Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 8/1 bl. 27-30
  • Betoon Christelike liefde teenoor die bejaardes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Betoon Christelike liefde teenoor die bejaardes
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Bewakers van kennis”
  • ‘Beoefen godvrugtige toegewydheid’
  • Gee gereeld aandag aan hulle geestelike behoeftes
  • Wat die gemeente kan doen
  • “Oud en voldaan”
  • Die Christengesin help die bejaardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Sien om na die belange van die bejaardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Liefde teenoor bejaardes—’n Christelike verantwoordelikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Hoe Christene die bejaardes kan help
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 8/1 bl. 27-30

Betoon Christelike liefde teenoor die bejaardes

SAMUEL JOHNSON, ’n 18de-eeuse skrywer, het die verhaal vertel van ’n jong man wat, toe hy vriende besoek het, vergeet het waar hy sy hoed neergesit het. Niemand het iets daaroor gesê nie. “Maar as dieselfde verstrooidheid in ’n ou man gevind word”, het Samuel Johnson voorts gesê, “sal mense hulle skouers ophaal en sê: ‘Hy raak vergeetagtig.’”

Samuel Johnson se verhaal lig toe dat bejaardes, miskien soos ander minderheidsgroepe, die slagoffers van onregverdige veralgemening word. Hoewel dit ’n uitdaging is om na die behoeftes van bejaardes om te sien, vind almal wat daarby betrokke is baat daarby. Wat is die uitdagings en die belonings, en waarom word al hoe meer mense deur hierdie onderwerp geraak?

Volgens statistiek is 6 persent van die wêreld se bevolking 65 jaar of ouer, en in ontwikkelde lande is die persentasie twee keer so groot. In die Europese Gemeenskap, wat 1993 as die “Europese jaar van bejaardes en samehorigheid tussen generasies” aangewys het, is 1 uit elke 3 persone oor die 50. Daar, soos in die meeste nywerheidslande, is die grootste gedeelte van die bevolking verby hulle middeljare vanweë dalende geboortesyfers en ’n toename in die lewensverwagting. Om onder sulke omstandighede vir diegene op ’n gevorderde leeftyd te sorg, is ongetwyfeld ’n enorme taak. Hoe anders was dinge tog nie in vergange tye in die Ooste nie!

“Bewakers van kennis”

Die Handwörterbuch des Biblischen Altertums für gebildete Bibelleser (Handboek van Bybelse Geskiedenis vir Ingeligte Bybellesers) vestig die aandag daarop dat bejaardes in die Oosterse beskawing van die ou tyd “beskou is as bewaarders van die tradisionele waardes van wysheid en hoër kennis, en om hierdie rede is jonger mense aangespoor om hulle geselskap op te soek en by hulle te leer”. Smith’s Bible Dictionary verduidelik: “In die privaatlewe is daar na [die bejaardes] opgesien as die bewakers van kennis . . . [Jongmense] het hulle toegelaat om hulle mening eerste te gee.”

Respek vir die bejaardes is in die Mosaïese Wet weerspieël soos Levitikus 19:32 toon: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer.” Die bejaardes het gevolglik ’n bevoorregte posisie in die gemeenskap beklee en is as waardevol beskou. Dit is ongetwyfeld hoe die Moabitiese vrou Rut haar Israelitiese skoonmoeder, Naomi, beskou het.

Rut was vasbeslote om Naomi van Moab af na Israel te vergesel en het daarna sorgvuldig na Naomi se raad geluister. Toe hulle eers in Betlehem was, was dit Naomi wat opgemerk het dat Jehovah se hand sake rig en toe vir Rut gesê het hoe sy moet optree (Rut 2:20; 3:3, 4, 18). Rut se lewe is op ’n teokratiese manier gevorm namate sy by die ervare Naomi geleer het. Haar skoonmoeder was inderdaad ’n bewaker van kennis.

Jonger Christenvroue kan vandag op ’n soortgelyke wyse daarby baat vind as hulle met ouer vroue in die gemeente omgaan. Miskien oorweeg ’n suster dit om te trou of worstel sy met ’n besonder hardnekkige persoonlike probleem. Hoe verstandig sal dit tog wees om die raad en ondersteuning van ’n ryp bejaarde suster te vra wat ondervinding in die saak het!

Daarbenewens kan dit vir ’n liggaam van ouere manne voordelig wees om van die ondervinding van bejaardes in hulle midde gebruik te maak. Ons kan leer uit Lot se versuim om dit te doen. As gevolg van ’n rusie tussen Abraham en Lot se veewagters moes ’n besluit geneem word wat almal sou raak. Lot het ’n onverstandige keuse gemaak. Hoeveel beter sou dit tog nie gewees het as hy eers Abraham se raad gevra het nie! Lot sou volwasse leiding ontvang het en sou sy gesin die ellende kon gespaar het wat die gevolg van sy haastige besluit was (Genesis 13:7-13; 14:12; 19:4, 5, 9, 26, 29). Luister jy goed na wat ryp ouere manne te sê het voordat jy self oor ’n saak besluit?

Talle bejaardes het onuitputlike ywer vir Jehovah se werk, soos Simeon en Anna in die eerste eeu gehad het (Lukas 2:25, 36, 37). Dit is ’n blyk van respek en ’n weerspieëling van ’n liefdevolle gesindheid teenoor sulke bejaardes as ons hulle, selfs tot op ’n hoë ouderdom, by gemeentelike bedrywighede betrek in die mate waartoe hulle krag hulle toelaat. Miskien het ’n jongmens hulp nodig om ’n toewysing vir die Teokratiese Bedieningskool voor te berei. ’n Ouere man met insig besluit dalk dat die ideale onderrigter ’n bejaarde gemeentelid sal wees, een met wysheid wat met liefde en ervaring gepaardgaan, ’n behulpsame geaardheid en beskikbare tyd.

Om na die spesiale behoeftes van die bejaardes om te sien, behels egter meer. Baie word deur eensaamheid, vrees vir misdaad en finansiële probleme geteister. Wanneer bejaardes daarbenewens fisies agteruit begin gaan, word hierdie probleme vererger deur swak gesondheid en teleurstelling omdat hulle eie lewenskrag afneem. Hulle het dan baie meer aandag nodig. Hoe moet individue en die gemeente in die geheel optree?

‘Beoefen godvrugtige toegewydheid’

Gedurende die eerste eeu het Paulus onder inspirasie in 1 Timotheüs 5:4, 16 geskryf: “Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet dié eers leer om godvrugtige toegewydheid in hulle eie huisgesin te beoefen en om ’n verskuldigde vergoeding aan hulle ouers en grootouers te bly betaal, want dit is aangenaam in God se oë. As ’n gelowige vrou weduwees het, moet sy hulle help, en laat die las nie op die gemeente val nie. Dan kan dit dié help wat werklik weduwees is” (NW). Dit was die familie se verantwoordelikheid om die bejaardes te versorg. As ’n ouer gemeentelid behoeftig was nadat die familie alles gedoen het wat hulle kon, het die verantwoordelikheid op die gemeente gerus. Hierdie beginsels het nie verander nie.

Wat het Christene gehelp om Christelike liefde teenoor die bejaardes te betoon deur godvrugtige toegewydheid in hulle eie huisgesin te beoefen? Let op die volgende kommentare van ’n aantal Getuies wat ervare in die versorging van bejaardes is.

Gee gereeld aandag aan hulle geestelike behoeftes

“Die gesamentlike bespreking van die dagteks was van onskatbare waarde”, sê Felix, wat sy vrou gehelp het om vir haar ouers te sorg. “Persoonlike ondervindinge en ideale is met Jehovah se beginsels in verband gebring.” Ja, as ’n mens die uitdaging aanvaar om bejaarde familielede te versorg, is dit van die grootste belang dat die nodige aandag daaraan geskenk word om hulle geestelik op te bou. Dit is logies in die lig van Jesus se woorde in Mattheüs 5:3: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (NW). Die dagteks kan deur ’n Bybelleesprogram, deur die bespreking van Bybelse publikasies en deur gebed aangevul word. “Bejaardes hou daarvan as daar min of meer ’n roetine gevolg word”, sê Peter.

