Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 7/15 bl. 28-30
  • Die Karaïete en hulle soeke na waarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Karaïete en hulle soeke na waarheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe het die twispunt ontstaan?
  • Die Karaïete en die rabbi’s bots
  • Hoe het die rabbi’s gereageer?
  • Die Karaïtiese beweging verloor momentum
  • Die mondelinge wet—Waarom is dit op skrif gestel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • “Duidelike lig” op die Bybel uit Rusland se oudste biblioteek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie
    Die mensdom se soeke na God
  • Wat is die Talmoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 7/15 bl. 28-30

Die Karaïete en hulle soeke na waarheid

“Soek deeglik in die [Skrif] en moenie op my mening staatmaak nie.” Daardie woorde is deur ’n vername Karaïet van die agtste eeu v.G.J. geuiter. Wie was die Karaïete? Kan ons iets betekenisvols uit hulle voorbeeld leer? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons in die geskiedenis teruggaan na ’n ou twispunt wat gelei het tot die Karaïtiese beweging.

Hoe het die twispunt ontstaan?

In die laaste eeue voor die Gewone Jaartelling het ’n nuwe filosofie binne Judaïsme ontstaan. Dit was die gedagte dat God twee Wette by die berg Sinai verskaf het, een geskrewe en een mondelinge wet.a Teen die eerste eeu G.J. was daar heftige botsings tussen dié wat hierdie nuwe leer aangeneem het en dié wat dit verwerp het. Die Fariseërs was die voorstanders, terwyl die Sadduseërs en die Essene onder die teenstanders was.

Te midde van hierdie geskil het Jesus van Nasaret as die beloofde Messias verskyn (Daniël 9:24, 25; Matteus 2:1-6, 22, 23). Jesus het voor al daardie strydende Joodse groepe te staan gekom. Terwyl hy met hulle geredeneer het, het hy hom daarteen uitgespreek dat God se woord kragteloos gemaak word weens hulle oorlewering (Matteus 15:3-9). Jesus het ook geestelike waarhede aan ander geleer soos net die Messias dit sou kon doen (Johannes 7:45, 46). Bowendien het net Jesus se ware volgelinge bewys gelewer dat hulle Goddelike steun gehad het. Hulle het as Christene bekend geraak.—Handelinge 11:26.

Met die vernietiging van Jerusalem se tempel in 70 G.J. was die Fariseërs die enigste godsdienssekte wat ongeskonde oorgebly het. Nou, sonder ’n priesterdom, offerandes en tempel, kon Farisese Judaïsme plaasvervangers vir al hierdie dinge versin wat oorlewering en vertolking sou toelaat om die geskrewe Wet te vervang. Dit het die weg gebaan vir die skryf van nuwe “heilige boeke”. Die Misjna het eerste gekom, met sy toevoegings tot en vertolkings van hulle mondelinge wet. Ander versamelings van geskrifte is later bygevoeg en is die Talmoed genoem. Afvallige Christene het hulleself tegelykertyd vryhede met Jesus se leringe begin veroorloof. Albei kringe het magtige godsdiensstelsels voortgebring—rabbynse gesag aan die een kant en kerklike gesag aan die ander.

As gevolg van Joodse botsings met heidense Rome en later met “Christelike” Rome het die middelpunt van Judaïsme uiteindelik na Babilon verskuif. Dáár is die geskrifte van die Talmoed in hulle volledigste vorm geredigeer. Hoewel die rabbi’s beweer het dat die Talmoed die wil van God vollediger geopenbaar het, het baie Jode die toenemende las van die rabbynse gesag gevoel en gesmag na die woord van God wat deur Moses en die profete aan hulle oorgelewer is.

In die laaste helfte van die agtste eeu G.J. het Jode in Babilon wat die rabbynse gesag en geloof in hulle mondelinge wet teëgestaan het aan ’n geleerde leier met die naam Anan ben David gehoor gegee. Hy het verklaar dat elke Jood die reg het op ’n onbeperkte studie van die Hebreeuse Geskrifte as die enigste bron van ware godsdiens, sonder om op rabbynse vertolking of die Talmoed ag te slaan. Anan het geleer: “Soek deeglik in die Tora [die geskrewe wet van God] en moenie op my mening staatmaak nie.” Weens hierdie klem op die Skrif het Anan se volgelinge bekend geraak as die Qa·ra·ʼimʹ, ’n Hebreeuse naam wat “lesers” beteken.

Die Karaïete en die rabbi’s bots

Wat is party voorbeelde van Karaïtiese leringe wat ’n opskudding in rabbynse kringe veroorsaak het? Die rabbi’s het verbied dat vleis en melk saam geëet word. Hulle het dit voorgelê as die mondelinge wet se verduideliking van Exodus 23:19 wat sê: “Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.” Daarteenoor het die Karaïete geleer dat hierdie vers presies beteken wat dit sê—niks meer nie, niks minder nie. Hulle het geredeneer dat die rabbynse beperkinge die mens se uitvindsel is.

Volgens hulle uitleg van Deuteronomium 6:8, 9 het die rabbi’s gemeen dat Joodse mans die tefilim, of gebedsrieme, moes dra terwyl hulle bid en dat ’n mezoeza aan elke deurpos geplaas moes word.b Die Karaïete het hierdie verse net met ’n figuurlike of simboliese betekenis aanvaar en het gevolglik sulke rabbynse reëls verwerp.

Die Karaïete was in ander gevalle baie meer beperkend as die rabbi’s. Neem byvoorbeeld hulle beskouing van Exodus 35:3 wat sê: “Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie.” Die Karaïete het verbied dat ’n lamp of lig aanhou brand, al is dit voor die Sabbat aangesteek.

Veral ná Anan se dood het Karaïtiese leiers dikwels verskil oor die mate en aard van sekere beperkings, en hulle boodskap was nie altyd duidelik nie. Die Karaïete het ’n gebrek aan eenheid gehad omdat hulle geen enkele leier erken het nie, maar persoonlike skriflesing en -vertolking beklemtoon het, in teenstelling met die rabbynse styl van gesag. Maar die Karaïtiese beweging het desnieteenstaande in gewildheid en invloed gegroei en ver buite die Joodse gemeenskap in Babilon en regdeur die Midde-Ooste versprei. ’n Groot Karaïtiese sentrum is selfs in Jerusalem gevestig.

Gedurende die negende en tiende eeu G.J. het Karaïtiese geleerdes uitgeblink in ’n hernieude studie van Hebreeus en ’n soort goue eeu beleef. Hulle het die geskrewe teks van die Hebreeuse Geskrifte as heilig beskou, nie die mondelinge oorleweringe nie. Sommige van die Karaïete het sorgsame kopiïste van die Hebreeuse Geskrifte geword. Dit was in werklikheid die Karaïtiese uitdaging wat Masoretiese studie van die Skrif onder alle Jode aangespoor het, en dit het ’n noukeuriger bewaarde Bybelteks vir ons dag verseker.

Gedurende hierdie tydperk van vinnige groei was Karaïtiese Judaïsme besig met openlike sendingwerk onder ander Jode. Dit het ’n duidelike bedreiging vir rabbynse Judaïsme ingehou.

Hoe het die rabbi’s gereageer?

Die rabbynse teenaanval was ’n vurige woordestryd, met listige buigsaamheid en heraanpassing van hulle leringe. Gedurende die eeu ná Anan se aanval het rabbynse Judaïsme van die Karaïtiese metodes aangeneem. Die rabbi’s het meer bedrewe geraak om Skrifgedeeltes aan te haal, en het die Karaïtiese styl en metodes in hulle retoriek ingelyf.

Die onbetwiste leier in hierdie woordestryd met die Karaïete was Saʽadia ben Josef, wat die hoof geword het van die Joodse gemeenskap in Babilon in die eerste helfte van die tiende eeu G.J. Saʽadia se groot werk, The Book of Beliefs and Opinions, is in Engels vertaal deur Samuel Rosenblatt, wat in sy inleiding gesê het: “Al . . . was hy op sy dag die kenner van die Talmoed, maak [Saʽadia] betreklik min van hierdie bron van Joodse oorlewering gebruik, omdat dit skynbaar sy begeerte was om die Karaïete, wat net die Geskrewe Wet as bindend erken het, met hulle eie wapens te verslaan.”

Rabbynse Judaïsme het in Saʽadia se voetspoor gevolg en uiteindelik die oorhand verkry. Dit is gedoen deur net genoeg aan te pas om die volle krag uit die Karaïtiese argumente te neem. Die laaste hou is toegedien deur Moses Maimonides, die bekende Talmoediese geleerde van die 12de eeu. Deur sy verdraagsame gesindheid teenoor die Karaïete met wie hy in Egipte saamgewoon het, sowel as sy oortuigende gesaghebbende manier, het hy hulle bewondering afgedwing en die gesag van hulle eie leierskap verswak.

Die Karaïtiese beweging verloor momentum

Weens ’n gebrek aan eenheid en sonder ’n goedgeorganiseerde teenaanval het die Karaïtiese beweging momentum sowel as volgelinge verloor. Met die verloop van tyd het die Karaïete hulle beskouings en beginsels verander. Leon Nemoy, ’n skrywer oor die Karaïtiese beweging, skryf: “Terwyl die Talmoed teoreties onwettig gebly het, is baie talmoediese materiaal stilletjies in die Karaïtiese beoefening van die wet en gebruik, opgeneem.” Die Karaïete het in werklikheid hulle oorspronklike doel uit die oog verloor en baie uit rabbynse Judaïsme aangeneem.

Daar is steeds ongeveer 25 000 Karaïete in Israel. Nog ’n paar duisend meer kan in ander gemeenskappe, hoofsaaklik in Rusland en die Verenigde State, gevind word. Maar aangesien hulle hulle eie mondelinge oorleweringe het, verskil hulle van die eerste Karaïete.

Wat kan ons leer uit die geskiedenis van die Karaïete? Dat dit ’n ernstige fout is om ‘die woord van God kragteloos te maak weens oorlewering’ (Matteus 15:6). Om van die mens se verdrukkende oorleweringe vrygemaak te word, vereis juiste kennis van die Skrif (Johannes 8:31, 32; 2 Timoteus 3:16, 17). Ja, diegene wat daarna streef om God se wil te ken en te doen, vertrou nie op die mens se oorleweringe nie. Hulle ondersoek eerder die Bybel ywerig en pas die nuttige raad van God se geïnspireerde Woord toe.

[Voetnote]

a Sien bladsye 8-11 van die brosjure Will There Ever Be a World Without War?, wat deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee word, vir ’n verduideliking van die sogenaamde mondelinge wet.

b Die tefilim is twee klein vierkantige leerkissies wat strokies met Skrifgedeeltes daarop bevat. Hierdie kissies is tradisioneel gedurende oggendgebede op weeksdae op die linkerarm en op die kop gedra. Die mezoeza is ’n klein perkamentrol waarop Deuteronomium 6:4-9 en 11:13-21 geskrywe staan, wat in ’n houer gesit en aan die deurpos vasgesit word.

[Prent op bladsy 30]

’n Groep Karaïete

[Erkenning]

Uit die boek The Jewish Encyclopedia, 1910

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel