Waar is die dooies?
“DIE aarde is ’n markplein; die hemel is ons tuiste”, sê die Joroebas van Wes-Afrika. Hierdie idee word in baie godsdienste gevind. Dit dra die gedagte oor dat die aarde soos ’n markplein is waar ons ’n kort rukkie besoek aflê en dan vertrek. Wanneer ons sterf, gaan ons volgens hierdie opvatting hemel toe, na ons ware woning toe.
Die Bybel leer wel dat sommige hemel toe gaan. Jesus Christus het vir sy getroue apostels gesê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings . . . Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”—Johannes 14:2, 3.
Jesus se woorde beteken nie dat alle goeie mense hemel toe gaan of dat die hemel die mensdom se tuiste is nie. Sommige mense word hemel toe geneem om oor die aarde te heers. Jehovah God het geweet dat menseregerings aangeleenthede op aarde nooit suksesvol sou kon beheer nie. Daarom het hy gereël dat ’n hemelse regering, of Koninkryk, uiteindelik beheer oor die aarde oorneem en dit in die Paradys omskep in ooreenstemming met sy oorspronklike voorneme (Mattheüs 6:9, 10). Jesus sal die Koning van God se Koninkryk wees (Daniël 7:13, 14). Ander is uit die mensdom gekies om saam met hom te heers. Die Bybel het voorspel dat diegene wat hemel toe geneem sal word “’n koninkryk en priesters vir ons God” sal wees en “as konings oor die aarde gaan heers”.—Openbaring 5:10, NW.
Wie gaan hemel toe?
As ons die groot verantwoordelikheid in aanmerking neem wat hierdie hemelse heersers sal hê, is dit nie verbasend dat hulle aan streng vereistes sal moet voldoen nie. Diegene wat hemel toe gaan, moet juiste kennis van Jehovah hê en hom gehoorsaam (Johannes 17:3; Romeine 6:17, 18). Hulle moet geloof in Jesus Christus se losprysoffer stel (Johannes 3:16). Maar meer is daarby betrokke. God moet hulle deur sy Seun roep en uitverkies (2 Timotheüs 1:9, 10; 1 Petrus 2:9). Daarbenewens moet hulle gedoopte Christene wees wat “weer gebore” is; verwek deur God se heilige gees (Johannes 1:12, 13; 3:3-6). Hulle moet ook tot die dood hulle onkreukbaarheid aan God handhaaf.—2 Timotheüs 2:11-13; Openbaring 2:10.
Miljoene der miljoene mense wat gelewe en gesterwe het, het nie aan hierdie vereistes voldoen nie. Baie het nie veel geleentheid gehad om van die ware God te leer nie. Ander het nog nooit die Bybel gelees nie en weet min of glad niks van Jesus Christus nie. Selfs vandag onder ware Christene op aarde is daar min wat deur God vir hemelse lewe uitverkies is.
Gevolglik sal die getal van diegene wat hemel toe gaan betreklik klein wees. Jesus het na hulle verwys as ’n “klein kuddetjie” (Lukas 12:32). Later is daar aan die apostel Johannes geopenbaar dat diegene “wat van die aarde vrygekoop is” om saam met Christus in die hemel te regeer net 144 000 sou uitmaak (Openbaring 14:1, 3; 20:6). Wanneer dit vergelyk word met die miljarde mense wat al op aarde gelewe het, is dit inderdaad ’n klein getal.
Diegene wat nie hemel toe gaan nie
Wat gebeur met diegene wat nie hemel toe gaan nie? Ly hulle in ’n plek van ewige foltering soos sommige godsdienste leer? Natuurlik nie, want Jehovah is ’n God van liefde. Liefdevolle ouers gooi nie hulle kinders in die vuur nie, en Jehovah pynig nie mense op so ’n manier nie.—1 Johannes 4:8.
Die vooruitsig vir die oorgrote meerderheid wat gesterf het, is ’n opstanding op ’n aardse paradys. Die Bybel sê dat Jehovah die aarde geskep het “om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Die psalmis het gesê: “Die hemel is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee” (Psalm 115:16). Die mensdom se permanente tuiste sal die aarde wees, nie die hemel nie.
Jesus het voorspel: “Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem [dié van Jesus, die “Seun van die mens”] sal hoor en sal uitgaan” (Johannes 5:27-29). Die Christenapostel Paulus het dit bevestig: “[Ek] hoop op God . . . dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:15). Aan die folterpaal het Jesus ’n berouvolle kwaaddoener die lewe belowe deur middel van ’n opstanding op ’n paradysaarde.—Lukas 23:43, NW.
Maar wat is die huidige toestand van die dooies wat tot lewe op aarde opgewek sal word? ’n Gebeurtenis in Jesus se bediening help ons om hierdie vraag te beantwoord. Sy vriend Lasarus het gesterf. Voordat Jesus gegaan het om hom op te wek, het Hy vir Sy dissipels gesê: “Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak” (Johannes 11:11). Sodoende het Jesus die dood met slaap vergelyk, ’n diep slaap sonder drome.
Slapend in die dood
Ander tekste kom ooreen met die gedagte dat ’n mens in die dood slaap. Hulle leer nie dat mense ’n onsterflike siel het wat by die dood na ’n geesteryk gaan nie. Die Bybel sê eerder: “Die dooies weet glad niks nie . . . Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Prediker 9:5, 6, 10). Daarbenewens het die psalmis gesê die mens “keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan”.—Psalm 146:4.
Hierdie tekste toon duidelik dat diegene wat in die dood slaap ons nie kan sien of hoor nie. Hulle is nie in staat om ons te seën of onheil oor ons te bring nie. Hulle is nie in die hemel nie, en hulle bevind hulle ook nie êrens saam met hulle voorvaders nie. Hulle is leweloos, hulle bestaan nie.
Op God se vasgestelde tyd sal diegene wat nou in die dood slaap en in sy geheue is wakker gemaak word tot lewe in ’n paradysaarde. Dit sal ’n aarde wees wat gereinig is van die besoedeling, moeilikhede en probleme wat die mensdom nou ondervind. Wat ’n vreugdevolle tyd sal dit tog nie wees nie! In daardie Paradys sal hulle die vooruitsig hê om vir ewig te lewe, want Psalm 37:29 verseker ons: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”
[Venster op bladsy 6, 7]
EK AANBID NIE MEER DIE DOOIES NIE
“Toe ek ’n seun was, het ek my pa gehelp met sy gereelde offerandes aan sy oorlede pa. By een geleentheid, toe my pa van ’n vreeslike siekte herstel het, het die siener vir hom gesê dat hy uit waardering vir sy herstel ’n bok, jamwortels, kolaneute en drank aan sy oorlede pa moes offer. My pa is ook aangeraai om sy afgestorwe voorvaders te smeek om enige verdere siekte en onheil af te weer.
“My ma het die dinge gekoop wat op my oupa se graf geoffer sou word. Die graf was reg langs ons huis, in ooreenstemming met plaaslike gebruik.
“Vriende, familie en bure is genooi om die offerdiens by te woon. My pa, deftig vir die geleentheid geklee, het op ’n stoel voor die altaar gesit waar verskeie bokskedels van vorige offerandes langs mekaar neergesit is. Dit was my werk om wyn uit ’n bottel in ’n klein glasie te skink wat ek aan my pa oorhandig het. Daarna het hy dit as ’n offerande op die grond uitgegiet. My pa het die naam van sy pa drie keer aangeroep en hom in gebed gevra om van toekomstige onheil verlos te word.
“Kolaneute is geoffer, en ’n ram is geslag, gekook en geëet deur almal wat teenwoordig was. Ek het saamgeëet en op maat van sang en tromslae gedans. My pa het pragtig en energiek gedans, al was dit duidelik dat hy nie meer so jonk was nie. Elke nou en dan het hy tot sy voorvaders gebid om almal wat teenwoordig was te seën, terwyl die mense, en ek ook, Ise geantwoord het, wat ‘Mag dit so wees’, beteken. Ek het my pa met groot belangstelling en bewondering dopgehou en met verlange uitgesien na die dag dat ek oud genoeg sou wees om aan afgestorwe voorvaders te offer.
“Ondanks die baie offerandes het vrede steeds die gesin ontwyk. Hoewel drie van my ma se seuns nog gelewe het, het nie een van haar drie dogters baie lank geleef nie; almal het in hulle kinderjare gesterf. Toe my ma weer swanger raak, het my pa oordadige offerandes gebring sodat die geboorte goed sou afloop.
“Ma het aan nog ’n dogter die lewe geskenk. Twee jaar later het die kind siek geword en gesterf. My pa het die siener geraadpleeg wat gesê het dat ’n vyand vir die dood verantwoordelik was. Die siener het gesê dat die ‘siel’ van die kind ’n brandende stuk hout, ’n bottel drank en ’n jong hondjie as offer nodig het om terug te veg. Die brandende hout moes op die graf geplaas word, die drank moes op die graf gesprinkel word en die jong hondjie moes lewendig naby die graf begrawe word. Dit was veronderstel om die siel van die oorlede dogtertjie te laat ontwaak sodat sy haar dood kon wreek.
“Ek het die bottel drank en die brandende hout na die graf toe gedra, en my pa het die hondjie gedra wat hy volgens die siener se instruksies begrawe het. Ons het almal geglo dat die siel van die oorlede dogtertjie binne sewe dae die persoon sou vernietig wat haar ontydige dood veroorsaak het. Twee maande het verbygegaan sonder enige berig van ’n sterfte in die buurt. Dit het my ontnugter.
“Ek was op daardie stadium 18 jaar oud. Kort daarna het ek Jehovah se Getuies ontmoet wat vir my uit die Skrif gewys het dat die dooies die lewendes nie kan bevoordeel of kwaad kan aandoen nie. Namate kennis van God se Woord in my hart wortelgeskiet het, het ek vir my pa gesê dat ek hom nie meer kan vergesel om offerandes aan die dooies te bring nie. Aanvanklik was hy kwaad vir my, omdat ek hom in die steek gelaat het soos hy dit gestel het. Maar toe hy sien dat ek nie bereid is om van my nuwe geloof af te sien nie, het hy nie my aanbidding van Jehovah teëgestaan nie.
“Op 18 April 1948 het ek my toewyding deur waterdoop gesimboliseer. Ek het sedertdien aangehou om Jehovah met groot vreugde en tevredenheid te dien en ander te help om bevry te word van die aanbidding van afgestorwe voorvaders wat ons nie kan help of leed kan aandoen nie.”—Bygedra deur J. B. Omiegbe, Beninstad, Nigerië.
[Prent op bladsy 7]
Daar sal groot vreugde wees wanneer die dooies op ’n paradysaarde opgewek word