Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 7/15 bl. 21-24
  • Hoe ruim jy geskille uit die weg?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ruim jy geskille uit die weg?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Klein geskille
  • Hoe om ernstige geskille uit die weg te ruim
  • Kan jy nie maar vergewe nie?
  • Jy kan jou broer wen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Los geskille in ’n gees van liefde op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • ‘Hou aan om mekaar vryelik te vergewe’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Vergewe uit jou hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 7/15 bl. 21-24

Hoe ruim jy geskille uit die weg?

’n Lomp beweging—en die derde porseleinolifant in ’n ry van vyf het van die skoorsteenmantel afgeval. Dit sal herstel moet word. Anders sal die harmonie van die hele stel versteur wees. Maar dit is ’n delikate proses en jy weet nie of jy dit sal kan doen nie. Jy sal raad moet vra of dalk selfs ’n vakman moet vra om die werk te doen.

HARMONIE tussen geestelike broers en susters is baie kosbaarder as blote ornamente. Die psalmis het gepas gesing: “Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook [“in eenheid”, NW] saamwoon!” (Psalm 133:1). Dit kan soms ’n delikate saak wees om ’n geskil met ’n mede-Christen uit die weg te ruim. Daarbenewens pak sommige dit nie op die regte manier aan nie. Die “herstel” is dikwels onnodig pynlik of nie baie goed nie, en daar bly onooglike, duidelik sigbare merke agter.

Party Christene betrek aangestelde ouere manne onnodig by sake wat hulle self kan hanteer. Dit is moontlik die geval omdat hulle nie seker is wat om te doen nie. “Baie van ons broers weet nie hoe om Bybelraad toe te pas om hulle geskille uit die weg te ruim nie”, het een broer gesê wat ervare daarin is om Bybelraad te gee. “Baie dikwels”, het hy verder gesê, “doen hulle dinge nie soos Jesus dit sou gedoen het nie.” Wat het Jesus dan gesê oor hoe ’n Christen geskille met sy broer uit die weg moet ruim? Waarom is dit noodsaaklik dat ’n mens goed met hierdie raad vertroud raak en leer hoe om dit toe te pas?

Klein geskille

“As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.”—Mattheüs 5:23, 24.

Toe Jesus daardie woorde gespreek het, was dit vir die Jode gebruiklik om offerandes by, of gawes na, die altaar by die tempel in Jerusalem te bring. As ’n Jood ’n mede-Israeliet veronreg het, kon die oortreder ’n volledige brandoffer of ’n sondoffer bring. Die voorbeeld wat Jesus gegee het, begin by die mees kritieke oomblik. Wanneer die persoon by die altaar is en sy offer aan God wil bring, onthou hy dat sy broer iets teen hom het. Ja, die Israeliet moes besef dat versoening met sy broer die voorrang bo die uitvoering van so ’n godsdiensplig moes geniet.

Hoewel sulke offers ’n vereiste van die Mosaïese Wet was, het hulle op sigself nie die grootste waarde in God se oë gehad nie. Die profeet Samuel het vir ontroue koning Saul gesê: “Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.”—1 Samuel 15:22.

In sy Bergpredikasie het Jesus hierdie volgorde herhaal en vir sy dissipels getoon dat hulle hulle geskille uit die weg moet ruim voordat hulle hulle offers bring. Vandag moet Christene offers van ’n geestelike aard bring—‘’n lofofferande, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak’ (Hebreërs 13:15, NW). Die beginsel bly nietemin van krag. Die apostel Johannes toon eweneens dat dit vir iemand nutteloos sal wees om te sê dat hy God liefhet as hy sy broer haat.—1 Johannes 4:20, 21.

Dit is interessant dat die persoon wat onthou dat sy broer iets teen hom het die eerste stap moet doen. Hierdie nederigheid van hom sal waarskynlik goeie resultate oplewer. Dit is onwaarskynlik dat iemand wat te na gekom is, sal weier om sy samewerking te gee aan iemand wat na hom toe kom en sy eie foute erken. Die Mosaïese Wet het bepaal dat enigiets wat wederregtelik geneem is ten volle vergoed moes word en dat daar nog ’n vyfde bygevoeg moes word (Levitikus 6:5). Dit sal eweneens makliker wees om vreedsame, harmoniese betrekkinge te herstel as die oortreder toon dat hy meer wil doen as wat vereis word en dat hy, in die engste sin van die woord, enige skade wil herstel wat hy moontlik aangerig het.

Maar pogings om vreedsame betrekkinge te herstel, is nie altyd suksesvol nie. Die boek Spreuke herinner ons daaraan dat dit moeilik is om geskille uit die weg te ruim met iemand wat dit moeilik vind om op jou pogings te reageer. Spreuke 18:19 sê: “’n Broer teen wie oortree is, is erger as ’n sterk stad; en geskille is soos die grendel van ’n paleis.” ’n Ander vertaling lui: “’n Broer wat te na gekom is, is moeiliker om te win as ’n sterk stad: En hulle twis is soos die versperring van ’n kasteel” (The Englishman’s Bible). Maar dit is waarskynlik dat opregte en nederige pogings uiteindelik sal slaag in die geval van medegelowiges wie se begeerte dit is om God te behaag. Maar waar die moontlikheid van ernstige sonde bestaan, moet Jesus se raad wat in Mattheüs hoofstuk 18 opgeteken is, toegepas word.

Hoe om ernstige geskille uit die weg te ruim

“En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.”—Mattheüs 18:15-17.

Gestel ’n Jood (of later ’n Christen) het ernstige probleme met ’n mede-aanbidder van Jehovah ondervind. Die een wat gemeen het dat daar teen hom gesondig is, moes die eerste stap doen. Hy moes die saak privaat met die oortreder bespreek. As hy nie steun vir sy kant van die saak probeer kry het nie, sou die waarskynlikheid beslis groter gewees het dat hy sy broer sou win, veral as dit net ’n misverstand was wat gou uit die weg geruim kon word. Alles sou makliker afgehandel word as dié wat regstreeks by die saak betrokke is die enigstes is wat daarvan weet.

Maar die eerste stap is dalk nie voldoende nie. Om daardie situasie die hoof te bied, het Jesus gesê: “Neem nog een of twee . . . saam.” Hulle was heel moontlik ooggetuies. Hulle het moontlik gehoor hoe die een persoon die ander een belaster of dié wat saamgeneem word, was dalk getuies van ’n geskrewe ooreenkoms waaroor die twee partye dit nou nie eens is nie. Daarenteen kan dié wat saamgeneem word getuies word wanneer enige faktore, soos geskrewe of mondelinge getuienis, ondersoek word om die rede vir die probleem vas te stel. Ook hier moet net die kleinste getal moontlik—“een of twee”—van die saak weet. Dit sal verhinder dat dinge vererger as die saak net ’n misverstand was.

Wat moet die veronregte se beweegredes wees? Moet hy sy mede-Christen probeer verneder en wil hy hê dat hy voor hom moet kruip? Met die oog op Jesus se raad moet Christene nie gou wees om hulle broers te veroordeel nie. As die oortreder sy fout erken, verskoning vra en sake probeer regstel, het die een teen wie gesondig is ‘sy broeder gewin’.—Mattheüs 18:15.

As die saak nie uitgestryk kon word nie, moes dit na die gemeente geneem word. Dit het aanvanklik die ouere manne van die Jode, maar later die ouere manne van die Christengemeente beteken. Die onberouvolle oortreder moet dalk uit die gemeente gesit word. Dit is wat dit beteken om hom te beskou “soos die heiden en die tollenaar”, mense wat deur die Jode op ’n afstand gehou is. Hierdie ernstige stap kon nie deur enige Christen as sodanig gedoen word nie. Die aangestelde ouere manne, wat die gemeente verteenwoordig, is die enigstes wat die gesag het om so iets te doen.—Vergelyk 1 Korinthiërs 5:13.

Die moontlikheid dat ’n onberouvolle oortreder uitgesit kan word, toon dat Mattheüs 18:15-17 nie op geringe verskille betrekking het nie. Jesus het van ernstige oortredings gepraat, maar wat van so ’n aard is dat dit wel deur net die twee betrokke persone geskik kan word. Byvoorbeeld, die oortreding is moontlik laster, wat die slagoffer se reputasie ernstig skaad. Of dit kan met geldelike sake verband hou, want van die volgende verse bevat Jesus se gelykenis van die onbarmhartige dienskneg wat groot skuld kwytgeskeld is (Mattheüs 18:23-35). ’n Lening wat nie binne die toegewese tyd terugbetaal is nie, is moontlik net ’n tydelike probleem wat maklik tussen die twee individue opgelos kan word. Maar dit kan ’n ernstige sonde word, naamlik diefstal, as die lener hardnekkig weier om terug te betaal wat hy skuld.

Ander sondes kan nie net tussen twee Christene uitgestryk word nie. Onder die Mosaïese Wet moes ernstige sondes gerapporteer word (Levitikus 5:1; Spreuke 29:24). Ernstige sondes waarby die reinheid van die gemeente betrokke is, moet eweneens aan Christen- ouere manne gerapporteer word.

Die meeste gevalle van wrywing tussen Christene val egter nie onder hierdie prosedure nie.

Kan jy nie maar vergewe nie?

Net nadat Jesus verduidelik het hoe ernstige geskille uit die weg geruim moet word, het hy ons nog ’n belangrike les geleer. Ons lees: “Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe” (Mattheüs 18:21, 22). By ’n ander geleentheid het Jesus vir sy dissipels gesê om “sewe maal op ’n dag” te vergewe (Lukas 17:3, 4). Dit is dus duidelik dat daar ’n beroep op Christus se volgelinge gedoen word om hulle geskille uit die weg te ruim deur mekaar vryelik te vergewe.

Dit sal baie inspanning verg. “Party broers weet eenvoudig nie hoe om te vergewe nie”, het die persoon gesê wat aan die begin aangehaal is. Hy het bygevoeg: “Hulle is verbaas wanneer iemand aan hulle verduidelik dat hulle die keuse het om te vergewe sodat die vrede in die Christengemeente allereers bewaar kan word.”

Die apostel Paulus het geskryf: “Verdra mekaar en vergewe mekaar [“vryelik”, NW] as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13). Dit sal dus goed wees as ons oor die volgende vrae peins voordat ons na ’n broer toe gaan wat ons te na gekom het: Is dít wat hy gedoen het belangrik genoeg om met hom daaroor te praat? Is dit werklik vir my onmoontlik om vorige geskille in ooreenstemming met die ware gees van Christelikheid te vergeet? Sou ek nie vergewe wou word as ek in sy skoene gestaan het nie? En kan ek van God verwag om my gebede te verhoor en my te vergewe as ek nie wil vergewe nie? (Mattheüs 6:12, 14, 15). Sulke vrae sal ons heel moontlik help om vergewensgesind te wees.

As Christene is een van ons belangrike verantwoordelikhede om die vrede in die gemeente van Jehovah se volk te bewaar. Laat ons dus Jesus se raad toepas. Dit sal ons help om vryelik te vergewe. Sulke vergewensgesindheid sal tot die broederlike liefde bydra wat die vernaamste kenmerk van Jesus se dissipels is.—Johannes 13:34, 35.

[Prent op bladsy 23]

Christene kan hulle geskille uit die weg ruim deur Jesus se raad te volg

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel