Waarom die Getuies mense aanhou besoek
‘DAAR’S hulle al weer! Maar hulle was dan net ’n paar weke gelede hier!’ Gaan dit deur jou gedagtes wanneer een van Jehovah se Getuies jou besoek? Miljoene mense word vandag gereeld deur Jehovah se Getuies besoek. Jy vra dalk: Waarom hou hulle aan wanneer hulle weet dat die meeste mense hulle eie godsdiens het of nie belangstel nie? Daardie vraag verdien ’n antwoord.
Verantwoordelikheid teenoor God
Jehovah se Getuies het uit die Skrif geleer dat wêreldgebeure sedert 1914, die jaar waarin die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, Bybelprofesieë aangaande die einde van die huidige wêreldstelsel en die komende heerskappy van God se Koninkryk oor hierdie aarde vervul. Ná bykans ’n eeu van geweld, bloedvergieting en haat is die mensdom klaarblyklik verder as ooit van ’n politieke oplossing vir hulle probleme. Die oorloë en terrorisme wat die mensegesin steeds teister, bewys dat menseheerskappy nie daarin geslaag het om mense se harte, verstande en gesindhede te verander nie. Diepgewortelde gegriefdheid oor gebeure wat lank gelede plaasgevind het, verbitter steeds die verhoudinge tussen etniese, ras- en godsdiensgroepe. Dit is die geval in gebiede so ver uitmekaar soos Afganistan, Indië, die voormalige Joego-Slawië, die Midde-Ooste, Noord-Ierland en Suid-Afrika. Wat is dan die enigste blywende oplossing?
Wat is die Getuies se beweegrede?
Jehovah se Getuies besef dat God se oplossing—sy beloofde Koninkryksheerskappy deur Christus Jesus—die enigste praktiese antwoord is. Jesus het selfs in sy beroemde modelgebed gevra om daardie Koninkryksheerskappy: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” Die Getuies glo dat hierdie gebed in werklikheid vra dat God in menseaangeleenthede ingryp.—Mattheüs 6:9, 10.
Maar waarom meen Jehovah se Getuies dan dat dit nodig is om voortdurend van huis tot huis te gaan om daardie boodskap te probeer oordra? Vanweë twee gebooie wat Jesus beklemtoon het: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Mattheüs 22:37-39.
Die Getuies wil self God se seën hê, en omdat hulle hulle naaste liefhet, wil hulle hê dat hulle naaste ook daardie seën moet ontvang. Hulle volg dus Jesus se voorbeeld en voel vanweë hulle onselfsugtige liefde verplig om hulle naaste te besoek. Hulle wil hulle ten minste die geleentheid bied om uit te vind wat “die gelukkige God” vir die gehoorsame mensdom op ’n gereinigde aarde beloof het.—1 Timotheüs 1:11, NW; 2 Petrus 3:13.
Die Christensendeling Paulus het in God se beloftes geglo en kon dus skryf: “Paulus, ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus volgens die geloof van die uitverkorenes van God en die kennis van die waarheid wat na die godsaligheid is, in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het.” Ja, God, “wat nie kan lieg nie”, het die ewige lewe “beloof” aan diegene wat nederig probeer om hom te leer ken en te dien.—Titus 1:1, 2; Sefanja 2:3.
Word die Getuies betaal?
Van tyd tot tyd word daar beweer dat die Getuies vir hulle bediening betaal word. Niks kan verder van die waarheid wees nie! Hulle neem Paulus se woorde aan die gemeente in Korinthe ernstig op: “Ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as uit opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.”—2 Korinthiërs 2:17.
Sommige godsdiensleiers preek wel vir geld, hetsy as betaling vir kerkdienste of omdat hulle handelsondernemings tydens hulle TV-bedienings bevorder. Die meeste godsdienste het ’n betaalde geestelikeklas.
In teenstelling hiermee het die Getuies nie ’n betaalde geestelikeklas nie, en hulle Bybellektuur word dikwels gratis vir opregte waarheidsoekers aangebied, hoewel baie van hulle vrywillige bydraes maak. Dít word gebruik om die koste van hierdie wêreldwye predikingswerk te dek. In ooreenstemming met Jesus se raad: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee”, gebruik die Getuies vryelik van hulle middele, met inbegrip van hulle tyd en energie, om elke jaar miljoene ure aan God se diens te wy. Sodoende leer hulle belangstellendes van huis tot huis en deur middel van tuisbybelstudies.—Mattheüs 10:8; 28:19; Handelinge 20:19, 20.
Die feite bewys dat geld nie ’n beweegrede vir Jehovah se Getuies as individue, vir hulle plaaslike gemeentes of vir die Wagtoringgenootskap is nie. Niemand word betaal omdat hulle van huis tot huis gaan nie. Hoe word die werk dan gefinansier? Deur vrywillige bydraes van waarderende mense oor die hele wêreld. Geen kollektes word ooit ingesamel nie.
Die uitwerking wat hulle getuieniswerk het
Is die publiek bewus van die Getuies se huis-tot-huis-bediening en hulle informele predikingswerk? Die bewyse in die media toon dat die antwoord op hierdie vraag ’n besliste ja is. Daar is al tydens TV-programme en rolprente na Jehovah se Getuies verwys wanneer iemand in ’n toneel aan ’n deur klop. Strokiesverhale het al van die Getuies melding gemaak. Hulle ywerige werksaamhede is so bekend dat spotprenttekenaars oor die hele wêreld al na Jehovah se Getuies verwys het. Dit lyk miskien of hierdie strokiesverhale sarkasties bedoel word, maar hulle is gewoonlik gegrond op ’n positiewe, fundamentele feit—dat die Getuies vir hulle volgehoue predikingswerk van huis tot huis bekend is.—Handelinge 20:20.
Een onlangse strokiesverhaal het ’n man uitgebeeld wat ’n berg uitklim om ’n “ghoeroe” te raadpleeg. Hy het gesê: “Praat met my oor wonderlike dinge wat gaan gebeur!” Hoe het die “ghoeroe” geantwoord? “Nou ja . . . Daar sal hongersnode, pessiektes en aardbewings wees. Die son sal in duisternis verander en die maan in bloed.” Die man het gevra: “Wat is die goeie nuus?” Daarop het die “ghoeroe” geantwoord: “God sal al die trane afvee . . . en daar sal nie meer dood of droefheid of pyn wees nie!” Die besoeker het toe gevra: “Hoe weet jy van hierdie dinge?” Wat was die antwoord? “Niemand kan Jehovah se Getuies ontduik nie!” Die strokiesprenttekenaar het heel waarskynlik uit ondervinding gepraat!
Die treffende punt van hierdie en ander soortgelyke strokiesverhale is dat dit nie net die reëlmatigheid van die Getuies se besoeke nie, maar ook die konsekwentheid van hulle boodskap openbaar. Die kunstenaar het met net ’n paar woorde ’n belangrike deel van die boodskap weergegee wat hulle van huis tot huis verkondig, en hy het die tekste aangehaal.—Vergelyk Mattheüs 24:7, 29; Openbaring 21:3, 4.
Die feit dat die meeste mense hulle boodskap verwerp, ontmoedig nie die Getuies nie en blus nie hulle ywer nie. Die apostel Petrus het gewaarsku: “Aan die einde van die dae [sal daar] spotters . . . kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.” Ten spyte hiervan gaan die Getuies voort om, met liefde as beweegrede, hulle naaste te besoek en sal hulle dit bly doen totdat God ’n einde aan die huidige verdorwe stelsel maak.—2 Petrus 3:3, 4.
Jesus het gesê dat die goeie nuus in die laaste dae éérs verkondig moet word. Vir ’n verdere ondersoek van waarom en hoe, sien die volgende twee artikels.—Markus 13:10.
[Prente op bladsy 9]
Jehovah se Getuies het nie ’n betaalde geestelikeklas nie—almal is vrywillige bedienaars