bewys?

8 Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat Timotheüs ‘van kleins af die heilige Skrifte geken het’? Hy het klaarblyklik bedoel dat Timotheüs geestelike opvoeding ontvang het vandat hy ’n baba was, en nie net van sy kinderjare af nie. Dit strook met die betekenis van die Griekse woord breʹfos, wat gewoonlik na ’n pasgebore baba verwys (Lukas 2:12, 16; Handelinge 7:19). Vandat hy kon onthou, het Timotheüs geestelike onderrig van sy moeder Eunice en sy grootmoeder Loïs ontvang (2 Timotheüs 1:5). Die gesegde: ‘Buig die boompie terwyl dit nog jonk is’, het ongetwyfeld in Timotheüs se geval gegeld. Hy is ‘opgelei ooreenkomstig die weg vir hom’ en het as gevolg daarvan ’n voorbeeldige kneg van God geword.—Spreuke 22:6, NW; Filippense 2:19-22.

Die spesiale aandag wat nodig is

9. (a) Wat moet ouers nie doen nie, en waarom nie? (b) Wat moet ouers doen namate ’n kind ontwikkel, en op watter voorbeeld moet hulle ag slaan?

9 Kinders is ook soos plante in die sin dat nie almal dieselfde kenmerkende eienskappe het nie, en hulle reageer ook nie almal positief op dieselfde soort versorging nie. Verstandige ouers sal die verskille in aanmerking neem en nie een kind met ’n ander vergelyk nie. (Vergelyk Galasiërs 6:4, NAV.) As jy wil hê dat jou kinders eendag deugsame volwassenes moet wees, moet jy op hulle besondere karaktertrekke let en hulle help om die goeies te ontwikkel en die slegtes uit te roei. Gestel jy bespeur ’n swakheid of ’n verkeerde neiging, dalk ’n neiging tot oneerlikheid, materialisme of selfsug? Stel dit op ’n liefdevolle wyse reg, net soos Jesus die swakhede van sy apostels reggestel het (Markus 9:33-37). Dit is veral belangrik dat elke kind gereeld vir sy sterk punte en goeie eienskappe geprys word.

10. Wat het kinders veral nodig, en hoe kan dit aan hulle gegee word?

10 Kinders het veral liefdevolle persoonlike aandag nodig. Jesus het, selfs gedurende die besige laaste dae van sy bediening, tyd ingeruim om kindertjies sulke spesiale aandag te gee (Markus 10:13-16, 32). Ouers, volg gerus daardie voorbeeld! Maak op ’n onselfsugtige wyse tyd om by julle kinders te wees. En moenie skaam wees om vir hulle te wys dat julle hulle werklik liefhet nie. Neem hulle in julle arms, soos Jesus gedoen het. Gee hulle hartlike, liefdevolle drukkies en soentjies. Toe ouers van goed aangepaste jong volwassenes gevra is watter raad hulle ander ouers kan gee, was die volgende van die algemeenste antwoorde: ‘Betoon oorvloedige liefde’, ‘bring tyd saam deur’, ‘kweek wedersydse respek aan’, ‘luister werklik na hulle’, ‘gee leiding sonder om te preek’ en ‘wees realisties’.

11. (a) Hoe moet ouers die voorsiening van spesiale aandag aan hulle kinders beskou? (b) Wanneer kan ouers kosbare kommunikasie met hulle kinders geniet?

11 Dit kan baie vreugde verskaf om sulke spesiale aandag te voorsien. Een suksesvolle ouer het geskryf: “Toe ons twee seuns klein was, was dit ’n genot om hulle vir slapenstyd gereed te kry, vir hulle te lees, hulle in die bed te sit en saam met hulle te bid.” Sulke tye van samesyn bied geleenthede vir kommunikasie wat vir beide ouer en kind bemoedigend kan wees. (Vergelyk Romeine 1:11, 12.) Een egpaar het geluister terwyl hulle driejarige gevra het dat God vir “Wally” seën. Hy het elke aand vir “Wally” gebid, en die ouers was baie bemoedig toe hulle besef het dat hy eintlik gebid het vir die broers in Malawi, wat destyds vervolging ondergaan het. Een vrou het gesê: ‘Toe ek maar vier was, het my ma my gehelp om tekste te memoriseer en Koninkryksliedere te sing terwyl ek op ’n stoel gestaan en skottelgoed afdroog het en sy dit gewas het.’ Kan jy aan tye dink wanneer jy kosbare kommunikasie met jou kinders kan geniet?

12. Wat sal verstandige Christenouers aan hulle kinders voorsien, en watter metodes kan gebruik word?

12 Verstandige Christenouers maak seker dat ’n gereelde studieprogram gevolg word. Kan julle, hoewel julle waarskynlik ’n formele vraag-en-antwoord-metode gebruik, tot genotvolle kommunikasie bydra deur die studiesessies, veral vir jonger kinders, aan te pas? Julle kan byvoorbeeld die kinders prentjies van voorvalle in die Bybel laat teken, Bybelverhale vertel of na ’n verslag luister wat julle die kind gevra het om voor te berei. Maak God se Woord so interessant as moontlik vir jou kinders sodat hulle ’n verlange daarna kan ontwikkel (1 Petrus 2:2, 3, NW). Een vader het gesê: ‘Toe die kinders jonger was, het ons saam met hulle op die vloer rondgekruip en bekende Bybelkarakters in geskiedkundige voorvalle uitgebeeld. Die kinders het dit terdeë geniet.’

13. Wat is die waarde van oefensessies, en wat kan julle gedurende hierdie sessies oefen?

13 Oefensessies lei ook tot waardevolle kommunikasie omdat dit kinders help om hulle op werklike situasies in die lewe voor te berei. Een van die Kusserow-kinders—waarvan al 11 tydens die Nazi-vervolging getrou aan God gebly het—het aangaande haar ouers gesê: “Hulle het vir ons gewys wat om te doen en hoe om ons met behulp van die Bybel te verdedig [1 Petrus 3:15]. Ons het dikwels oefensessies gehou waartydens ons vrae gevra en beantwoord het.” Waarom doen julle dit nie ook nie? Julle kan aanbiedings vir die bediening oefen en een van die ouers kan as die huisbewoner optree. Of die oefensessie kan oor werklike versoekings handel (Spreuke 1:10-15). “As ’n kind oefen om moeilike situasies die hoof te bied, kan dit sy bedrewenheid en selfvertroue verbeter”, het een persoon verduidelik. “Die oefensessie kan onder andere behels dat jy die rol van ’n vriend speel wat jou kind ’n sigaret, drank of dwelms aanbied.” Hierdie sessies kan jou help om vas te stel hoe jou kind in sulke situasies sal reageer.

14. Waarom is liefdevolle en innige besprekings met jou kinders so belangrik?

14 Wanneer jy met jou kind kommunikeer, moet jy op dieselfde innige manier tot sy hart spreek as wat die skrywer van hierdie woorde gedoen het: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder” (Spreuke 3:1, 2). Dink jy nie dit sal jou kind se hart raak as jy liefdevol verduidelik dat jy gehoorsaamheid vereis omdat hy daardeur vrede en lengte van dae—ja, die ewige lewe in God se vreedsame nuwe wêreld—sal geniet nie? Neem jou kind se persoonlikheid in ag wanneer jy met hom uit God se Woord redeneer. Doen dit biddend, en Jehovah sal jou pogings seën. Sulke liefdevolle en innige Bybelse besprekings sal heel waarskynlik goeie resultate lewer en blywende voordele meebring.—Spreuke 22:6.

15. Hoe kan ouers hulle kinders help om probleme op te los?

15 Selfs wanneer hierdie kommunikasie nie tydens julle beplande studieperiode plaasvind nie, moet jy nie toelaat dat jou aandag deur ander dinge afgetrek word nie. Luister aandagtig nie alleen na wat jou kind sê nie, maar ook hoe die gedagte uitgedruk word. “Kyk na jou kind”, het een kenner gesê. “Gee hom jou volle aandag. Dit is belangrik dat jy verstaan en nie net hoor nie. Ouers wat daardie ekstra poging aanwend, kan ’n groot verskil in hulle kinders se lewe maak.” Kinders kom vandag dikwels voor ernstige probleme by die skool en elders te staan. As ’n ouer moet jy jou kind aanmoedig om daaroor te praat en hom help om sake vanuit God se oogpunt te beskou. As jy nie seker is hoe jy die probleem moet oplos nie, moet jy navorsing in die Skrif doen sowel as in die publikasies wat deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien word (Mattheüs 24:45). Doen alles in jou vermoë om jou kind al die spesiale aandag te gee wat nodig is om die probleem op te los.

Koester julle tyd saam

16, 17. (a) Waarom het jongmense veral vandag spesiale aandag en onderrig nodig? (b) Wat moet kinders weet wanneer hulle deur hulle ouers gedissiplineer word?

16 Jongmense het vandag meer spesiale aandag nodig as ooit tevore, want ons lewe in “die laaste dae” en hierdie is “swaar tye” (2 Timotheüs 3:1-5; Mattheüs 24:3-14). Ouers sowel as kinders het die beskerming van ware wysheid nodig wat ‘die besitter daarvan in die lewe hou’ (Prediker 7:12). Aangesien Goddelike wysheid behels dat ’n mens Bybelkennis behoorlik toepas, moet kinders gereeld in die Woord van God onderrig word. Daarom moet jy die Skrif met jou kinders studeer. Vertel hulle van Jehovah, verduidelik sy vereistes noukeurig aan hulle en bou ’n vreugdevolle afwagting in hulle op vir die verwesenliking van sy wonderlike beloftes. Praat oor hierdie dinge by die huis, wanneer jy saam met jou kinders gaan stap—trouens, by elke gepaste geleentheid.—Deuteronomium 6:4-7.

17 Boere weet dat nie alle plante onder dieselfde toestande floreer nie. Plante het spesiale sorg nodig. Elke kind is eweneens anders en het spesiale aandag, onderrig en dissipline nodig. ’n Ouer se afkeurende blik kan byvoorbeeld genoeg wees om een kind in sy verkeerde weg te stuit, terwyl ’n ander kind dalk weer strenger dissipline nodig het. Maar jou kinders moet almal weet waarom jy ontevrede met sekere woorde of dade is, en albei ouers moet saamwerk sodat dissipline konsekwent sal wees (Efesiërs 6:4). Dit is veral belangrik dat Christenouers duidelike riglyne gee wat met die Skrif strook.

18, 19. Watter verantwoordelikheid het Christenouers teenoor hulle kinders, en wat sal heel waarskynlik die resultaat wees as daardie verantwoordelikheid getrou nagekom word?

18 ’n Boer moet die plant- en kweekwerk op die regte tyd doen. As hy dit uitstel of sy gesaaides verwaarloos, sal hy min of niks oes nie. Wel, jou jong kinders is groeiende “plantjies” wat nóú spesiale aandag nodig het, nie volgende maand of volgende jaar nie. Moenie kosbare geleenthede laat verbygaan om hulle geestelike groei in ooreenstemming met God se Woord te bevorder en om wêreldse gedagtes uit te roei wat hulle geestelik kan laat kwyn en sterf nie. Koester die ure en dae wat jy bevoorreg is om saam met jou kinders deur te bring, want hierdie tye gaan gou verby. Werk hard om in jou kinders die Goddelike eienskappe te kweek wat nodig is om ’n gelukkige lewe as Jehovah se getroue knegte te lei (Galasiërs 5:22, 23; Kolossense 3:12-14). Dit is nie iemand anders se werk nie; dit is jóú werk en God kan jou help om dit te doen.

19 Gee jou kinders ’n ryk geestelike erfenis. Studeer God se Woord met hulle en geniet heilsame ontspanning saam. Neem jou kinders na die Christelike vergaderinge en laat hulle saam met jou in die Koninkrykspredikingswerk uitgaan. Kweek in jou geliefde kinders die soort persoonlikheid wat Jehovah se goedkeuring wegdra, en hulle sal jou heel waarskynlik groot vreugde verskaf wanneer hulle eendag groot is. Waarlik, “die vader van ’n regverdige juig baie; en as iemand ’n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom. Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.”—Spreuke 23:24, 25.

’n Ryk beloning

20. Wat is vir ’n ouer van tieners die sleutel tot sukses?

20 Die grootmaak van kinders is ’n komplekse langtermyntoewysing. Om hierdie “olyfboompies rondom jou tafel” groot te maak sodat hulle eendag godvresende volwassenes sal wees wat Koninkryksvrug voortbring, is al ’n 20-jaarprojek genoem (Psalm 128:3; Johannes 15:8). Hierdie projek word gewoonlik moeiliker wanneer kinders hulle tienerjare bereik, wanneer daar dikwels groter druk op hulle uitgeoefen word en ouers vind dat dit groter inspanning van hulle kant vereis. Maar die sleutel tot sukses bly dieselfde—skenk aandag aan hulle en behandel hulle met liefde en begrip. Hou in gedagte dat jou kinders werklik persoonlike aandag nodig het. Jy kan hulle sulke aandag gee deur opregte liefdevolle besorgdheid oor hulle welsyn te toon. As jy hulle wil help, moet jy van jouself gee deur te sorg dat hulle die tyd, liefde en besorgdheid ontvang wat hulle werklik nodig het.

21. Wat kan die beloning wees as kinders spesiale aandag gegee word?

21 Die beloning wat jy sal ontvang vir jou pogings om na die kosbare vrug om te sien wat Jehovah aan jou sorg toevertrou het, kan veel groter bevrediging verskaf as enige boer se goeie oes (Psalm 127:3-5). Ouers, julle moet dus voortgaan om julle kinders spesiale aandag te gee. Dit sal hulle tot voordeel strek en ons hemelse Vader, Jehovah, verheerlik.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Hoe kan die kweek van plante en die grootmaak van kinders met mekaar vergelyk word?

◻ Watter soort aandag moet ’n kind van kleins af daagliks ontvang?

◻ Watter spesiale sorg het kinders nodig, en hoe kan dit gegee word?

◻ Waarom moet jy jou kinders spesiale aandag gee?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel