Werk hard vir die redding van julle huisgesin
“Voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.”—EFESIËRS 6:4.
1, 2. Voor watter uitdagings kom ouers vandag te staan?
’NGEWILDE tydskrif het dit ’n revolusie genoem. Dit was ’n artikel wat die ontstellende veranderinge beskryf het wat in onlangse jare in die gesin plaasgevind het. Volgens die artikel is hierdie veranderinge waarskynlik “die gevolg van ’n epidemie van egskeidings, hertroues, tweede egskeidings, buite-egtelike kinders en nuwe soorte spanning in gesinne wat nog bymekaar is”. Dit is geen wonder dat daar sulke druk en spanning is nie, want die Bybel het voorspel dat mense gedurende hierdie “laaste dae” voor “kritieke tye” te staan sou kom.—2 Timotheüs 3:1-5, NW.
2 Hedendaagse ouers kom dus voor uitdagings te staan wat vir vorige geslagte onbekend was. Hoewel sommige ouers onder ons hulle kinders “van kleins af” geleer het om godvrugtig te wees, het baie gesinne onlangs eers ‘in die waarheid begin wandel’ (2 Timotheüs 3:15; 3 Johannes 4). Hulle kinders was moontlik al ouer toe die ouers hulle in God se weë begin onderrig het. Daarbenewens word daar al hoe meer enkelouergesinne en stiefgesinne in ons midde aangetref. Wat ook al jou omstandighede, die apostel Paulus se raad geld nietemin: “Voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.”—Efesiërs 6:4.
Christenouers en hulle rol
3, 4. (a) Watter faktore het daartoe gelei dat die vader se rol verswak het? (b) Waarom moet Christenvaders meer as broodwinners wees?
3 Let op dat Paulus sy woorde in Efesiërs 6:4 hoofsaaklik aan “vaders” gerig het. In vorige geslagte, verduidelik een skrywer, “was vaders verantwoordelik vir hulle kinders se sedelike en geestelike opvoeding; vaders was verantwoordelik vir hulle kinders se skoolopleiding. . . . Maar die Industriële Revolusie het hierdie intimiteit weggeneem; vaders het hulle plase en winkels en hulle huise verlaat om in fabrieke en later in kantore te gaan werk. Moeders het baie van die pligte aanvaar waarvoor die vaders eers verantwoordelik was. Vaderskap het algaande ’n abstraksie geraak.”
4 Christenmans: Moenie daarmee tevrede wees om net broodwinners te wees en al die opleiding en versorging van julle kinders aan julle vrou oor te laat nie. Spreuke 24:27 het vaders van die ou tyd aangespoor: “Maak jou werk buitekant reg, en bring dit vir jou op die land in orde; daarna moet jy dan jou [“huisgesin opbou”, NW].” As ’n werkende man van vandag moet jy moontlik ook lank en hard werk om ’n bestaan te maak (1 Timotheüs 5:8). Maar neem daarna asseblief die tyd om ‘jou huisgesin op te bou’—emosioneel en geestelik.
5. Hoe kan Christenvrouens vir die redding van hulle huisgesin werk?
5 Christenvrouens: Julle moet ook hard werk vir die redding van julle huisgesin. Spreuke 14:1 sê: “Die wysheid van die vroue bou die huis.” As huweliksmaats het jy sowel as jou man die verantwoordelikheid om julle kinders op te lei (Spreuke 22:6; Maleagi 2:14). Dit kan behels dat jy jou kinders dissiplineer, hulle gereed kry vir Christelike vergaderinge en die veldbediening of selfs dat jy die gesinsbybelstudie hou wanneer jou man nie kan nie. Jy kan ook baie doen om julle kinders huishoudelike vaardighede, goeie maniere, liggaamlike higiëne en baie ander nuttige dinge te leer (Titus 2:5). Wanneer mans en vrouens op hierdie manier saamwerk, kan hulle beter in die behoeftes van hulle kinders voorsien. Presies wat is party van daardie behoeftes?
Voorsien in hulle emosionele behoeftes
6. Watter rol speel moeders en vaders in die emosionele ontwikkeling van hulle kinders?
6 Wanneer “’n sogende moeder haar eie kinders koester”, voel hulle veilig, gerus, bemind (1 Thessalonicense 2:7, NW; Psalm 22:10). Min moeders kan dit weerstaan om hulle babas baie aandag te gee. Die profeet Jesaja het gevra: “Kan ’n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie?” (Jesaja 49:15). Moeders speel dus ’n belangrike rol in die emosionele ontwikkeling van kinders. Maar vaders speel ook ’n belangrike rol in hierdie verband. Die gesinsvoorligter Paul Lewis sê: “Geen maatskaplike werker het tot nog toe ’n verslag by my ingedien van ’n jeugdige [misdadiger] wat ’n gesonde verhouding met sy pa gehad het nie. Nie een uit honderde nie.”
7, 8. (a) Watter bewys is daar van ’n sterk band tussen Jehovah God en sy Seun? (b) Hoe kan vaders ’n liefdevolle band met hulle kinders smee?
7 Daarom is dit noodsaaklik dat Christenvaders hulle daarop toelê om ’n liefdevolle band met hulle kinders te smee. Beskou byvoorbeeld Jehovah God en Jesus Christus. Toe Jesus gedoop is, het Jehovah gesê: “Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur” (Lukas 3:22, NW). Daardie paar woorde sê so baie! Jehovah het (1) sy Seun erken, (2) openlik gesê dat hy Jesus liefhet en (3) bekend gemaak dat hy Jesus goedkeur. Dit was ook nie die enigste keer dat Jehovah sy liefde vir sy Seun geopenbaar het nie. Jesus het later vir sy Vader gesê: ‘U het My voor die grondlegging van die wêreld liefgehad’ (Johannes 17:24). Maar is dit nie so dat alle gehoorsame seuns en dogters hulle vader se erkenning, liefde en goedkeuring nodig het nie?
8 As jy ’n vader is, kan jy waarskynlik baie doen om ’n liefdevolle band met jou kinders te smee deur hulle gereeld op ’n gepaste wyse deur dade en woorde van jou liefde te verseker. Sommige mans vind dit weliswaar moeilik om hulle liefde te wys—veral as hulle eie vader nooit openlik sy liefde vir hulle gewys het nie. Maar selfs ’n onbeholpe poging om liefde teenoor jou kinders te betoon, kan groot trefkrag hê. ‘Liefde bou immers op’ (1 Korinthiërs 8:1, NW). As jou vaderlike liefde jou kinders veilig laat voel, sal hulle meer geneig wees om ‘ware seuns en dogters’ te wees en die vrymoedigheid hê om jou in hulle vertroue te neem.—Spreuke 4:3, NW.
Voorsien in hulle geestelike behoeftes
9. (a) Hoe het godvresende Israelitiese ouers in die geestelike behoeftes van hulle gesinne voorsien? (b) Watter geleenthede het Christene om hulle kinders informeel te onderrig?
9 Kinders het ook geestelike behoeftes (Mattheüs 5:3, NW). Moses het Israelitiese ouers aangespoor: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7). As jy ’n Christenouer is, kan jy baie van jou onderrigting informeel doen, soos “as jy op pad is”. Die tyd wat julle saam bestee wanneer julle in die gesinsmotor ry of inkopies doen of wanneer julle in die Christelike bediening saam met julle kinders van deur tot deur stap, is heilsame geleenthede om hulle teen ’n ontspanne agtergrond te onderrig. Maaltye is veral ’n goeie tyd vir gesinne om te gesels. “Ons gebruik maaltye om oor dinge te gesels wat gedurende die dag gebeur het”, verduidelik een ouer.
10. Waarom is gesinstudie soms ’n uitdaging, en watter vaste voorneme moet ouers hê?
10 Maar formele onderrigting deur middel van ’n gereelde Bybelstudie met jou kinders is ook noodsaaklik. Dit is wel so dat “die sotheid vassit in die hart” van kinders (Spreuke 22:15). Party ouers sê dat hulle kinders die gesinstudie maklik kan ontwrig. Hoe? Deur rusteloos te wees en verveeld voor te kom, deur irriterende onderbrekings te skep (soos om met hulle broers of susters te baklei) of deur voor te gee dat hulle onkundig oor grondliggende Bybelwaarhede is. As dit ’n stryd word om te kyk wie die sterkste wil het, moet die ouer se wil die sterkste wees. Christenouers moenie opgee en hulle kinders die huis laat regeer nie.—Vergelyk Galasiërs 6:9.
11. Hoe kan gesinstudie genotvol gemaak word?
11 As julle kinders nie die gesinstudie geniet nie, kan julle miskien ’n paar veranderinge aanbring. Word die studie byvoorbeeld as ’n verskoning gebruik om julle kinders se jongste tekortkominge te bespreek? Dit sal moontlik die beste wees om sulke probleme privaat te bespreek. Word julle studie gereeld gehou? As julle dit vir ’n geliefkoosde televisieprogram of sportgeleentheid kanselleer, sal julle kinders waarskynlik nie die studie baie ernstig opneem nie. Is jy ywerig en geesdriftig in die wyse waarop jy die studie hou? (Romeine 12:8). Ja, studie moet ’n genot wees. Probeer om al die kinders daarby te betrek. Wees positief en opbouend en prys julle kinders opreg vir hulle deelname. Jy moet natuurlik nie net materiaal dek nie, maar hulle hart probeer bereik.—Spreuke 23:15.
Dissiplineer in regverdigheid
12. Waarom behels dissipline nie altyd fisiese straf nie?
12 Kinders het ook ’n groot behoefte aan dissipline. As ouer moet jy perke vir hulle stel. Spreuke 13:24 sê: “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.” Maar die Bybel bedoel nie dat ’n kind altyd fisies gedissiplineer moet word nie. Spreuke 8:33 sê: “Luister na tug”, en daar word vir ons gesê “’n berisping gaan by ’n verstandige dieper in as om ’n dwaas honderd maal te slaan”.—Spreuke 17:10.
13. Hoe moet ’n kind gedissiplineer word?
13 Soms sal fisiese dissipline wel nodig wees. Maar as dit in woede toegedien word, sal dit waarskynlik buitensporig en nutteloos wees. Die Bybel waarsku: “Vaders, moenie julle kinders terg [of, “vertoorn”, NW] nie, sodat hulle nie moedeloos word nie” (Kolossense 3:21). Dit is beslis so dat ‘louter onderdrukking ’n wyse waansinnig kan laat handel’ (Prediker 7:7, NW). ’n Verbitterde jongmens kan selfs teen regverdige standaarde in opstand kom. Ouers moet dus die Skrif gebruik om hulle kinders op ’n ferm maar gebalanseerde wyse in regverdigheid te dissiplineer (2 Timotheüs 3:16). Godvrugtige dissipline word met liefde en sagmoedigheid toegedien.—Vergelyk 2 Timotheüs 2:24, 25.a
14. Wat moet ouers doen as hulle geneig is om hulle aan woede oor te gee?
14 Ons weet “ons almal struikel dikwels” (Jakobus 3:2). Selfs ’n ouer wat gewoonlik liefdevol is, kan aan die druk van die oomblik toegee en iets onvriendeliks sê of in woede optree (Kolossense 3:8). As dit sou gebeur, moet jy die son nie laat ondergaan terwyl jou kind baie hartseer of jy woedend is nie (Efesiërs 4:26, 27). Stel die saak met jou kind reg en vra verskoning as dit gepas is. (Vergelyk Mattheüs 5:23, 24.) Sulke nederigheid kan jou en jou kind nader aan mekaar bring. As jy dink dat jy nie jou humeur kan beteuel nie en jou aan woede sal oorgee, moet jy die aangestelde gemeentelike ouere manne om hulp vra.
Enkelouergesinne en stiefgesinne
15. Hoe kan kinders in enkelouergesinne gehelp word?
15 Nie alle kinders het egter die steun van twee ouers nie. In die Verenigde State word 1 uit 4 kinders deur ’n enkelouer grootgemaak. ‘Vaderlose seuns’ was iets algemeens in Bybeltye, en die Skrif spreek herhaaldelik besorgdheid oor hulle uit (Exodus 22:22, NW). Enkelouer-Christengesinne kom vandag ook voor druk en probleme te staan, maar hulle put vertroosting uit die wete dat Jehovah “’n vader van vaderlose seuns en ’n regter van weduwees” is (Psalm 68:5, NW). Christene word aangespoor om “wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek” (Jakobus 1:27). Mede-aanbidders kan baie doen om enkelouergesinne te help.b
16. (a) Wat moet enkelouers in die belang van hulle eie gesin doen? (b) Waarom kan dissipline moeilik wees, maar waarom moet dit uitgeoefen word?
16 Wat kan jy, as jy ’n enkelouer is, doen om jou gesin te bevoordeel? Jy moet ywerig wees wat julle gesinsbybelstudie, vergaderingbywoning en die veldbediening betref. Veral dissipline kan egter ’n groot uitdaging wees. Jy treur moontlik nog omdat jy ’n geliefde huweliksmaat aan die dood afgestaan het. Of jy worstel met skuldgevoelens of woede omdat jou huwelik verbrokkel het. As julle albei toesig oor julle kind het, is jy moontlik selfs bang dat jou kind dit verkies om by jou huweliksmaat te wees by wie jy nie meer woon nie of van wie jy geskei is. Sulke situasies kan dit emosioneel moeilik maak om gebalanseerde dissipline uit te oefen. Maar die Bybel sê vir ons “’n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande” (Spreuke 29:15). Moet jou dus nie aan skuldgevoelens en selfverwyt oorgee of onder die druk swig wat ’n gewese huweliksmaat op jou uitoefen nie. Stel redelike en konsekwente standaarde. Moenie Bybelbeginsels inboet nie.—Spreuke 13:24.
17. Hoe kan daar onduidelikheid oor die rol van gesinslede in ’n enkelouergesin ontstaan, en wat kan gedoen word om dit te vermy?
17 Probleme kan egter ontstaan as ’n enkelmoeder haar seun behandel soos ’n surrogaathuweliksmaat—die man van die huis—of haar dogter soos ’n vertroueling wat sy met haar persoonlike probleme belas. So iets is ongepas en verwar ’n kind. Wanneer daar onduidelikheid oor die rol van die ouer en die kind ontstaan, kan dissipline in duie stort. Stel dit duidelik dat jy die ouer is. As jy ’n moeder is en Bybelse raad nodig het, moet jy die ouere manne of miskien ’n ryp bejaarde suster vra.—Vergelyk Titus 2:3-5.
18, 19. (a) Wat is party van die uitdagings waarvoor stiefgesinne te staan kom? (b) Hoe kan ouers en kinders in ’n stiefgesin wysheid en onderskeidingsvermoë aan die dag lê?
18 Stiefgesinne kom eweneens voor uitdagings te staan. Stiefouers vind dikwels dat “kitsliefde” iets ongewoons is. Stiefkinders kan byvoorbeeld baie gevoelig wees vir enige tekens dat biologiese kinders voorgetrek word. (Vergelyk Genesis 37:3, 4.) Trouens, stiefkinders worstel dalk met droefheid oor die afgestorwe ouer en vrees dat hulle op die een of ander manier dislojaal teenoor hulle biologiese vader of moeder sal wees as hulle ’n stiefouer liefhet. Pogings om die nodige dissipline uit te oefen, kan dalk met ’n baie aggressiewe herinnering soos: ‘Jy is nie my regte ouer nie!’ beantwoord word.
19 Spreuke 24:3 sê: “Deur wysheid sal ’n huisgesin opgebou word en deur onderskeidingsvermoë sal dit stewig bevestig wees” (NW). Ja, dit verg wysheid en onderskeidingsvermoë van almal om as ’n stiefgesin sukses te behaal. Kinders moet mettertyd die dikwels pynlike feit aanvaar dat dinge verander het. Stiefouers moet moontlik ook leer om geduldig en vol deernis te wees en moenie gou aanstoot neem as dit lyk of hulle nie aanvaar word nie (Spreuke 19:11; Prediker 7:9). Voordat jy dissipline begin uitoefen, moet jy eers met ’n stiefkind vriende maak. Sommige meen selfs dat dit beter is as die biologiese ouer dissipline uitoefen totdat so ’n band gesmee is. Wanneer spanningsvolle situasies ontstaan, moet julle probeer kommunikeer. “By dié wat saam beraadslaag, is wysheid”, sê Spreuke 13:10.c—NW.
Hou aan werk vir die redding van julle huisgesin!
20. Wat moet Christengesinshoofde voortdurend doen?
20 Sterk Christengesinne ontstaan nie vanself nie. Gesinshoofde, julle moet voortdurend hard werk vir die redding van julle huisgesin. Wees waaksaam en let op na ongesonde eienskappe of wêreldse neigings. Stel ’n goeie voorbeeld in woord, wandel, liefde, geloof en reinheid (1 Timotheüs 4:12). Lê die vrug van God se gees aan die dag (Galasiërs 5:22). Geduld, bedagsaamheid, vergewensgesindheid en teerheid sal julle pogings versterk om julle kinders God se weë te leer.—Kolossense 3:12-14.
21. Hoe kan ’n hartlike, gelukkige atmosfeer in ’n mens se huis behou word?
21 Probeer om met God se hulp ’n gelukkige, hartlike gees in julle huis te laat heers. Bestee tyd saam as gesin en probeer om ten minste een maaltyd per dag saam te eet. Christelike vergaderinge, velddiens en gesinstudie is noodsaaklik. Maar daar is ook ‘’n tyd om te lag en om van vreugde rond te spring’ (Prediker 3:1, 4). Ja, julle moet tyd vir opbouende ontspanning inruim. Besoeke aan museums, dieretuine en soortgelyke plekke is vir die hele gesin genotvol. Of julle kan die TV afskakel en tyd saam bestee deur te sing, na musiek te luister, speletjies te speel en te gesels. Dit kan die gesin help om nader aan mekaar te kom.
22. Waarom moet julle hard werk vir die redding van julle huisgesin?
22 Mag julle almal as Christenouers julle voortdurend daarop toelê om Jehovah ten volle te behaag terwyl ‘julle in elke goeie werk vrug dra en in die kennis van God groei’ (Kolossense 1:10). Bou julle huisgesin op ’n sterk grondslag van gehoorsaamheid aan God se Woord (Mattheüs 7:24-27). En wees verseker dat julle pogings om julle kinders “in die tug en vermaning van die Here” groot te maak sy goedkeuring sal wegdra.—Efesiërs 6:4.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Die Bybelse beskouing: ‘Die tugroede’—Is dit ouderwets?” in die Ontwaak! van 8 September 1992.
b Sien Die Wagtoring van 1 Desember 1980, bladsye 14-26.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe kan die man en die vrou saamwerk om hulle huisgesin op te bou?
◻ Wat is van die emosionele behoeftes van kinders, en hoe kan ’n mens daarin voorsien?
◻ Hoe kan gesinshoofde hulle kinders formeel en informeel onderrig?
◻ Hoe kan ouers hulle kinders in regverdigheid dissiplineer?
◻ Wat kan vir enkelouergesinne en stiefgesinne gedoen word?
[Prent op bladsy 16]
’n Vader se liefde en goedkeuring is belangrik vir ’n kind se emosionele ontwikkeling