Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 5/15 bl. 8-9
  • Die Gotiese Bybel—’n merkwaardige prestasie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Gotiese Bybel—’n merkwaardige prestasie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ulfilas—’n sendeling en Bybelvertaler
  • Vroeë geskiedenis van die Gotiese Bybel
  • Oorblywende manuskripte
  • Die restourasie van die Gotiese Bybelteks
  • Die Vatikaanse Kodeks—Waarom so kosbaar?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die Woord van God in Middeleeuse Spanje
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Herwinning van ’n Bybelse skat
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Antieke manuskripte—Hoe word hulle ouderdom vasgestel?
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 5/15 bl. 8-9

Die Gotiese Bybel—’n merkwaardige prestasie

DIE Gote was ’n konfederasie van Germaanse stamme wat waarskynlik uit Skandinawië afkomstig was. In die vroeë eeue van ons Gewone Jaartelling het hulle suidwaarts tot by die Swart See en die Donaurivier, tot reg aan die buiteposte van die Romeinse Ryk, getrek.

Die Gotiese Bybel was die eerste letterkundige werk wat in enige Germaanse taal verskyn het. Vandag is daar nog net fragmente van hierdie vertaling oor. Dit bly egter ’n unieke en waardevolle weergawe van die Heilige Skrif. Waarom?

Ulfilas—’n sendeling en Bybelvertaler

Die vertaler van hierdie Bybel was Ulfilas, wat ook onder sy Gotiese naam Wulfila bekend was. Volgens die geskiedskrywer Filostorgius was Ulfilas die nakomeling van mense wat tydens ’n Gotiese inval in Kappadocië, nou ’n deel van oostelike Turkye, gevange geneem is. Hy is in ongeveer 311 G.J. gebore en sowat 30 jaar later deur Eusebius van Nicomedia georden en opgelei om as ’n sendeling onder die Gote te werk.

“Om sy bekeerlinge te onderrig en te vermeerder”, sê die geskiedskrywer Will Durant, “het hy geduldig die hele Bybel behalwe die Boeke van die Konings uit Grieks in Goties vertaal” (The Age of Faith). Buiten ’n fragment van die boek Nehemia is gedeeltes van die Christelike Griekse Geskrifte die enigste ander Gotiese Bybelmanuskripte wat vandag nog bestaan.

Goties was nie ’n geskrewe taal nie. Ulfilas se vertaalwerk was dus ’n uitdaging wat buitengewone vindingrykheid geverg het. Eertydse kerkgeskiedskrywers beskou hom as die skepper van die Gotiese alfabet van 27 simbole, wat hoofsaaklik op die Griekse en die Latynse alfabette gegrond is. Daarbenewens sê The New Encyclopædia Britannica dat “hy ’n Germaanse Christelike terminologie geskep het, en party van die terme word vandag nog gebruik”.

Vroeë geskiedenis van die Gotiese Bybel

Ulfilas het sy vertaling voor 381 G.J. voltooi en het twee of drie jaar later gesterf. The Encyclopedia Americana bevestig die gewildheid wat sy werk geniet het en sê dat “die vertaling oor die algemeen deur die Gote gebruik is wat na Spanje en Italië toe getrek het”. Na aanleiding van die aantal oorblywende fragmente lyk dit inderdaad of daar baie kopieë van hierdie Gotiese Bybel gemaak is. Verskeie manuskripte is waarskynlik gemaak in die skryfkamers van Ravenna en Verona, in die gebied waar die Gote hulle koninkryk gevestig het. Die skryfkamers was vertrekke in kloosters waar manuskripte geskryf en gekopieer is.

Die Gote het in ongeveer 555 G.J. as nasie ophou bestaan nadat die Bisantynse keiser Justinianus I Italië verower het. Ná hulle val, sê Tönnes Kleberg, “het die Gotiese taal en Gotiese tradisies in Italië byna spoorloos verdwyn. Gotiese manuskripte was nie meer van belang nie. . . . Die meeste van hulle is uitmekaargehaal en geskuur om die skrif daarop te verwyder. Die duur perkament is dan weer gebruik om iets nuuts op te skryf.”

Oorblywende manuskripte

Party van hierdie manuskripte is nie goed skoongemaak nie en die oorspronklike teks was nog dofweg sigbaar. Etlike van hierdie palimpseste, soos hulle bekend staan, is gevind en ontsyfer. Dit is merkwaardig dat die beroemde Codex Argenteus, wat die vier Evangelies in die volgorde Mattheüs, Johannes, Lukas en Markus bevat, behoue gebly het.

Hierdie uitstekende kodeks het vermoedelik sy oorsprong aan die begin van die sesde eeu G.J. in die skryfkamer van Ravenna gehad. Dit staan bekend as die Codex Argenteus, wat “Silwer Boek” beteken, omdat dit met silwer ink geskryf is. Sy perkamentbladsye is pers gekleur, wat daarop dui dat dit waarskynlik vir ’n koninklike persoon bestem was. Die eerste drie reëls van elke Evangelie asook die begin van die verskillende afdelings is met goue letters versier. Die name van die Evangelieskrywers verskyn ook in goud boaan die vier parallelle “boë” wat aan die einde van elke kolom van die teks voorkom. Dit gee verwysings na parallelle gedeeltes in die Evangelies.

Die restourasie van die Gotiese Bybelteks

Ná die ondergang van die Gotiese nasie het die kosbare Codex Argenteus verdwyn. Dit is nooit weer gesien totdat dit in die middel van die 16de eeu in die klooster van Werden, naby Keulen, Duitsland, ontdek is nie.

In die jaar 1569 is die Gotiese weergawe van die Onse Vader gepubliseer, wat die aandag gevestig het op die Bybel waaruit dit geneem is. Die naam Codex Argenteus het die eerste keer in 1597 in druk verskyn. Van Werden af het hierdie manuskrip ’n deel van die keiser se kunsversameling in Praag geword. Aan die einde van die Dertigjarige Oorlog in 1648 het die seëvierende Swede dit egter saam met ander skatte weggeneem. Sedert 1669 het hierdie kodeks ’n permanente plek in die Universiteitsbiblioteek van Uppsala, Swede, gevind.

Die Codex Argenteus het oorspronklik uit 336 bladsye bestaan, waarvan 187 in Uppsala is. Een ander bladsy—die laaste een van Markus se Evangelie—is in 1970 in Speyer, Duitsland, ontdek.

Die oomblik toe die kodeks weer uitgekom het, het geleerdes die teks begin bestudeer om die betekenis van die dooie Gotiese taal te ontsyfer. Die Duitse geleerde Wilhelm Streitberg het al die beskikbare manuskripte en vorige pogings om die teks te restoureer, saamgevoeg en in 1908 “Die gotische Bibel” (Die Gotiese Bybel) met die Griekse en Gotiese tekste op teenoorgestelde bladsye gepubliseer.

Vandag is hierdie Gotiese Bybel hoofsaaklik vir geleerdes van belang. Die feit dat dit gedurende die vroeë dae van Bybelvertaling gemaak en gekoester is, getuig egter van Ulfilas se begeerte en vasbeslotenheid om God se Woord te vertaal in wat destyds ’n moderne taal was. Hy het tereg besef dat dit al manier is waarop die Gotiese volk kon hoop om Christelike waarheid te verstaan.

[Foto-erkenning op bladsy 9]

Courtesy of the Uppsala University Library, Sweden

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel