Vasbeslotenheid het my gehelp om suksesvol te wees
Soos vertel deur Joseph A. Oakley
WATTER vreugde was dit tog om in 1950 onder die 123 707 te wees wat die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in die stad New York se Yankeestadion in die Verenigde State by te woon! En wat ’n voorreg was dit om daarna die 16de klas van die Gileadsendingskool in die staat New York by te woon!
Toe ek gegradueer het, het ek saam met ’n groep mede-Australiërs ’n toewysing in die sendingwerk in vergeleë Pakistan ontvang. Ons het in die somer van 1951 aldaar aangekom. Daar was veral in die eerste jaar swaar beproewinge.
Een daarvan was die droë, stowwerige hitte wat so heeltemal anders is as die koelheid van Australië se suidelike Victoria en Tasmanië waar ek gewoon het. Dan was daar die maagkoors, die geelsug en ander langdurige siektes waaraan die meeste van ons as nuwe aankomelinge gely het. Een van ons jong klasmaats het daardie eerste jaar gesterf.
Die armoede en nuwe lewensomstandighede was nog ’n beproewing. Kort na ons aankoms is ek as reisende bedienaar aangestel. Dit het lang, eensame treinreise behels en soms beteken dat ek op stasieplatforms moes slaap.
Nog ’n beproewing was die meestal negatiewe reaksie op ons Koninkryksboodskap onder die oorheersend Islamitiese bevolking. Dit was ook ’n groot beproewing om hierdie boodskap in ’n moeilike, nuwe taal, Oerdoe, te probeer oordra.
Dit sou maklik gewees het om tou op te gooi en huis toe te gaan. Groot vasbeslotenheid was nodig om te bly. Ek is bly dat my vroeëre ondervindinge my gehelp het om die beproewinge suksesvol die hoof te bied.
Ondervindinge wat my lewe beïnvloed het
Ek is grootgemaak op ’n plaas sowat 18 kilometer buite Geelong, ’n kusstad in die Australiese staat Victoria. Eendag, in April 1935, het ’n juffrou Hudson ’n gesprek met my aangeknoop terwyl ek in die dorp was en my aangespoor om ’n Bybeltoespraak by te woon. Dit het my die hele week bekommer dat ek hierdie dierbare, opregte en klaarblyklik toegewyde ou dame belowe het dat ek dit sou bywoon. Ek wou nie werklik gaan nie, maar ek kon dit nie oor my hart kry om haar teleur te stel nie.
Toe die tyd dus aanbreek, het ek met bedenkinge my belofte gehou en gegaan. Tot my verbasing het ek die vergadering so geniet dat ek dit gereeld begin bywoon het. Wat ek geleer het, het my daarvan oortuig dat ek die waarheid gevind het, en ek is gedoop by ’n byeenkoms wat daardie jaar in Geelong gehou is.
’n Paar maande later het twee ywerige pioniermeisies meer as anderhalf kilometer deur ’n geploegde land gestap om ons plaas te bereik. Hulle geloof en ywer het my beïndruk. Ek onthou dat ek hulle gevra het waar hulle die aand sou slaap, want hulle het gesê dat hulle op pad was na ’n nuwe gebiedstoewysing in die dorpie Bacchus Marsh, omtrent 56 kilometer daarvandaan.
“Ons weet nog nie, maar ons sal ’n plekkie voor sononder kry”, het hulle geantwoord. “Indien nie, sal ons ons tent opslaan.”
Dit was reeds ná vieruur, en die dae was kort en koud. Ek het gedink: ‘Dít is werklik pionierswerk!’ Dit het my ook laat begin dink: ‘Wat doen ek hier op die plaas, ver van mense af? Wat verhinder my om ’n pionierbedienaar te wees soos hierdie jong vroue? Ek is ook jonk en gesond. Waarom kan ek dit nie doen as hulle dit doen nie?’ Ek het net daar besluit dat ek kort voor lank ook ’n pionier sou word.
Vasbeslote om by my besluit te bly
My vader was erg daarteen gekant dat ek die huis verlaat en die voltydse predikingswerk saam met Jehovah se Getuies begin doen. Hy was nagenoeg 30 jaar lank ’n Sondagskoolonderwyser en was bevooroordeeld teen die Getuies. Ek was egter 21 jaar oud, en my moeder het nie werklik beswaar gehad toe ek vir haar van my planne vertel nie. Uiteindelik is 30 Junie 1936 bepaal as die dag waarop ek die huis sou verlaat.
My vader het etlike vooraanstaande sakemanne gevra om my af te raai van hierdie “verskriklike affêre”, soos hy dit genoem het. Hierdie manne het hard probeer om my te oortuig om by die huis te bly, en het allerhande argumente gebruik, soos: ‘Jy gaan jou gesin se godsdiens oneer aandoen.’ ‘Jy sluit by ’n onbekende en baie ongewilde groep aan.’ En: ‘Watter waarborg het jy van finansiële hulp?’
Hierdie pogings om my te oorreed—wat moontlik goed bedoel was—het weke lank voortgeduur. Maar, eienaardig genoeg, hoe meer hulle my probeer afraai het, hoe vasbeslotener het ek geword om by die pioniergeledere aan te sluit.
Die 30ste Junie het aangebreek, koud en winderig! Ek het al my besittings op my motorfiets gepak en na Melbourne, sowat 64 kilometer daarvandaan, vertrek. Ek is genooi om saam met ’n groep pioniers daar te werk. ’n Heeltemal nuwe, doelgerigte lewe het vir my oopgegaan, maar daar was baie beproewinge.
Vasbeslote ondanks teenstand
In daardie dae is klankmotors algemeen gebruik om die Koninkryksboodskap te versprei deur opnames van Bybeltoesprake deur die president van die Wagtoringgenootskap, J. F. Rutherford, voor te speel. Ek het sowat vyf jaar lank een van hierdie “motors”, ’n goed toegeruste paneelwa wat oral as die “Red Terror” bekend gestaan het, bestuur.
Broer Rutherford se sterk, diep stem oor die luidspreker was vir ’n paar waarheidsoekers ‘aangenaam’, maar vir teenstanders van die waarheid was dit soos gif. (Vergelyk 2 Korinthiërs 2:14-16.) Af en toe is ek met ’n tuinslang natgespuit, of die wa is met klippe bestook.
Broer Rutherford se lesings wat godsdiensleuens aan die kaak gestel het, het andersyds werklik by party byval gevind. ’n Welgestelde man het byvoorbeeld gevra vir ’n eksemplaar van elke toespraak van Rutherford wat opgeneem is en elke boek wat hy geskryf het. Toe ons sy groot huis besoek het, kon ek skaars al daardie plate en boeke dra. Die man was verheug om hulle te kry en het dadelik ’n tjek vir £15 (nou R48) uitgeskryf. Dit was die meeste lektuur wat ek op een slag by iemand gelaat het!
In 1938 is daar gereël dat broer Rutherford ’n besoek aan Australië bring en ’n Bybellesing in die Stadhuis in Sydney, Nieu-Suid-Wallis, hou. Ek was een van dié wat die strate van Sydney met ’n klankmotor moes dek en flitsaankondigings oor die naderende besoek moes maak. Die “Red Terror” is spesiaal vir die sesweekse program toegerus met ’n groot advertensie aan albei kante van die wa. Hierdie blitsveldtog het groot teenkanting gewek.
Weens groot godsdiensdruk is die bespreking vir Sydney se Stadhuis gekanselleer. My opdrag was toe om die klankmotor te gebruik om handtekeninge vir protespetisies te kry. Ons het groot groepe werkers gedurende hulle etenstye besoek en daarin geslaag om, ondanks teenkanting in baie plekke, honderde handtekeninge ten gunste van die vrye woord te bekom. Tienduisende handtekeninge is dwarsoor die land verkry. Maar ten spyte van die feit dat hierdie groot petisie aan die raadslede van Sydney voorgelê is, is ons steeds die gebruik van die Stadhuis geweier.
Soos dikwels die geval is, was dit op die ou end tot voordeel van Jehovah se volk. Sydney se Sportterrein is toe gehuur, en weens die groot publisiteit wat die teenkanting veroorsaak het, het die bywoning by broer Rutherford se toespraak, volgens ’n polisieskatting, tot nagenoeg 12 000 gegroei. Aangesien die Stadhuis net sitplek vir sowat 5 000 het, het die teenkanting daartoe gelei dat meer as twee keer soveel mense die toespraak gehoor het!
Vasbeslotenheid gedurende ’n verbod
Die teenkanting het toegeneem toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het. Die werk van Jehovah se Getuies is in Januarie 1941 dwarsdeur Australië verbied. Ek het destyds in Melbourne pionierdiens gedoen en by die Genootskap se lektuurdepot gewoon.
Eendag het ses fris polisiemanne daar aangekom en vir my en depotkneg Jack Jones gekonfronteer. Ek is net vyf minute gegee om my bokamer te ontruim. Het jy al probeer om al jou besittings in vyf minute te pak? Ek was nog nie naby klaar nie toe die polisiemanne in die kamer ingeloop en die res van my klere en toerusting by die venster uitgegooi het.
Die verbod het egter nie ons werk stopgesit nie. Ons het voortgegaan om net met die Bybel van huis tot huis te preek en om gereeld vergaderinge in Melbourne te hou. In 1942, die tweede jaar van die verbod, is ek weer na Sydney ontbied—hierdie keer om die werk in die sewe gemeentes van Jehovah se Getuies aldaar te help organiseer.
Op daardie tydstip was die Bethelhuis in Sydney deur regeringsamptenare beset. Ons het alle organisatoriese bedrywighede vanuit ’n groot tweeverdiepinghuis net ’n paar blokke daarvandaan gereël. Ek is aangesê om elke gemeente in Sydney te besoek en, met behulp van ’n motorfiets met ’n syspan, die sketse vir vergaderinge asook ander dinge wat vir die organisasie en vooruitgang van die gemeentes nodig was, af te lewer.
Diens in Tasmanië
Toe die verbod in Junie 1943 opgehef is, is ek die taak opgelê om te help om die lektuurdepot in Melbourne weer aan die gang te kry. In 1946 is ek aangestel om as ’n reisende kneg vir die broers (nou kringopsiener) in Australië se eilandstaat Tasmanië te dien. Tasmanië is ’n pragtige heuweleiland met baie pieke wat die grootste deel van die jaar met sneeu bedek is.
Toe ek as reisende opsiener gedien het, was daar net sewe gemeentes en etlike afgesonderde groepe op die hele eiland. Tussen besoeke aan die gemeentes het ek in ’n dorpie met die naam Mole Creek pionierdiens gedoen. Hewige teenstand teen die Getuies het gedurende die oorlog daar uitgebars. Maar teen hierdie tyd het dit verflou, en ’n aantal persone by wie ek lektuur gelaat het, het uiteindelik toegewyde Getuies geword.
Dit was terwyl ek in Tasmanië was dat ek in 1950 ’n uitnodiging ontvang het om die 16de klas van Gilead by te woon. Nadat ek gegradueer het, is ek na Pakistan gestuur, soos ek vroeër gemeld het.
My huwelik en gesin
Toe ek ses jaar in Pakistan was, het ek met Edna Marsh getrou, wat as sendelinge in Japan gedien het. Edna het by my aangesluit, en ons het ’n nuwe sendinghuis in Quetta, in die hooglandstreek van Pakistan, geopen. Ons het twee jaar in Quetta deurgebring, maar toe ons eerste kind op pad was, het ons besluit om na Australië terug te keer. Wat het nou vir ons voorgelê?
Daar was nooit enige twyfel oor waar ons sou gaan woon en ons kinders sou grootmaak nie. Ek het belowe dat as ek ooit van buitelandse diens moes terugkeer ek na Tasmanië sou terugkom. Maar ons was brandarm en daar was min werkgeleenthede vir ’n 45-jarige. Ons het egter besluit dat ons nie sou toelaat dat sekulêre werk ons van gemeentevergaderinge en velddiens weghou nie.
Met die goedhartige hulp van geestelike broers kon ek my eie ruitwassery begin. Ek het meer as 20 jaar lank nie ’n vergadering of velddiens as gevolg van sekulêre werk gemis nie, hoewel dit soms vasbeslotenheid geverg het om werkaanbiedinge en die ekstra geld van die hand te wys. So kon ons ons twee kinders in die weg van die waarheid grootmaak en hulle leer om gereeld aan alle Koninkryksbedrywighede deel te neem.
Ons kinders is nou groot en nie meer van ons afhanklik nie. Hulle is albei standvastig in die waarheid, en ons dogter was etlike jare ’n pionier voor sy getroud is. Ons seun en sy vrou gaan nou as pioniers dien waar daar meer hulp nodig is.
’n Lonende lewe
Ons het onlangs ’n besoek ontvang van ’n ou vriendin wat die eerste persoon was wat standpunt vir die waarheid ingeneem het in die dorpie Quetta in Pakistan. Na ’n vergadering by ons Launcestongemeente hier in Tasmanië het sy die gemeente vertel dat sy twee keer vir haar bediende gesê het om my mee te deel dat sy nie tuis is nie. Maar toe ek haar later in die tuin teëkom en sy nie kon wegkom nie, het sy vrae begin stel en uiteindelik ’n Bybelstudie aanvaar. Sy het vertel hoe dankbaar sy is dat ek vasbeslotenheid aan die dag gelê en volhard het in daardie moeilike buitelandse toewysing in Pakistan.
’n Paar jaar vantevore het ’n jong vrou by ’n byeenkoms in Sydney na my toe gehardloop en my nogal vurig omhels. Ek was verbaas en het gesê dat sy haar seker misgis. “Nee”, het sy geantwoord, “jy is Joe Oakley, nie waar nie? Jy en Alex Miller het met ons gesin in Lahore, Pakistan, gestudeer, en nou is ek en my moeder en suster in die waarheid en woon ons in Sydney.”
Sulke ondervindinge het inderdaad bygedra tot die bevrediging wat ’n volle aandeel in die Koninkryksverkondiging meebring. Hoe wonderlik is dit tog om God se seën op die werk te sien! Toe ek aanvanklik in 1946 hier in Tasmanië gedien het, was daar nege Koninkryksverkondigers in die hele stad Launeeston. Nou is daar drie gemeentes met elk meer as 90 verkondigers!
Waarlik, in die lig van die bevredigende ondervindinge van my Christelike diens van meer as 50 jaar, kan ek sonder aarseling sê dat vasbeslotenheid my gehelp het om ’n sukses daarvan te maak.
[Prent op bladsy 24]
’n Klankmotor wat gebruik is om die Koninkryksboodskap in Sydney te adverteer
[Prent op bladsy 25]
Joe Oakley saam met die gemeentetjie in Quetta, Pakistan, toe ’n nuwe Koninkryksaal op 15 Desember 1955 geopen is