Vertroosting vir diegene met ’n “verslae gees”
VANDAG het Satan se wêreld “alle sedelikheidsgevoel verloor” (Efesiërs 4:19; 1 Johannes 5:19). Egbreuk en hoerery is pandemies. In baie lande loop 50 persent of meer huwelike op egskeidings uit. Homoseksualiteit word allerweë aanvaar. Seksuele geweld—verkragting—is dikwels in die nuus. Pornografie is ’n bedryf met ’n omset van miljarde rande.—Romeine 1:26, 27.
Van die walglikste perversiteite is die seksuele molestering van onskuldige kinders. Die seksuele molestering van kinders is, soos die wysheid van Satan se wêreld, ‘dierlik, demonies’ (Jakobus 3:15). Die tydskrif Time sê dat daar in die Verenigde State alleen “elke jaar meer as 400 000 verslae van bewysbare seksuele aanrandings by die owerhede ingedien word deur onderwysers en dokters”. Wanneer slagoffers van hierdie soort molestering volwassenes word, het baie van hulle steeds pynlike wonde, en daardie wonde is iets wesenliks! Die Bybel sê: “Die gees [geestesneiging, innerlike gevoelens en gedagtes] van ’n man kan sy kwaal verdra; maar wat ’n verslae [gewonde, bedroefde] gees betref, wie kan dit dra?”—Spreuke 18:14, NW.
Die goeie nuus van God se Koninkryk vind by alle soorte mense byval, onder andere by “die gebrokenes van hart” en diegene met ’n “verslae gees” (Jesaja 61:1-4). Dit verbaas ons dus nie dat baie wat emosionele pyn verduur ag gee op die uitnodiging: “Laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17). Die Christengemeente kan vir hulle ’n plek van vertroosting wees. Hulle is verheug wanneer hulle leer dat lyding binnekort tot die verlede sal behoort (Jesaja 65:17). Maar tot dan moet hulle moontlik ‘vertroos’ word en moet hulle wonde ‘verbind’ word. Paulus het Christene gepas gemaan: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.”—1 Tessalonisense 5:14.
“Verdronge herinneringe”
In onlangse jare was party ‘gebroke van hart’ om redes wat ander nie maklik verstaan nie. Hulle is volwassenes wat, op grond van wat as “verdronge herinneringe” beskryf word, sê dat hulle seksueel gemolesteer is toe hulle kinders was.a Party het glad nie besef dat hulle gemolesteer is nie, totdat hulle onverwags terugflitse en “herinneringe” kry van ’n volwassene (of volwassenes) wat hulle gemolesteer het toe hulle klein was. Is daar iemand in die Christengemeente wat sulke verontrustende gedagtes het? Ja, in ’n paar lande is daar wel, en hierdie toegewyde persone ondervind dalk groot angs, woede, skuldgevoelens, skaamte of eensaamheid. Soos Dawid voel hulle dalk van God afgesonder en roep hulle uit: “o HERE, waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid?”—Psalm 10:1.
Gesaghebbendes op die gebied van geestesgesondheid verstaan baie aspekte van hierdie “herinneringe” nie goed nie. Maar sulke “herinneringe” kan ’n uitwerking hê op die geestelikheid van toegewyde Christene. Ons kyk derhalwe met vertroue na God se Woord vir leiding om ons hiermee te help. Die Bybel gee ‘onderskeidingsvermoë in alles’ (2 Timoteus 2:7; 3:16). Dit help ook alle betrokkenes om geloof te stel in Jehovah, “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting, wat ons in al ons verdrukking vertroos”.—2 Korintiërs 1:3, 4.
Het dit werklik gebeur?
In die wêreld is daar talle teenstrydige menings oor wat hierdie “herinneringe” is, asook in watter mate hulle dinge verteenwoordig wat werklik gebeur het. Jehovah se Getuies is “geen deel van die wêreld nie” en raak nie by hierdie teenstrydighede betrokke nie (Johannes 17:16). Volgens gepubliseerde verslae was “herinneringe” soms korrek. Byvoorbeeld, nadat die assessor Frank Fitzpatrick “onthou” het dat hy deur ’n sekere priester gemolesteer is, het byna honderd ander na vore gekom en beweer dat hulle ook deur dieselfde priester gemolesteer is. Die priester het na bewering erken dat hy hulle gemolesteer het.
Dit is egter opmerkenswaardig dat ’n aantal individue nie hulle “herinneringe” kon bevestig nie. Party wat deur sulke gedagtes gekwel is, kon duidelik onthou dat ’n sekere persoon hulle gemolesteer het of dat dit op ’n spesifieke plek plaasgevind het. Maar later het gegronde bewys van die teendeel duidelik getoon dat hierdie besonderhede wat hulle “onthou” het, nie waar kon wees nie.
