Jesus se wonderwerke—Geskiedenis of mite?
“In die vierde nagwaak het hy oor die see na hulle toe aangeloop gekom.”—Matteus 14:25.
DIE opvatting dat Jesus Christus wonderwerke verrig het, is vir miljoene mense oor die wêreld byna so belangrik soos geloof in God self. Die Evangelieskrywers—Matteus, Markus, Lukas en Johannes—beskryf ongeveer 35 van Jesus se wonderwerke. Hulle verslae dui egter daarop dat hy baie meer bonatuurlike dade verrig het.—Matteus 9:35; Lukas 9:11.
Hierdie wonderwerke is nie verrig om mense te vermaak nie. Dit het ’n wesenlike deel uitgemaak van Jesus se verklaring dat hy die Seun van God, die langverwagte Messias, is (Johannes 14:11). Moses het wonderdadige tekens gedoen toe hy hom bekend gemaak het aan die nasie van Israel wat in slawerny was (Exodus 4:1-9). Dit is dus logies dat daar van die Messias, die een wat volgens profesie groter as Moses sou wees, verwag sou word om die een of ander teken van Goddelike steun te gee (Deuteronomium 18:15). Die Bybel noem Jesus dus “’n man wat in die openbaar deur God aan [die Jode] getoon is deur middel van kragtige werke en voortekens en tekens”.—Handelinge 2:22.
In die verlede het mense die Bybel se voorstelling van Jesus as iemand wat wonderwerke verrig het gewoonlik sonder enige twyfel aanvaar. Maar in die afgelope dekades is die Evangelieverslae deur kritici aangeval. In sy boek Deceptions and Myths of the Bible verwys Lloyd Graham na die Bybelverslag van Jesus wat op die water loop en skroom nie om te sê nie: “Dit verg groot onkunde om dít letterlik op te neem; tog is daar letterlik miljoene wat dit wel doen. En dan wonder ons wat met ons wêreld verkeerd is. Watter beter wêreld sou ’n mens uit sulke onkunde kon verwag?”
Onmoontlik?
Sulke kritiek is egter nie redelik nie. The World Book Encyclopedia definieer ’n wonderwerk as “’n gebeurtenis wat nie volgens die bekende natuurwette verklaar kan word nie”. Volgens daardie definisie sou mense ’n kleur-TV, ’n sellulêre telefoon of ’n skootrekenaar slegs ’n eeu gelede as wonderwerke beskou het! Het dit sin om dogmaties te wees en te sê iets is onmoontlik bloot omdat ons dit nie volgens huidige wetenskaplike kennis kan verklaar nie?
Daar is nog ’n faktor om in ag te neem: In die oorspronklike Grieks waarin die “Nuwe Testament” geskryf is, is die woord wat vir “wonderwerk” gebruik word dyʹna·mis—’n woord wat basies “krag” beteken. Dit word ook as “kragtige werke” of “vermoë” weergegee (Lukas 6:19; 1 Korintiërs 12:10; Matteus 25:15). Die Bybel verklaar dat Jesus se wonderwerke ’n openbaring van “die majestueuse krag van God” was (Lukas 9:43). Sou sulke werke vir ’n almagtige God onmoontlik wees—Een wat ’n “oorvloed van dinamiese energie” het?—Jesaja 40:26, NW.
Bewyse van betroubaarheid
’n Noukeurige ondersoek van die vier Evangelies bied verdere bewys van hulle geloofwaardigheid. Eerstens is hierdie verslae opvallend anders as sprokies en legendes. Beskou byvoorbeeld die valse stories oor Jesus wat in die eeue ná sy dood versprei is. Die apokriewe “Evangelie van Thomas” sê: “Toe hierdie seuntjie Jesus vyf jaar oud was . . . , het hy deur die dorp gegaan, en ’n jong seun het gehardloop en hom teen sy skouer gestamp. Jesus was woedend en het vir hom gesê: ‘Jy sal nie verder gaan nie’, en die kind het onmiddellik neergeslaan en gesterf.” Dit is nie moeilik om te sien wat hierdie storie werklik is nie—’n vergesogte verdigsel. Daarbenewens is daar geen ooreenkoms tussen die buierige, gemene kind wat hier beskryf word en die Jesus van die Bybel nie.—Vergelyk Lukas 2:51, 52.
Beskou nou die betroubare Evangelieverslae. Hulle is sonder oordrywing en fiktiewe inslag. Jesus het wonderwerke na aanleiding van werklike behoeftes verrig, nie om blote giere te bevredig nie (Markus 10:46-52). Jesus het nooit sy kragte gebruik om homself te bevoordeel nie (Matteus 4:2-4). En hy het dit nooit gebruik om te spog nie. Trouens, toe nuuskierige koning Herodes wou hê dat Jesus ’n wonderdadige “teken” vir hom doen, het Jesus “hom geen antwoord gegee nie”.—Lukas 23:8, 9.
Jesus se wonderwerke vorm ook ’n skerp teenstelling met die werk van professionele goëlaars, towenaars en geloofsgenesers. Sy kragtige werke het God altyd verheerlik (Johannes 9:3; 11:1-4). Sy wonderwerke was sonder emosionele rituele, towerspreuke, spoggerige vertonings, kullery en hipnotisme. Toe Jesus ’n blinde bedelaar met die naam Bartimeus teëgekom het wat uitgeroep het: “Rabboeni, laat my weer sien”, het Jesus eenvoudig vir hom gesê: “‘Gaan, jou geloof het jou gesond gemaak.’ En onmiddellik kon hy weer sien.”—Markus 10:46-52.
Die Evangelieverslae toon dat Jesus sy kragtige werke sonder rekwisiete, spesiale verhooguitleg of ligeffekte verrig het. Dit was oop en bloot gedoen, dikwels voor talle ooggetuies (Markus 5:24-29; Lukas 7:11-15). Anders as hedendaagse geloofsgenesers se pogings het sy pogings om te genees nooit misluk omdat ’n sieke kwansuis ’n gebrek aan geloof gehad het nie. Matteus 8:16 sê: “Hy het almal genees met wie dit sleg gegaan het.”
In sy boek “Many Infallible Proofs:” The Evidences of Christianity sê die geleerde Arthur Pierson van Christus se wonderwerke: “Hulle getal, die oombliklike en volkome aard van sy genesings en die feit dat daar nie een mislukking was in sy poging om selfs die dode op te wek nie, plaas ’n oneindige afstand tussen hierdie wonderwerke en die beweerde wondere van hierdie of enige ander tydperk.”
Sekulêre bevestiging
Arthur Pierson verskaf nog ’n argument wat die Evangelieverslae steun wanneer hy sê: “Geen bevestiging van die wonderwerke van die Skrif is merkwaardiger as die stilswye van vyande nie.” Die Joodse leiers het genoeg beweegrede gehad om Jesus se geloofwaardigheid in twyfel te wil trek, maar sy wonderwerke was so welbekend dat teenstanders nie gewaag het om dit te ontken nie. Al wat hulle kon doen, was om sulke dade aan demoniese kragte toe te skryf (Matteus 12:22-24). Eeue ná Jesus se dood het die skrywers van die Joodse Talmoed voortgegaan om wonderdadige kragte aan Jesus toe te skryf. Volgens die boek Jewish Expressions on Jesus het hulle hom verwerp as iemand wat “die towerkuns gevolg het”. Sou enigiemand so ’n opmerking gemaak het as daar selfs net ’n geringe moontlikheid bestaan het om Jesus se wonderwerke as blote mite te verwerp?
’n Verdere bewys kom van die vierde-eeuse kerkgeskiedskrywer Eusebius. In sy boek The History of the Church From Christ to Constantine haal hy ’n sekere Quadratus aan wat ’n brief ter verdediging van die Christelike geloof aan die keiser gestuur het. Quadratus het geskryf: “Ons Verlosser se werke was altyd sigbaar, aangesien hulle waar was—die mense wat genees is en dié wat uit die dood opgewek is, wat nie slegs gesien is die oomblik dat hulle genees of opgewek is nie, maar wat altyd daar was om gesien te word, nie net toe die Verlosser onder ons was nie, maar ’n lang tyd ná Sy vertrek; trouens, sommige van hulle lewe nog tot in my tyd.” Die geleerde William Barclay het gesê: “Quadratus sê dat daar tot in sy dag werklik mense te voorskyn gebring kon word op wie wonderwerke verrig is. As dit onwaar was, sou daar vir die Romeinse regering niks makliker gewees het as om dit as ’n leuen te bestempel nie.”
Geloof in Jesus se wonderwerke is redelik, rasioneel en ten volle in ooreenstemming met die getuienis. Tog is Jesus se wonderwerke nie dooie geskiedenis nie. Hebreërs 13:8 herinner ons soos volg: “Jesus Christus is gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde.” Ja, hy lewe vandag in die hemele, en is in staat om wonderdadige kragte op ’n baie groter skaal te gebruik as toe hy ’n mens op aarde was. Daarbenewens is die Evangelieverslae van sy wonderwerke daar om (1) Christene vandag praktiese lesse te leer, (2) fassinerende aspekte van Jesus se persoonlikheid te openbaar en (3) te wys na ’n tydperk in die nabye toekoms wanneer selfs skouspelagtiger gebeure sal plaasvind!
Die volgende artikel sal die aandag op drie welbekende Bybelverslae vestig om hierdie punte toe te lig.