Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 7/1 bl. 26-29
  • Alleen maar nooit verlate nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Alleen maar nooit verlate nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My eerste kontak met Bybelwaarhede
  • Nou werklik alleen
  • Kontak met die organisasie
  • Streekbyeenkoms en, uiteindelik, doop
  • Terug na Mount Gambier
  • Nuwe toewysings
  • Volgehoue voltydse diens
  • Vasbeslotenheid het my gehelp om suksesvol te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Dankbaar vir ’n genotvolle lewe van diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Regte keuses het tot lewenslange seëninge gelei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 7/1 bl. 26-29

Alleen maar nooit verlate nie

SOOS VERTEL DEUR ADA LEWIS

Ek was nog altyd geneig om ’n alleenloper te wees. Ek is ook baie gedetermineerd—ander noem dit soms koppig—in alles wat ek doen. Ek weet ook hoe maklik dit is om uitgesproke te wees, en hierdie eienskap het deur die jare heen vir my probleme op die hals gehaal.

MAAR ek is dankbaar dat Jehovah God my nie weens my persoonlikheidsgebreke verwerp het nie. Deur ’n studie van sy Woord kon ek my persoonlikheid verander en het ek dus sy Koninkryksbelange omtrent 60 jaar lank bevorder. Ek is sedert my kinderdae lief vir perde, en God se hulp om my my ietwat koppige geaardheid te laat beheer, het my al dikwels laat dink aan hoe ’n toom gebruik kan word om ’n perd te beheer.

Ek is in 1908 naby ’n pragtige blou meer in Mount Gambier in Suid-Australië gebore. My ouers het ’n suiwelboerdery gehad, en ek was die oudste dogter van agt kinders. Ons pa het gesterf toe ons almal nog taamlik jonk was. Dit het baie van die verantwoordelikheid om die plaas te bestuur aan my oorgelaat, aangesien my twee ouer broers weg van die huis af moes werk om ’n inkomste vir die gesin te voorsien. Die lewe op die plaas het veeleisende, harde werk behels.

My eerste kontak met Bybelwaarhede

Ons gesin het die Presbiteriaanse Kerk bygewoon, en ons was gereelde, aktiewe lidmate. Ek het ’n Sondagskoolonderwyseres geword en die verantwoordelikheid ernstig opgeneem om die kinders te leer wat ek geglo het geestelik en sedelik reg was.

In 1931 het my oupa gesterf, en tussen sy besittings was verskeie boeke wat deur die destydse president van die Wagtoringgenootskap, J. F. Rutherford, geskryf is. Ek het Die Harp van God en Creation begin lees, en hoe meer ek gelees het, hoe meer verbaas was ek om uit te vind dat baie dinge wat ek geglo en vir die kinders geleer het, nie deur die Bybel gestaaf word nie.

Dit was ’n skok om te leer dat die mensesiel nie onsterflik is nie, dat die meeste mense nie hemel toe sal gaan wanneer hulle sterf nie en dat daar geen ewige lyding in ’n helse vuur vir die goddeloses is nie. Ek was ook ontsteld om uit te vind dat dit nie ’n Christelike vereiste is om die weeklikse Sondagsabbat te hou nie. Ek het dus voor ’n ernstige besluit te staan gekom: om aan die konvensionele leringe van die Christendom vas te hou of om Bybelwaarhede te begin onderrig. Dit het my nie lank geneem om te besluit om alle assosiasie met die Presbiteriaanse Kerk te laat vaar nie.

Nou werklik alleen

My familie, vriende en gewese kerkkennisse was glad nie gelukkig toe ek hulle vertel het van my voorneme om die kerk te verlaat en nie meer Sondagskool te hou nie. En toe hulle uitvind dat ek by regter Rutherford se mense betrokke geraak het, het dit net olie op die vurige skinderpraatjies gegooi. Ek is nie eintlik verstoot nie, maar die meeste van my familie en eertydse vriende het my koel behandel, om dit maar saggies te stel.

Hoe meer ek die lys tekste in die boeke wat ek gelees het, bestudeer en ondersoek het, hoe meer het ek die nodigheid daarvan gesien om in die openbaar te getuig. Ek het uitgevind dat Jehovah se Getuies van huis tot huis gaan as deel van hulle openbare bediening. Maar op daardie tydstip was daar geen Getuies in ons omgewing nie. Niemand het my dus aangemoedig of gewys hoe om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig nie (Matteus 24:14). Ek het werklik stoksielalleen gevoel.

Die Bybelbevel om vir ander te getuig, het my nietemin bygebly, en ek het besluit dat ek op die een of ander manier moet begin getuig. Nadat ek baie gebid het, het ek besluit om na die huise van bure te gaan net om vir hulle te vertel wat ek uit my studies geleer het en hulle hierdie dinge uit hulle eie Bybel te probeer wys. My eerste huis was dié van my voormalige Sondagskool-superintendent. Sy kil reaksie en negatiewe opmerkings oor die feit dat ek die kerk versaak het, was beslis nie ’n bemoedigende begin nie. Maar ek het ’n warm gevoel en ’n vreemde innerlike krag gehad toe ek sy huis verlaat het en voortgegaan het om ander huise te besoek.

Daar was werklik geen openlike teenstand nie, maar ek was verbaas oor die algemene onverskilligheid van voormalige kerkmetgeselle toe ek hulle besoek. Tot my verbasing en teleurstelling het ek die sterkste teenstand van my oudste broer ondervind, wat my aan Jesus se woorde laat dink het: “Julle sal selfs deur ouers en broers en familielede en vriende oorgelewer word, . . . en julle sal weens my naam vir alle mense voorwerpe van haat wees.”—Lukas 21:16, 17.

Ek het reeds op ’n vroeë leeftyd ’n ervare ruiter geword, en dus het ek besluit dat die vinnigste manier om mense se huise te bereik te perd sou wees. Dit het my in staat gestel om verder weg tot in die nabygeleë plattelandse gebied te gaan. Maar een middag het my perd op ’n glibberige pad gestruikel en geval en ek het ernstige skedelbreuk opgedoen. Daar is ’n tyd lank gevrees dat ek dit dalk nie sou oorleef nie. Ná daardie val het ek eerder met ’n perdekarretjie as te perd gery wanneer die paaie nat of glibberig was.

Kontak met die organisasie

’n Ruk ná my ongeluk het ’n groep voltydse predikers, wat nou pioniers genoem word, die Mount Gambier-omgewing besoek. Ek kon dus vir die eerste keer van aangesig tot aangesig met medegelowiges praat. Voor hulle vertrek het hulle my aangemoedig om aan die Wagtoringgenootskap se takkantoor te skryf en uit te vind hoe ek op ’n meer georganiseerde wyse aan die openbare predikingswerk kon deelneem.

Nadat ek aan die Genootskap geskryf het, het ek boeke, boekies en ’n gedrukte getuieniskaart ontvang wat ek kon gebruik om my by die deure voor te stel. Ek het ’n bietjie nader aan my geestelike broers en susters gevoel danksy die briefwisseling met die takkantoor. Maar toe die pioniergroep vertrek het om na die volgende dorp te gaan, het ek eensamer as ooit tevore gevoel.

Weens my gereelde daaglikse getuienisrondes—hoofsaaklik met ’n perdekarretjie—het ek bekend geword in die omgewing. Ek kon terselfdertyd na my plaaswerk omsien. Teen dié tyd het my familie hierdie roetine aanvaar en geen poging aangewend om in te meng nie. Ek het vier jaar lank op dié manier as ’n afgesonderde, ongedoopte verkondiger van die goeie nuus gedien.

Streekbyeenkoms en, uiteindelik, doop

In April 1938 het broer Rutherford Australië besoek. Die geestelikes se sterk teenstand het daartoe gelei dat die kontrak vir die Sydney-stadsaal gekanselleer is. Maar ter elfder ure is toestemming vir die gebruik van die Sportterrein verkry. Die noodgedwonge verandering van planne was in werklikheid tot ons voordeel, aangesien daar plek vir derduisende meer by die groter Sportterrein was. Sowat 12 000 het gekom, aangesien die belangstelling van baie blykbaar gewek is deur die teenstand wat die geestelikes teen ons vergadering aangestig het.

Tesame met broer Rutherford se besoek is daar ook ’n streekbyeenkoms van ’n paar dae in ’n nabygeleë voorstad van Sydney gehou. Dit was hier waar ek uiteindelik my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer het. Kan jy jou die vreugde voorstel wat ek ondervind het om uiteindelik met honderde broers en susters uit alle dele van die uitgestrekte Australiese kontinent byeen te kom?

Terug na Mount Gambier

Toe ek terugkeer huis toe, het ek verskriklik alleen gevoel, maar ek was meer vasbeslote as ooit om soveel moontlik in die Koninkrykswerk te doen. Kort daarna het ek die Agnew-gesin leer ken—Hugh, sy vrou en hulle vier kinders. Hulle het in die dorp Millicent, net 50 kilometer van Mount Gambier, gewoon, en ek het 50 kilometer heen en weer met die perdekarretjie gery om ’n gereelde Bybelstudie met hulle te hou. Toe hulle die waarheid aanneem, is my eensaamheid verlig.

Ons het weldra ’n groep vir georganiseerde getuieniswerk gevorm. Toe het my ma gelukkig belangstelling begin toon en my vergesel op my heen-en-terugreis van 100 kilometer na die studie met die nuutgevormde groep. Van toe af was my ma altyd aanmoedigend en behulpsaam, hoewel sy eers ná ’n paar jaar gedoop is. Ek was toe nie meer eensaam nie!

