Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 7/1 bl. 29-31
  • “Ek het die geloof behou”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ek het die geloof behou”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Háár woorde het die dokters geraak
  • Geestelike doelwitte
  • Haar toekoms verseker
  • Jongmense met “krag wat die normale te bowe gaan”
    Ontwaak!—1994
  • Soeke na die waarheid beloon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • “Ek het nog nooit sulke liefde ervaar nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Wanneer ’n kind kanker het
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 7/1 bl. 29-31

“Ek het die geloof behou”

SOOS VERTEL DEUR VRIENDE VAN BRUNELLA INCONDITI

“SATERDAG was ’n baie lang en eensame dag. Ek was alleen in die kamer en het wanhopig gevoel. Dit het gevoel of ek in ’n gang afgestap het. Alles het goed gegaan totdat iemand skielik die deur reg in my gesig toegeklap het, en ek kon nie uitkom nie, al het ek hoe hard probeer.”

Die 15-jarige Brunella Inconditi het ’n bittere teleurstelling gehad waaroor sy baie ontsteld was. Die belangrikste dag in haar jong lewe was besig om verby te gaan. Vroeër daardie jaar het haar toenemende liefde vir Jehovah en die Bybel haar beweeg om haar lewe aan hom toe te wy. Sy sou in Julie 1990 by die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Montreal, Kanada, gedoop word. Pleks daarvan sou Brunella spoedig voor ’n geloofstoets te staan kom wat sy die res van haar lewe die hoof sou moes bied.

Twee dae voor sy haar toewyding deur waterdoop sou simboliseer, het Brunella gehoor dat sy leukemie het. Die dokters by die plaaslike kinderhospitaal wou dadelik met behandeling begin; daarom het Brunella in die hospitaal gebly.

Háár woorde het die dokters geraak

Brunella het geweet dat bloed in Jehovah God se oë heilig is (Levitikus 17:11). Haar ouers, Edmondo en Nicoletta, het uitdruklik versoek dat daar geen bloedoortappings in die behandeling van hulle dogter gebruik word nie. “Brunella wou hê die dokters moet dit ook uit haar mond hoor, al was sy ’n minderjarige”, vertel haar pa. “Sy het met beslistheid aan hulle gesê dat sy nie behandeling wil ontvang wat die Bybel se gebod dat Christene hulle ‘van bloed moet onthou’, skend nie.”—Handelinge 15:20.

Op 10 Julie 1990 het drie dokters en ’n maatskaplike werkster met Brunella se ouers en twee bedienaars van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies byeengekom. Toetse het bevestig dat Brunella akute limfoblastiese leukemie het. Die dokters het verduidelik hoe hulle van plan was om die siekte te beveg. Hulle het taktvol verduidelik dat dit baie moeilik is om die siekte te behandel. “Brunella se gedrag en vasbeslotenheid om God te gehoorsaam, het die dokters en die maatskaplike werkster diep geraak. Hulle was beïndruk deur haar ouers se liefde en deur die ondersteuning wat sy van vriende in die Christengemeente ontvang het. Hulle het dit ook waardeer dat ons hulle posisie begryp en gerespekteer het”, meld een van die gemeentelike ouere manne.

Die dokters het besluit om nie bloedoortappings te gebruik nie. Brunella sou ekstensiewe chemoterapie ontvang, maar dit sou nie so aggressief soos gewoonlik wees nie. Dit sou die skadelike uitwerking van die behandeling op haar bloedselle verminder. “Die dokters het Brunella se liggaamlike, emosionele en geestelike behoeftes in ag geneem”, verduidelik Nicoletta. “Toe ons hulle gevra het om ’n spesialis te raadpleeg wat ervare is in die bloedlose behandeling van leukemie in kinders, het hulle ingestem.” Brunella en die hospitaalpersoneel het baie geheg aan mekaar geraak.

Geestelike doelwitte

Hoewel die aanvanklike behandeling goeie resultate gelewer het, was dit nog net die begin van Brunella se beproewing. Teen November 1990 was haar siekte in remissie; sy is dus sonder versuim gedoop. Brunella het oor die vorige aantal maande nagedink en erken: “Dit was glad nie maklik nie. ’n Mens het baie krag nodig en jy moet positief dink. . . . My geloof is beproef, maar ek het standvastig gebly, en ek is steeds van plan om ’n loopbaan as ’n gewone pionier [voltydse bedienaar] te volg.”

Vroeg in 1991 het Brunella ’n insinking gehad. Sy het amper gesterf terwyl sy chemoterapie ontvang het, maar sy het tot almal se verbasing en vreugde herstel. Teen Augustus was sy gesond genoeg om die maand as hulppionier in die openbare bediening te bestee. Haar siekte het weer vererger, en teen November 1991 was haar liggaam op verskeie plekke deur kanker aangetas. ’n Ander span dokters by ’n ander hospitaal het haar met bestraling begin behandel.

Selfs onder hierdie moeilike omstandighede het Brunella standvastig gebly en vir haar geestelike doelwitte gestel. Toe sy die eerste keer gehoor het dat sy leukemie het, het die dokters vir haar gesê dat sy moontlik nog net ses maande sou lewe. Nou, bykans anderhalf jaar later, was Brunella steeds besig om toekomsplanne te maak. “Sy het geen tyd verspil om haar doelwitte te probeer bereik nie”, het ’n gemeentelike ouere man gesê. “Brunella se geloof in God se beloofde Paradys het haar deur haar beproewing heen krag gegee. Sy het tot Christelike rypheid gegroei, hoewel sy so jonk was. Haar gedrag en gesindheid het die gemeente besiel en die harte van diegene wat haar geken het, onder andere die hospitaalpersoneel, verower.” Haar ma vertel: “Sy het nooit gekla nie. Wanneer iemand vir haar gevra het hoe dit met haar gaan, het sy geantwoord: ‘Goed dankie’ of ‘Nie sleg nie, en hoe gaan dit met jou?’”

Haar toekoms verseker

Brunella was van voorneme om die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Julie 1992 by te woon. Maar teen die tyd van die byeenkoms was Brunella in die hospitaal en het sy vinnig agteruitgegaan. Sy het nietemin die byeenkoms in ’n rolstoel bygewoon, vasbeslote om die drama Doen wat reg is in Jehovah se oë te sien.

Sy het teruggegaan huis toe om haar laaste paar dae by haar gesin te wees. “Tot die einde toe was sy meer bekommerd oor ander as oor haarself”, sê Nicoletta. “Sy het hulle aangemoedig om die Bybel te bestudeer en vir hulle gesê: ‘Ons sal in die Paradys weer bymekaar wees.’”

Brunella het op 27 Julie 1992 gesterf, onwrikbaar in haar hoop op ’n opstanding tot lewe in ’n Paradys op aarde. Sy het net begin om haar doelwitte na te streef, maar sy het haar voorgeneem om ná haar opstanding haar toegewyde lewenswyse voort te sit. Slegs enkele dae voor haar dood het Brunella die volgende brief geskryf wat by haar gedenkdiens voorgelees is.

“Liewe Vriende:

“Baie dankie dat julle gekom het. Julle teenwoordigheid beteken baie vir my familie.

“Aan die mense wat na aan my was—ons het ’n moeilike tyd deurgemaak. Ons het talle slegte tye gehad, maar daar was ook tye wat ons pret gehad het. Dit was ’n moeilike en ’n lang stryd, maar ek voel nie dat ek gefaal het nie. Soos die Skrif dit stel: ‘Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.’—2 Timotheüs 4:7.

“Ek het ook baie geleer, en ek het baie ryper geword en my vriende en diegene wat by my was, het die verandering gesien. Ek wil baie dankie sê aan al hierdie mense wat my so ondersteun het.

“Julle wat in die nuwe stelsel en in Jehovah glo, weet dat daar ’n opstanding gaan wees, net soos Johannes 5:28, 29 sê. Bly dus sterk in die waarheid, en ons sal mekaar weer sien.

“Ek wil dankie sê aan diegene wat weet wat ek deurgemaak het. Ek gee elkeen van julle ’n stywe drukkie en ’n soentjie. Ek het julle almal lief.”

Brunella het nie weens haar jeugdige ouderdom of haar siekte haar toewyding aan God uitgestel nie. Haar voorbeeld van geloof en vasbeslotenheid is ’n aanmoediging vir oud en jonk om enigiets af te lê wat hulle kan verhinder om die wedloop van die lewe te hardloop.—Hebreërs 12:1, NW.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel