Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 12/1 bl. 25-27
  • Gileadgegradueerdes—Gretig om die goeie nuus te verkondig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gileadgegradueerdes—Gretig om die goeie nuus te verkondig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hooftoespraak
  • Gileadskool—Floreer nog ná 50 jaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Meer sendelinge vir die wêreldoes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Gileadgegradueerdes gaan uit as ywerige oeswerkers!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Tot diens beweeg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 12/1 bl. 25-27

Gileadgegradueerdes—Gretig om die goeie nuus te verkondig

“DIE wonderlikste ding wat ons ons ooit kon voorstel.” Dit is hoe Anders en Amalia Groth oor hulle sendingopleiding gevoel het. Hulle het die gevoelens van al 48 gegradueerdes van die 97ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead uitgespreek toe hulle bygevoeg het: “Gileadopleiding het ons gemotiveer en voorberei, en daarom is ons gretig om na ons nuwe toewysings te gaan.”

Ons kan hierdie vreugde aanvoel terwyl die studente oor die gradueringsprogram kommentaar lewer; 6 420 het op 4 September 1994 vir die geleentheid bymekaargekom.

David Abel en sy vrou, Kelli, het gesê: “Theodore Jaracz van die Bestuursliggaam het die program geopen met ’n bespreking van die tema ‘Deur Jehovah geleer’.” “Die punt wat ons nooit sal vergeet nie, was toe broer Jaracz gesê het: ‘Ons moet ons eie nietigheid in vergelyking met Jehovah erken’, en hy het dit toegelig met die kragtige les in Job hoofstukke 38 en 39. Broer Jaracz het daarop gewys dat ons, hoewel ons ons kennis deur die Gileadskool vermeerder het, nie die antwoord op elke vraag ken nie. Ons moet aanhou om God se Woord te bestudeer.”

Toe was Christian en Angele Coffy aan die woord: “Ons was beïndruk deur Max Larson se toespraak oor die tema ‘Wat is die waarde van ’n goeie fondament?’ Ons het gehou van die manier waarop hy ons met ’n gebou vergelyk het wat ’n diep fondament in vaste grond nodig het sodat dit selfs tydens ’n aardbewing staande sal bly. Deur ywerig te studeer, kan ons ’n hegter verhouding met Jehovah opbou en kan ons ons geloof op ’n diep kennis grond sodat ons in moeilike tye staande kan bly.”

“Die toespraak deur Milton Henschel, die president van die skool, oor die tema ‘Die lande is wit vir die oes’ sal ons lank onthou”, het Gary en Lynn Elfers gesê. “Die sleutelteks, Johannes 4:35-38, het beklemtoon watter voorreg ons het om na lande te gaan waar vorige werkers reeds die saaiwerk gedoen het. Dit sal ons aanspoor om met ’n gevoel van dringendheid te werk.” Jan en Sirpa Vaahtola het hiermee saamgestem en opgemerk: “Broer Henschel het ons gretig laat uitsien na die oes wat nog voorlê toe hy die jongste verslag uit die Oosseestate gegee het. Die vermeerdering was 51 persent in Estland, 106 persent in Letland en 51 persent in Litaue. Hoe opwindend tog! Die broers daar bid die Here van die oes om meer arbeiders uit te stuur. Ons was veral bly om dit te hoor, aangesien ons ’n toewysing in Estland ontvang het!”

“Joel Adams het die volgende toespraak gehou oor die tema ‘Vertrou op Jehovah’”, het Kevin en Evelyn Cortina gesê. “Sy raad aan ons was dat ons nooit moet dink dat ons soms op Jehovah kan vertrou en soms op ons eie wysheid kan staatmaak nie. Ons sal baie uitdagings in ons toewysing die hoof moet bied—gesondheid, voedsel, taal, gebruike, ensovoorts. Dit sal alles verg dat ons op Jehovah vertrou.”

Volgende aan die beurt was Gerrit Lösch, ’n lid van die Bestuursliggaam, wat die tema “Weerspieël voortdurend Jehovah se barmhartigheid” ontwikkel het. Alen en Ann Marie Gokavi het gesê: “Hy het daarop gewys dat dit ’n aanduiding van Christelike rypheid is as ons barmhartig is teenoor ons medesendelinge en diegene aan wie ons die goeie nuus verkondig. Buitelandse toewysings verg opoffering, maar as barmhartigheid kortkom, sal ons opoffering baie min werd wees” (Mattheüs 9:13). Peter en Fleur Hupston het bygevoeg: “Broer Lösch het gesê dat ons ook teenoor ons broers en susters barmhartig moet wees en as ’t ware deur die voorkant van ’n verkyker na hulle kyk, sodat hulle tekortkominge verklein pleks van vergroot sal word.”

“Jack Redford, een van ons Gileadinstrukteurs, het vervolgens oor die tema ‘Kan jy teregwysing ter harte neem?’ gepraat”, het Mickey en Sherry Minsky gesê. “Hy het daarop gewys dat trots dit moeilik maak om teregwysing te aanvaar en dat ons, as ons oorgevoelig vir raad is, nie daarby baat sal vind nie. Toe het hy ’n paar praktiese wenke oor die aanvaarding van teregwysing gegee wat op Klaagliedere 3:27-31 gegrond is.” Charles en Joan Held het bygevoeg: “Ons is die meeste van die tyd blind vir ons eie tekortkominge; daarom moet ons teregwysing beskou as ’n manier om ons oë te open vir dinge waarvan ons nie bewus was nie. Teregwysing of raad van Jehovah af is ’n bewys van sy liefde vir ons.”

“Nog ’n instrukteur, Ulysses Glass, het gepraat oor die tema ‘Verkry die praktiese wysheid wat tot die lewe lei’. Hy het gevra: ‘Wat gaan jy doen met wat jy geleer het?’” het Kenneth en Lisbeth Ardkäll gesê. “Toe het hy ’n illustrasie gebruik wat op Spreuke 30:24-26 gegrond was oor die klein klipdassie en hoe Jehovah hom ten volle vir lewe toegerus het. Ons, daarenteen, is nie instinktief wys nie, en daarom moet ons ons inspan om wysheid te verkry. Jehovah het ons met alles toegerus wat ons nodig het om dit te doen. Solank ons in liefde nader aan Jehovah en aan mekaar kom, sal ons baie bereik.”

Hooftoespraak

“Broer Karl F. Klein, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die 19de Psalm op hartlike wyse met ons bespreek in sy toespraak ‘’n Juweel onder juwele’”, het Jay en Gwen Abraczinskas gesê. “Hy het die psalmis Dawid se innige waardering vir Jehovah en sy liefde vir God se Woord beklemtoon.” “Broer Klein het die psalm in drie gedeel”, het Keith en Donna Hornback gesê. “Deel 1 (verse 2-7) toon Dawid se waardering vir God se skepping, deel 2 (verse 8-11) spreek sy waardering vir God se wette uit en deel 3 (verse 12-15) herinner ons daaraan dat ons, soos Dawid, die begeerte moet hê om ’n goeie verhouding met Jehovah te hê.”

“Ons het die punt geniet dat vrees vir Jehovah noodsaaklik is as ons wil vermy wat sleg is. Dit dra daartoe by dat ons doen wat rein in sy oë is”, het David en Raylene Long gesê. Frank en Vibeke Madsen het daarmee saamgestem. “Broer Klein se kommentare oor hoe nuttig Jehovah se herinnerings, wette en gebooie is, is goed opgesom deur wat ons by Gilead geleer het”, het hulle gesê. “Dit het ons selfs meer vasbeslote gemaak om in die toekoms by God se Woord te bly en dit as ’n skatkis vol juwele te beskou.”

Ná die hooftoespraak het die studente hulle diplomas ontvang en is hulle buitelandse toewysings bekend gemaak. Nadat daar vir verversings verdaag is, het almal weer vir die middagsessie bymekaargekom. Die gegradueerdes het die vrae beantwoord wat gedurende ’n verkorte Wagtoring-studie gestel is.

“Daarna het die studenteprogram ‘Opgelei om Koninkryksverkondigers oor die hele aarde te word’, gevolg”, het Bob en Shannon Lakatos gesê. “Die eerste deel van die program het gehandel oor die studente se ondervindinge in die velddiens gedurende ons vyf maande lange kursus. Dit het die aandag gevestig op die bedrewe gebruik van vrae in ons bediening. ’n Onderhoudgedeelte het positiewe maniere getoon waarop die uitdagings en veranderende omstandighede van sendinglewe die hoof gebied kan word. Die drie skyfievertonings van Costa Rica, Indië en Malawi het ons ’n kykie op Jehovah se wêreldwye organisasie gegee.”

“Die daaropvolgende drama, Wees teokraties, nie wêrelds nie, het toegelig watter slegte uitwerking sommige wêreldse familielede met hulle onafhanklike denke kan hê”, het Jesse en Michelle Duncan gesê. “Dit het getoon dat Christene die Teokrasie se riglyne en leiding as noodsaaklik en nuttig moet beskou”, het Wenzel en Kelly Koula bygevoeg.

’n Laaste lied en gebed het die genotvolle program afgesluit. Terwyl die gegradueerdes weggegaan het in afwagting van hulle vertrek na buitelandse toewysings in 18 lande, is hulle gedagtes goed uitgedruk deur hierdie afskeidskommentaar van Tommi en Jael Kauko: “Ons is baie gretig om na ons toewysing te gaan en toe te pas wat ons geleer het. Ons het soveel ontvang—nou is dit ons beurt om te gee.”

[Prent op bladsy 26]

97ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Hong, J.; Hong, D.; Groth, A.; Cortina, E.; Lakatos, S.; Hornback, D.; Acevedo, L.; Coffy, A. (2) Elfers, L.; Gokavi, A.; Ardkäll, L.; Abraczinskas, G.; Knott, K.; Lizer, T.; Abel, K.; Abel, D. (3) Duncan, M.; Gokavi, A.; Held, J.; Hupston, F.; Lakatos, B.; Long, R.; Minsky, S.; Acevedo, E. (4) Ardkäll, K.; Kauko, J.; Vaahtola, S.; Cortina, K.; Carson, N.; Minsky, M.; Lizer, G.; Koula, K. (5) Duncan, J.; Abraczinskas, J.; Vaahtola, J.; Madsen, F.; Madsen, V.; Long, D.; Carson, C.; Elfers, G. (6) Kauko, T.; Hupston, P.; Held, C.; Groth, A.; Hornback, K.; Koula, W.; Knott, D.; Coffy, C.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel