’n Wêreld sonder oorlog—Wanneer?
DIE Handves van die Verenigde Nasies het op 24 Oktober 1945 van krag geword. Dit is die omvattendste strategie vir wêreldvrede wat nog ooit deur mense bedink is. Met sy 51 oorspronklike lidstate het die Verenigde Nasies die grootste internasionale organisasie in die geskiedenis van die wêreld geword. Ook sou dit die heel eerste keer wees dat ’n internasionale organisasie ’n leër beskikbaar sou hê om vrede en veiligheid te handhaaf en ’n wêreld sonder oorlog tot stand te bring.
Vandag, met 185 lidstate, is die Verenigde Nasies sterker as ooit. Waarom het die kragtigste internasionale organisasie in die geskiedenis dan in gebreke gebly om sy edele doelwitte ten volle te bereik?
Godsdiens—’n groot hindernis
Een groot komplikasie is die rol wat godsdiens in wêreldaangeleenthede speel. Die vernaamste godsdienste van die wêreld het weliswaar sedert die stigting van die Verenigde Nasies hulle steun aan daardie organisasie toegesê. Met verwysing na die herdenking van die 50ste bestaansjaar van die Verenigde Nasies het pous Johannes-Paulus II gesê dat dit “by uitstek die instrument [is] om vrede te bevorder en te bewaar”. Sy gevoelens word deur ’n wêreldwye gemeenskap van godsdiensleiers gedeel. Maar hierdie taktvolle verhouding tussen godsdienste en regerings kan nie die feit verberg dat godsdiens nog altyd ’n hindernis en ’n oorlas vir die Verenigde Nasies was nie.
Godsdiens speel eeue lank al ’n vername rol in die bevordering of ondersteuning van nasionalistiese haat, oorloë en volksmoorde. In die laaste jare het mense mekaar onder die dekmantel van godsdiensywer doodgemaak. Die uitdrukking “etniese suiwering” is dikwels gebruik in verband met die oorlog in die Balkan. Maar die intense haat wat baie mense daar teenoor mekaar koester, is eerder op godsdiens as op ras gegrond, aangesien die meeste van hulle dieselfde etniese oorsprong het. Ja, godsdiens moet baie van die verantwoordelikheid vir die bloedbad in die voormalige Joego-Slawië aanvaar; die Verenigde Nasies kon dit nie stop nie.
’n Universiteitsprofessor van godsdiens het onlangs gepas gesê dat “’n ondersoek van godsdiens en volksmoord in ’n wêreld ná die koue oorlog waarin godsdienstige strydlustigheid toeneem dalk een van ons dringender prioriteite is, ongeag hoeveel ongemak dit veroorsaak”. Daar is deesdae ’n nuwe bewustheid van hoe godsdiens die pogings vir wêreldvrede belemmer.
’n VN-verklaring van 1981 het gesê: “Besorg oor blyke van onverdraagsaamheid en oor diskriminasie in godsdiens- of geloofsake wat steeds in sekere dele van die wêreld bestaan, Vasbeslote om al die nodige maatrëels te tref om sulke onverdraagsaamheid in al sy vorme spoedig uit te skakel en om diskriminasie op grond van godsdiens en geloof te voorkom en te bekamp.”
In ooreenstemming met hulle verklaring het die Verenigde Nasies 1995 tot die Jaar van Verdraagsaamheid uitgeroep. Maar is dit realisties om te dink dat dit ooit moontlik sal wees om vrede en veiligheid te verkry in ’n wêreld wat deur godsdiens verdeel word?
Die toekoms van godsdiens
’n Profesie in die Bybelboek Openbaring verskaf die antwoord. Dit praat van ’n simboliese “groot hoer” wat as ’n “koningin” sit en wat “’n koninkryk oor die konings van die aarde” het. Hierdie hoer lewe “in skaamtelose weelde” en het omgang met die wêreld se regerings. Hierdie regerings word as “’n skarlakenkleurige wilde dier” afgebeeld, waarop die hoer in gerief ry (Openbaring 17:1-5, 18; 18:7). Hierdie magtige en onsedelike vrou, wat as “Babilon die Grote” bekend staan, is vernoem na eertydse Babilon, die bakermat van afgodiese aanbidding. Die hoer verteenwoordig vandag gepas al die godsdienste van die wêreld, wat hulle in regeringsaangeleenthede ingemeng het.
Die verslag sê voorts dat God dit mettertyd in die harte van militaristiese elemente van die wilde dier sal sit om op te tree. Hulle “sal die hoer haat en sal haar verwoes en naak maak, en hulle sal haar vlesige dele opeet en haar heeltemal met vuur verbrand” (Openbaring 17:16).a Sodoende sal Jehovah God self die inisiatief geneem het deur dit so te bewerk dat magtige nasies ’n veldtog onderneem om valse godsdiens uit die weg te ruim. Die wêreldwye godsdiensstelsel, met sy weelderige tempels en heiligdomme, sal heeltemal verwoes word. Hulle sal dan ontslae wees van die hindernis wat godsdiens in die weg van vrede lê. Maar sal daar dan ware vrede en veiligheid op aarde wees?
Die onvolmaakte menslike natuur
Is daar enige waarborg dat die uitskakeling van godsdiens werklik die weg vir ’n wêreld sonder oorlog sal baan? Nee. Die Verenigde Nasies sal steeds voor ’n ironiese situasie staan. Aan die een kant wil mense vrede en veiligheid hê. Maar aan die ander kant is dit mense wat die grootste bedreiging vir vrede en veiligheid is. Haat, trots, egotisme, selfsugtigheid en onkunde is menslike eienskappe wat aan alle konflikte en oorloë ten grondslag lê.—Jakobus 4:1-4.
Die Bybel het voorspel dat mense in ons dag “liefhebbers van hulleself [sal] wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots”.—2 Timoteus 3:1-4.
Sekretaris-generaal Boutros Boutros-Ghali het erken dat “die wêreld ’n maatskaplike en sedelike krisis ondervind wat in baie gemeenskappe ontsaglike afmetings aangeneem het”. Geen diplomatieke maneuvers kan die skadelike eienskappe van die onvolmaakte menslike natuur teëwerk nie.—Vergelyk Genesis 8:21; Jeremia 17:9.
Jesus Christus—die Vredevors
Dit is duidelik dat die Verenigde Nasies nie die vermoë het om wêreldvrede tot stand te bring nie. Die lede en ondersteuners daarvan is almal onvolmaakte mense, ondanks hulle verhewe doelwitte. Die Bybel sê dat “aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Daarbenewens waarsku God: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.”—Psalm 146:3.
Die Bybel voorspel wat Jehovah deur middel van sy Seun, die “Vredevors”, tot stand gaan bring. Jesaja 9:5, 6 sê: “’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.”
Die nasies van die wêreld is sat ná 50 jaar van verydelde pogings. Hulle gaan hoeragtige godsdiensorganisasies binnekort vernietig. Dan gaan Jesus Christus, die “Koning van die konings en Here van die here”, en sy leër van hemelse stryders alle menseregerings ontbind en almal doodmaak wat sy soewereiniteit verwerp. (Openbaring 19:11-21; vergelyk Daniël 2:44.) Op hierdie manier sal Jehovah God ’n wêreld sonder oorlog bewerkstellig.
[Voetnoot]
a Sien hoofstukke 33 tot 37 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, wat in 1988 uitgegee is deur die Watch Tower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir ’n diepgaande studie van Openbaring se profesie oor Babilon die Grote.
[Venster op bladsy 7]
DIE CHRISTEN SE BESKOUING VAN DIE VERENIGDE NASIES
In Bybelprofesieë word menseregerings dikwels deur wilde diere voorgestel (Daniël 7:6, 12, 23; 8:20-22). Gevolglik identifiseer Die Wagtoring die wilde diere van Openbaring hoofstukke 13 en 17 dekades lank al met hedendaagse wêreldse regerings. Dit sluit die Verenigde Nasies in, wat in Openbaring hoofstuk 17 as ’n skarlakenrooi dier met sewe koppe en tien horings afgebeeld word.
Hierdie skriftuurlike standpunt is egter geen verskoning vir enige vorm van oneerbiedigheid teenoor regerings of hulle amptenare nie. Die Bybel sê duidelik: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede, want daar is geen gesag behalwe deur God nie; die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas. Daarom het hy wat die owerheid teëstaan teen die reëling van God stelling ingeneem; dié wat stelling daarteen ingeneem het, sal ’n oordeel oor hulle ontvang.”—Romeine 13:1, 2.
Jehovah se Getuies, wat streng politieke neutraliteit handhaaf, meng hulle gevolglik nie met menseregerings in nie. Hulle stig nooit revolusies aan of neem aan dade van burgerlike ongehoorsaamheid deel nie. Hulle erken eerder dat die een of ander regeringsvorm nodig is om reg en orde in die samelewing te handhaaf.—Romeine 13:1-7; Titus 3:1.
Jehovah se Getuies beskou die Verenigde Nasies net soos hulle ander regeringsliggame van die wêreld beskou. Hulle erken dat die Verenigde Nasies met God se vergunning voortbestaan. In ooreenstemming met die Bybel gee Jehovah se Getuies die gepaste eer aan alle regerings en is hulle aan hulle gehoorsaam mits sulke gehoorsaamheid nie vereis dat hulle teen God sondig nie.—Handelinge 5:29.