Wees op jou hoede vir eiegeregtigheid!
IN DIE eerste eeu het die Fariseërs die goeie reputasie gehad dat hulle regverdige aanbidders van God was. Hulle was ywerige studente van die Skrif en het dikwels gebid. Party mense het hulle as teergevoelig en redelik beskou. Die Joodse geskiedskrywer Josefus het geskryf: “Die Fariseërs toon toegeneentheid teenoor mekaar en kweek goeie betrekkinge met die gemeenskap aan.” Dit is geen wonder dat hulle destyds waarskynlik die mees geëerde en gesiene mense in die Joodse gemeenskap was nie!
Maar vandag word die woord “Farisees” en verwante woorde neerhalend gebruik, sinoniem met skynheilig, eiegeregtig, ’n meerderwaardige houding, oordrewe vroom en die bewys van lippediens. Waarom het die Fariseërs hulle goeie naam verloor?
Want Jesus Christus is, in teenstelling met die meeste Jode, nie deur die Fariseërs se uiterlike bedrieg nie. Hy het hulle vergelyk met “gewitte grafte, wat van buite wel mooi lyk, maar binne-in vol doodsbeendere en allerhande onreinheid is”.—Matteus 23:27.
Hulle het weliswaar lang gebede in openbare plekke gedoen, maar soos Jesus gesê het, was dit net om deur ander gesien te word. Hulle aanbidding was ’n blote vertoon. Hulle het van prominente plekke by aandmaaltye en die vername sitplekke in die sinagoges gehou. Hoewel alle Jode verplig was om fraiings aan hulle klere te dra, het die Fariseërs mense probeer beïndruk deur uitermate lang fraiings te dra. Hulle was trots op hulle breër geskriftedosies wat hulle as gelukbringers gedra het (Matteus 6:5; 23:5-8). Hulle huigelagtigheid, hulle hebsug en hulle verwaandheid het uiteindelik skande oor hulle gebring.
Jesus het God se verwerping van die Fariseërs uitgespreek: “Julle huigelaars, Jesaja het gepas oor julle geprofeteer toe hy gesê het: ‘Hierdie volk eer my met hulle lippe, maar hulle hart is ver van my verwyderd. Tevergeefs bly hulle my aanbid, want hulle leer gebooie van mense as leerstellings’” (Matteus 15:7-9). Hulle regverdigheid was eintlik eiegeregtigheid. Dit is te verstane dat Jesus sy dissipels gewaarsku het: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs” (Lukas 12:1). Vandag moet ons ook ‘op ons hoede wees’ vir eiegeregtigheid of daarteen waak dat ons godsdienshuigelaars word.
Ons moet ook besef dat ’n mens nie oornag eiegeregtig word nie. Hierdie neiging sluip eerder geleidelik met verloop van tyd in. ’n Mens kan selfs onbewustelik die ongewenste eienskappe van die Fariseërs aanleer.
’n Meerderwaardige gesindheid
Wat is party van die eienskappe waarvoor ons ‘op ons hoede moet wees’? Mense wat eiegeregtig is, “praat, en staan en lyk [gewoonlik] asof hulle nog nooit verkeerd gehandel het nie”, verduidelik die Encyclopædia of Religion and Ethics. Die eiegeregtiges is ook grootpraterig en blaas hulle eie beuel, wat ’n groot probleem onder die Fariseërs was.
Jesus het hierdie Farisese gesindheid met ’n illustrasie beskrywe: “Twee mense het na die tempel opgegaan om te bid, die een ’n Fariseër en die ander ’n belastinggaarder. Die Fariseër het gaan staan en hierdie dinge by homself begin bid: ‘O God, ek dank u dat ek nie soos die res van die mense is nie: afpersers, onregverdig, egbrekers, of selfs soos hierdie belastinggaarder. Ek vas twee keer per week, ek gee die tiende van alles wat ek verwerf.’” In teenstelling hiermee het die belastinggaarder nederig sy foute erken en bewys dat hy regverdiger as die grootpraterige Fariseër was. Jesus het hierdie illustrasie gerig aan diegene “wat op hulleself vertrou het dat hulle regverdig is en wat die res as niks beskou het nie”.—Lukas 18:9-14.
As onvolmaakte mense voel ons dalk soms dat ons weens ons natuurlike vermoëns of voordele beter as ander is. Maar Christene moet sulke gedagtes gou verwerp. Jy het dalk jare lange ervaring in die Christelike lewenswyse. Jy is moontlik ’n bekwame Bybelonderrigter. Of dalk maak jy daarop aanspraak dat jy gesalf is om saam met Christus in die hemel te regeer. Party in die gemeente geniet spesiale voorregte as voltydse bedienaars, ouer manne of bedieningsknegte. Vra jou af: ‘Hoe sal Jehovah voel as ek dít wat hy my gegee het, sou gebruik as ’n grondslag om meerderwaardig teenoor ander te voel?’ Dit sal hom beslis mishaag.—Filippense 2:3, 4.
Wanneer ’n Christen vanweë sy godgegewe vermoëns, voorregte of gesag ’n meerderwaardige gesindheid openbaar, is hy in werklikheid besig om God van die eer en erkenning te beroof wat net Hy verdien. Die Bybel sê duidelik dat ’n Christen ‘nie meer van homself moet dink as wat dit nodig is om te dink nie’. Dit spoor ons aan: “Wees net so gesind teenoor ander as teenoor julleself; moenie hoë dinge bedink nie, maar word saam met die nederige dinge gelei. Moenie in julle eie oë verstandig word nie.”—Romeine 12:3, 16.
“Hou op om te oordeel”
Volgens een Bybelensiklopedie beskou ’n eiegeregtige mens “homself as sedelik opreg of as regverdig voor God omdat hy by die letter van die wet bly sonder om die gees daarvan in ag te neem”. ’n Ander publikasie beskryf die eiegeregtiges as “uitermatig godsdienstige mense wat al hulle tyd daaraan bestee om die boosheid in ander te soek”.
Die Fariseërs was hieraan skuldig. Mettertyd was hulle mensgemaakte reëls klaarblyklik belangriker as God se wette en beginsels (Matteus 23:23; Lukas 11:41-44). Hulle het hulleself as regters aangestel en was geneig om enigeen te veroordeel wat nie aan hulle eiegeregtige standaarde voldoen nie. Hulle meerderwaardige gesindheid en oordrewe selfbeeld het die behoefte laat ontstaan om ander mense te beheers. Hulle onvermoë om Jesus te beheers het hulle woedend gemaak, en daarom het hulle planne beraam om hom dood te maak.—Johannes 11:47-53.
Hoe onaangenaam is dit tog om in iemand se geselskap te wees wat hom as ’n regter voordoen en voortdurend na foute soek deur almal om hom fyn dop te hou. Niemand in die gemeente het in werklikheid die gesag om sy menings of eie reëls op ander af te dwing nie (Romeine 14:10-13). Gebalanseerde Christene besef dat baie aspekte van die daaglikse lewe ’n persoonlike besluit verg. Veral diegene wat geneig is om perfeksioniste of veeleisend te wees, moet dit vermy om ander te oordeel.
Dit is waar dat die Christengemeente die gesag het om riglyne te hê wat tot die gladde werking van Jehovah se aardse organisasie bydra (Hebreërs 13:17). Maar party het hierdie riglyne verdraai of het hulle eie reëls bygevoeg. In een gebied moes alle studente op die Teokratiese Bedieningskool pakke dra en hulle baadjies toeknoop wanneer hulle ’n toespraak hou. ’n Student wat dit nie gedoen het nie, sou nie weer toesprake hou nie. Sou dit nie eerder redeliker en in ooreenstemming met die gees van God se Woord wees om vriendelike, persoonlike leiding te gee, indien nodig, as om sulke onbuigsame reëls te maak nie?—Jakobus 3:17.
Eiegeregtigheid kan ook tot die siening lei dat ’n Christen geestelik swak is as hy baie persoonlike probleme ervaar. Dit is presies wat eiegeregtige Elifas, Bildad en Sofar van die getroue Job gedink het. Hulle het die situasie nie ten volle verstaan nie en was dus voorbarig om Job van oortredings te beskuldig. Jehovah het hulle bestraf weens hulle verdraaide beskouing van Job se beproewinge.—Sien Job, hoofstukke 4, 5, 8, 11, 18, 20.
Misplaaste ywer
Eiegeregtigheid en ywer hou dikwels met mekaar verband. Die apostel Paulus het van godsdienstige Jode gepraat wat ’n “ywer vir God het; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie; want omdat hulle die regverdigheid van God nie ken nie maar hulle eie tot stand probeer bring, het hulle hulle nie aan die regverdigheid van God onderwerp nie” (Romeine 10:2, 3). As ’n Fariseër was Paulus self baie ywerig, hoewel sy ywer misplaas was en nie op Jehovah se regverdigheid gegrond was nie.—Galasiërs 1:13, 14; Filippense 3:6.
Die Bybel vermaan ons gepas: “Wees nie alte regverdig en hou jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy jouself te gronde rig?” (Prediker 7:16). ’n Christen in die gemeente begin dalk pligsgetrou, maar sy pligsgetrouheid en ywer kan in eiegeregtigheid ontaard. Wanneer ’n mens deur menslike wysheid in plaas van Jehovah se geregtigheid gelei word, kan godsdiensywer ander benadeel. Hoe?
Ouers kan byvoorbeeld so betrokke raak by die geestelike behoeftes van ander dat hulle dalk hulle eie gesin se behoeftes verwaarloos. Of ouers is dalk oorywerig en vereis meer van hulle kinders as wat hulle moontlik kan doen (Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21). Party kinders kan nie sulke onredelike vereistes nakom nie en lei as gevolg daarvan ’n dubbele lewe. ’n Redelike ouer sal sy gesin se beperkings in ag neem en die nodige aanpassings maak.—Vergelyk Genesis 33:12-14.
Oormatige ywer kan ons ook van takt, empatie en teerheid beroof, eienskappe wat in ons omgang met ander noodsaaklik is. Iemand werk dalk baie hard om Koninkryksbelange te bevorder. Maar sy buitensporige ywer kan mense dalk benadeel. Paulus het gesê: “As ek die gawe van profesie het en met al die heilige geheime en alle kennis vertroud is, en as ek al die geloof het sodat ek berge kan versit, maar nie liefde het nie, is ek niks. En as ek al my besittings gee om ander te voed, en as ek my liggaam oorgee sodat ek kan roem, maar nie liefde het nie, baat dit my glad nie.”—1 Korintiërs 13:2, 3.
Die nederiges geniet God se guns
As Christene moet ons die gevaar van eiegeregtigheid identifiseer voordat dit toeslaan. Ons moet ’n meerderwaardigheidsgevoel, die gewoonte om ander te oordeel en ’n blinde ywer wat op menslike wysheid gegrond is, vermy.
Terwyl ons “op ons hoede” is vir Farisese gesindhede, moet ons eerder op ons eie gesindhede en neigings let as om ander as eiegeregtig te oordeel. Jesus het weliswaar die Fariseërs geoordeel en hulle as ’n “addergebroedsel” veroordeel wat ewige vernietiging verdien. Maar Jesus kon mense se harte lees. Ons kan nie.—Matteus 23:33.
Laat ons God se regverdigheid soek en nie ons eie nie (Matteus 6:33). Slegs dan kan ons Jehovah se guns geniet, want die Bybel vermaan ons almal: “Omgord julle julle almal met ootmoed teenoor mekaar, want God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges.”—1 Petrus 5:5.