Ja, gereeldheid is noodsaaklik in geestelike sake. Bejaardes waardeer nie net roetine in geestelike dinge nie, maar ook in die alledaagse lewe. Selfs diegene met minder ernstige kwale kan liefdevol aangemoedig word om “elke dag uit die bed op te staan en behoorlik aan te trek”, sê Ursula. Ons wil natuurlik nie die indruk gee dat ons aan bejaardes voorskryf wat hulle moet doen nie. Doris erken dat haar goed bedoelde pogings dikwels skeef geloop het. “Ek het allerhande foute begaan. Eendag het ek my pa gevra om elke dag ’n skoon hemp aan te trek. My ma het my toe herinner: ‘Hy is nog mý man!’”

Die bejaardes was eenmaal jonk, maar vir jonger mense is dit ’n gedugte taak om hulle in die bejaardes se posisie te stel. Maar dít is die sleutel om hulle spesiale behoeftes te verstaan. Veroudering veroorsaak frustrasie. Gerhard verduidelik: “My skoonpa het geïrriteerd geraak met homself omdat hy nie meer alles kon doen wat hy in die verlede gedoen het nie. Dit was vir hom besonder pynlik om dit te aanvaar. Sy persoonlikheid het verander.”

Onder veranderende omstandighede is dit nie ongewoon vir ’n ouer persoon om aan opgekropte frustrasie uiting te gee deur ander, veral diegene wat hom versorg, te kritiseer nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Hulle liefdevolle aandag herinner hom aan sy eie lewenskrag wat afneem. Hoe behoort jy op hierdie onregverdige kritiek of klagtes te reageer?

Onthou, sulke negatiewe gevoelens weerspieël nie Jehovah se beskouing van jou pogings nie. Hou aan om goed te doen, en behou ’n skoon gewete, al ontvang jy van tyd tot tyd net onregverdige aanmerkings. (Vergelyk 1 Petrus 2:19.) Die plaaslike gemeente kan baie ondersteuning gee.

Wat die gemeente kan doen

Baie gemeentes het rede om innig dankbaar te wees vir die werk wat ons dierbare bejaarde broers en susters in die verlede gedoen het. Dit was húlle wat miskien die grondslag vir die gemeente gelê het en dit dekades gelede van net ’n paar verkondigers opgebou het. Waar sou die gemeente gewees het sonder hulle ywer van die verlede en, dalk, hulle huidige finansiële ondersteuning?

Wanneer dit in die geval van ’n bejaarde verkondiger nodig word om meer sorg te verskaf, hoef die familie nie alleen die verantwoordelikheid te dra nie. Ander kan help deur los takies te verrig, kos te kook, skoonmaakwerk te doen, die bejaarde vir ’n wandeling te neem, aan te bied om vervoer na Christelike vergaderinge te verskaf of eenvoudig by die Koninkryksaal met hom te gesels. Almal kan ’n handjie bysit, hoewel die grootste mate van doeltreffendheid en roetine bereik word waar pogings gekoördineer word.

Koördinering is iets wat ouere manne in gedagte kan hou wanneer hulle herdersbesoeke reël. Sommige gemeentes stel ’n goeie voorbeeld wat dit betref, en die ouere manne maak seker dat gereelde herdersbesoeke op bejaarde en sieklike persone gedoen word, selfs op diegene wat goed deur hulle familie versorg word. Maar dit lyk of ander gemeentes meer bewus moet wees van hulle verpligting teenoor die bejaardes.

Een getroue broer, wat diep in die 80 is, is deur sy dogter en skoonseun versorg, wat Bethel verlaat het om dit te doen. Maar besoeke deur ander gemeentelede was steeds vir hom belangrik. “Toe ek die siekes besoek het”, het die broer gekla, “het ek saam met hulle gebid. Maar niemand het nog ooit saam met my gebid nie.” Die liefdevolle aandag van familielede spreek die ouere manne nie vry van die verantwoordelikheid om ‘as herders toesig te hou oor die kudde van God wat onder hulle is’ nie (1 Petrus 5:2). Daarbenewens moet diegene wat bejaardes versorg, opgebou en aangemoedig word om met hulle goeie werk vol te hou.

“Oud en voldaan”

Alexander von Humboldt, ’n 19de-eeuse Duitse wetenskaplike, is op ’n gevorderde leeftyd deur ’n jong dame gevra of dit nie vir hom ’n las is om oud te word nie. “Wat jy daar sê, is waar”, het die geleerde man geantwoord. “Maar dit is die enigste manier om lank te kan lewe.” Baie broers en susters stel vandag eweneens ’n goeie voorbeeld deur die beproewinge wat die ouderdom meebring te aanvaar in ruil vir die eer om lank te kan lewe. Hulle weerspieël die gesindheid wat Abraham, Isak, Dawid en Job geopenbaar het, wat “oud en voldaan” was.—Genesis 25:8, NW; 35:29, NW; 1 Kronieke 23:1, NW; Job 42:17, NW.

Veroudering bied die uitdaging om hulp met waardigheid te aanvaar en om opregte dankbaarheid te toon. Wysheid vereis dat elkeen besef wat die perke van sy krag is. Maar dit beteken nie dat iemand wat ouer word noodwendig onaktief moet wees nie. Maria is ver oor die 90, maar sy woon steeds gemeentelike vergaderinge by en neem daaraan deel deur kommentare te lewer. Hoe doen sy dit? “Ek kan nie meer lees nie, maar ek luister na Die Wagtoring op kasset. Ek vergeet nogal heelwat, maar ek slaag gewoonlik daarin om ’n kommentaar te lewer.” As ’n mens besig bly met opbouende dinge, soos in Maria se geval, help dit jou om bedrywig te bly en jou Christelike persoonlikheid te behou.

Onder God se Koninkryk sal daar nie meer veroudering wees nie. Dan sal diegene wat in hierdie stelsel oud geword en miskien selfs gesterf het goeie herinneringe hê van die sorg en aandag wat hulle ontvang het. Wanneer sulke bejaardes se lewenskrag terugkeer, sal hulle Jehovah beslis daarvoor vurig liefhê en innig dankbaar voel teenoor diegene wat hulle tydens hulle beproewinge in hierdie ou stelsel getrou bygestaan het.—Vergelyk Lukas 22:28.

Wat van diegene wat nou bejaardes versorg? Binnekort, wanneer die Koninkryk volle beheer oor die aarde oorneem, sal hulle terugkyk met vreugde sowel as verligting dat hulle nie hulle verpligting omseil het nie, maar godvrugtige toegewydheid beoefen het deur Christelike liefde teenoor die bejaardes te betoon.—1 Timotheüs 5:4, NW.

[Venster op bladsy 30]

Die bejaardes sal jou besoeke verwelkom

Dit kan van groot nut wees om te beplan om ná die predikingswerk ’n besoek, van sowat 15 minute, by ’n bejaarde af te lê. Maar dit is die beste om nie sulke besoeke aan die toeval oor te laat nie, soos die volgende ondervinding toon.

Brigitte en Hannelore het saam aan die predikingswerk deelgeneem en het met ’n bejaarde man by sy deur gesels. Die susters het vyf minute lank met hom gesels voordat hulle uitgevind het dat hy ook ’n Getuie van Jehovah is, ’n lid van dieselfde gemeente. Wat ’n verleentheid! Maar die ondervinding het op ’n positiewe noot geëindig. Hannelore het dadelik planne gemaak om die broer te besoek en hom te help om gemeentelike vergaderinge by te woon.

Ken jy die naam en adres van elke bejaarde verkondiger wat in die gebied woon waar jy preek? Kan jy reëlings tref om ’n kort besoek by hulle af te lê? Dit sal ongetwyfeld baie waardeer word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel