Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 4/1 bl. 22-26
  • “Moenie werk vir die voedsel wat vergaan nie”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Moenie werk vir die voedsel wat vergaan nie”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My ma se getroue voorbeeld
  • Toewyding en doop
  • Diens by die wêreldhoofkwartier
  • My gesin ondersteun my
  • Die huwelik en ’n gesin
  • Onderskraag deur geestelike voedsel
  • Ek het voltydse diens ’n loopbaan gemaak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • ’n Ryk lewe in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Soek eers die Koninkryk—’n veilige en gelukkige lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Betheldiens—Meer vrywilligers is nodig
    Ons Koninkryksbediening—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 4/1 bl. 22-26

“Moenie werk vir die voedsel wat vergaan nie”

SOOS VERTEL DEUR DAVID LUNSTRUM

Ek en my broer Elwood was meer as nege meter in die lug, besig om ’n nuwe teken op die Wagtoringfabrieksgebou te verf. Meer as 40 jaar later spoor dit mense steeds aan: “LEES GOD SE WOORD DIE HEILIGE BYBEL DAAGLIKS.” Elke week sien duisende mense hierdie teken terwyl hulle die welbekende Brooklyn-brug oorsteek.

MY VROEGSTE herinneringe sluit die gesin se wasdag in. Teen 5:00 vm. sou my ma op wees om ons groot gesin se klere te was en my pa sou klaarmaak om werk toe te gaan. Hulle sou nog een van hulle vuurwarm woordewisselings hê; my pa sou aanvoer dat die mense op die een of ander manier oor miljoene jare geëvolueer het, en my ma sou die Bybel aanhaal om te bewys dat die mens regstreeks deur God geskep is.

Selfs toe ek net sewe was, het ek al besef dat my ma die waarheid het. Hoewel ek baie lief vir my pa was, kon ek sien dat dit wat hy geglo het geen hoop vir die toekoms bied nie. Hoe gelukkig sou my ma tog gewees het as sy geweet het dat twee van haar seuns baie jare later ’n teken geverf het wat mense aanmoedig om die Bybel te lees, ’n boek waarvoor sy so lief was!

Maar ek loop my verhaal vooruit. Hoe het dit gebeur dat ek bevoorreg was om so ’n werk te kry? Ek moet teruggaan na die jaar 1906, drie jaar voor ek gebore is.

My ma se getroue voorbeeld

Ma en Pa was toe nog pasgetroudes en het in ’n tent in Arizona gewoon. ’n Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, het hulle besoek en vir my ma die reeks boeke met die titel Studies in the Scriptures aangebied wat deur Charles Taze Russell geskryf is. Sy het die hele nag opgebly om dit te lees en het gou besef dat dit die waarheid is waarna sy gesoek het. Sy kon skaars wag dat my pa, wat werk gaan soek het, terugkeer.

My pa was ook ontevrede met dit wat die kerke geleer het, en hy het dus ’n tyd lank hierdie Bybelwaarhede aanvaar. Maar hy het later wat godsdiens betref sy eie rigting ingeslaan en dinge selfs vir my ma moeilik gemaak. Tog het sy nooit opgehou om na haar kinders se fisiese sowel as geestelike behoeftes om te sien nie.

Ek sal nooit vergeet hoe my ma elke aand, nadat sy die hele dag hard gewerk het, ondertoe gekom het om vir ons ’n stukkie uit die Bybel te lees of om die een of ander geestelike juweeltjie met ons te deel nie. Pa was ook ’n harde werker, en namate ek ouer geword het, het hy my geleer verf. Ja, my pa het my geleer om te werk, maar my ma het my geleer waarvoor om te werk, soos Jesus geleer het, vir ‘die voedsel wat nie vergaan nie’.—Johannes 6:27.

Ons gesin het ons uiteindelik in die dorpie Ellensburg in die staat Washington, ongeveer 180 kilometer oos van Seattle, gevestig. Toe ons kinders die vergaderinge van die Bybelstudente saam met my ma begin bywoon het, het ons in huise bymekaargekom. Al die mans het ons studiegroep verlaat toe die nodigheid beklemtoon is om aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem. Maar my ma het nooit gewankel nie. Dit het die blywende indruk op my gemaak om altyd op die leiding van Jehovah se organisasie te vertrou.

Pa en Ma het op die ou end nege kinders gehad. Ek is op 1 Oktober, 1909, gebore en was hulle derde kind. Altesaam ses van ons het my ma se goeie voorbeeld nagevolg en ywerige Getuies van Jehovah geword.

Toewyding en doop

Toe ek in my laat tienerjare was, het ek my aan Jehovah toegewy en dit in 1927 deur waterdoop gesimboliseer. Die doop is in Seattle in ’n ou gebou gehou wat vantevore ’n Baptistekerk was. Ek is bly dat hulle die ou toring afgehaal het. Ons is na die bad onder in die kelder gelei waar daar vir ons lang swart gewade gegee is om te dra. Dit het gelyk asof ons op pad was na ’n begrafnis.

’n Paar maande later was ek weer in Seattle, en hierdie keer het ek my eerste ondervinding in die deur-tot-deur-getuieniswerk gehad. Die een wat die leiding geneem het, het vir my gesê: “Gaan jy so om die blok, en ek sal die ander kant omgaan.” Hoewel ek senuweeagtig was, het ek twee stelle boekies by ’n baie gawe vrou gelaat. Ek het voortgegaan met die deur-tot-deur-bediening toe ek na Ellensburg teruggekeer het, en nou, meer as 70 jaar later, verskaf hierdie diens my steeds groot vreugde.

Diens by die wêreldhoofkwartier

Nie lank hierna nie het iemand wat by die Brooklynse Bethel, die wêreldhoofkwartier van die Wagtoringgenootskap, gedien het my aangemoedig om my beskikbaar te stel om daar te gaan dien. Kort ná ons gesprek het ’n kennisgewing in Die Wagtoring verskyn wat gesê het dat daar ’n behoefte aan meer werkers by Bethel is. Ek het dus aansoek gedoen. Ek sal nooit vergeet hoe bly ek was toe ek ’n brief gekry het waarin daar vir my gesê is om op 10 Maart 1930, in Brooklyn, New York, vir Betheldiens aan te meld nie. Dit is hoe my voltydse loopbaan om te werk vir ‘die voedsel wat nie vergaan nie’ begin het.

’n Mens sou dink dat ek met my ondervinding as verwer toegewys sou word om iets te verf. In plaas daarvan was my eerste toewysing om op die draadhegmasjien in die fabriek te werk. Hoewel hierdie werk baie eentonig was, het ek dit meer as ses jaar geniet. Die groot rotasiepers wat ons goedig die ou slagskip genoem het, het boekies geproduseer wat met ’n voerband na ons op een van die onderste verdiepings gestuur is. Dit was vir ons pret om te sien of ons die boekies net so vinnig kon stik as wat ons hulle van die slagskip gekry het.

Hierna het ek in ’n aantal departemente gewerk, onder andere die departement waar ons grammofone gemaak het. Ons het hierdie toestelle gebruik om opnames van Bybelboodskappe by mense se deure te speel. ’n Vertikale grammofoon is deur vrywilligers in ons departement ontwerp en vervaardig. Hierdie grammofoon het nie net voorafopgeneemde boodskappe gespeel nie, maar het ook spesiale vakkies gehad waarin boekies en miskien ’n toebroodjie gesit kon word. Ek het in 1940 by ’n streekbyeenkoms in Detroit, Michigan, die voorreg gehad om die gebruik van hierdie nuwe toestel te demonstreer.

Maar ons het nie net vindingryke toestelle gemaak nie. Ons het ook belangrike geestelike aanpassings gemaak. Jehovah se Getuies het byvoorbeeld ’n kruis-en-kroon-kenteken gedra. Maar toe het ons geleer dat Jesus op ’n regop paal, en nie op ’n kruis nie, tereggestel is (Handelinge 5:30). Ons het dus opgehou om die kentekens te dra. Dit was my voorreg om die knippies van hierdie kentekens af te haal. Later is die goud gesmelt en verkoop.

Hoewel ons werksroetine van vyf en ’n half dae ons baie besig gehou het, het ons oor naweke aan die Christelike bediening deelgeneem. Eendag is 16 van ons in Brooklyn in hegtenis geneem en in die tronk gestop. Waarom? Wel, destyds het ons godsdiens en valse godsdiens as een en dieselfde ding beskou. Ons het dus plakkate gedra wat aan die een kant gesê het “Religie is ’n strik en ’n bedrogspel” en aan die ander kant “Dien God en Christus die Koning”. Ons is in die tronk gesit omdat ons hierdie plakkate gedra het, maar Hayden Covington, die Wagtoringgenootskap se regsgeleerde, het vir ons borg gestaan. In daardie tyd is baie regsake in verband met vryheid van aanbidding in die Appèlhof van die Verenigde State verdedig, en dit was opwindend om by Bethel te wees en eerstehands die verslae van ons oorwinnings te hoor.

Uiteindelik het ek werkstoewysings gekry wat van my ondervinding as verwer gebruik gemaak het. Op Staten-eiland, een van die vyf munisipaliteite van New York-stad, het ons ons radiostasie WBBR gehad. Die stasie se radiotorings was meer as 60 meter hoog, en dit het drie stelle ankerkabels gehad. Ek het op ’n plankie gesit wat 90 sentimeter lank en 20 sentimeter breed was, terwyl ’n medewerker my opgehys het. Terwyl ek daar hoog bo in die lug op daardie klein stoeltjie gesit het, het ek die ankerkabels en torings geverf. Party het my al gevra of ek nie baie gebid het terwyl ek daardie werk gedoen het nie!

’n Werk wat ons in die somer gedoen het en wat ek nooit sal vergeet nie, was om die fabrieksgebou se vensters te was en die vensterbanke te verf. Ons het dit ons somervakansie genoem. Ons het ons houtsteier aanmekaargesit en onsself met ’n katrol teen die agt verdieping gebou op- en afgetrek.

My gesin ondersteun my

In 1932 is my pa oorlede, en ek het gewonder of ek huis toe moet gaan om na my ma te help omsien. Ek het dus eendag kort voor middagete ’n nota op die hooftafel gesit waar broer Rutherford, die Genootskap se president, gesit het. Ek het hom daarin gevra of ek met hom kan kom praat. Toe hy verneem wat dit is wat my bekommer en dat ek broers en susters het wat nog by die huis is, het hy gevra: “Wil jy by Bethel bly en die Here se werk doen?”

“Natuurlik wil ek”, het ek geantwoord.

Hy het dus voorgestel dat ek vir my ma skryf om uit te vind of sy saamstem met my besluit om te bly. Dit is wat ek gedoen het, en sy het teruggeskryf en gesê dat sy volkome met my besluit saamstem. Ek het broer Rutherford se goedhartigheid en raad werklik waardeer.

Gedurende die baie jare wat ek by Bethel was, het ek gereeld aan my gesin geskryf en hulle aangemoedig om Jehovah te dien, net soos my ma my aangemoedig het. My ma is in Julie 1937 oorlede. Wat ’n inspirasie was sy tog vir ons gesin! Net my ouer broer en suster, Paul en Esther, en my jonger suster Lois het nie Getuies geword nie. Paul was egter goedgesind teenoor ons werk en het die grond verskaf waarop ons ons eerste Koninkryksaal gebou het.

In 1936 het my suster Eva ’n pionier, of voltydse prediker, geword. Sy is dieselfde jaar met Ralph Thomas getroud, en in 1939 is hulle aangewys om as reisende werkers gemeentes van Jehovah se Getuies te bedien. Hulle het later na Mexiko gegaan, waar hulle 25 jaar lank met die Koninkrykswerk gehelp het.

In 1939 het my susters Alice en Frances ook die pionierdiens betree. Wat ’n vreugde was dit tog om Alice in 1941 by die streekbyeenkoms in St. Louis agter ’n toonbank te sien staan terwyl sy die gebruik van die grammofoon gedemonstreer het wat ek help maak het! Hoewel Alice soms weens familieverantwoordelikhede haar pionierdiens moes onderbreek, het sy altesaam meer as 40 jaar in die voltydse bediening deurgebring. Frances het in 1944 die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon en het ’n tyd lank as ’n sendeling in Puerto Rico gedien.

Joel en Elwood, die twee jongstes in die gesin, het in die vroeë veertigerjare pioniers in Montana geword. Joel is steeds ’n getroue Getuie en dien nou as ’n bedieningskneg. Elwood het my hart groot vreugde verskaf toe hy in 1944 saam met my by Bethel kom dien het. Hy was nog nie eers vyf jaar oud toe ek uit die huis uit is nie. Soos ek vroeër gesê het, het ons saam daardie teken op die fabrieksgebou, “Lees God se Woord die heilige Bybel daagliks”, geverf. Ek het al dikwels gewonder hoeveel mense wat oor die jare daardie teken gesien het, beweeg is om hulle Bybel te lees.

Elwood het tot 1956 by Bethel gedien toe hy met Emma Flyte getrou het. Elwood en Emma was baie jare saam in die voltydse diens en het ’n ruk lank in Kenia, Afrika, sowel as in Spanje gedien. Elwood het kanker opgedoen en het in 1978 in Spanje gesterf. Emma dien tot vandag toe nog as ’n pionier in Spanje.

Die huwelik en ’n gesin

Ek het Bethel in September 1953 verlaat om met Alice Rivera, ’n pionier in die Brooklynsentraal-gemeente waarin ek was, te trou. Ek het vir Alice vertel dat ek die hemelse hoop het, maar sy het nog daarin belanggestel om met my te trou.—Filippense 3:14.

Ná 23 jaar by Bethel was dit nogal ’n groot aanpassing om sekulêre werk as verwer te begin doen om my en Alice in die pionierdiens te onderhou. Alice het my altyd ondersteun, selfs toe sy weens gesondheidsredes uit die pionierdiens moes tree. In 1954 het ons ons eerste kind verwag. Hoewel ons seun, John, gesond was, was daar probleme met die bevalling. Alice het soveel bloed tydens die keisersnee verloor dat die dokters nie gedink het dat sy dit gaan maak nie. Op een stadium kon hulle nie eers ’n polsslag voel nie. Maar sy het die nag oorleef en het mettertyd ten volle herstel.

’n Paar jaar later, toe Alice se pa gesterf het, het ons verder uit op Long Island gaan woon om by haar ma te wees. Aangesien ons nie ’n motor gehad het nie, het ek geloop of die bus en moltrein vir vervoer gebruik. Sodoende kon ek aanhou met die pionierdiens en my gesin onderhou. Die vreugdes van die voltydse diens het enige opofferings ver oortref. Om mense te help—soos Joe Natale, wat ’n belowende bofballoopbaan prysgegee het om ’n Getuie te word—was net een van my talle seëninge.

Aangesien toestande in die New York-gebied versleg het, het ek in 1967 besluit om Alice en John na my geboortedorp Ellensburg terug te neem. Nou is dit vir my baie bevredigend om soveel van my ma se kleinkinders en agterkleinkinders in die voltydse diens te sien. Party dien selfs by Bethel. John dien Jehovah ook getrou saam met sy vrou en kinders.

Ongelukkig het ek my dierbare vrou, Alice, in 1989 aan die dood afgestaan. Ek bly besig in die voltydse bediening, en dit het my gehelp om die verlies te verwerk. Ek en my suster Alice geniet dit nou om saam aan die pionierdiens deel te neem. Hoe goed is dit tog om weer onder dieselfde dak te woon en om besig te wees met hierdie allerbelangrikste werk!

In die lente van 1994 het ek Bethel vir die eerste keer in sowat 25 jaar besoek. Wat ’n vreugde was dit tog om tientalle van diegene te sien saam met wie ek meer as 40 jaar gelede gewerk het! Toe ek in 1930 Bethel toe gegaan het, was daar net 250 in die gesin, maar vandag is daar meer as 3 500 in die Bethelgesin in Brooklyn!

Onderskraag deur geestelike voedsel

Ek gaan dikwels vroeg in die oggend langs die Yakima-rivier naby ons huis loop. Van daar af kan ek die majestueuse sneeubedekte Mount Rainier sien wat meer as 4 300 meter hoog in die lug toring. Die natuurlewe floreer hier. Partykeer sien ek takbokke, en ek het eenkeer selfs ’n edelhert gesien.

Hierdie stil oomblikke wanneer ek alleen is, gee my die geleentheid om oor Jehovah se wonderlike voorsienings te peins. Ek bid om krag om ons God, Jehovah, getrou te bly dien. Ek hou ook daarvan om te sing terwyl ek loop, veral die lied “Verbly Jehovah se hart”, wat sê: “Groot God, ons skik ons na u wil; ons sal u opdrag steeds vervul. Want so dra ons ook ons deel by om u hart grootliks te verbly.”

Ek is bly dat ek ’n werk gekies het wat Jehovah se hart verbly. Dit is my bede dat ek sal voortgaan om hierdie werk te doen totdat ek die beloofde hemelse beloning ontvang. Ek hoop dat hierdie verhaal ander sal beweeg om hulle lewe te gebruik ‘om vir die voedsel te werk wat nie vergaan nie’.—Johannes 6:27.

[Prente op bladsy 23]

Elwood besig om die teken “LEES GOD SE WOORD DIE HEILIGE BYBEL DAAGLIKS” te verf

[Prent op bladsy 24]

Ek demonstreer saam met Grant Suiter en John Kurzen die nuwe grammofoon by die streekbyeenkoms in 1940

[Prent op bladsy 25]

In 1944 was dié van ons wat in die waarheid was in die voltydse bediening: David, Alice, Joel, Eva, Elwood en Frances

[Prent op bladsy 25]

Broers en susters wat nog lewe, van links: Alice, Eva, Joel, David en Frances

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel