Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 10/1 bl. 3-5
  • Vyftig jaar van verydelde pogings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vyftig jaar van verydelde pogings
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrede en veiligheid—Doelwitte wat nie bereik is nie
  • Die media se invloed
  • Vrede en veiligheid—die hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Die Verenigde Nasies—’n Beter manier?
    Ontwaak!—1991
  • Vrede en veiligheid—uit watter bron?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Wat gebeur by die Verenigde Nasies?
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 10/1 bl. 3-5

Vyftig jaar van verydelde pogings

“ONS, DIE VOLKE VAN DIE VERENIGDE NASIES, HET BESLUIT om toekomstige geslagte die euwel van oorlog te spaar, wat al twee keer in ons lewe ongekende smart vir die mensdom gebring het, en om geloof te herbevestig in fundamentele menseregte, in die waardigheid en verdienstelikheid van die mens, in die gelyke regte van manne en vroue en van nasies, groot en klein . . . ”—Aanhef van die handves van die Verenigde Nasies.

DIE herdenking van die 50ste bestaansjaar van die Verenigde Nasies val op 24 Oktober 1995. Die huidige 185 lidstate is almal tot die organisasie se oorspronklike beginsels en doelwitte verbind soos in daardie handves uiteengesit word: om internasionale vrede en veiligheid te handhaaf; om dade van aggressie wat wêreldvrede bedreig te onderdruk; om vriendskaplike betrekkinge onder nasies te bevorder; om die basiese vryhede van alle volke te beskerm, sonder diskriminasie op grond van ras, geslag, taal of godsdiens; en om internasionale samewerking met die oplos van ekonomiese, maatskaplike en kulturele probleme te bewerkstellig.

Die Verenigde Nasies het 50 jaar lank merkwaardige pogings aangewend om vrede en veiligheid in die wêreld te bewerkstellig. Dit het moontlik ’n derde wêreldoorlog verhinder, en die uitwissing van menselewens deur die gebruik van kernbomme is nie herhaal nie. Die Verenigde Nasies het miljoene kinders van kos en medisyne voorsien. Dit het in baie lande bygedra tot verbeterde gesondheidstandaarde, wat onder andere die voorsiening van veiliger drinkwater en immunisering teen gevaarlike siektes ingesluit het. Miljoene vlugtelinge het humanitêre bystand ontvang.

Ter erkenning van sy prestasies is die Nobelprys vir Vrede vyf keer aan die Verenigde Nasies toegeken. Maar die betreurenswaardige werklikheid is dat ons nog steeds nie in ’n wêreld sonder oorlog lewe nie.

Vrede en veiligheid—Doelwitte wat nie bereik is nie

Ná 50 jaar se werk is vrede en veiligheid doelwitte wat steeds nie bereik is nie. In ’n onlangse toespraak tot die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het die President van die Verenigde State sy frustrasie uitgespreek deur te sê dat “hierdie eeu, so vol hoop en geleenthede en prestasies, ook ’n eeu van intense verwoesting en wanhoop was”.

Aan die einde van 1994 het The New York Times gesê: “Daar is tans bykans 150 oorloë of skermutselinge waarin duisende mense sterf—meer burgerlikes as soldate volgens die meeste skattings—en honderdduisende word vlugtelinge.” Die Verenigde Nasies se Departement van Openbare Inligting het berig dat 20 miljoen mense sedert 1945 hulle lewens verloor het as gevolg van gewapende konflikte. Die Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies, Madeleine Albright, het gesê dat “streekkonflikte in talle opsigte nou wreder is”. Die skending van menseregte en diskriminasie verskyn daagliks in die nuus. Dit lyk of baie nasies mekaar net duld pleks van vriendskaplike verhoudinge aan te kweek.

Sir David Hannay, Brittanje se ambassadeur by die Verenigde Nasies, het erken dat “die Verenigde Nasies nog tot in die tagtigerjare min of meer na aan ’n eervolle mislukking was”. Die Sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Boutros Boutros-Ghali, het dit betreur dat daar toenemende onverskilligheid en tamheid onder lidstate is wanneer dit by vredebewaringsoperasies kom. Hy het tot die slotsom gekom dat die Verenigde Nasies vir baie van die lede “nie van die grootste belang is nie”.

Die media se invloed

Die Verenigde Nasies lyk dalk magtig, maar sy pogings word dikwels deur die politiek en die media gedwarsboom. Die Verenigde Nasies is magteloos sonder die steun van sy lede. Maar sonder die publiek se goedkeuring sal baie VN-lede nie die Verenigde Nasies steun nie. Byvoorbeeld, volgens The Wall Street Journal het die “skouspelagtige mislukkings in Somalië en Bosnië baie Amerikaners oortuig dat die organisasie nie net verkwistend nie, maar in werklikheid gevaarlik is”. Dié gesindheid van die publiek het weer party van die Amerikaanse politici beweeg om voor te stel dat Amerikaanse finansiële hulp aan die Verenigde Nasies verminder moet word.

Nuusorganisasies huiwer nie om die Verenigde Nasies skerp te kritiseer nie. Uitdrukkings soos “hopeloos onbekwaam”, “lomp”, “ondoeltreffend” en “magteloos” is al sonder voorbehoud gebruik wanneer verskillende aspekte van VN-werksaamhede beskryf is. The Washington Post National Weekly Edition het onlangs gesê dat “die Verenigde Nasies ’n trae burokrasie bly wat sukkel om aan te pas in ’n snel bewegende wêreld”.

’n Ander koerant het sekretaris-generaal Boutros Boutros-Ghali aangehaal waar hy sy frustrasie oor die Rwandese slagtings uitgespreek het. Hy het gesê: “Dit is nie net ’n mislukking vir die Verenigde Nasies nie; dit is ’n mislukking vir die internasionale gemeenskap. En ons is almal verantwoordelik vir hierdie mislukking.” ’n Gewilde nuusprogram op televisie het in 1993 gesê dat die Verenigde Nasies “in gebreke gebly het om die grootste bedreiging vir vrede te keer—die verspreiding van kernwapens”. Die TV-program het verwys na ’n Verenigde Nasies wat “dekades lank omtrent net gepraat het”.

Hierdie algemene gevoel van teleurstelling rus swaar op die gemoed van amptenare van die Verenigde Nasies en dra tot hulle frustrasie by. Maar ondanks die frustrasies lyk dit asof baie by die herdenking van die 50ste bestaansjaar van die Verenigde Nasies ’n hernieude optimisme het en verwagtinge koester van ’n nuwe begin. Al het sy die tekortkominge van die Verenigde Nasies erken, het ambassadeur Albright die gevoelens van baie uitgedruk toe sy gesê het: “Ons moet ophou praat oor waar ons was, en ons moet praat oor waarheen ons op pad is.”

Ja, waarheen is die wêreld op pad? Sal daar ooit ’n wêreld sonder oorlog wees? Indien wel, watter rol sal die Verenigde Nasies daarin speel? En as jy godvresend is, moet jy vra: ‘Watter rol sal God daarin speel?’

[Venster op bladsy 4]

VERYDELDE POGINGS

Daar kan nie vrede en veiligheid wees terwyl daar oorlog, armoede, misdaad en korrupsie is nie. Die Verenigde Nasies het onlangs die volgende statistiek vrygestel.

Oorloë: “Van die 82 gewapende konflikte tussen 1989 en 1992 was 79 intern, baie daarvan op etniese vlak; 90 persent van die slagoffers was burgerlikes.”—Verenigde Nasies se Departement van Openbare Inligting (UNDPI)

Wapens: “Die IRKK [Internasionale Rooikruis-komitee] skat dat 95 vervaardigers in 48 lande elke jaar tussen 5 en 10 miljoen personeelmyne vervaardig.”—Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge (UNHCR)

“In Afrika is daar ongeveer 30 miljoen landmyne wat in meer as 18 lande versprei is.”—UNHCR

Armoede: “Wêreldwyd lewe een uit elke vyf mense—meer as eenmiljard in totaal—onder die broodlyn, en nagenoeg 13 miljoen tot 18 miljoen sterf jaarliks weens oorsake wat met armoede verband hou.”—UNDPI

Misdaad: “Misdade wat gerapporteer word, het sedert die tagtigerjare elke jaar teen ’n wêreldwye gemiddelde van 5 persent toegeneem; in die VSA alleen word daar jaarliks 35 miljoen misdade gepleeg.”—UNDPI

Korrupsie: “Korrupsie in die openbare sektor kom algemeen voor. In party lande kos finansiële bedrog na raming die ekwivalent van 10 persent van die land se jaarlikse bruto binnelandse produk.”—UNDPI

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel