Koninkryksverkondigers berig
Die predikingswerk word in moeilike tye gedoen
DIE apostel Paulus het voorspel dat “daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik [sal wees] om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Hoe akkuraat blyk daardie woorde tog nie te wees nie! Die mense van El Salvador in Sentraal-Amerika ondervind lank reeds hierdie bitter werklikheid. Daardie land was meer as ’n dekade lank in ’n burgeroorlog gewikkel wat ellende en die dood vir etlike duisende meegebring het. Die oorlog is nou verby, maar die ellende is steeds daar. Misdaad het ná die oorlog skerp toegeneem. ’n Plaaslike televisiekommentator het onlangs gesê: “Geweld en diefstal is nou ons daaglikse brood.”
Jehovah se Getuies is nie hierdie vlaag van misdade gespaar nie. Diewe het by baie Koninkryksale ingebreek en klanktoerusting gesteel. By etlike geleenthede het bendes gewapende jeugdiges Koninkryksale binnegestorm terwyl Christelike vergaderinge aan die gang was en geld, horlosies en ander waardevolle dinge by aanwesiges gesteel. Heelparty Getuies is selfs deur rowers om die lewe gebring terwyl hulle met hulle daaglikse bedrywighede besig was.
Ondanks hierdie hindernisse hou Jehovah se Getuies in El Salvador aan om die goeie nuus ywerig te verkondig. Hulle doen dit in gehoorsaamheid aan die skriftuurlike opdrag: “Die goeie nuus [moet] eers in al die nasies verkondig word” (Markus 13:10). Daar is steeds baie mense in hierdie land wat na die Koninkrykshoop smag wat die Bybel bied, en die Getuies probeer om elkeen van hulle te bereik. Informele getuieniswerk is inderdaad ’n doeltreffende manier om te getuig.
Terwyl een Getuie mediese behandeling by ’n hospitaal ontvang het, het hy elke geleentheid gebruik om met ander pasiënte te gesels oor God se beloftes vir die toekoms, soos dit in die Bybel opgeteken staan. ’n Pasiënt wat ernstig siek was, het droewig gesê: “Ek gaan binnekort sterf!” Maar die pasiënt se swaarmoedigheid het nie die Getuie daarvan laat afsien om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig nie. Hy het eerder vir die man voorgelees uit die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. ’n Paar dae later het die Getuie die hospitaal verlaat, terwyl hy hartseer gedink het dat die man op sy sterfbed was.
Vier jaar later moes die Getuie mediese behandeling by ’n ander hospitaal ontvang. Terwyl hy daar was, het ’n pasiënt na hom gekom en gesê: “Onthou jy my?” Dit was die man wat hy vier jaar tevore ontmoet het, die man wat skynbaar besig was om te sterf! Wat ’n aangename verrassing was dit tog toe die man hom omhels en bygevoeg het: “Ek is nou ook een van Jehovah se Getuies!” Die man het die Bybel se hoop vir die toekoms aangeneem, die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer en sy lewe aan Jehovah toegewy. Hy was nie net ’n Getuie nie, maar hy het boonop al sowat twee jaar ’n aandeel aan die voltydse bediening as ’n gewone pionier gehad.
In hierdie geval het die saadjies van die waarheid wat op ’n informele manier gesaai is ’n ontvanklike hart bereik. Hierdie voorreg om mense te help om tot ’n kennis van die waarheid te kom, spoor ware Christene aan om met die predikingswerk voort te gaan ondanks hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’.