Ek vind geluk in ’n ware, wêreldwye broederskap
SOOS VERTEL DEUR WILLIE DAVIS
In 1934 was die hele wêreld in die greep van die Groot Depressie, en die Verenigde State het die angs van ’n ekonomiese opskudding beleef. Buite die Prospect-noodlenigingstasie in Cleveland, Ohio, was daar ’n geveg tussen ’n polisieman en ’n verklaarde Kommunis. Die polisieman het die Kommunis en ’n bystander, my ouma, Vinnie Williams, doodgeskiet.
DIE Kommuniste het hierdie sterftes in ’n rassevoorval probeer verander, aangesien my ouma swart en die polisieman wit was. Hulle het pamflette versprei met opskrifte soos “Cleveland-polisie rassisties” en “Wreek hierdie sterftes”. Die Kommuniste het my ouma se begrafnis gereël en daarna omgesien. Ek het ’n foto van die draers—almal wit en almal lede van die Kommunistiese party. Elkeen hou ’n gebalde vuis omhoog soos die een wat die Swart Mag later as hulle simbool aangeneem het.
Toe my ouma gesterf het, was haar dogter swanger met my, en vier maande later is ek gebore. Ek het met ’n spraakgebrek grootgeword. Ek kon nie praat sonder om te hakkel nie, en ek het dus gedurende my vroeë skoolopleiding spraakterapie ontvang.
My ouers is uitmekaar toe ek vyf was, en my ma het my en my suster grootgemaak. Toe ek tien was, het ek ná skool kruideniersware begin aflewer om gesinsuitgawes te help dek. Twee jaar later het ek voor en ná skool begin werk en die gesin se vernaamste broodwinner geword. Toe Ma in die hospitaal opgeneem is en ’n reeks operasies moes ondergaan, het ek die skool verlaat en voltyds begin werk.
Ek maak kennis met ’n broederskap
In 1944 het een van Jehovah se Getuies die boek “Die waarheid sal julle vrymaak” by my neef se vrou gelaat, en ek het betrokke geraak by die Bybelstudie wat met haar begin is. Daardie selfde jaar het ek die Teokratiese Bedieningskool in die Eastside-gemeente begin bywoon. Die skoolinstrukteur, Albert Cradock, het dieselfde spraakprobleem as ek gehad, maar hy het dit onder beheer gekry. Wat ’n aanmoediging was hy tog nie vir my nie!
Ons buurt was grotendeels Italiaans, Pools, Hongaars en Joods, en die gemeente het uit mense van hierdie en ander etniese groepe bestaan. Ek en my neef se vrou was onder die eerste swart Amerikaners wat met hierdie andersins wit gemeente omgegaan het, maar die Getuies het nooit enige rassevooroordeel teenoor ons getoon nie. Trouens, ek is gereeld vir maaltye na hulle huise uitgenooi.
In 1956 het ek na die suidelike gedeelte van die Verenigde State getrek om te dien waar daar meer bedienaars nodig was. Toe ek een somer vir die streekbyeenkoms na die noorde teruggekeer het, het baie van die broers in Cleveland my opgesoek en opregte belangstelling in my bedrywighede getoon. Hulle besorgdheid het my ’n belangrike les geleer: Moet nooit net ‘na jou eie belange omsien nie, maar ook na die ander s’n’.—Filippense 2:4.
Uitgebreide voltydse diens
Nadat ek drie jaar lank as ’n pionier in die voltydse predikingswerk gedien het, is ek in November 1959 genooi om by Brooklyn-Bethel, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York, te gaan werk. Ek is na die Versendingsafdeling aangewys. My departementele opsiener, Klaus Jensen, en my kamermaat, William Hannan, albei wit, het vir my geestelike vaders geword. By my aankoms daar het hulle elkeen al bykans 40 jaar by Bethel gedien.
In die vroeë sestigerjare was daar ongeveer 600 Bethelgesinslede, en ongeveer 20 was swart Amerikaners. Teen daardie tyd was die Verenigde State in die greep van rassetwis, en rasseverhoudinge was gespanne. Die Bybel leer nietemin dat “God geen aannemer van die persoon is nie”, en ons moet ook nie wees nie (Handelinge 10:34, 35). Die geestelike besprekings wat ons elke oggend aan tafel by Bethel gehad het, het ons voorneme versterk om God se beskouing oor sulke sake te aanvaar.—Psalm 19:8.
Terwyl ek by Brooklyn-Bethel gedien het, het ek Lois Ruffin ontmoet, ’n pionier van Richmond, Virginia, en ons is in 1964 getroud. Ons het besluit om in die voltydse bediening te bly, en ons het dus ná ons troue na die suidelike gedeelte van die Verenigde State teruggekeer. Ons het aanvanklik as spesiale pioniers gedien, en toe, in 1965, is ek uitgenooi om kringwerk te doen. Gedurende die volgende tien jaar het ons gemeentes in die state Kentucky, Texas, Louisiana, Alabama, Georgia, Noord-Carolina en Mississippi besoek.
’n Toets vir ons broederskap
Dít was jare van groot veranderinge. Voordat ons na die Suide getrek het, was die rasse gesegregeer. Swart mense is volgens wet verbied om na dieselfde skole te gaan, by dieselfde restaurante te eet, in dieselfde hotelle te slaap, by dieselfde winkels inkopies te doen of selfs by dieselfde drinkfonteine te drink as blankes. Maar in 1964 het die Kongres van die Verenigde State die Wet op Burgerregte aangeneem wat diskriminasie op openbare plekke, met inbegrip van vervoergeriewe, verbied het. Daar was gevolglik geen wetlike grond meer vir rassesegregasie nie.
Die vraag was dus: Sou ons broers en susters in suiwer swart en suiwer wit gemeentes integreer en liefde en geneentheid teenoor mekaar betoon, of sou druk van die gemeenskap en diepgewortelde gevoelens uit die verlede veroorsaak dat hulle integrasie teëstaan? Dit was ’n uitdaging om die skriftuurlike bevel te gehoorsaam: “Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning.”—Romeine 12:10.
Sedert menseheugenis was die heersende beskouing, veral in die Suide, dat swart mense minderwaardig is. Hierdie beskouing is deur feitlik elke faset van die samelewing, met inbegrip van die kerke, diep in almal se verstand geprent. Vir sommige blankes was dit dus nie maklik om swart mense as hulle gelykes te beskou nie. Dit was inderdaad ’n tydperk van toetsing vir ons broederskap—vir swart mense sowel as blankes.
Gelukkig was daar, oor die algemeen, ’n wonderlike reaksie op die integrasie van ons gemeentes. Eeue van sorgvuldig geïndoktrineerde beskouings van rassemeerderwaardigheid is nie gou uitgewis nie. Maar toe daar eers met integrasie begin is, het ons broers baie goed daarop gereageer, en die meeste was verheug dat hulle saam kon vergader.
Interessant genoeg, selfs mense wat nie Getuies was nie, het die integrasie van ons gemeentes goedgekeur. In Lanett, Alabama, is bure naby die Koninkryksaal byvoorbeeld gevra of hulle daarteen gekant is dat swart mense die vergaderinge bywoon. ’n Bejaarde blanke dame het ’n swart broer se hand geskud en gesê: “Kom jy maar gerus hier na ons buurt toe en dien jou God soos jy graag wil!”
Getroue broers in Ethiopië
In 1974 was ons verheug toe ons sendingopleiding van vyf en ’n half maande aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die stad New York kon ontvang. Ons is daarna na die Afrikaland Ethiopië aangewys. Haile Selassie, die keiser, was toe pas onttroon en onder huisarres geplaas. Aangesien ons predikingswerk verbied was, het ons die liefdevolle hegtheid van ons Christenbroederskap waardeer.
Ons het gewoon en gedien saam met baie van die broers wat later vanweë hulle getrouheid aan ware aanbidding opgesluit is. Sommige van ons dierbare vriende is selfs tereggestel. Adera Teshome was my mede- ouere man in ’n gemeente in Ethiopië se hoofstad, Addis Ababa.a Ná drie jaar in die tronk is hy tereggestel. Sy vrou was natuurlik diep bedroef. Wat ’n vreugde was dit tog jare later om haar te sien straal van vreugde terwyl sy as ’n pionier dien!
Worku Abebe, nog ’n getroue broer, is agt keer die doodstraf opgelê.b Maar hy is nooit geïntimideer nie! Die laaste keer toe ek hom gesien het, het hy my sy ore gewys wat deur tronkbewaarders met geweerkolwe stukkend geslaan is. Hy het skertsend gesê dat hy geweerkolwe vir ontbyt, middagete en aandete gehad het. Hoewel hy sedertdien gesterf het, onthou die broers hom steeds met geneentheid.
Hailu Yemiru is nog ’n broer van wie ek tere herinneringe het.c Hy het voorbeeldige liefde vir sy vrou getoon. Sy is in hegtenis geneem, maar aangesien sy swanger was en op die punt gestaan het om geboorte te skenk, het Hailu die gevangenisowerheid gevra of hy in haar plek tronk toe kon gaan. Later, toe hy nie sy geloof wou prysgee nie, is hy tereggestel.—Johannes 15:12, 13; Efesiërs 5:28.
