Jou godsdiens—’n Skip wat jy nooit moet verlaat nie?
’NSKIP is in die middel van ’n storm. Die bemanning, wat ’n desperate poging aanwend om hulle vaartuig te red, kom voor ’n dramatiese besluit te staan: om aan boord te bly of om die skip te verlaat en hulleself te red. Het jy geweet dat hierdie skrikwekkende drama as ’n teologiese illustrasie gebruik word?
Teoloë, veral Katolieke geleerdes, vergelyk dikwels hulle kerk met ’n skip wat ’n storm trotseer. Hulle sê dat hierdie skip, met Jesus of Petrus aan die stuur, die enigste middel tot redding verteenwoordig. Die geestelikes se standpunt is: ‘Moet nooit die skip verlaat nie. Die kerk het al voorheen ernstige krisisse beleef, maar dit is ’n skip wat ál die geskiedenis se storms getrotseer het.’ Party sê: ‘Waarom die skip verlaat? Watter alternatief is daar? Bly eerder en help om hom na kalmer water te stuur.’
In ooreenstemming met hierdie figuurlike taal redeneer baie mense van allerhande godsdienste: ‘Ek weet dat my godsdiens in baie opsigte verkeerd is, maar ek hoop dat dit sal verander. Ek wil dit nie verlaat nie. Ek wil graag ’n aandeel daaraan hê om sy probleme te help oplos.’ Hierdie soort redenasie spruit moontlik voort uit opregte liefde vir die godsdiens van ’n mens se voorvaders of selfs uit die vrees dat jy dit sal “verraai”.
’n Goeie voorbeeld is dié van Hans Küng, ’n bekende Katolieke andersdenkende teoloog wat gewonder het: “Moet ek die skip gedurende die storm verlaat en diegene saam met wie ek tot nou toe geseil het, agterlaat om die wind te trotseer, die water uit te skep en moontlik te veg om oorlewing?” Hy het geantwoord: “Ek sal diensbaar aan die kerk bly.” ’n Ander alternatief sou wees “om van hierdie kerk af weg te breek weens sy ontrouheid, uit liefde vir hoër waardes, en dalk, om meer soos die oorspronklike Christene te wees.”—Die Hoffnung bewahren.
Maar kan iemand op die skip van sy eie kerk bly in die hoop dat God, in sy barmhartigheid, alle godsdienste ’n onbeperkte tyd sal gee om te hervorm? Dit is ’n ernstige vraag. Soos die illustrasie toelig, sal dit net so gevaarlik wees om ’n bedreigde skip oorhaastig te verlaat deur in onveilige reddingsbootjies te klim as om op ’n sinkende skip te bly. Is dit verstandig om ten alle koste in ’n kerk te bly, wat ook al sy toestand? Watter vooruitsigte op hervorming bied die godsdienste van vandag? Hoe lank sal God hulle toelaat om sy wil teë te gaan?
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Chesnot/Sipa Press