Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 5/15 bl. 28-31
  • Wat is die Talmoed?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is die Talmoed?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Talmoed word geskep
  • Die samestelling van twee Talmoeds
  • Wat het die Talmoed bereik?
  • Die Misjna en God se Wet aan Moses
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie
    Die mensdom se soeke na God
  • Die mondelinge wet—Waarom is dit op skrif gestel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Wie verdien om Rabbi genoem te word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 5/15 bl. 28-31

Wat is die Talmoed?

“Die Talmoed is ongetwyfeld een van die merkwaardigste letterkundige werke van alle tye.”—The Universal Jewish Encyclopedia.

“[Die Talmoed is] een van die groot intellektuele prestasies van die mensdom, ’n geskrif so kompak, so ryk, so subtiel dat dit skrander verstande al meer as ’n millennium en ’n half besig hou.”—Jacob Neusner, Joodse geleerde en skrywer.

“Die Talmoed is die sentrale pilaar [van Judaïsme] wat die hele geestelike en intellektuele bouwerk van die Joodse lewe stut.”—Adin Steinsaltz, Talmoediese geleerde en rabbi.

DIE Talmoed het ongetwyfeld al eeue lank ’n baie groot uitwerking op die Joodse volk. Maar in teenstelling met die lofbetuigings hierbo is die Talmoed al afgekam en “’n see van duisterhede en verborgenhede” genoem. Dit is al as ’n lasterlike werk van die Duiwel veroordeel. Op bevel van die pous is dit herhaaldelik aan sensuur onderwerp, gekonfiskeer en selfs in groot hoeveelhede op die openbare pleine van Europa verbrand.

Presies wat is hierdie werk wat soveel omstredenheid verwek het? Wat maak die Talmoed anders as ander Joodse geskrifte? Waarom is dit geskryf? Hoe het dit gebeur dat dit so ’n uitwerking op Judaïsme gehad het? Is dit van waarde vir die nie-Joodse wêreld?

Gedurende die 150 jaar ná die vernietiging van die tempel in Jerusalem in 70 G.J. het akademies van rabbynse wysgere regdeur Israel dringend gesoek na ’n nuwe grondslag vir die handhawing van Joodse gebruike. Hulle het verskeie tradisies van hulle mondelinge wet bespreek en bevestig. Deur op hierdie fondament te bou, het hulle nuwe beperkinge en vereistes vir Judaïsme vasgestel, wat riglyne gegee het vir ’n daaglikse lewe van heiligheid sonder ’n tempel. Hierdie nuwe geestelike raamwerk is in die Misjna uiteengesit, wat in die begin van die derde eeu G.J. deur Juda ha-Nasi saamgestel is.a

Die Misjna was selfstandig en het nie regverdiging probeer vind op grond van Bybelse verwysings nie. Die manier waarop dit sake bespreek het en selfs die styl van die Hebreeus daarin was uniek en het verskil van die Bybelteks. Die besluite van die rabbi’s wat in die Misjna aangehaal is, sou die daaglikse lewe van Jode in alle wêrelddele raak. Trouens, Jacob Neusner sê: “Die Misjna het Israel van ’n grondwet voorsien. . . . Dit het vereis dat hulle die reëls daarvan aanvaar en hulle daaraan onderwerp.”

Maar gestel iemand het dit betwyfel of die gesag van die wysgere wat in die Misjna aangehaal word werklik aan die geopenbaarde Skrif gelyk was? Die rabbi’s sou moes bewys dat die leringe van die Tannaim (leraars van die mondelinge wet) wat in die Misjna gevind word, volkome in ooreenstemming met die Hebreeuse Geskrifte is. Verdere kommentare daarop was nodig. Hulle het dit nodig geag om die Misjna te verduidelik en te regverdig en om te bewys dat dit sy oorsprong gehad het by die Wet wat Moses by Sinai ontvang het. Die rabbi’s het hulle daartoe gedronge gevoel om te bewys dat die mondelinge en geskrewe wet dieselfde gees en doel gehad het. Die Misjna was dus nie die finale uitspraak oor Judaïsme nie, maar het eerder ’n nuwe grondslag vir godsdiensbesprekings en debatte geword.

Die Talmoed word geskep

Die rabbi’s wat hierdie nuwe uitdaging aanvaar het, was bekend as Amoraim—“uitlêers”, of “verklaarders” , van die Misjna. Elke akademie het ’n vooraanstaande rabbi gehad wat aan die hoof daarvan gestaan het. ’n Klein kring van geleerdes en studente het regdeur die jaar besprekings gevoer. Maar die belangrikste sessies is halfjaarliks gehou, gedurende die maande Adar en Elul, wanneer dit ’n stil tyd in die landbou was en honderde of selfs duisende meer dit kon bywoon.

Adin Steinsaltz verduidelik: “Die hoof van die akademie het as voorsitter gedien en op ’n stoel of op spesiale matjies gesit. Die belangrike geleerdes, waaronder sy kollegas of uitnemende studente, het in die voorste rye regoor hom gesit,en agter hulle het al die ander geleerdes gesit. . . . Die volgorde waarin hulle gesit het, was gebaseer op ’n noukeurig omskrewe rangorde [volgens belangrikheid].” ’n Deel van die Misjna is voorgedra. Dit is dan met parallelle of aanvullende materiaal vergelyk wat deur die Tannaim versamel is maar nie deel van die Misjna is nie. Die ontledingsproses het dan begin. Vrae is gestel, en teenstrydighede is ontleed om interne harmonie tussen leringe te vind. Bewysplase uit die Hebreeuse Geskrifte is gesoek om rabbynse leringe te steun.

Hoewel hierdie besprekings sorgvuldig saamgestel is, was dit hewig en soms onstuimig. Een wysgeer wat in die Talmoed aangehaal word, het verwys na “vuurvonke” wat gedurende ’n debat tussen die rabbi’s gespat het (Hullin 137b, Babiloniese Talmoed). Steinsaltz sê van die verrigtinge: “Die hoof van die akademie, of die wysgeer wat die lesing gehou het, het sy eie verklaring van probleme gegee. Die geleerdes in die gehoor het hom dikwels aan die hand van ander bronne, die beskouings van ander kommentators of hulle eie logiese gevolgtrekkings met vrae bestook. Soms was die debat baie kort en beperk tot ’n ondubbelsinnige en oortuigende antwoord op ’n gegewe vraag. In ander gevalle sou ander geleerdes alternatiewe oplossings voorstel en ’n grootskaalse debat sou volg.” Dit het almal in die gehoor vrygestaan om deel te neem. Geskille wat gedurende die sessies opgeklaar is, is na ander akademies gestuur sodat ander geleerdes dit kon beoordeel.

Maar hierdie sessies was nie net eindelose wettiese debatte nie. Wetlike sake wat verband hou met die reëls en reglemente van die Joodse godsdienslewe word Halaka genoem. Hierdie woord kom van die Hebreeuse grondwoord “om te gaan” en verwys na die ‘lewensweg wat mens moet volg’. Alle ander sake—verhale van rabbi’s en Bybelkarakters, wyse spreuke, geloofs- en filosofiese begrippe—word Haggada genoem, van die Hebreeuse grondwoord “om te vertel”. ’n Mengsel van Halaka en Haggada is tydens rabbynse debatte bespreek .

In sy boek The World of the Talmud sê Morris Adler: “’n Wyse onderrigter sou ’n langgerekte en moeilike wetlike argument onderbreek deur ’n makliker en opbouender onderwerp aan te roer. . . . Ons vind gevolglik dat legende en geskiedenis, eietydse wetenskap en volksoorleweringe, Bybelse uitleggings en lewensbeskrywings, preke en teologie saamgeweef is in wat, vir iemand wat onbekend is met die gebruike van die akademies, na ’n eienaardige mengelmoes van ongeorganiseerde data sal lyk.” Vir die geleerdes van die akademies het al hierdie afwykings ’n doel gehad, en dit het verband gehou met die punt onder bespreking. Halaka en Haggada was die boustene van ’n nuwe geestelike struktuur waaraan daar in die rabbynse akademies gebou is.

Die samestelling van twee Talmoeds

Die vernaamste rabbynse sentrum in Palestina het uiteindelik na Tiberias verskuif. Ander belangrike akademies was in Sepforis, Sesarea en Lidda. Maar die verslegtende ekonomiese situasie, volgehoue politieke onstabiliteit en op die ou end die druk en vervolging deur die afvallige Christelike godsdiens het gelei tot grootskaalse verhuising na ’n ander groot sentrum van die Joodse bevolking na die Ooste—Babilonië.

Studente het eeue lank uit Babilonië na Palestina gestroom om onder die groot rabbi’s aan die akademies te studeer. Een so ’n student was Abba ben Ibo, wat ook Abba Arika genoem is—Abba die lange—maar wat later bloot as Rab bekend gestaan het. Hy het in ongeveer 219 G.J. na Babilonië teruggekeer nadat hy onder Juda ha-Nasi gestudeer het, en dit was ’n keerpunt in die geestelike belangrikheid van die Babiloniese Joodse gemeenskap. Rab het ’n akademie begin in Sura, ’n gebied met baie Jode maar min geleerdes. Sy reputasie het 1200 vaste studente na sy akademie gelok, met nog duisende wat dit gedurende die Joodse maande Adar en Elul bygewoon het. Rab se vooraanstaande tydgenoot, Samuel, het ’n akademie in Nehardea gestig. Ander belangrike akademies het in Poembeditha en Mehoza verrys.

Dit was nou nie meer nodig om na Palestina te reis nie, want ’n mens kon in Babilonië onder die groot geleerdes studeer. Die formulering van die Misjna as ’n afsonderlike teks het die weg gebaan vir die algehele onafhanklikheid van die Babiloniese akademies. Hoewel verskillende style en studiemetodes nou in Palestina en Babilonië ontwikkel het, het gereelde kommunikasie en uitwisseling van onderrigters die eenheid van die akademies gehandhaaf.

Teen die einde van die vierde en aan die begin van die vyfde eeu G.J. het die situasie vir die Jode in Palestina besonder moeilik geword. Vlae van beperkings en vervolging onder die opkomende gesag van die afvallige Christendom het teen ongeveer 425 G.J. tot die finale afskaffing van die Sanhedrin en die posisie van Nasi (aartsvader) gelei. Die Palestynse Amoraim het gevolglik in ’n enkele samehangende werk die opsommings van die debatte in die akademies begin versamel om die bewaring daarvan te verseker. Hierdie werk, wat inderhaas in die laaste deel van die vyfde eeu G.J. saamgestel is, het as die Palestynse Talmoed bekend geword.b

Terwyl die akademies in Palestina afgeneem het, het die Babiloniese Amoraim die hoogtepunt van hulle vermoëns bereik. Abaye en Raba het die vlak van bespreking tot ingewikkelde en subtiele redeneerwyses gevoer wat later die model van Talmoediese ontleding geword het. Daarna het Ashi, die hoof van die akademie in Sura (371-427 G.J.), die opsommings van die debatte begin saamstel en redigeer. Volgens Steinsaltz het hy dit gedoen “omdat hy gevrees het dat die grootste gedeelte van die mondelinge materiaal gevaar geloop het om heeltemal vergete te raak, aangesien dit ongeorganiseerd was”.

Hierdie groot massa materiaal was meer as wat een man of selfs een geslag kon organiseer. Die tydperk van die Amoraim het in die vyfde eeu G.J. in Babilonië geëindig, maar die werk om die Babiloniese Talmoed finaal te redigeer, is tot in die sesde eeu G.J. voortgesit deur ’n groep met die naam Saboraim, ’n Aramese woord wat “die uitlêers” of “dié wat menings huldig” beteken. Hierdie laaste redakteurs het al die duisende onvolledige dele en eeue van rabbynse debatvoering afgerond en het ’n styl en struktuur aan die Babiloniese Talmoed verleen wat dit van alle vroeëre Joodse geskrifte onderskei het.

Wat het die Talmoed bereik?

Die rabbi’s van die Talmoed wou bewys dat die Misjna uit dieselfde bron as die Hebreeuse Geskrifte gekom het. Maar waarom? Jacob Neusner sê: “Die verklaarde geskil was die reputasie van die Misjna. Maar die kern van die saak was blykbaar die gesag van die wysgeer self.” Om sy gesag te versterk, is elke lyn van die Misjna, soms elke woord, ondersoek, betwis, verduidelik en op ’n manier in ooreenstemming gebring met die res. Neusner sê dat die rabbi’s op dié manier “die hoofdoel van die Misjna verander het”. Hoewel die Misjna as ’n werk geskep is wat op sigself volledig was, is dit nou haarfyn ondersoek. Tydens hierdie proses is dit herskep, heromskryf.

Hierdie nuwe werk—die Talmoed—het aan die doel van die rabbi’s beantwoord. Hulle het die reëls van ontleding bepaal, en dit het mense dus geleer om soos die rabbi’s te dink. Die rabbi’s het geglo dat hulle studie- en ontledingsmetode God se denke weerspieël het. Die bestudering van die Talmoed self het die doel geword, ’n vorm van aanbidding—die gebruik van die verstand op ’n manier wat glo in navolging van God was. Geslagte lank sou die Talmoed self volgens hierdie selfde metode ontleed word. Die gevolg? Die geskiedkundige Cecil Roth skryf: “Die Talmoed . . . het [Jode] die kenmerkende teken gegee wat hulle van ander onderskei het, asook hulle ongelooflike krag om weerstand te bied en saam te staan. Die logika daarvan het hulle meer vlug van verstand gemaak en aan hulle . . . skerpsinnigheid gegee. . . . Die Talmoed het die vervolgde Jood van die Middeleeue ’n ander wêreld gegee waarheen hy kon vlug. . . . Dit het hom ’n vaderland gegee, wat hy saam met hom kon dra toe hy nie meer sy eie land gehad het nie.”

Deur ander te leer om soos die rabbi’s te dink, het die Talmoed sekerlik krag gehad. Maar die vraag vir almal—Jode sowel as nie-Jode—is dit: Weerspieël die Talmoed werklik die denke van God?—1 Korintiërs 2:11-16.

[Voetnote]

a Sien die artikel “Die Misjna en God se Wet aan Moses” in Die Wagtoring van 15 November 1997 vir meer inligting oor die ontwikkeling en inhoud van die Misjna.

b Die Palestynse Talmoed staan algemeen bekend as die Jerusalem-Talmoed. Dit is egter ’n foutiewe benaming, aangesien Jerusalem gedurende die grootste deel van die Amoraïse tydperk verbode terrein vir die Jode was.

[Venster op bladsy 31]

Die twee Talmoeds—Hoe vergelyk hulle met mekaar?

Die Hebreeuse woord “Talmoed” beteken “studeer” of “leer”. Die Amoraim van Palestina en Babilonië het die taak onderneem om die Misjna te studeer, of te ontleed. Albei Talmoeds (die Palestynse en Babiloniese) doen dit, maar hoe vergelyk hulle met mekaar? Jacob Neusner skryf: “Die eerste Talmoed ontleed bewyse, die tweede ondersoek veronderstellings; die eerste bly geheel en al binne die grense van die onderwerp, die tweede oorskry dit heeltemal.”

Die intensiewer en deegliker redigering van die Babiloniese Talmoed het dit nie alleen baie groter gemaak nie, maar ook dieper en indringender wat die denkwyse en ontleding betref. Wanneer die woord “Talmoed” genoem word, beteken dit gewoonlik die Babiloniese Talmoed. Dit is die Talmoed wat deur die eeue heen die meeste bestudeer is en waaroor die meeste kommentaar gelewer is. Volgens Neusner is die Palestynse Talmoed “’n deskundige werk”, en die Babiloniese Talmoed “’n werk van vernuf”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel