Petrus se graf—Is dit in die Vatikaan?
“DIE graf van die Apostelvors is gevind.” Die triomfantlike aankondiging van pous Pius XII is oor die Vatikaanse radio uitgesaai. Dit was die einde van 1950, en ’n ingewikkelde reeks opgrawings onder die St. Pieterskerk is kort tevore voltooi. Volgens sommige het die resultate van hierdie argeologiese navorsing bewys dat Petrus werklik in die Vatikaan begrawe is. Maar nie almal het daarmee saamgestem nie.
Die St. Pieterskerk in die Vatikaan is vir die Katolieke van besondere belang. “Die wesenlike doel van ’n pelgrimsreis na Rome is om Petrus se opvolger te ontmoet en sy seën te ontvang”, sê ’n Katolieke gids, “omdat Petrus na Rome toe gekom het en daar begrawe is.” Maar is Petrus werklik in Rome begrawe? Is sy graf in die Vatikaan? Is sy beendere gevind?
’n Argeologiese raaisel
Die opgrawings, wat in ongeveer 1940 begin en nagenoeg tien jaar geduur het, was al die onderwerp van baie geskille. Wat het die argeoloë wat deur die pous aangestel is, gevind? Onder andere ’n heidense begraafplaas wat talle grafte bevat. In die middel daarvan, onder die hedendaagse pouslike altaar, het hulle ’n aedicula gekry, dit wil sê ’n nis vir ’n standbeeld of ’n afgodsbeeld wat in ’n muur met rooi pleister ingebou is en deur twee symure omsluit word. Laastens, en boonop op onverklaarbare wyse, is daar ook menslike oorskot ontdek wat glo uit een van die twee symure gekom het.
Dit is waar die interpretasies begin. Volgens etlike Katolieke geleerdes staaf die vondste die tradisie dat Petrus gedurende Nero se heerskappy, moontlik tydens die vervolging van 64 G.J., in Rome gewoon en daar ’n marteldood gesterf het. Daar is al selfs gesê dat die stoflike oorskot relieke van die apostel is en dat dit as sodanig geïdentifiseer kan word deur ’n inskripsie wat volgens een interpretasie lui: “Petrus is hier.” Dit lyk of pous Paulus VI hierdie veronderstelling ondersteun het toe hy in 1968 die ontdekking aangekondig het van “St. Petrus se stoflike oorskot wat al ons toewyding en verering verdien”.
Maar saam met die interpretasies was daar ook teenargumente. Die Katolieke argeoloog Antonio Ferrua, ’n Jesuïet wat aan die Vatikaanopgrawings deelgeneem het, het by meer as een geleentheid bevestig dat hy ‘nie toegelaat is om alles te publiseer’ wat hy oor die onderwerp weet nie—materiaal wat blykbaar in stryd is met die bewering dat Petrus se relieke geïdentifiseer is. Daarbenewens het ’n gids vir Rome, wat deur die Katolieke kardinaal Poupard geredigeer is en in 1991 gepubliseer is, gesê dat die “wetenskaplike ondersoek van die mensebeendere wat onder die fondamente van die Rooi Muur gevind is blykbaar glad nie met die apostel Petrus verband hou nie”. Die frase het vreemd genoeg verdwyn toe die volgende uitgawe (later in 1991) verskyn het, en ’n nuwe hoofstuk met die titel “’n Sekerheid: Petrus in die St. Pieterskerk” is bygevoeg.
Interpretasie van die vondste
Dit is duidelik dat die vondste aan interpretasie onderworpe is en dat dit verskillende dinge vir verskillende mense beteken. Trouens, die gesaghebbendste Katolieke geskiedkundiges erken dat “die geskiedkundige probleme ten opsigte van Petrus se marteldood in Rome, en sy graf, ’n omstrede punt is”. Wat toon die vondste?
Volgens dié wat die Katolieke tradisie wil hooghou, is die aedicula-monument die “gedenkteken” waarvan ’n sekere Gajus, ’n priester wat aan die begin van die derde eeu geleef het, gepraat het. Volgens Eusebius van Cesarea, ’n kerkgeskiedkundige van die vierde eeu, het Gajus gesê hy kan ‘Petrus se gedenkteken op die Vatikaanheuwel aandui’. Die ondersteuners van tradisie beweer dat die apostel daar begrawe is, onder die nis wat as die “gedenkteken van Gajus” bekend geword het. Maar ander interpreteer die resultate van die opgrawings heeltemal anders en wys daarop dat die eerste Christene nie oormatig bekommerd was oor die begrafnis van hulle afgestorwenes nie, en al is Petrus daar tereggestel, is dit hoogs onwaarskynlik dat sy liggaam gevind sou word. (Sien venster, bladsy 29.)
Daar is diegene wat nie daarmee saamstem dat die “gedenkteken van Gajus” (as dit is wat gevind is) ’n graf is nie. Hulle sê dat dit ’n monument is wat aan die einde van die tweede eeu ter ere van Petrus opgerig is en dat dit later “as ’n grafmonument begin beskou is”. Daarenteen sê die teoloog Oscar Cullmann dat “die Vatikaanopgrawings glad nie Petrus se graf identifiseer nie”.
Wat van die beendere? Daar moet genoem word dat dit steeds ’n raaisel is waar die beendere nou eintlik vandaan kom. Aangesien daar in die eerste eeu ’n heidense nekropolis was op die plek wat nou die Vatikaanheuwel is, is die stoflike oorskot van talle mense in die omgewing begrawe, en baie daarvan is al gevind. Die onvolledige inskripsie (wat moontlik uit die vierde eeu dateer) wat volgens sommige die plek waar die relieke gevind is as die apostel se graf identifiseer, kan hoogstens “na die veronderstelde teenwoordigheid van Petrus se beendere” verwys. Daarbenewens meen baie epigrafiste dat die inskripsie selfs kan beteken: “Petrus is nie hier nie.”
’n ‘Onbetroubare tradisie’
“Die vroeë en betroubaarder bronne sê nie waar [Petrus] ’n marteldood gesterf het nie, maar onder die latere en minder betroubare bronne is daar feitlik eenstemmigheid daaroor dat dit in die Vatikaanomgewing was”, sê die geskiedkundige D. W. O’Connor. Die soektog na Petrus se graf in die Vatikaan is dus op onbetroubare tradisies gegrond. “Toe relieke baie belangrik geword het”, sê Daniel O’Connor, “het Christene opreg begin glo dat die [gedenkteken] van Petrus in werklikheid die presiese ligging van sy graf aandui.”
Hierdie tradisies het gedurende dieselfde tyd as die onskriftuurlike verering van relieke ontwikkel. Van die derde en vierde eeu af het verskeie kerklike sentrums valse en ware relieke gebruik—en nie sonder ’n winsoogmerk nie—in die stryd om “geestelike” oppermag te verkry en hulle eie gesag te bevorder. Omdat pelgrims dus oortuig was dat Petrus se stoflike oorskot wonderdadige kragte besit, het hulle sy veronderstelde graf begin besoek. Aan die einde van die sesde eeu het gelowiges sorgvuldig geweegde stukke materiaal op die “graf” gegooi. “As die smekeling se geloof sterk is”, het ’n destydse verslag gesê, “is dit opvallend dat die lap, wanneer dit van die graf verwyder word, vol goddelike deug is en meer as voorheen weeg.” Dit toon net hoe liggelowig die mense destyds was.
Deur die eeue heen het legendes soos hierdie en tradisies wat geen grondslag gehad het nie aansienlik tot die groei van die Vatikaanbasilika se prestige bygedra. Maar ander menings is ook gelug. In die 12de en 13de eeu het die Waldensers hierdie buitensporighede veroordeel en met die Bybel in die hand verduidelik dat Petrus nooit in Rome was nie. Verteenwoordigers van die Protestantse Hervorming het eeue later op soortgelyke wyse geredeneer. In die 18de eeu het welbekende filosowe die tradisie, geskiedkundig sowel as skriftuurlik, as ongegrond beskou. Dieselfde beskouing word tot vandag toe nog deur bekwame geleerdes, Katolieke en ander, gehuldig.
Het Petrus in Rome gesterf?
Petrus, ’n nederige Galilese visser, het beslis nie gedink dat hy die oppergesag oor die ouderlinge in die eerste-eeuse Christengemeente is nie. Hy het homself eerder as “’n mede-ouderling” beskryf (1 Petrus 5:1-6). Die nederige beeld van Petrus vorm ’n teenstelling met die praal wat sy veronderstelde graf omring, soos enige besoeker aan die Vatikaanbasilika kan sien.
Om sy oppermag oor ander Christengenootskappe uit te oefen, het die Katolieke Kerk probeer om erkenning te verleen aan die “latere en minder betroubare” tradisie wat sê dat Petrus ’n ruk lank in Rome gewoon het. Maar eienaardig genoeg is sy graf volgens ander eertydse tradisies nie in die Vatikaan nie, maar iewers anders in Rome. Maar is dit nie beter om by die feite te bly wat in die Bybel, die enigste bron van eerstehandse inligting oor Petrus, opgeteken is nie? Uit God se Woord blyk dit duidelik dat Petrus, in gehoorsaamheid aan die riglyne wat hy van die bestuursliggaam van die Christengemeente in Jerusalem ontvang het, sy werk in die oostelike deel van die antieke wêreld, onder andere in Babilon, gedoen het.—Galasiërs 2:1-9; 1 Petrus 5:13; vergelyk Handelinge 8:14.
Toe die apostel Paulus in ongeveer 56 G.J. aan die Christene in Rome geskryf het, het hy ongeveer 30 lede van daardie gemeente gegroet sonder om Petrus eers te noem (Romeine 1:1, 7; 16:3-23). Toe, tussen 60 en 65 G.J., het Paulus ses briewe vanuit Rome geskryf, maar Petrus word nie genoem nie—sterk omstandigheidsgetuienis dat Petrus nie daar was nie.a (Vergelyk 2 Timotheüs 1:15-17; 4:11.) Paulus se bedrywigheid in Rome word aan die einde van die boek Handelinge beskryf, maar daar word weer eens nie van Petrus melding gemaak nie (Handelinge 28:16, 30, 31). ’n Objektiewe ondersoek van Bybelbewyse, wat vry is van alle vooropgesette idees, kan dus net tot die gevolgtrekking lei dat Petrus nie in Rome gepreek het nie.b
Die “oppergesag” van die pous is op onbetroubare tradisies en ’n verdraaide toepassing van tekste gegrond. Jesus, nie Petrus nie, is die fondament van die Christelike godsdiens. ‘Christus is die hoof van die gemeente’, sê Paulus (Efesiërs 2:20-22; 5:23). Dit was Jesus Christus wat deur Jehovah gestuur is om almal wat geloof het te seën en te red.—Johannes 3:16; Handelinge 4:12; Romeine 15:29; sien ook 1 Petrus 2:4-8.
Almal wat dus die plek besoek wat hulle opreg glo Petrus se graf is om ‘sy opvolger te ontmoet’, het met die probleem te doen of hulle ‘onbetroubare tradisies’ of die betroubare Woord van God moet glo. Aangesien Christene wil hê dat hulle aanbidding God se goedkeuring wegdra, hou hulle ‘die blik stip gerig op die Hoofbewerker van hulle geloof, Jesus’, en op die volmaakte voorbeeld wat hy vir ons nagelaat het om te volg.—Hebreërs 12:2, NW; 1 Petrus 2:21.
[Voetnote]
a Paulus het sy briewe aan die Efesiërs, die Filippense, die Kolossense, Filemon en die Hebreërs in ongeveer 60-61 G.J. geskryf; sy tweede brief aan Timotheüs het hy in ongeveer 65 G.J. geskryf.
b Die vraag “Was Petrus ooit in Rome?” is in The Watchtower, 1 November 1972, bladsye 669-71, bespreek.
[Venster op bladsy 29]
“Die opgrawing het nie definitief bewys dat daar ’n graf onder die Aedicula is nie; en daar kan beslis ook nie met sekerheid gesê word dat die Christengemeenskap St. Petrus se liggaam by die skerpregters gekry het sodat hulle dit kon begrawe nie. Normaalweg sou die liggaam van ’n buitelander (peregrinus), wat volgens die wet as ’n misdadiger beskou is, heel waarskynlik in die Tiber gegooi gewees het. . . . Dit sou boonop op hierdie vroeë stadium nie so belangrik gewees het om liggaamlike relieke te bewaar soos dit later sou wees toe die geloof in die naderende einde van die wêreld verflou en die kultus van martelare sy verskyning begin maak het nie. Die moontlikheid dat St. Petrus se liggaam nie teruggekry is sodat dit begrawe kon word nie, bestaan dus werklik.”—The Shrine of St. Peter and the Vatican Excavations, deur Jocelyn Toynbee en John Ward Perkins.