Jehovah se Getuies in alle wêrelddele—Thailand
“DIE land van die vryes.” Dit is wat die naam Thailand beteken. Die meer as 57 000 000 vriendelike, hardwerkende bewoners het uiteenlopende godsdiensidees. Hoewel Boeddhisme die vernaamste godsdiens is, word die godsdienste van die Christendom ook in hierdie land in Suidoos-Asië beoefen. Al hierdie mense moet die goeie nuus van God se Koninkryk hoor.—Mattheüs 24:14, NW.a
Vlugtelinge hoor die goeie nuus
In kampe wat regdeur die heuwels van Thailand langs die Myanma-grens versprei is, wen Bybelwaarheid veld onder die meer as 10 000 Karen-vlugtelinge. Die lede van een Karen-familie wat in daardie gebied woon, is Getuies van Jehovah. Hulle verkondig die goeie nuus onder die vlugtelinge. Hoe het hulle werk begin?
Etlike jare gelede het ’n jong man sy bande met die Anglikaanse Kerk verbreek en een van Jehovah se Getuies geword. Sy familie het hom op aanhitsing van hulle predikant teëgestaan. Maar hy het geduldig volhard, en sy familie se teëstand het geleidelik afgeneem. Die geestelikes van die Anglikaanse Kerk se gespot het voortgeduur tot sowat twee jaar gelede toe hulle weens onsedelike gedrag van hulle amp onthef is. Die Getuie se gesin en ander familielede was geskok en verlore, aangesien die kerk toe herderloos was. Elf van hulle het uit die kerk bedank en die Getuies gevra om die Bybel met hulle te studeer.
Hierdie studie het goed gevorder, en ander vlugtelinge het ook daaraan deelgeneem. Die waarheid het gou versprei, wat daartoe gelei het dat 17 nuwe Getuies in die rivier gedoop is wat deur die vlugtelingekamp vloei. Wat ’n vreugdevolle gesig was dit tog toe ’n ouma van 88 saam met hulle ondergedompel is!
Video wakker belangstelling aan
Die potensiaal vir vermeerdering is groot onder die vlugtelinge. In 1993 het 57 mense die Gedenkmaalviering bygewoon. Gedurende die kringopsiener se besoek in Mei daardie jaar het 67 vir een van sy toesprake vergader. En ongeveer 250 het bymekaargekom om die Wagtoringgenootskap se video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name te sien.
Die vrou van ’n Baptisteleraar in die vlugtelingekamp het ’n openbare Bybeltoespraak van die Getuies bygewoon en aantekeninge gemaak van die Bybeltekste wat bespreek is. Sy het vir haar man gesê hoe ontevrede sy is omdat dieselfde preke oor en oor in hulle kerk gehoor word. Hy het beswaar gemaak en gesê as sý na die vergaderinge van Jehovah se Getuies sou gaan al die ander gemeentelede ook sou gaan. Toe sy die vergaderinge weer bygewoon het, het haar man haar met ’n mes gejaag en haar vergaderingaantekeninge en Bybellektuur verbrand. Ten spyte daarvan het sy weer gekom toe die video gewys is. Later het hierdie vrou haar man vertel wat sy gesien het. Met ’n veranderde gesindheid wou hy die video sien, en hy was jammer dat hy haar aantekeninge en Bybellektuur verbrand het.
Dit is hoe mense die goeie nuus in Thailand hoor. Hulle verkry dus geestelike vryheid in “die land van die vryes”.—Johannes 8:32.
[Voetnoot]
a Sien Jehovah se Getuies se kalender vir 1994 vir bykomende inligting.
[Venster op bladsy 24]
OORSIG
1993-diensjaar
VERKONDIGERHOOGTEPUNT: 1 434
VERHOUDING: 1 Getuie vir elke 40 299
GEDENKMAALOPKOMS: 3 342
GEMIDDELDE PIONIERVERKONDIGERS: 232
GEMIDDELDE BYBELSTUDIES: 1 489
AANTAL GEDOOP: 92
AANTAL GEMEENTES: 39
TAKKANTOOR: BANGKOK
[Prent op bladsy 25]
Koninkryksverkondigers verkondig die goeie nuus ywerig
[Prent op bladsy 25]
Eerste takkantoor, 1947
[Prent op bladsy 25]
Bethelgesin voor die nuwe takkantoor in Bangkok wat op 8 Februarie 1992 toegewy is