Uit ons groepie het vier pioniers gekom, ek en die drie Agnew-meisies—Crystal, Estelle en Betty. Later, in die vroeë vyftigerjare, het al drie meisies die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon. Hulle is as sendelinge na Indië en Sri Lanka gestuur, waar hulle steeds getrou dien.

In Januarie 1941 is die werk van Jehovah se Getuies in Australië verbied; ons het dus vinnig opgetree. Ons het alles wat ons in die bediening gebruik het—lektuur, draagbare grammofone, opnames van Bybellesings, ensovoorts—in ’n groot trommel gesit. Toe het ons die trommel in ’n skuur gesit en hope hooi ingebring om dit te begrawe.

Ons het ondanks die verbod met ons predikingswerk van huis tot huis voortgegaan, maar ons was versigtig en het net die Bybel gebruik wanneer ons met huisbewoners gepraat het. Ek het tydskrifte en boekies onder my perd se saal weggesteek en het dit net uitgehaal wanneer daar opregte belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon is. In Junie 1943 is die verbod uiteindelik opgehef en kon ons lektuur weer eens vryelik aanbied.

Nuwe toewysings

In 1943 het ek my as ’n pionier beskikbaar gestel, en die daaropvolgende jaar het ek Mount Gambier vir ’n ander toewysing verlaat. Ek is eers genooi om vir ’n rukkie by die Genootskap se takkantoor in Strathfield te dien. Daarna het ek toewysings in dorpies in suidelike Nieu-Suid-Wallis asook westelike Victoria ontvang. Maar een van my geestelik lonendste toewysings was met ’n groot gemeente in die stad Melbourne. Aangesien ek uit ’n klein plattelandse dorpie gekom het, het ek baie geleer toe ek daar gedien het.

In my toewysing in die Benede-Gippsland van Victoria het ek en my pioniermaat, Helen Crawford, baie Bybelstudies gehou en binne ’n kort tydjie ’n gemeente sien vorm. Daardie streek het ’n groot plattelandse gebied gehad en ons het ’n ou, onbetroubare motor vir vervoer gehad. Soms het ons gery, maar baie maal het ons gestoot. Hoe het ek tog na ’n perd verlang! Soms kon ek waarlik sê: “Ek sal enigiets (behalwe die Koninkryk) gee vir ’n perd!” Daar is vandag in die meeste dorpe van daardie streek sterk gemeentes en mooi Koninkryksale.

In 1969 het ek ’n toewysing na Canberra, die hoofstad van Australië, ontvang. Wat die getuieniswerk betref, was dit ’n kleurryke plek vol uitdagings, aangesien ons dikwels met personeellede van die baie buitelandse ambassades in aanraking gekom het. Ek dien nog steeds hier, maar in onlangse jare het ek my getuieniswerk tot die nywerheidsgebied van die stad beperk.

In 1973 het ek die voorreg gehad om groot streekbyeenkomste in die Verenigde State by te woon. Nog ’n hoogtepunt in my lewe was om in 1979 ’n byeenkomsafgevaardigde te wees en in Israel en Jordanië rond te reis. Om die einste plekke wat in die Bybel genoem word te besoek en oor die gebeure wat daar plaasgevind het te peins, was beslis ’n aangrypende ondervinding. Ek kon ondervind hoe dit voel om op die Dooie See, met sy digte soutwater, te dryf, en gedurende ons besoek aan Petra in Jordanië het ek die geleentheid gehad om weer eens perd te ry. Dit het my laat terugdink aan daardie vroeëre dae toe perde my in staat gestel het om verspreide en plattelandse gebiede met die Koninkryksboodskap te bereik.

Volgehoue voltydse diens

My begeerte om ondanks my gevorderde leeftyd in die voltydse diens te bly, is lewendig gehou deur spesiale voorsienings soos die Pionierdiensskool en die pioniervergaderinge wat saam met die kringbyeenkomste gehou word, sowel as die voortdurende bemoediging wat ek van reisende opsieners kry. Ek kan waarlik sê dat Jehovah goedgunstiglik toegesien het dat my dae van alleenwees tot die verlede behoort.

Ek is nou 87 jaar oud, en ná omtrent 60 jaar van diens aan Jehovah het ek ’n woordjie van bemoediging vir ander wat dalk ook uitgesproke en baie onafhanklik is: Onderwerp jou altyd aan Jehovah se leiding. Mag Jehovah ons help om ons uitgesprokenheid te beheer en mag hy ons gedurig daaraan herinner dat hy ons nooit sal verlaat nie al voel ons miskien dikwels alleen.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel