Wat beteken Kersfees vir jou?
Hoe sal jy antwoord? Kersfees is (1) ’n tyd om by jou familie te wees; (2) ’n tyd vir partytjies; (3) ’n tyd vir godsdiens; (4) ’n spanningsvolle tyd; (5) ’n nostalgiese tyd; (6) ’n tyd van onverbloemde kommersialisme.
VERBASEND genoeg het ’n opname onder meer as 1 000 mense in Brittanje getoon dat slegs 6 persent van hulle meen dat Kersfees hoofsaaklik ’n godsdienstige geleentheid is. Daarenteen het 48 persent Kersfees merendeels beskou as ’n tyd om by hulle familie te wees. Trouens, baie beweer dat dit ’n spesiale tyd vir kinders is. Een 11-jarige meisie het tipies geantwoord toe sy gevra is wat vir haar die lekkerste van Kersfees is: “Die opwinding, die gevoel van geluk, [en] om presente te gee.” The Making of the Modern Christmas erken dat “die klem van . . . ‘tradisionele’ Kersfees ongetwyfeld grootliks op die huis, die familie en veral die kinders val”.
Maar dit is veral in die westerse Christendom dat Kersfees ’n familie-aangeleentheid is, ’n tyd wanneer familielede bymekaarkom om mekaar geskenke te gee. In lande waar die Oosters-Ortodokse Kerk die botoon voer, plaas mense groter klem op Paasfees; tog is Kerstyd gewoonlik steeds ’n vakansietyd.
’n “Kommersiële onderneming”
The New Encyclopædia Britannica sê dat Kersfees “’n proses van opvallende . . . kommersialisering ondergaan het”. Dit kan seker nêrens so duidelik gesien word as in Japan nie.
“Die Japannese het enige skyn van godsdiens laat vaar en Kersfees in ’n suiwer kommersiële onderneming verander”, berig die Daily Record van Washington. Dit voeg by dat Kersfees in Japan “’n groot viering is wat baie klem op kommersialisme en bra min op die godsdiensaspek plaas”.
Selfs in baie sogenaamd Christelike lande is dit dikwels moeilik om hierdie “godsdiensaspek” te bespeur. Nagenoeg 40 jaar gelede het ’n anti-Kersfeespamflet dit soos volg betreur: “Die kommersiële wêreld is die dryfveer agter Kersfees. Dit is die grootste geldmaakseisoen van die jaar. Voorgewende Christensakemanne sien uit na die Kersseisoen, nie ter wille van Christus nie, maar ter wille van finansiële wins.” Hoe waar is daardie woorde tog vandag! In baie lande is dit selde dat die laaste drie maande van die jaar aanbreek en ons nog nie herinner is aan hoeveel dae oor is om geskenke vir die volgende Kersfees te koop nie. Meer saketransaksies word na die einde van die jaar toe aangegaan, en tot ’n kwart van winkels se jaarlikse verkope vind tydens Kerstyd plaas.
Ongeag wat Kersfees nou vir jou beteken, jy wonder dalk hoe dit begin het. Trouens, steun die Bybel die gee van geskenke tydens Kersfees? Is die hedendaagse Kersvieringe werklik Christelik? Laat ons sien.
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Cover: Thomas Nast/Dover Publications, Inc., 1978