Kersfees—Is dit werklik Christelik?
VOLGENS The World Book Encyclopedia is “Kersfees die dag waarop Christene Jesus Christus se geboortedag vier”. Maar die ensiklopedie sê ook: “Die vroeë Christene het nie [Jesus se] geboorte gevier nie omdat hulle die viering van enigiemand se geboorte as ’n heidense gebruik beskou het.”
The Making of the Modern Christmas, deur John Golby en William Purdue, sê eweneens: “Die vroeë Christene het nie die geboorte van Christus gevier nie. Verjaarsdae is met heidense gebruike geassosieer; die Evangelies sê niks omtrent die eintlike datum van Christus se geboorte nie.”
As verjaarsdagvieringe nie ’n Christelike oorsprong het nie, hoe het die verjaarsdag van Christus dan so ’n prominente “Christelike” viering geword?
Die heidense oorsprong van “Kersfees”
“Almal het fees gevier en was in ’n vrolike stemming; werk en sake is ’n seisoen lank heeltemal gestaak; die huise is met lourier- en immergroen blare versier; vriende het by mekaar gekuier en mekaar geskenke gegee en beskermlinge het geskenke aan hulle beskermers gegee. Daar het gedurende die hele seisoen ’n gees van vreugde en welwillendheid geheers, en die mense het na hartelus verskillende soorte vermaak geniet.”—Paganism in Christian Festivals, deur J. M. Wheeler.
Pas hierdie beskrywing by die Kersfeesvieringe wat jy ken? Dit beskryf verbasend genoeg nie Kersfees nie! Inteendeel, dit is ’n beskrywing van Saturnalieë—’n week lange heidense fees van die Romeine wat met die wintersonstilstand (uitgebeeld op die volgende bladsy) verband gehou het. Die verjaarsdag van die onoorwonne son is op 25 Desember gevier, ’n vername feesdag van Rome se Mithraïstiese godsdiens.
Volgens The New Encyclopædia Britannica is “25 Desember, wat die verjaarsdag van Mithra, die Persiese god van lig, en . . . die dag gewy aan die onoorwonne son sowel as die dag ná die Saturnalieë is, deur die kerk oorgeneem as Kersfees, die geboorte van Christus, om die uitwerking van hierdie feeste teë te werk.” Die heidense verjaarsdagviering het gevolglik voortgeduur, bloot deur die name te verander, van Mithra na Christus!
Maar jy meen dalk dat die geboorte van God se Seun, Jesus, iets spesiaals was en met reg herdenk moet word. ’n Kykie na wat die Bybel hieroor sê, sal baie insiggewend wees.
’n Vreugdevolle gebeurtenis
Die 2de hoofstuk van Lukas se Evangelie voorsien die agtergrond. Lukas sê vir ons hoe hemelse engele, nederige herders, toegewyde knegte van God en Maria self op hierdie merkwaardige gebeurtenis gereageer het.
Kom ons kyk eers na die “herders . . . wat in die oop veld gebly” en “in die nag oor hulle skape wag gehou het”, iets wat hulle nie in die middel van die winter sou gedoen het nie. Toe “Jehovah se engel” verskyn het en God se heerlikheid om hulle geskyn het, was die herders aanvanklik bang. Die engel het hulle gerusgestel toe hy verduidelik het: “Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag . . . gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.” Toe “’n menigte van die hemelse leërskare” van engele skielik verskyn het, het die herders geweet dat hierdie geboorte anders as alle ander was. Interessant genoeg, die engele het nie vir die pasgebore baba geskenke gebring nie. Die engele het Jehovah eerder geprys en gesê: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!”—Lukas 2:8-14, vgl. NW.
Die herders wou hierdie baba natuurlik self sien, want dit was Jehovah wat die blye gebeurtenis aangekondig het. Toe hulle die baba vind wat in die krip lê, het hulle die ouers vertel wat die engele gesê het. Die herders het daarna weggegaan en “God verheerlik en geprys”, nie die baba nie.—Lukas 2:15-18, 20.
Maria, Jesus se moeder, was ongetwyfeld verheug oor die suksesvolle geboorte van haar eersgeborene. Maar sy het ook wat gebeur het “in haar hart oordink”. Daarna het sy, vergesel deur haar man, Josef, in gehoorsaamheid aan die Mosaïese Wet na Jerusalem gereis. Dit was glad nie vir ’n verjaarsdagviering nie. Dit was eerder ’n tyd om die baba voor God te stel, “soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word”.—Lukas 2:19, 22-24.
By die tempel in Jerusalem het Maria en Josef Simeon teëgekom, wat deur Lukas beskryf word as ‘regverdig en vroom en wat die vertroosting van Israel verwag het’. Daar is onder inspirasie aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterf voordat hy “die Christus van die Here” gesien het nie. Wat volgende gebeur het, was ook “deur [God se] Gees”. Simeon het die baba in sy arms geneem, nee, nie om hom ’n geskenk te gee nie, maar eerder om God te loof, en hy het gesê: “Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u heil gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke.”—Lukas 2:25-32.
Vervolgens het die bejaarde profetes Anna nader gekom. Sy het ook “die Here geprys en van [die kind] gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het”.—Lukas 2:36-38.
Maria, Simeon, Anna, die herders sowel as die hemelse engele het hulle almal verbly met Jesus se geboorte. Maar let asseblief daarop dat hulle nie aan enige oordadige verjaarsdagvieringe deelgeneem het en ook nie vir mekaar geskenke gegee het nie. Hulle het eerder die hemelse Voorsiener van hulle middel tot redding, Jehovah, verheerlik.
Party sal dalk steeds redeneer: ‘Die gee van geskenke tydens Kersfees kan sekerlik nie verkeerd wees nie, want het die “drie wyse manne” Jesus dan nie met geskenke geëer nie?’
Kersgeskenke
Laat ons weer eens die Bybelverslag ondersoek. Jy sal dit opgeteken vind in hoofstuk 2 van Mattheüs se Evangelie. Daar word van geen verjaarsdagviering melding gemaak nie, en geen spesifieke tyd word aangegee nie, hoewel dit natuurlik ’n ruk ná Jesus se geboorte was. In vers 1 noem Mattheüs die besoekers “sterrewiggelaars [Grieks, maʹgoi] uit oostelike streke” (NW), en gevolglik heidene wat geen kennis van Jehovah God gehad het nie. Die ster wat deur hierdie manne gevolg is, het hulle nie direk na Jesus se geboorteplek in Betlehem gelei nie, maar na Jerusalem, waar koning Herodus geheers het.
Toe hierdie bose heerser uitvind dat hulle navraag doen oor “Hy wat as koning van die Jode gebore is”, het hy die priesters geraadpleeg om presies uit te vind “waar die Christus gebore sou word” sodat hy die kind kon laat doodmaak. Die priesters het geantwoord deur Miga se profesie aan te haal wat Betlehem as die Messias se geboorteplek meld (Miga 5:1). Herodus het sy besoekers skynheilig opdrag gegee: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.” Die sterrewiggelaars het vertrek, en die ster het “hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was”. Let op dat hy as ’n “Kindjie” beskryf word en nie as ’n pasgebore baba nie.—Mattheüs 2:1-10, vgl. NAV.
Volgens die gebruik van invloedryke Oosterlinge wat ’n heerser besoek, het die heidense sterrewiggelaars neergeval en ‘vir die kindjie geskenke gebring: goud en wierook en mirre’. Mattheüs voeg by: “En omdat hulle in ’n droom ’n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ’n ander pad na hul land teruggegaan.”—Mattheüs 2:11, 12.
Uit hierdie kort skriftuurlike verslag probeer sommige mense dalk om steun te vind vir die gee van Kersgeskenke. Discovering Christmas Customs and Folklore verduidelik egter dat die huidige gebruik om geskenke te gee, teruggevoer kan word na die geskenke wat Romeine hulle arm bure tydens die Saturnalieë gegee het. “Die vroeë kerk . . . het die betekenis daarvan slinks na ’n rituele herdenking van die geskenke van die sterrewiggelaars verskuif.” Wat ’n kontras vorm dit tog met die ware aanbidders—soos die nederige herders—wat met Jesus se geboorte bloot God geprys het!
Eer Christus as Koning!
Vandag is Jesus nie meer ’n baba nie. Hy is ’n magtige Heerser, die Koning van God se hemelse Koninkryk, en hy moet as sodanig vereer word.—1 Timotheüs 6:15, 16.
As jy nou ’n volwassene is, het jy al ooit verleë gevoel wanneer mense in jou teenwoordigheid van jou babafoto’s vir ander gewys het? Sulke foto’s herinner jou ouers weliswaar aan hulle vreugde met jou geboorte. Maar noudat jy jou eie identiteit het, verkies jy dat ander jou sien soos jy is, nie waar nie? Dink eweneens aan hoe oneerbiedig dit teenoor Jesus Christus is wanneer diegene wat beweer dat hulle sy navolgers is elke jaar so in die heidense gebruike van Kersfees en in die verering van ’n baba verdiep raak dat hulle versuim om hom as Koning te vereer. Selfs in die eerste eeu het die apostel Paulus die gepastheid daarvan bespreek om Christus te sien soos wat hy nou is—’n Koning in die hemel. Paulus het geskryf: “Al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tog nie meer so nie”!—2 Korinthiërs 5:16.
Christus, as Koning van God se Koninkryk, sal binnekort die profetiese belofte om pyn, lyding, siekte en die dood te verwyder, laat bewaarheid word. Hy is die Een wat sal verseker dat almal onder Paradystoestande hier op die aarde huise en lonende werk sal hê (Jesaja 65:21-23; Lukas 23:43, NW; 2 Korinthiërs 1:20; Openbaring 21:3, 4). Dit is sekerlik genoeg rede om te voorkom dat ons Jesus oneer aandoen!
In navolging van Christus se eie voorbeeld streef Christene daarna om aan hulle naaste een van die grootste geskenke te gee wat enigiemand kan gee—’n begrip van God se voorneme, wat tot die ewige lewe kan lei (Johannes 17:3). Dit verskaf hulle groot vreugde om op hierdie manier geskenke te gee, soos Jesus ook gesê het: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35; Lukas 11:27, 28.
Christene wat opreg in mekaar belang stel, vind dit glad nie moeilik om hulle liefde vir mekaar op enige tyd van die jaar spontaan te betuig nie (Filippense 2:3, 4). Om ’n eenvoudige voorbeeld te noem: hoe wonderlik sal dit tog wees om ’n prentjie van ’n Christenkind te ontvang wat dit geteken het om dankie te sê nadat hy na ’n Bybeltoespraak geluister het! Dit is net so aanmoedigend om onverwags ’n geskenk van ’n familielid te ontvang as blyk van daardie persoon se liefde. Dit verskaf Christenouers eweneens baie vreugde wanneer hulle gepaste geleenthede deur die hele jaar kies om vir hulle kinders geskenke te gee. Hierdie soort Christelike vrygewigheid word nie deur ’n pligsgevoel op feesdae of deur heidense gebruike beïnvloed nie.
Vandag is daar gevolglik meer as vier en ’n half miljoen Christene uit alle nasies wat nie Kersfees vier nie. Hulle is Jehovah se Getuies, en hulle getuig gereeld vir hulle bure van die goeie nuus van God se Koninkryk (Mattheüs 24:14). Jy sal hulle waarskynlik ontmoet wanneer hulle jou by jou huis besoek, miskien binnekort. Mag jou gunstige reaksie op wat hulle jou vertel vir jou en jou gesin na groot vreugde lei terwyl julle leer hoe om Jehovah God elke dag van die jaar te loof.—Psalm 145:1, 2.
[Prent op bladsy 7]
Christene gee aan hulle naaste een van die grootste geskenke—die begrip van God se voorneme wat tot die ewige lewe lei
[Foto-erkenning op bladsy 4]
Culver Pictures