Jehovah se Getuies in alle wêrelddele—Zambië
WYE, golwende vlaktes op ’n uitgestrekte plato wat 1 200 meter hoog is—dít is Zambië, ’n land in die hartjie van suidelike Sentraal-Afrika. In die noordooste bereik die Muchinga-berge ’n hoogte van 2 100 meter. Die magtige Zambezirivier, wat met asemrowende prag oor die wêreldbekende Victoriawaterval dreun, vorm die grootste deel van die suidelike grens van hierdie land wat geheel en al deur ander lande omring word. Daar is groot verskeidenheid onder die mense, met meer as 70 verskillende etniese groepe. Agt hooftale word hier gepraat, maar daar is baie ander.
In 1911 het ’n ander taal in Zambië gevestig geraak en begin versprei. Besoekers het eksemplare van Studies in the Scriptures in die land ingebring, en Jehovah se Getuies het van toe af pogings aangewend om die “suiwer taal” van Bybelwaarheid in Zambië te versprei (Sefanja 3:9, NW). Onskriftuurlike opvattings oor die toestand van die dooies bied veral ’n uitdaging. Wanneer mense die waarheid leer en sien hoe bygelowigheid hulle tot slawe gemaak het, het dit ’n bevrydende uitwerking!—Johannes 8:32.
Een getroue suster vertel byvoorbeeld: “Toe my oom skielik gesterf het, het my ma, ’n ywerige lid van die Verenigde Kerk van Zambië, verward geraak. Ná die week lange begrafnisritueel het ek na die dorp teruggekeer om te sien hoe dit met haar gaan. Toe ek daar aankom, het ek ’n bejaarde man in die huis aangetref, en nadat hy weg is, het ek my ouma gevra wie dit is. Sy het gesê dat hy ’n toordokter is. My ma was van plan om hom te huur om die dood van haar broer te wreek sodat sy siel kon rus. Sy het geglo dat dit op daardie tydstip ‘net rondgedwaal het’, soos sy dit gestel het.
“My ouma het verder verduidelik dat my besoek ’n seën was omdat die familie geld nodig gehad het om die toordokter te betaal. Sy het my gevra om by te dra, maar ek het taktvol verduidelik dat ek as ’n Christen nie ’n aandeel daaraan kon hê nie. Ek het met haar uit Psalm 146:4 geredeneer, wat toon dat die dooies geen planne meer het nie—daar is dus geen siel wat ‘ronddwaal’ nie. Ons het ook Romeine 12:19 bespreek, wat daarop wys dat die wraak Jehovah toekom en nie ons nie. Daarna het ek my ma van die opstandingshoop vertel waarvan Jesus gepraat het, soos opgeteken in Johannes 5:28, 29. Sy was beïndruk deur my sterk geloof in God se beloftes. Sy het kort daarna saam met ’n Getuie begin studeer en vinnig vordering gemaak. Sy het alle bande met haar vorige geloof verbreek en haar toewyding aan God deur doop gesimboliseer. Nou is sy een van Jehovah se Getuies.”
’n Ander suster vertel: “Ek het na die begrafnis van my oom se vrou gegaan. Toe ek daar aankom, het ek gevind dat my oom en my neef honger ly. Hulle het niks geëet van die dag af dat my tante gesterf het nie. Toe ek gevra het wat die rede daarvoor is, het hulle geantwoord dat hulle volgens tradisie nie vuur mag maak om te kook nie. Ek het aangebied om te kook, maar party familielede het gevrees dat almal kranksinnig sou word as ek nie hierdie heidense gebruik volg nie!
“Ek het verduidelik dat ek as een van Jehovah se Getuies dit wat die Bybel in Levitikus 18:30 sê, eerbiedig en nie onskriftuurlike tradisies volg nie. Ek het toe vir hulle die brosjure Geeste van die dooies gewys. Daarop het die spanning verminder, en het ek vir my oom en die res van die mense gaan kos voorberei. Die familielede van die oorledene is deur my moed beïndruk en het ingestem om die Bybel verder te bestudeer. Hulle is reeds ongedoopte verkondigers en die hele gesin hoop om binnekort gedoop te word.”
Hoe bly is ons tog wanneer die suiwer taal van waarheid die verwarring van godsdiensvalshede omverwerp, veral daardie sterk verskanste redenasies wat onskuldige mense tot slawe maak! Met Jehovah se seën is die suiwer taal besig om in Zambië te versprei, soos dit ook oor die hele wêreld die geval is.—2 Korintiërs 10:4.
[Venster op bladsy 9]
DIE LAND SE OORSIG
1994-Diensjaar
VERKONDIGERHOOGTEPUNT: 82 926
VERHOUDING: 1 Getuie vir elke 107
GEDENKMAALOPKOMS: 363 372
GEMIDDELDE PIONIERVERKONDIGERS: 10 713
GEMIDDELDE BYBELSTUDIES: 108 948
AANTAL GEDOOP: 3 552
AANTAL GEMEENTES: 2 027
TAKKANTOOR: LUSAKA
[Prent op bladsy 9]
Wagtoring-takfasiliteite in die buitewyke van Lusaka
[Prent op bladsy 9]
Predikingswerk in Shimabala, suid van Lusaka