“’n Tyd om te genees”
Almal het altyd op Ann se skouer gaan huil; sy het enigeen met ’n probleem gehelp. Sy was selfversekerd en onberispelik in haar voorkoms, en niemand het ooit bespeur dat sy innerlike emosionele letsels het nie, totdat sy op ’n dag begin onthou het. “Ek was by die werk”, vertel Ann, “en ek het begin om pyne en intense gevoelens van skaamte te kry. Ek kon skaars regop staan! Ek het dae lank gely. Toe het ek onthou hoe my stiefvader my gemolesteer het—eintlik het hy my verkrag. En dit was nie die enigste keer nie.”
DAAR is “’n tyd om te genees” (Prediker 3:3, NW). En vir baie slagoffers van kindermolestering—soos Ann—is die terugkeer van herinneringe wat lank verberg was ’n belangrike deel van die geneesproses.
Maar hoe kan enigeen iets so traumaties soos seksuele aanranding vergeet? Dink hoe hulpeloos ’n kind is teen seksuele toenadering van ’n vader of van ’n ander sterk volwassene. Sy kan nie hardloop nie. Sy durf nie skree nie. En sy durf niemand vertel nie! Maar sy sien haar molesteerder dalk elke dag en moet optree asof niks gebeur het nie. Dit sal vir ’n volwassene moeilik wees om so ’n valse skyn vol te hou; vir ’n kind is dit byna onmoontlik. Sy gebruik dus die sterk verbeelding wat kinders het en ontvlug verstandelik! Sy maak asof die misbruik nie gebeur het nie, distansieer haarself daarvan of stomp haar sinne af daarvoor.
Ons almal sluit ons eintlik van tyd tot tyd af van dinge wat ons nie wil sien of hoor nie. (Vergelyk Jeremia 5:21.) Maar slagoffers van molestering gebruik hierdie vermoë as ’n instrument vir oorlewing. Party slagoffers sê: “Ek het gemaak asof dit met iemand anders gebeur en ek net ’n toeskouer was.” “Ek het gemaak asof ek slaap.” “Ek het my wiskundeprobleme in my kop uitgewerk.”—Strong at the Broken Places, deur Linda T. Sanford.
Dit is dus nie verbasend nie dat die boek Surviving Child Sexual Abuse sê: “Daar word geskat dat tot 50 persent van diegene wat seksuele misbruik as kinders oorleef het nie van hierdie ondervindinge bewus is nie.” Party kan nietemin die misbruik self onthou, maar hulle sluit die gevoelens uit wat daarmee verband hou—die pyn, die woede, die skaamte.
Verdringing—verstandelike toutrekkery
Is dit dan nie die beste dat hierdie dinge begrawe bly—dat slagoffers eenvoudig van hulle vergeet—nie? Party verkies wel om dit te doen. Ander kan eenvoudig nie. Dit is soos Job 9:27, 28 sê: “As ek glimlag en my pyn probeer vergeet, kom al my lyding terug om my te kwel” (Today’s English Version). Die verdringing van angswekkende herinneringe is ’n uitputtende verstandelike poging, ’n intense toutrekkery wat dalk selfs ernstige gesondheidsgevolge kan meebring.
Wanneer ’n slagoffer ouer word, verswak die druk van die lewe dikwels haar vermoë om die verlede te verdring. Die geringste geur van reukwater, ’n gesig wat bekend lyk, ’n klank wat jou laat skrik of selfs ’n ondersoek deur ’n dokter of ’n tandarts kan skielik skrikwekkende herinneringe en gevoelens by jou wakker maak.a Moet sy nie net harder probeer om te vergeet nie? Baie slagoffers vind op hierdie stadium dat dit verligting bring as hulle dit probeer onthou! ’n Vrou met die naam Jill sê: ‘As die herinneringe eers terugkeer, verloor hulle hulle krag. Om hulle in te hou, is pynliker en gevaarliker as om van hulle ontslae te raak.’
Die waarde daarvan om dit te erken
Hoe so? Een rede is dat dit ’n slagoffer in staat stel om te treur as sy onthou. Smart is ’n natuurlike reaksie op trauma; dit help ons om pynlike gebeure te vergeet (Prediker 3:4; 7:1-3). Maar ’n slagoffer van molestering word die geleentheid om te treur ontneem, gedwing om haar skrikwekkende ondervinding te ontken en om haar pyn op te krop. Sulke verdringing kan tot iets lei wat die dokters posttraumatiese stresversteuring noem—’n gevoellose toestand wat feitlik emosieloos is.—Vergelyk Psalm 143:3, 4.
Wanneer die herinneringe begin terugkom, kan die slagoffer die misbruik feitlik herleef. Party slagoffers verval selfs tydelik in ’n kinderlike toestand. “Wanneer ek ’n terugflits kry”, vertel Jill, “het ek dikwels fisiese simptome. Partykeer is die herinneringe so geweldig dat ek voel ek word gek.” Woede wat jy as kind onderdruk het, kan nou tot ’n uitbarsting kom. “Wanneer ek onthou, verval ek in depressie en woede”, sê Sheila. Maar onder hierdie unieke omstandighede is woede gepas. Jy treur, en jy gee uiting aan opgekropte, regverdige woede! Jy het die reg om die gemene dade wat teen jou gepleeg is te haat.—Romeine 12:9.
Een slagoffer van molestering sê: “Toe ek in staat was om werklik te onthou, was dit ’n geweldige verligting . . . Ek het toe darem geweet waarmee ek te kampe het. Hoewel dit vir my baie moeilik was om te onthou, het dit my ’n deel van my lewe teruggegee wat skrikwekkend was omdat dit so onbekend en duister was.”—The Right to Innocence.
As ’n slagoffer onthou, kan dit haar ook help om tot die kern van party van haar probleme deur te dring. “Ek het altyd geweet ek het diep selfhaat en woede, maar ek het nie geweet waarom nie”, sê een slagoffer van bloedskande. Om te onthou, help baie om te besef dat wat met hulle gebeur het nie hulle skuld was nie, maar dat hulle misbruik is.
Nie almal onthou natuurlik hulle misbruik so dramaties of so helder soos ander nie. En die meeste raadgewers is dit eens dat dit nie nodig is om elke besonderheid van ’n mens se misbruik te onthou om van die gevolge te genees nie. Deur net eenvoudig te erken dat die misbruik gebeur het, kan ’n groot stap tot herstel wees.—Sien venster op bladsy 9.
Kry ondersteuning
Indien jy as kind seksueel misbruik is, moet jy nie die terugkerende herinneringe alleen deurstaan nie. Dit help om jou gevoelens uit te praat. (Vergelyk Job 10:1; 32:20.) Party vir wie dit geweldig pynlik is, kan besluit om die hulp van ’n bevoegde geneesheer, raadgewer of ’n deskundige op die gebied van geestelike gesondheid te soek. In elk geval, ’n vertroude vriend, ’n huweliksmaat, of Christenopsieners wat met empatie en respek sal luister, kan ook kosbare ondersteuners wees.b “My beste vriendin, Julie, was my grootste hulp”, sê Janet. “Sy het my toegelaat om weer en weer oor ’n herinnering te praat. Sy laat my toe om die emosies wat volg te ervaar. Sy luister en reageer met begrip.”
Vertroue is ’n onsekere saak, en jy voel dalk onwaardig om iemand se hulp te ontvang—of jy is te skaam om oor jou misbruik te praat. Maar ’n ware vriend is “gebore met die oog op die nood” en kan wel opgewasse wees vir die taak as jy hom of haar ’n kans gee (Spreuke 17:17). Maar wees selektief wanneer jy iemand soek wat jy in jou vertroue wil neem. Leer om jou bekommernisse geleidelik bekend te maak. As ’n vriend toon dat hy simpatiek en diskreet is, dan kan jy probeer om meer informasie te onthul.
Dit sal ook help as jy liggaamlik goed na jouself kyk. Kry genoeg rus. Oefen matig. Volg ’n gesonde dieet. Vereenvoudig jou lewe indien moontlik. Huil gerus. Dit lyk dalk asof die pyn nooit sal ophou nie, maar mettertyd sal dit wel bedaar. Onthou: Jy het die misbruik as ’n hulpelose kind deurleef—en dit oorleef! As ’n volwassene het jy vermoëns en kragte wat jy nie toe gehad het nie. (Vergelyk 1 Korinthiërs 13:11.) Jy moet jou pynlike herinneringe dus onder die oë sien en hulle verwerk. Vertrou op God vir krag. Die psalmis het gesê: “Hoe groot die angs van my hart ook al is, u vertroostinge stel my gerus.”—Psalm 94:19, The New Jerusalem Bible.
Raak ontslae van die skuldgevoelens en skaamte
Die beëindiging van selfverwyt is nog ’n belangrike taak van herstel. “Dit is selfs nou vir my baie moeilik om te dink dat ek onskuldig was”, sê ’n slagoffer met die naam Reba. “Ek wonder waarom ek hom nie gekeer het nie?”
Maar onthou dat molesteerders die mees duiwelse vorme van dwang uitoefen: gesag (‘Ek is jou pa!’), dreigemente (‘Ek sal jou doodmaak as jy iemand vertel!’), wreedaardige fisiese krag en selfs skuldgevoelens (‘As jy iemand vertel, sal Pappie tronk toe gaan.’). Party gebruik daarenteen vriendelike oorreding of geskenke en beloftes van gunste. Party stel seksuele aktiwiteite verkeerdelik voor as ’n speletjie of as ouerlike geneentheid. “Hy het gesê dat mense dit doen wanneer hulle mekaar liefhet”, vertel een slagoffer. Hoe kan ’n klein kindjie sulke emosionele afpersing en bedrieëry weerstaan? (Vergelyk Efesiërs 4:14.) Ja, die feit dat kinders hulpeloos, kwetsbaar en “kinders in die boosheid” is, word gevoelloos deur die molesteerder uitgebuit.—1 Korinthiërs 14:20.
Daarom moet jy jou miskien daaraan herinner net hoe kwetsbaar en hulpeloos jy as ’n kind was. Jy moet dalk probeer om tyd saam met ’n paar klein kindertjies deur te bring of na foto’s van jou as kind kyk. Ondersteunende vriende kan ook help deur jou gedurig daaraan te herinner dat die misbruik nie jou skuld was nie.
Een vrou sê nietemin: “Ek raak siek as ek die gevoelens onthou wat my pa in my opgewek het.” Party slagoffers (58 persent in een studie) onthou dat hulle gedurende die molestering seksuele opwekking ervaar het. Dit is verstaanbaar dat dit vir hulle baie skaamte veroorsaak. Die boek Surviving Child Sexual Abuse herinner ons egter daaraan dat “fisiese opwekking eenvoudig die liggaam se outomatiese [reaksie is] op aanraking of stimulasie op sekere maniere” en dat ’n kind “geen beheer oor hierdie opwekking” het nie. Die molesteerder alleen moet volle verantwoordelikheid dra vir wat gebeur het. DIT WAS NIE JOU SKULD NIE!
Jy kan vertroos word deur die wete dat God jou in hierdie saak as “onberispelik en opreg” beskou (Filippense 2:15). Mettertyd kan enige drang afneem om jou aan selfvernietigende gedrag te onderwerp, en jy kan leer om jou eie vlees te koester.—Vergelyk Efesiërs 5:29.
Aanvaar jou ouers
Dit is dalk een van die moeilikste take van herstel. Party bly met woede, fantasieë oor weerwraak—of skuldgevoelens—gevul. Een slagoffer van molestering het gesê: “Ek is terneergedruk omdat ek dink dat Jehovah van my verwag om my molesteerder te vergewe, en ek kan nie.” Daarenteen lewe jy dalk in morbiede vrees vir jou molesteerder. Of jy het dalk vyandige gevoelens teenoor jou ma as sy haar oë gesluit het vir die misbruik of met ontkenning of woede gereageer het toe die misbruik aan die lig gekom het. “My ma het vir my gesê dat ek toegewings vir [my pa] moet maak”, vertel een vrou bitter.
Dit is net natuurlik om kwaad te voel as jy misbruik is. Die bande wat gesinne bind, kan nietemin sterk wees, en jy wil dalk nie alle kontak met jou ouers verbreek nie. Jy is dalk selfs bereid om ’n versoening te oorweeg. Maar baie sal van die omstandighede afhang. Slagoffers is soms geneig om hulle ouers dadelik te vergewe—hulle verskoon nie die misbruik nie, maar hulle weier om deur wrewel verteer te word of deur vrees beheer te word. Party wat ’n emosionele konfrontasie verkieslik wil vermy, is daarmee tevrede om dit wat hulle te sê het ‘in hulle hart’ te sê en die saak daar te laat.—Psalm 4:5.
Maar miskien meen jy dat sake net opgelos kan word as jy jou ouers met die misbruik konfronteer—persoonlik, oor die telefoon of deur ’n brief. (Vergelyk Mattheüs 18:15.) Indien wel, moet jy seker wees dat jy genoegsaam herstel het—of ten minste genoeg ondersteuning het—om die emosionele storm wat miskien sal uitbars te deurstaan. Aangesien min uitgerig sal word as julle op mekaar skree, moet jy probeer om ferm maar kalm te wees (Spreuke 29:11). Jy kan begin deur te sê (1) wat plaasgevind het, (2) hoe dit jou geraak het en (3) wat jy nou van hulle verwag (soos verskonings, die betaling van doktersrekeninge of dat hulle hulle anders moet gedra). Ten minste kan enige gevoelens dat jy kragteloos is uit die weg geruim word as jy sake aan die lig bring. En dit baan dalk die weg vir ’n nuwe verhouding met jou ouers.
Jou vader erken dalk byvoorbeeld die misbruik en toon diep berou. Hy het dalk ook opregte pogings aangewend om te verander, miskien deur behandeling vir alkoholverslawing te kry of deur die Bybel te bestudeer. Jou ma smeek dalk ook dat jy haar moet vergewe omdat sy versuim het om jou te beskerm. Partykeer kan ’n volle versoening volg. Maar jy moet nie verbaas wees as jy nog teenstrydige gevoelens oor jou ouers het en verkies om nie gou ’n hegte verhouding met hulle aan te knoop nie. Jy sal ten minste miskien in staat wees om redelike gesinsbetrekkinge te hervat.
Die konfrontasie kan daarenteen ’n stortvloed van ontkennings en uitskellery van die molesteerder en ander gesinslede ontketen. Erger nog, jy kan agterkom dat hy nog ’n gevaar vir jou inhou. Vergifnis is dan dalk onvanpas en ’n hegte verhouding onmoontlik.—Vergelyk Psalm 139:21.
Dit kan in elk geval geruime tyd duur voor jou gekwetste gevoelens bedaar. Jy moet jou dalk gedurig daaraan herinner dat God uiteindelik reg sal laat geskied (Romeine 12:19). As jy sake met ’n ondersteunende luisteraar uitpraat of selfs jou gevoelens op skrif stel, kan dit jou ook help om van jou woede ontslae te raak. Jy kan jou woede met God se hulp verwerk. Gekwetste gevoelens sal met die verloop van tyd nie meer jou denke oorheers nie.—Vergelyk Psalm 119:133.
’n Geestelike herstel
Ruimte laat ons nie toe om al die betrokke emosionele, gedrags- en geestelike geskilpunte te bespreek nie. Dit is voldoende om te sê dat jy baie kan doen om jou herstel aan te help deur ‘jou gemoed te vernuwe’ met behulp van God se Woord (Romeine 12:2). ‘Strek uit na wat voor is’, deur jou lewe te vul met geestelike gedagtes en bedrywighede.—Filippense 3:13, 14; 4:8, 9.
Baie slagoffers van molestering put byvoorbeeld baie troos daaruit om eenvoudig deur die Psalms te lees. Selfs groter voordele kan verkry word deur Bybelbeginsels toe te pas. Druk in die huwelik kan ook mettertyd afneem (Efesiërs 5:21-33). Vernietigende gedrag kan ophou (1 Korinthiërs 6:9-11). Ongesonde seksuele gevoelens kan genees (Spreuke 5:15-20; 1 Korinthiërs 7:1-5). Jy kan ook leer om gebalanseerd te wees in jou persoonlike verhoudings en vaste sedelike grense stel.—Filippense 2:4; 1 Thessalonicense 4:11.
Dit is wel so: Herstel verg ware vasbeslotenheid en uiterste inspanning! Maar Psalm 126:5 verseker ons: “Die wat met trane saai, sal met gejubel maai.” Onthou ook dat die ware God, Jehovah, in jou welsyn belangstel. Hy is “naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Psalm 34:19). Een slagoffer van molestering sê: “Toe ek uiteindelik besef dat Jehovah bewus is van elke gevoel wat ek gehad het en dat hy omgee—werklik omgee—toe het ek uiteindelik innerlike vrede ervaar.”
Ons liefdevolle God Jehovah bied ons selfs meer as net gemoedsrus. Hy belowe ’n nuwe wêreld van geregtigheid, waar hy elke herinnering aan pyn wat jy as ’n kind ervaar het, sal uitwis. (Openbaring 21:3, 4; sien ook Jesaja 65:17.) Hierdie hoop kan jou onderskraag en versterk terwyl jy vordering maak om ten volle te herstel.
[Voetnote]
a Party herinneringe begin terugkom in die vorm van psigosomatiese pyne; ander is in die vorm van hallusinasies wat dalk met demoniese bedrywigheid verwar kan word—indringergeluide, soos deure wat oopgaan; vae figure wat by deurgange en vensters beweeg; die gevoel van ’n onsigbare teenwoordigheid in die bed. Sulke pyn hou oor die algemeen op wanneer die herinneringe heeltemal terugkom.
b Waardevolle informasie wat slagoffers van molestering kan help, kan gevind word op bladsye 25 tot 29 van ons medetydskrif Die Wagtoring se nommer van 15 Desember 1983. Ons spoor alle gemeentelike ouere manne aan om daardie nommer weer te lees en goed aandag te skenk aan enige gevalle wat na hulle verwys word.
[Venster op bladsy 9]
Maniere om te herstel
◻ Onthou en erken die misbruik
◻ Treur oor die misbruik
◻ Praat jou gevoelens met ’n ondersteunende luisteraar uit
◻ Oorkom gevoelens van skuld en skaamte
◻ Aanvaar jou ouers
◻ Pas Bybelbeginsels toe om vernietigende gedrag te verander
◻ Genees ongesonde seksuele gevoelens
◻ Ontwikkel heilsame persoonlike en sedelike grense
◻ Ontwikkel ’n hegte verhouding met God en mede-Christene
[Venster op bladsy 10]
Maak jou los van die verlede
Herinneringe word gewoonlik oor ’n tydperk van weke, maande of jare vrygestel, en elke herinnering wat terugkom, veroorsaak ’n tydelike krisis. The Right to Innocence sê dat jy by tye “miskien voel asof jy terugval. Jy val nie terug nie. Jy word beter. Jy het in werklikheid die krag gekry wat nodig is om dieper, selfs pynliker gevoelens en gewaarwordinge te verwerk.” Dit is dus met goeie rede dat herstel tydelik ’n allesoorheersende belang vir ’n mens kan word.—Spreuke 18:14.
Party slagoffers vind dit nuttig om te lees of te hoor hoe ander slagoffers voel. As jy na gesinsfoto’s en dinge uit jou kinderjare kyk, plekke besoek wat jy as kind besoek het en met ondersteunende vriende en gesinslede praat, kan dit ook herinneringe opwek. Skryfoefeninge is ook baie effektief. Party slagoffers skryf alles wat hulle van hulle trauma onthou in ’n dagboek. Ander stort hulle gevoelens uit in ’n brief aan hulle molesteerder—een wat nie gestuur word nie—wat dikwels verdere herinneringe wakker maak. Gebed is ook ’n kragtige instrument tot herstel. Jy kan ook soos die psalmis bid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!”—Psalm 139:23, 24.
[Prent op bladsy 8]
Deur die verlede onder die oë te sien en dit weer bymekaar te sit, kan een stap tot herstel wees