Vanweë die verslegtende politieke situasie in Ethiopië het ons in 1976 na Kenia getrek. Sewe jaar lank het ons reisende werk gedoen en broers in baie lande van Oos-Afrika besoek—waaronder Kenia, Ethiopië, Soedan, die Seychelle, Uganda en Tanzanië. Ek het ook by verskeie geleenthede na Burundi en Rwanda gereis as deel van ’n afvaardiging om met amptenare te praat oor die wetlike registrasie van ons werk in daardie lande.
Dit was ’n vreugde om in Januarie 1992 na Ethiopië terug te keer om die eerste streekbyeenkoms by te woon wat daar gehou is ná die verbod op ons werk opgehef is. Baie van die meer as 7 000 wat dit bygewoon het, het mekaar nie geken nie, aangesien die broers voorheen slegs in klein groepies vergader het. Die meeste was elke dag van die streekbyeenkoms reeds twee uur voor die program begin het daar, en hulle het tot laat in die aand gebly en ons liefdevolle broederskap geniet.
Stamtrots word oorwin
Stamtrots vier al eeue lank hoogty in Afrika. Die grootste etniese groepe in Burundi en Rwanda, die Hutu’s en die Tutsi’s, haat mekaar byvoorbeeld al lank. Sedert hierdie lande in 1962 onafhanklikheid van België verkry het, het lede van die twee etniese groepe mekaar van tyd tot tyd by die duisende doodgemaak. Wat ’n vreugde was dit gevolglik tog om te sien hoe lede van hierdie etniese groepe wat Jehovah se Getuies geword het in vrede saamwerk! Die opregte liefde wat hulle teenoor mekaar betoon, het baie ander aangemoedig om na Bybelwaarhede te luister.
Etniese groepe in Kenia het eweneens al hulle verskille gehad. Wat ’n kontras vorm die Christenbroederskap van Jehovah se volk in Kenia tog hiermee! Daar kan gesien word hoe mense van verskillende etniese groepe in eenheid by die Koninkryksale aanbid. Ek het die vreugde gehad om te sien hoe baie van hulle hulle stamhaat opsysit en ware liefde teenoor hulle broers en susters van ander etniese groepe betoon.
Dankbaar vir ons broederskap
Wanneer ek oor 50 jaar van omgang met God se organisasie terugkyk, vul dankbaarheid teenoor Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, my hart. Dit was waarlik verbasend om te sien wat hulle op die aarde tot stand gebring het! Nee, toestande was nie altyd volmaak onder God se volk nie, en dit is vandag ook nie die geval nie. Maar daar kan nie verwag word dat die rassistiese leerstellings wat Satan se wêreld oor honderde jare verkondig het oornag uitgewis sal word nie. Ons almal is buitendien steeds onvolmaak.—Psalm 51:7.
Wanneer ek Jehovah se organisasie met die wêreld vergelyk, loop my hart oor van waardering vir ons ware, wêreldwye broederskap. Ek onthou nog met geneentheid daardie broers in Cleveland, almal blankes, wat my in die waarheid opgevoed het. En wanneer ek gesien het hoe ons broers in die suidelike Verenigde State, blankes sowel as swart mense, hulle gevoelens van vooroordeel met hartlike broederlike liefde vervang, het dit my hart laat juig. En toe ek na Afrika gegaan en eerstehands gesien het hoe Jehovah se Woord stamhaat kan uitwis, het dit my selfs meer waardering vir ons wêreldwye broederskap gegee.
Koning Dawid van die ou tyd het dit inderdaad goed gestel toe hy gesê het: “Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!”—Psalm 133:1.
[Voetnote]
a Die foto’s van Adera Teshome en Hailu Yemiru verskyn op bladsy 177 van die 1992 Yearbook of Jehovah’s Witnesses; Worku Abebe se ondervinding word op bladsye 178-81 vertel.
b Die foto’s van Adera Teshome en Hailu Yemiru verskyn op bladsy 177 van die 1992 Yearbook of Jehovah’s Witnesses; Worku Abebe se ondervinding word op bladsye 178-81 vertel.
c Die foto’s van Adera Teshome en Hailu Yemiru verskyn op bladsy 177 van die 1992 Yearbook of Jehovah’s Witnesses; Worku Abebe se ondervinding word op bladsye 178-81 vertel.
[Prent op bladsy 23]
My ouma se begrafnis
[Prent op bladsy 24]
Tutsi- en Hutu-Getuies werk in vrede saam
[Prent op bladsy 25]
Saam met my vrou, Lois