Voorsien ’n toevlug
Maar hoe kan diegene wat weens sulke “herinneringe” ’n “verslae gees” het, vertroos word? Dink aan Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan. ’n Man is deur rowers aangeval, geslaan en van sy besittings beroof. Toe die Samaritaan daar verbygaan, het sy hart na die gewonde man uitgegaan. Wat het hy gedoen? Het hy daarop aangedring om al die besonderhede van die voorval te hoor? Of het die Samaritaan ’n beskrywing van die rowers gekry en hulle onmiddellik agternagesit? Nee. Die man was beseer! Die Samaritaan het dus sy wonde verbind en hom op liefdevolle wyse na die veiligheid van ’n nabygeleë herberg geneem waar hy kon herstel.—Lukas 10:30-37.
Daar is weliswaar ’n verskil tussen liggaamlike wonde en ’n “verslae gees” wat deur kindermolestering veroorsaak is. Maar in albei gevalle het dit groot lyding tot gevolg. Wat die Samaritaan dus vir die gewonde Jood gedoen het, toon wat gedoen kan word om ’n mede-Christen wat ly te help. Die heel eerste prioriteit is om liefdevolle vertroosting te gee en hom te help om te herstel.
Die Duiwel het getroue Job beproef, aangesien hy blykbaar oortuig was dat emosionele of liggaamlike pyn sy onkreukbaarheid sou ondermyn (Job 1:11; 2:5). Sedertdien het Satan dikwels lyding—of hy dit nou regstreeks veroorsaak het al dan nie—probeer gebruik om die geloof van God se knegte te verswak. (Vergelyk 2 Korintiërs 12:7-9.) Kan ons dan nog twyfel dat die Duiwel nou gebruik maak van kindermolestering en die “verslae gees” van baie volwassenes met wie dit gebeur het (of wat gekwel word deur “herinneringe” dat dit gebeur het) om die geloof van Christene te probeer verswak? ’n Christen wat pyn verduur maar sy onkreukbaarheid getrou handhaaf, sê soos Jesus toe hy deur Satan aangeval is: “Gaan weg, Satan!”—Matteus 4:10.
Bly geestelik sterk
“Die getroue en verstandige slaaf” het inligting gepubliseer om ons te help om die geestelike en emosionele pyn te hanteer wat deur kindermolestering veroorsaak word (Matteus 24:45-47). Ondervinding toon dat die persoon wat ly, gehelp word as hy op die ‘krag van die Here en die mag van sy sterkte’ kan vertrou en ‘die volledige wapenrusting van God’ aantrek (Efesiërs 6:10-17). Hierdie wapenrusting sluit Bybelse “waarheid” in, wat Satan as die vernaamste vyand aan die kaak stel en die duisternis verdryf waarin hy en sy trawante werk (Johannes 3:19). Daar is ook “die borsplaat van regverdigheid”. Die persoon wat ly, moet daarna streef om getrou by regverdige standaarde te bly. Party het byvoorbeeld sterk neigings om hulleself te benadeel of om onsedelik te wees. Elke keer wat hulle hierdie neigings weerstaan, behaal hulle ’n oorwinning!
Die geestelike wapenrusting sluit ook “die goeie nuus van vrede” in. Om met ander oor Jehovah se voornemens te praat, versterk die een wat praat sowel as die een wat luister (1 Timoteus 4:16). As jy iemand met ’n “verslae gees” is, en dit dus vir jou moeilik is om oor die goeie nuus te praat, kan jy gerus probeer om ’n ander Christen te vergesel terwyl hy of sy hierdie belangrike werk doen. En moenie van “die groot skild van geloof” vergeet nie. Jy moet geloof hê dat Jehovah jou liefhet en dat hy sal sorg dat jy alles terugkry wat jy verloor het. Glo sonder voorbehoud dat Jesus ook vir jou lief is, en hy het dit bewys deur vir jou te sterf (Johannes 3:16). Satan het nog altyd valslik beweer dat Jehovah nie vir sy knegte omgee nie. Dit is net nóg een van sy growwe, kwaadwillige leuens.—Johannes 8:44; vergelyk Job 4:1, 15-18; 42:10-15.
As jou hartseer dit vir jou moeilik maak om te glo dat Jehovah oor jou besorg is, sal dit help as jy met ander assosieer wat wel glo dat hy oor ons besorg is (Psalm 119:107, 111; Spreuke 18:1; Hebreërs 10:23-25). Moenie toelaat dat Satan jou van die prys van die lewe beroof nie. Onthou dat “die helm van redding” en “die swaard van die gees” deel van die wapenrusting is. Die Bybel is geïnspireer deur die heilige gees, waaroor Satan nie die oorwinning kan behaal nie (2 Timoteus 3:16; Hebreërs 4:12). Die helende woorde daarin kan emosionele pyn verlig.—Vergelyk Psalm 107:20; 2 Korintiërs 10:4, 5.
Laastens, bid voortdurend om krag sodat jy kan volhard (Romeine 12:12; Efesiërs 6:18). Hartgrondige gebed het Jesus deur sy intense emosionele sielsangs krag gegee, en dit kan jou ook help (Lukas 22:41-43). Is dit vir jou moeilik om te bid? Vra ander om saam met jou en vir jou te bid (Kolossense 1:3; Jakobus 5:14). Heilige gees sal jou in jou gebede help. (Vergelyk Romeine 8:26, 27.) Sommige met diep emosionele wonde sal dalk, net soos dié met ’n pynlike liggaamlike siekte, nie geheel en al in hierdie stelsel van dinge genees word nie. Maar met Jehovah se hulp kan ons dit verduur, en as ons dit verduur, is dit ’n oorwinning, soos dit met Jesus die geval was (Johannes 16:33). “Vertrou op [Jehovah] altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ’n toevlug vir ons.”—Psalm 62:9.
Wat van die vermeende molesteerder?
Iemand wat ’n kind werklik seksueel molesteer, is ’n verkragter en moet as sodanig beskou word. Enigiemand wat ’n slagoffer hiervan is, het die reg om sy molesteerder daarvan te beskuldig. Maar ’n persoon moet nie sommer beskuldig word as dit bloot op “verdronge herinneringe” van die molestering gebaseer is nie. In so ’n geval is dit van die grootste belang dat die persoon wat ly ’n mate van emosionele stabiliteit herwin. Ná ’n tydjie is hy dalk in ’n beter posisie om die “herinneringe” te heroorweeg en te besluit wat hy daaromtrent wil doen, indien hy enigiets gaan doen.
Kyk maar na Donna se geval. Sy het na bewering aan eetversteurings gely en ’n berader gaan sien—iemand wie se bekwaamheid blykbaar te betwyfel was. Kort daarna het sy haar vader van bloedskande beskuldig, en hy is voor die hof gedaag. Die jurie kon nie tot ’n beslissing kom nie; gevolglik is die vader nie tronk toe gestuur nie, maar hy het $100 000 (R360 000) regsonkoste gehad. Toe, ná dit alles, het Donna vir haar ouers gesê dat sy nie meer dink dat sy gemolesteer is nie!
Salomo het tereg gesê: “Moenie te haastig teen jou buurman ’n klag indien nie” (Spreuke 25:8, NAV). As daar ’n grondige rede is om te vermoed dat die vermeende molesteerder nog steeds kinders molesteer, sal ’n waarskuwing dalk gegee moet word. Die gemeentelike ouer manne kan in so ’n geval hulp verleen. Daarbenewens moet jy nie haastig wees nie. Uiteindelik sal jy dalk daarmee tevrede wees om die saak net daar te laat. Maar as jy die vermeende molesteerder met die saak wil konfronteer (nadat jy eers vasgestel het hoe jy oor sy moontlike reaksie sal voel), het jy die reg om dit te doen.
Terwyl die persoon wat die “herinneringe” ondervind, besig is om te genees, kan moeilike situasies ontstaan. ’n Individu het byvoorbeeld dalk duidelike beelde dat hy gemolesteer is deur iemand wat hy of sy elke dag sien. Daar kan geen reëls neergelê word oor hoe dit hanteer moet word nie. “Elkeen sal sy eie vrag dra” (Galasiërs 6:5). Soms meen iemand dalk dat ’n familie- of gesinslid hierby betrokke is. Hou ook die twyfelagtige aard van party “verdronge herinneringe” in gedagte wanneer die persoon geïdentifiseer moet word wat vermoedelik skuldig is. In so ’n geval, mits die saak nie met sekerheid vasgestel kan word nie, kan die persoon met die familie in aanraking bly—deur ten minste af en toe besoek af te lê, asook per brief of per telefoon—want dit sal toon dat hy ’n skriftuurlike weg probeer volg.—Vergelyk Efesiërs 6:1-3.
Wat kan ouer manne doen?
As die ouer manne deur ’n gemeentelid genader word wat terugflitse of “verdronge herinneringe” van kindermolestering kry, word twee van hulle gewoonlik gevra om te help. Hierdie ouer manne moet die persoon wat ly op simpatieke wyse aanspoor om voorlopig te probeer om die emosionele angs te bowe te kom. Die name van enige so genoemde molesteerders moet streng vertroulik gehou word.
Die ouer manne se vernaamste taak is om as herders op te tree (Jesaja 32:1, 2; 1 Petrus 5:2, 3). Hulle moet veral sorg dat hulle hulle “met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid” beklee (Kolossense 3:12). Hulle moet mooi luister en dan helende woorde uit die Skrif toepas (Spreuke 12:18). Party wat as gevolg van pynlike “herinneringe” ly, het hulle waardering uitgespreek vir ouer manne wat hulle gereeld besoek of selfs bel om uit te vind hoe dit met hulle gaan. Sulke pogings neem nie baie tyd in beslag nie, maar dit toon dat Jehovah se organisasie vir hulle omgee. As die persoon wat ly, besef dat sy Christenbroers hom werklik liefhet, kan hy dalk gehelp word om sy emosionele balans in ’n groot mate te herwin.
Sê nou die persoon wat ly, besluit dat hy ’n beskuldiging wil maak?b Dan kan die twee ouer manne hom meedeel dat hy, in ooreenstemming met die beginsel in Matteus 18:15, die beskuldigde persoonlik oor die saak moet nader. As die beskuldiger emosioneel nie daartoe in staat is om dit van aangesig tot aangesig te doen nie, kan dit oor die telefoon of dalk per brief gedoen word. Op hierdie manier bied dit die beskuldigde die geleentheid om amptelik voor Jehovah op die beskuldiging te antwoord. Hy is dalk selfs in staat om getuienis te lewer dat dit nie hy was wat die persoon gemolesteer het nie. Of miskien bely die beskuldigde en word ’n versoening bewerkstellig. Wat ’n seën sal dit tog wees! As die persoon bely, kan die twee ouer manne die saak verder behartig in ooreenstemming met skriftuurlike beginsels.
As die persoon die beskuldiging ontken, moet die ouer manne vir die beskuldiger verduidelik dat daar niks verder op ’n geregtelike wyse gedoen kan word nie. En die gemeente sal voortgaan om die beskuldigde as onskuldig te beskou. Die Bybel sê dat daar twee of drie getuies moet wees voordat geregtelike stappe gedoen kan word (2 Korintiërs 13:1; 1 Timoteus 5:19). Selfs as meer as een persoon “onthou” dat hy deur dieselfde persoon gemolesteer is, is die aard van hierdie herinneringe eenvoudig te onseker om geregtelike besluite sonder enige bykomende getuienis daarop te baseer. Dit beteken nie dat sulke “herinneringe” as vals beskou word (of dat dit as waar beskou word) nie. Maar Bybelbeginsels moet gevolg word om ’n saak geregtelik te bepaal.
Sê nou die beskuldigde is werklik skuldig—al sê hy dat hy dit nie gedoen het nie? Kom hy as ’t ware skotvry daarvan af? Beslis nie! Of hy skuldig of onskuldig is, kan veilig in Jehovah se hande gelaat word. “Die sondes van party mense is algemeen bekend en lei regstreeks tot ’n oordeel, maar wat ander mense betref, hulle sondes word ook later bekend” (1 Timoteus 5:24; Romeine 12:19; 14:12). Die boek Spreuke sê: “Die verwagting van die regverdiges is vreugde, maar die hoop van die goddelose vergaan.” “By die dood van ’n goddelose mens gaan sy hoop tot niet” (Spreuke 10:28; 11:7). Dit is Jehovah God en Christus Jesus wat uiteindelik ewige oordeel in geregtigheid uitspreek.—1 Korintiërs 4:5.
Weerstaan die Duiwel
Wat ’n blyk van innerlike krag en liefde vir God is dit tog wanneer toegewyde siele ten spyte van groot liggaamlike of emosionele pyn volhard! En wat ’n bewys van die krag van Jehovah se gees om hulle te ondersteun!—Vergelyk 2 Korintiërs 4:7.
Petrus se woorde is op sulke persone van toepassing: “Weerstaan [Satan], vas in die geloof” (1 Petrus 5:9). Dit is dalk nie maklik om te doen nie. Soms is dit dalk selfs moeilik om helder en logies te dink. Maar skep moed! Die Duiwel en sy listige dade sal binnekort nie meer bestaan nie. Ons sien inderdaad uit na die tyd wanneer ‘God self elke traan van hulle oë sal afvee, en die dood nie meer daar sal wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn nie meer daar sal wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’—Openbaring 21:3, 4.
[Voetnote]
a “Verdronge herinneringe” en soortgelyke uitdrukkings word tussen aanhalingstekens aangegee om dit te onderskei van die algemener herinneringe wat ons almal het.
b Die stap wat in hierdie paragraaf uiteengesit is, is dalk ook nodig as die saak algemeen bekend is in die gemeente.