Al hoe meer slegte nuus
HET jy al ooit opgelet dat opskrifte oor slegte nuus meer belangstelling by lesers wek as dié wat oor goeie nuus handel? Hetsy dit ’n koerantopskrif van ’n natuurramp of die een of ander sensasionele skinderstorie op die voorblad van ’n glanstydskrif is, dit wil voorkom of slegte nuus beter as goeie nuus verkoop.
Vandag is daar geen tekort aan slegte nuus nie. Maar ’n mens wonder soms of verslaggewers en joernaliste opgelei is net om slegte nuus te soek en uit te snuffel—en geen goeie nuus nie.
Volop in die hele geskiedenis
Slegte nuus was inderdaad volop deur die eeue heen, soseer dat dit enige goeie nuus oortref het. Die geskiedboeke word oorheers deur menselyding, teleurstelling en wanhoop, wat nog altyd die lot van die mensdom was.
Kom ons kyk na net ’n paar voorbeelde. Die boek Chronicle of the World, wat deur Jacques Legrand opgestel is, bevat ’n versameling verslae wat elkeen geskryf is vir die besondere datum waarop die gebeurtenis plaasgevind het, maar asof dit deur ’n hedendaagse joernalis vertel word wat van die gebeurtenis verslag doen. Uit hierdie deeglik nagevorsde verslae kry ons ’n algemene oorsig van die wydverspreide slegte nuus wat die mens gedurende sy moeitevolle bestaan hier op die planeet Aarde gehoor het.
Beskou eerstens hierdie vroeë verslag in 429 v.G.J. uit Griekeland. Dit dek die oorlog wat destyds tussen Atene en Sparta gevoer is: “Die stadstaat Potidaia is gedwing om oor te gee aan die Ateners nadat hulle dit beleër het en die mense so uitgehonger is dat hulle hulle dooies geëet het.” Voorwaar slegte nuus!
In die eerste eeu voor ons Gewone Jaartelling vind ons ’n aanskoulike verslag oor die dood van Julius Caesar, met die datumreël Rome, 15 Maart 44 G.J. “Julius Caesar is vermoor. Hy is vandag, die Idus [15de dag] van Maart, deur ’n groep samesweerders, waaronder party van sy intiemste vriende, doodgesteek terwyl hy sy plek in die Senaat ingeneem het.”
In die daaropvolgende eeue was daar net al hoe meer slegte nuus. Een skokkende voorbeeld is hierdie nuus uit Mexiko in 1487: “In die skouspelagtigste offerplegtigheid wat tot nog toe in die Asteekse hoofstad, Tenoctitlan, gesien is, is 20 000 menseharte aan Huitsilopochtli, die oorlogsgod, opgeoffer.”
Nie alleen was die mens se wreedheid vir slegte nuus verantwoordelik nie, maar sy nalatigheid het tot die lang lys bygedra. Die groot brand in Londen was blykbaar so ’n ramp. Die verslag uit Londen, Engeland, gedateer 5 September 1666, sê: “Ná vier dae en nagte is die brand van Londen uiteindelik deur die hertog van York geblus, wat die hulp van die vloot ingeroep het om geboue wat voor die aankomende vuur was met buskruit op te blaas. Sowat 400 acre [160 ha] is totaal verwoes, met 87 kerke en meer as 13 000 huise wat vernietig is. Dit is ’n wonderwerk dat net nege mense hulle lewe verloor het.”
Ons moet by hierdie voorbeelde van slegte nuus die epidemies voeg wat deur baie vastelande gewoed het—byvoorbeeld, die choleraepidemie van die vroeë 1830’s. Die gedrukte opskrif wat hieroor verslag gedoen het, sê: “Die choleraspook bedreig Europa.” Die realistiese verslag wat volg, beeld slegte nuus in die skrikwekkendste graad uit: “Cholera, wat tot 1817 iets onbekends in Europa was, versprei weswaarts van Asië af. Russiese stede soos Moskou en St. Petersburg se bevolkings is reeds afgemaai—die meeste slagoffers is arm stedelinge.”
’n Skerp toename in die laaste jare
Hoewel slegte nuus dus ongetwyfeld deur die hele geskrewe geskiedenis heen ’n lewensfeit was, sien ons in die laaste dekades van hierdie 20ste eeu getuienis dat slegte nuus aan die toeneem is; trouens, dit neem skerp toe.
Oorlogsnuus was ongetwyfeld die ergste soort slegte nuus wat in ons eeu gehoor is. In die twee grootste oorloë in die geskiedenis—wat gepas die Eerste Wêreldoorlog en die Tweede Wêreldoorlog genoem is—is daar beslis gesien hoe daar op verskriklike skaal oor slegte nuus berig is. Maar dit was eintlik net ’n breukdeel van die slegte nuus wat hierdie ongelukkige eeu opgelewer het.
Beskou net ’n paar opskrifte wat na willekeur gekies is:
1 September 1923: Aardbewing verwoes Tokio—300 000 dood; 20 September 1931: Krisis—Brittanje devalueer die pond; 25 Junie 1950: Noord-Korea neem die Suide in; 26 Oktober 1956: Hongare kom teen Sowjetheerskappy in opstand; 22 November 1963: John Kennedy word in Dallas doodgeskiet; 21 Augustus 1968: Russiese tenks beweeg in om die Praagse opstand te onderdruk; 12 September 1970: Gekaapte stralers in die woestyn opgeblaas; 25 Desember 1974: Sikloon Tracey verwoes Darwin—66 sterf; 17 April 1975: Kambodja val in die hande van Kommunistiese magte; 18 November 1978: Massaselfmoord in Guyana; 31 Oktober 1984: Mev. Gandhi doodgeskiet; 28 Januarie 1986: Pendeltuig ontplof ná opstyging; 26 April 1986: Sowjetreaktor aan die brand; 19 Oktober 1987: Effektebeurs stort in duie; 25 Maart 1989: Olieramp tref Alaska; 4 Junie 1989: Soldate maak betogers in slagting op Tiananmen-plein dood.
Ja, die geskiedenis toon dat slegte nuus altyd volop was, terwyl goeie nuus betreklik skaars was. Namate slegte nuus in die laaste dekades toegeneem het, het goeie nuus met die jare al hoe minder geword.
Waarom is dit die geval? Sal dit altyd so wees?
Die volgende artikel sal hierdie twee vrae bespreek.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
WHO/League of Red Cross