Die Kernbedreiging—Is dit uiteindelik verby?
“VREDE op Aarde lyk nou moontliker as op enige ander tydstip sedert die Tweede Wêreldoorlog.” Hierdie optimistiese verklaring deur ’n nuuskorrespondent aan die einde van die tagtigerjare was gegrond op die feit dat betekenisvolle ontwapeningsooreenkomste en onverwagse politieke omwentelinge die Koue Oorlog eindelik beëindig het. Maar was die kernbedreiging, wat so kenmerkend van die eertydse konfrontasie tussen die supermoondhede was, ook verby? Was blywende vrede en veiligheid werklik binne bereik?
Die gevare van ’n toename in kernmoondhede
Gedurende die Koue Oorlog, toe die supermoondhede op ’n vreesewewig staatgemaak het om die vrede te bewaar, het hulle ingestem om die bestudering van kernkrag vir vreedsame doeleindes toe te laat, maar om die gebruik van daardie kennis in die vervaardiging van kernwapens te beperk. In 1970 het die Kernsperverdrag in werking getree; dit is later deur ongeveer 140 lande bekragtig. Tog weier potensiële kernmoondhede, soos Argentinië, Brasilië, Indië en Israel, tot vandag toe om dit te onderteken.
Maar in 1985 het ’n ander potensiële kernmoondheid, Noord-Korea, dit wel onderteken. Toe daar dus op 12 Maart 1993 aangekondig is dat hy hom aan die verdrag onttrek, was die wêreld natuurlik onrustig. Die Duitse nuustydskrif Der Spiegel het gesê: “Die kennisgewing van onttrekking aan die Kernsperverdrag skep ’n presedent: Nou is daar die bedreiging van ’n kernwapenwedloop, wat in Asië begin en gevaarliker kan word as die bomwedywering tussen die supermoondhede.”
Noudat nuwe nasies as gevolg van nasionalisme teen ’n verstommende tempo gevorm word, sal die aantal kernmoondhede waarskynlik toeneem. (Sien venster.) Die joernalis Charles Krauthammer waarsku: “Die einde van die Sowjetbedreiging beteken nie die einde van die kerngevaar nie. Die werklike gevaar is die toename in kernmoondhede, en dit het maar net begin.”
Bomme te koop
Voornemende kernmoondhede is gretig om die aansien en mag te verkry wat hierdie wapens bied. Een land het glo ten minste twee kernplofkoppe by Kazakstan gekoop. Hierdie voormalige Sowjetrepubliek gee die plofkoppe amptelik as “vermis” aan.
In Oktober 1992 is etlike mans in Frankfurt, Duitsland, in hegtenis geneem met 200 gram hoogs radioaktiewe sesium, genoeg om ’n hele stad se watervoorraad te vergiftig. ’n Week later is sewe smokkelaars in München gevang met 2,2 kilogram uraan. Die ontdekking van twee kernsmokkelbendes binne twee weke het amptenare laat skrik, aangesien daar gedurende die vorige jaar wêreldwyd slegs vyf sulke gevalle aangemeld is.
Dit is nie bekend of hierdie persone aan terroristegroepe of aan regerings wou verkoop nie. Die moontlikheid van kernterrorisme is nietemin aan die toeneem. Dr. David Lowry van die Europese Sentrum vir Inligting oor die Vermeerdering van Kernwapens verduidelik die gevaar: “Al wat ’n terroris hoef te doen, is om ’n stuk hoogs verrykte uraan na ’n gesaghebbende instansie te stuur vir toetse en te sê ons het soveel, en hier is die bewys. Dit is soos ’n ontvoerder wat ’n slagoffer se oor aanstuur.”
Vreedsame “tydbomme” en “strikke van die dood”
Aan die begin van 1992 is 420 kernreaktors vir die vreedsame aktiwiteit van kragopwekking gebruik; nog 76 was in aanbou. Maar deur die jare heen het reaktorongelukke berigte van toenemende siekte, miskrame en geboortedefekte tot gevolg gehad. ’n Verslag sê dat voorvalle by ’n Sowjet-plutoniumaanleg teen 1967 drie keer soveel radioaktiewe uitstraling veroorsaak het as die Tsjernobil-ramp.
Hierdie latere voorval in April 1986 by Tsjernobil, in die Oekraïne, het natuurlik die meeste aandag getrek. Grigori Medwedew, adjunk-hoofkerningenieur by die Tsjernobil-aanleg gedurende die sewentigerjare, verduidelik dat die “ontsaglike hoeveelheid radioaktiwiteit” wat in die atmosfeer beland het “met tien Hirosjima-bomme vergelyk kan word wat die langtermyngevolge betref”.
In sy boek Tsjernobilskaja chronika noem Grigori Medwedew 11 ernstige kernreaktorongelukke in die voormalige Sowjetunie teen die middel-tagtigerjare en nog 12 in die Verenigde State. Laasgenoemde het die skokkende ongeluk in 1979 by Three Mile Island ingesluit. Van daardie gebeurtenis sê Grigori Medwedew: “Dit het die reputasie van kernenergie sy eerste ernstige knou gegee en illusies omtrent die veiligheid van kernenergie-aanlegte in baie mense se gedagtes verdryf—maar nie in almal s’n nie.”
Dit verduidelik waarom ongelukke steeds plaasvind. Gedurende 1992 het hulle met feitlik 20 persent toegeneem in Rusland. Ná een van hierdie voorvalle, wat in Maart van daardie jaar by die Sosnovy Bore-kragstasie in St. Petersburg, Rusland, plaasgevind het, het stralingsvlakke in noordoostelike Engeland met 50 persent gestyg en het dit in Estland en suidelike Finland dubbel die maksimum toelaatbare vlak bereik. Professor John Urquhart van die Newcastle-universiteit erken: “Ek kan nie bewys dat dit Sosnovy Bore was wat die styging veroorsaak het nie—maar as dit nie Sosnovy Bore was nie, wat was dit dan?”
Sommige deskundiges beweer dat daar iets skort met die ontwerp van reaktors soos dié in Tsjernobil en dat hulle eenvoudig te gevaarlik is om te gebruik. Meer as twaalf word nietemin steeds gebruik om in die ontsaglike vraag na elektrisiteit te help voorsien. Sommige reaktoroperateurs is al selfs daarvan beskuldig dat hulle veiligheidsoorheersstelsels afskakel om kraglewering te verbeter. Sulke berigte maak lande soos Frankryk bang, aangesien hulle kernaanlegte gebruik om 70 persent van hulle elektrisiteit te lewer. Nog ’n “Tsjernobil”, en baie aanlegte in Frankryk sal dalk permanent moet sluit.
Selfs “veilige” reaktors word blykbaar naderhand onveilig. Vroeg in 1993, gedurende ’n roetineveiligheidsondersoek, is meer as honderd barste in staalpype in die reaktor by Brunsbüttel, een van die oudstes in Duitsland, gevind. Soortgelyke barste is al in reaktors in Frankryk en Switserland gevind. In 1991 het die eerste ernstige ongeluk by ’n Japannese aanleg plaasgevind, en die ouderdom daarvan was moontlik ’n bydraende faktor. Dit hou niks goeds vir die Verenigde State in nie, waar nagenoeg twee derdes van die kommersiële reaktors ouer as ’n dekade is.
Kernreaktorongelukke kan enige plek en enige tyd plaasvind. Hoe meer reaktors, hoe groter die bedreiging; hoe ouer die reaktor, hoe groter die gevaar. Een koerant het hulle nie verniet tikkende tydbomme en radioaktiewe strikke van die dood genoem nie.
Waar moet hulle die afval stort?
Mense was onlangs verbaas om te vind dat ’n piekniekplek langs ’n rivier in die Franse Alpe afgesper en deur die polisie bewaak is. Die koerant The European het verduidelik: “Roetineondersoeke wat gelas is ná ’n plaaslike vrou twee maande gelede aan berilliumvergiftiging gesterf het, het getoon dat die radioaktiwiteitsvlak by die piekniekplek 100 keer hoër was as dié in die omliggende omgewing.”
Berillium, ’n merkwaardig ligte metaal wat deur verskeie prosesse vervaardig word, word in vliegtuigvervaardiging gebruik en, wanneer dit bestraal is, in kernkragstasies. ’n Fabriek wat berillium vervaardig, het klaarblyklik afval van die gevaarlike bestralingsproses op of naby die piekniekplek gestort. “Berilliumstofdeeltjies is, selfs as dit nie bestraal is nie”, volgens The European, “een van die giftigste vorme van industriële afval waarvan ons weet.”
Intussen is daar blykbaar oor ’n tydperk van 30 jaar nagenoeg 17 000 houers met radioaktiewe afval weggegooi in die waters langs die kus van Novaya Zemlya, wat die Russe gedurende die vroeë vyftigerjare as ’n kerntoetsterrein gebruik het. Daarbenewens is radioaktiewe gedeeltes van kernduikbote en dele van ten minste 12 reaktors in hierdie gerieflike vullisblik gestort.
Hetsy dit doelbewus gedoen word of nie, kernbesoedeling is gevaarlik. Aangaande ’n duikboot wat in 1989 langs die Noorweegse kus gesink het, het Time gewaarsku: “Daar lek reeds sesium-137, ’n karsinogeniese isotoop, uit die wrak uit. Tot dusver is die lekkasie glo te klein om ’n uitwerking op die seelewe of die mens se gesondheid te hê. Maar die Komsomolets het ook twee kerntorpedo’s aan boord gehad wat 13 kg plutonium bevat, waarvan die halfleeftyd 24 000 jaar is en die toksisiteit so hoog is dat ’n krieseltjie ’n mens kan doodmaak. Russiese deskundiges het gewaarsku dat die plutonium in die water kan uitlek en reeds teen 1994 uitgestrekte oseaangebiede kan besoedel.”
Hoe om van radioaktiewe afval ontslae te raak, is natuurlik nie ’n probleem wat net Frankryk en Rusland raak nie. Time berig dat die Verenigde State “hope radioaktiewe afvalmateriaal het en geen permanente bergplek daarvoor het nie”. Dit sê dat ’n miljoen vate dodelike stowwe tydelik geberg word met ’n immer teenwoordige “gevaar van verlies, diefstal en omgewingsbeskadiging weens verkeerde behandeling”.
Asof dit hierdie gevaar wou toelig, het ’n kernafvaltenk by ’n eertydse wapenaanleg in Tomsk, Siberië, in April 1993 ontplof en skrikbeelde van ’n tweede Tsjernobil gewek.
Dit is voor die hand liggend dat enige uitroepe van vrede en veiligheid wat op ’n sogenaamde einde van die kernbedreiging berus ongegrond is. En tog is vrede en veiligheid naby. Hoe weet ons dit?
[Venster op bladsy 4]
KERNMOONDHEDE
12, vir nou . . .
VERKLAARDE of DE FACTO: Belarus, Brittanje, China, Frankryk, Indië, Israel, Kazakstan, die Oekraïne, Pakistan, Rusland, Suid-Afrika, die Verenigde State
POTENSIEEL: Algerië, Argentinië, Brasilië, Irak, Iran, Libië, Noord-Korea, Sirië, Suid-Korea, Taiwan
[Prent op bladsy 5]
Selfs die vreedsame gebruik van kernenergie kan gevaarlik wees
[Erkenning]
U.S. National Archives photo
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Cover: Stockman/International Stock
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Background: U.S. National Archives photo