’n Betekenisvolle lewenswyse
SOOS VERTEL DEUR MELVA A. WIELAND
In Maart 1940, ’n paar maande nadat ek gedoop is, het my suster Phyllis na my toe gekom en gevra: “Waarom word jy nie ’n pionier nie?” “’n Pionier?” het ek gevra. “Jy bedoel om voltyds, so te sê elke dag, te preek?”
‘HOE kan ek ’n pionier wees’, het ek gedink, ‘met my min Bybelkennis en selfs minder spaargeld in die bank?’ Phyllis se vraag het my nietemin laat dink. Ek het ook baie daaroor gebid.
Uiteindelik het ek geredeneer: ‘Waarom kan ek God nie vertrou as hy belowe dat hy na ons sal omsien as ons eers sy Koninkryk soek nie?’ (Mattheüs 6:33). Ek het dus in Junie 1940 uit my werk as kleremaakster bedank. Daarna het ek aan die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Australië geskryf en ’n pioniertoewysing aangevra.
My lewenslange toewysing
’n Paar weke later het ek ’n antwoord ontvang waarin ek in kennis gestel is dat ek ’n toewysing gegee sou word nadat ek die streekbyeenkoms bygewoon het wat gehou sou word op die terrein van die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Strathfield, ’n voorstad van Australië se grootste stad, Sydney. Die oggend ná die byeenkoms het ek by die kantoor aangemeld om my toewysing te kry.
Die persoon in die kantoor het verduidelik: “Ons is op die oomblik baie besig in die wassery. Sal jy kan bly en ’n paar weke uithelp?” Dit was in Augustus 1940—en ek werk nog steeds in die wassery! Destyds het die gesin by die hoofkwartier uit slegs 35 lede bestaan; nou is daar 276.
Maar jy wonder dalk waarom ek werk in die wassery as ’n “betekenisvolle lewenswyse” beskou, veral aangesien ek dit nou al meer as 50 jaar doen. Voordat ek verduidelik, wil ek graag vertel wat ek gedurende my vroeë jare nagejaag het.
Sport het ’n lewenswyse geword
Ek is op 1 Januarie 1914 as die eerste van vyf kinders in Melbourne gebore. Ons het liefdevolle ouers gehad wat hoë beginsels nageleef en dissipline toegedien het wanneer dit nodig was. Ons het nie ’n formele godsdiensopvoeding gehad nie, want ons ouers was nie kerkgangers nie. Hulle het nietemin daarop aangedring dat ons kinders Sondagskoolklasse van die Anglikaanse Kerk bywoon.
Toe ek in 1928 die skool verlaat en as ’n kleremaakster begin werk het, het ek besluit om die meeste van my vrye tyd aan sport te bestee omdat ek gemeen het dat dit my sou help om my skugterheid te oorkom. Ek het by ’n tennisklub aangesluit en die hele jaar deur gespeel. Gedurende die winter het ek ook basketbal en bofbal gespeel, en gedurende die somer het ek in die vrouekrieketspan gespeel. Krieket het my ware liefde geword, en ek het hard probeer om my vaardigheid as ’n snelbouler te vervolmaak sodat ek vir die interstaatwedstryde kon kwalifiseer.
’n Doel wat van sport verskil
Vroeg in my lewe het ek my begin kwel oor die leerstelling dat ’n God van liefde ’n plek het wat die hel genoem word waar mense wat slegte dinge doen oneindiglik gepynig word. Dit het net nie vir my sin gemaak nie. Stel jou dus my vreugde voor toe ek onverwags uit die Bybel die ware betekenis van die “hel” geleer het. Dit het so gebeur:
My suster Phyllis, wat vyf jaar jonger as ek is, het dit ook geniet om aan sport deel te neem, en ons was in dieselfde vrouekrieketspan. In 1936 het ’n spanmaat Phyllis aan ’n jong man met die naam Jim voorgestel wat daarvoor bekend was dat hy baie godsdienstig is. Jim het kort voor lank met Phyllis oor die Bybel se leringe begin praat. Dit het haar nuuskierigheid geprikkel. “Dit is so logies en redelik”, het sy vir my gesê.
Ek en Phyllis het destyds tuis ’n kamer gedeel, en sy het my belangstelling probeer wek in wat Jim haar van God se Koninkryk vertel het. “Dit gaan doen wat menseregerings nie kan doen nie”, het sy my opgewonde vertel. Maar ek het met haar gestry en gesê dat dit maar net nog ’n godsdiens is wat ons gaan verwar en dat niemand werklik iets van die toekoms af weet nie. Maar Phyllis het nie moed opgegee nie en het lektuur oral in die kamer gelaat in die hoop dat ek dit sou lees.
Ek was nuuskierig oor waarom Phyllis so geesdriftig oor hierdie nuwe geloof was, en ek het dus eendag na ’n boekie gekyk. Dit het die interessante titel Hiernamaals gehad. My belangstelling was gaande toe ek dit begin deurblaai en die woord “hel” sien. Tot my verbasing het ek uitgevind dat die Bybelwoord “hel” in werklikheid na die mens se gemeenskaplike graf verwys en dat goeie sowel as slegte mense daarheen gaan. Ek het ook gesien dat die hel nie ’n plek van pyniging is nie; die dooies is in ’n toestand van onbewustheid en kan niks voel nie.—Prediker 9:5, 10; Psalm 146:3, 4.
Dit het vir my sin gemaak, veral toe die boekie verduidelik het dat ’n liefdevolle en magtige God belowe het om die dooies terug te bring deur ’n wonderwerk wat die opstanding genoem word (Johannes 5:28, 29). Nou wou ek ook meer uitvind aangaande die dinge wat Jim vir Phyllis vertel het. Ek het die klein King James Version gevind wat my pa my in my kinderjare gegee het, en ek het die tekste nageslaan wat in die boekie aangegee is. Dit het bevestig wat oor die hel en die toestand van die dooies gesê is.
Nog ’n fassinerende verrassing vir my was om uit te vind dat God ’n persoonlike naam het, Jehovah (Psalm 83:18, NW). Ek kon ook sien dat God ’n doel, of rede, gehad het vir alles wat hy gedoen het of toegelaat het om te gebeur. Dit het my beweeg om my af te vra: ‘Wat is my doel in die lewe nou eintlik?’ Van toe af het ek begin wonder of dit in my belang was om sport so ernstig op te neem—soveel so dat ek alle ander dinge feitlik uitgesluit het.
Ek voer my voornemens uit
Jim en Phyllis het geen idee gehad dat my uitkyk op die lewe verander het nie, maar hulle het uitgevind toe ons familie na ’n vriend se partytjie genooi is. In daardie dae het almal by sulke geleenthede gestaan, en daarna is ’n heildronk op die koning van Engeland ingestel waarna almal hulle glase opgelig het om die heildronk te drink. Maar ek het besluit om saam met Jim en Phyllis te bly sit. Hulle kon hulle oë nie glo toe hulle sien dat ek nog sit nie! Ons het natuurlik nie bedoel om oneerbiedig te wees nie, maar as Christene het ons gevoel dat ons neutraal moet wees en nie aan sulke nasionalistiese seremonies moet deelneem nie.—Johannes 17:16.
My ouers en die res van die familie was nietemin met afgryse vervul. Hulle het gesê ons was dislojaal, of gek—of albei! Daarna, toe ek en Phyllis die jaarlikse prysuitdeling van die vrouekrieketklub bygewoon het, het iets soortgelyks tydens ’n nasionalistiese seremonie gebeur. Die uiteinde was dat ons albei uit die span bedank het. Dit was nie so moeilik as wat ek gedink het dit sou wees nie, want ek het begin besef dat ek getrou aan en lojaal teenoor Christus Jesus, die Koning van God se hemelse Koninkryk, moes wees.
Phyllis het nou verduidelik dat ek die vergaderinge van Jehovah se Getuies gereeld moes bywoon om my geloof met meer Bybelkennis op te bou. Destyds was daar net een gemeente in Melbourne, en ek het dus die vergaderinge elke Sondagmiddag daar begin bywoon. Ek was gou oortuig dat dít God se ware aardse organisasie is.
Kort voor lank is ek genooi om aan die gemeente se predikingswerk van huis tot huis deel te neem. Ek was aanvanklik huiwerig, maar een Sondagoggend het ek besluit om saam te gaan net om te sien hoe dit gedoen word. Ek was bly toe ek aangewys is om ’n ervare Getuie te vergesel wat vol vertroue by die eerste deur gepraat het en ’n goeie reaksie van die huisbewoner gekry het. Ek het gedink: ‘Wel, dit was nie te moeilik nie, maar ek sal baie moet oefen voordat ek dit so goed sal kan doen.’ Stel jou dus my verbasing voor toe die Getuie ná daardie eerste deur vir my gesê het: “Jy sal nou op jou eie verder kan gaan.”
“Op my eie?” het ek stomgeslaan gevra! “Jy kan nie ernstig wees nie! Wat sal ek sê as iemand ’n vraag vra en ek nie die antwoord ken nie?” Maar my metgesel wou nie toegee nie. Terwyl ek letterlik gebewe het, het ek dus alleen verder gegaan terwyl sy voortgegaan het om vir mense aan die ander kant van die straat te getuig. Ek het daardie eerste oggend op die een of ander manier oorleef.
Van toe af het ek begin om elke Sondagoggend aan die predikingswerk deel te neem. Wanneer iemand my by die deur ’n vraag gevra het wat ek nie kon beantwoord nie, het ek gewoonlik gesê: “Ek sal dit gaan naslaan en terugkom om jou te sien.” Gelukkig het Jehovah my voortdurend krag en moed gegee om in my nuwe, betekenisvolle lewenswyse te volhard. Ek het my lewe aan hom toegewy, en in Oktober 1939 is ek in Melbourne se openbare swembad gedoop. Kort daarna het Phyllis, wat toe al met Jim getroud was, gevra waarom ek nie aan die pionierdiens begin deelneem nie.
Diens by die Takkantoor
In Januarie 1941, kort nadat ek by Bethel begin werk het, soos ons die takkantoor genoem het, is die werk van Jehovah se Getuies in Australië verbied. Daarna het die weermag beheer van ons Bethelhuis in Strathfield oorgeneem, en ek is na die Genootskap se plaas in Ingleburn, 48 kilometer buite die stad, gestuur. In Junie 1943 het die howe die Wagtoringgenootskap vrygespreek en die verbod opgehef. Teen die einde van daardie jaar is 25 van ons na die Bethel in Strathfield teruggenooi. Daar het ek weer in die wassery gewerk sowel as om ander pligte in en om die huis na te kom.
Dit het gevoel of die volgende dekade verbygevlieg het. Toe, in 1956, het ek met ’n mede-Bethelwerker, Ted Wieland, getrou. Ted was ’n baie kalm, geduldige man, en ons was verheug toe ons toestemming gekry het om as man en vrou in Bethel aan te bly. Ons albei het ons betekenisvolle lewenswyse hoog op prys gestel en was dankbaar vir die voorreg om by die Australiese takkantoor te dien. Benewens ons Bethelwerk het ons die vreugde gehad om saam te werk om ander te help sodat hulle dissipels van Christus kon word. As een voorbeeld kan jy van die Weekes-gesin in die Ontwaak! se nommer van 22 Oktober 1993 lees.
Die bestendige groei van die Koninkrykspredikingswerk het daartoe gelei dat die personeel gedurende my eerste 30 jaar by Bethel met slegs 10 of 12 mense toegeneem het. Maar die situasie het in die sewentigerjare vinnig verander toe ons Die Wagtoring en die Ontwaak! hier begin druk het. In Januarie 1972 het bouwerk aan ’n nuwe drukkery begin. Kort daarna het ’n drukpers van 40 ton uit Japan aangekom, en teen 1973 het ons bykans 700 000 tydskrifte per maand gedruk. Ons Bethelgesin het nou werklik begin groei.
Tydens die sewentigerjare het ek ook persoonlike smart ervaar. Eers het my dierbare man, Ted, in 1975 op die ouderdom van 80 gesterf. Toe, minder as ’n jaar later, het my bejaarde pa ook ontslaap. Ek het baie vertroosting uit Jehovah en sy Woord, die Bybel, en uit my geestelike broers en susters geput. Dit het my ook grootliks gehelp dat ek gedurende hierdie baie hartseer tyd in my lewe met my betekenisvolle bedrywighede by Bethel besig gebly het.
Die lewe gaan nietemin voort, en ek het weer bevrediging en seëninge begin ervaar, maar nou as ’n weduwee. In 1978 het ek die streekbyeenkoms in Londen, Engeland, bygewoon en daarna het ek die Wagtoringgenootskap se wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, besoek. Ek het gesien hoe honderde van my broers en susters daar by die Brooklynse Bethel vreugdevol werk, en dit is vir my tot vandag toe ’n inspirasie.
Toe die sewentigerjare ten einde geloop het, het ons uitgevind dat daar verdere uitbreiding vir die Australiese Bethelkompleks beplan is. Maar die uitbreiding sou nie in Strathfield plaasvind nie, omdat ons grondruimte te klein geraak het. ’n Nuwe, veel groter kompleks sou gebou word op ons eiendom in Ingleburn, waar ek tydens die verbod in die vroeë veertigerjare gewerk het.
Ek geniet steeds ’n betekenisvolle lewenswyse
Watter opgewondenheid was daar tog in Januarie 1982 toe ons na ons nuwe fasiliteite verhuis het! Ons was weliswaar aanvanklik ’n bietjie hartseer omdat ons ’n bekende omgewing verlaat het, maar ons was gou in die wolke oor ons nuwe tuiste met sy 73 lieflike slaapkamers. Pleks van ’n uitsig oor baksteenmure en voorstedelike strate sien ons nou groen velde en bome, beeste wat wei en pragtige sonsopkomste en sonsondergange—waarlik ’n aangename omgewing.
Op 19 Maart 1983 het ons ’n wonderlike toewyding van die nuwe kompleks in heerlike herfssonskyn gehad. Lloyd Barry van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het ’n roerende toewydingstoespraak gehou. Ek het dit persoonlik waardeer dat hy en sy vrou vir die toewydingsprogram teenwoordig was, aangesien ek by die Bethel in Strathfield saam met hulle gewerk het toe ons almal nog heelwat jonger was.
Die voortgesette groei van die Koninkrykspredikingswerk het dit nodig gemaak dat ons fasiliteite hier in Ingleburn verder uitgebrei word. In 1987 is die kantoorgebou vergroot. Toe, op 25 November 1989, is ’n nuwe woongebou van vyf verdiepings en ’n nuwe aanbousel by die fabriek van drie verdiepings toegewy. Hoe het ons tog nie gegroei nie—van minder as 4 000 bedienaars in Australië toe ek met my bediening begin het tot nagenoeg 59 000!
Meer onlangs is die Australiese takkantoor saam met Japan en Duitsland een van die Genootskap se drie Streekingenieurskantore gemaak. Dit het selfs verdere uitbreiding van die Bethelkompleks nodig gemaak. Nog ’n kantoorgebou van drie verdiepings is nou voltooi, en die werk vorder goed aan ’n woongebou van vyf verdiepings wat nog 80 kamers sal hê vir die verblyf van ons steeds groeiende gesin.
In die wassery het ons ’n aansienlike span om die werklas te hanteer, maar ek onthou nog dikwels daardie dag in Augustus 1940 toe ek genooi is om twee weke lank in hierdie afdeling te kom help. Ek is so dankbaar dat daardie twee weke uiteindelik 50 jaar geword het en dat Jehovah God my voetstappe na so ’n betekenisvolle lewenswyse gerig het.
[Prent op bladsy 21]
Toe ek 25 jaar oud was
[Prent op bladsy 23]
Ons troudag in 1956
[Prente op bladsy 24]
In 1938 was ek en my suster baie betrokke by sport, maar my lewe is nou soveel sinvoller