Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 4/15 bl. 5-7
  • Eersdaags goeie nuus!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Eersdaags goeie nuus!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die oorsake van alle slegte nuus
  • Waarom die skerp toename in slegte nuus?
  • Dit sal nie altyd so wees nie
  • Al hoe meer slegte nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • “Goeie nuus”!
    ‘Sing met vreugde’ vir Jehovah
  • Opstand in die geesteryk
    Geeste van die dooies—Kan hulle jou help of jou skaad? bestaan hulle werklik?
  • Heersers in die geesteryk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 4/15 bl. 5-7

Eersdaags goeie nuus!

ONS almal voel bedroef wanneer ons slegte nuus ontvang wat ons persoonlik raak. Daarenteen verheug ons ons wanneer ons goeie nuus hoor—blye tyding vir ons of ons dierbares. Maar wanneer slegte nuus ander raak en nie ons nie, is daar dikwels ’n element van nuuskierigheid; party verlustig hulle selfs daarin om van ander se teenspoed te hoor. Dit verduidelik dalk deels waarom slegte nuus so goed verkoop!

Gedurende die begin van die Tweede Wêreldoorlog was daar ’n duidelike voorbeeld van die morbiede belangstelling wat party mense in onheil het. In 1939 was ’n klein slagskip van 10 000 ton, die Graf Spee, die trots van die Duitse vloot. Hierdie slagskip het weke lank verwoesting onder Geallieerde handelskepe in die Suid-Atlantiese en Indiese Oseaan gesaai. Uiteindelik het drie Britse kruisers die Graf Spee opgespoor en aangeval, wat verlies aan menselewens veroorsaak het en die skip gedwing het om die Uruguaanse hawe Montevideo binne te sukkel sodat dit herstel kon word. Die Uruguaanse regering het die slagskip beveel om onmiddellik na die see terug te keer, anders sou hulle daarop beslag lê. Dit het dus gelyk of ’n hewige, ietwat eensydige geveg op hande was.

Toe ’n groep welgestelde sakemanne in die Verenigde State hiervan te hore gekom het, het hulle ’n vliegtuig, teen ’n koste van sowat $2 500 per persoon, gehuur om na Uruguay te vlieg sodat hulle die bloedige slag kon sien. Tot hulle teleurstelling het die slag nooit plaasgevind nie. Adolf Hitler het opdrag gegee dat die Graf Spee gesink word. Duisende toeskouers het by die waterkant saamgedrom en gehoop om ’n hewige stryd ter see te sien, maar hulle het net ’n oorverdowende ontploffing gehoor en gesien hoe die Graf Spee sink, gekelder deur sy eie bemanning. Die kaptein het selfmoord gepleeg deur homself in die kop te skiet.

Ondanks ’n mate van bloeddorstigheid by sekere mense, sal die meeste erken dat hulle goeie nuus bo slegte nuus verkies. Is dit nie hoe jy voel nie? Waarom is daar dan soveel slegte nuus en so min goeie nuus in die geskiedenis opgeteken? Sal die situasie ooit verander kan word?

Die oorsake van alle slegte nuus

Die Bybel praat van die tyd toe net goeie nuus aan die orde van die dag was. Slegte nuus was iets onbekends, iets ongehoords. Toe Jehovah God sy skeppingswerke voltooi het, was die planeet Aarde gereed vir mense en diere om in te lewe. Die Genesisverslag sê: ‘God het alles gesien wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed.’—Genesis 1:31.

Die afwesigheid van slegte nuus het nie te lank ná die mens se skepping gehou nie. Voordat Adam en Eva enige kinders gehad het, is die slegte nuus van die opstand teen God en sy ordelike universele reëling van goeie dinge bekend gemaak. ’n Hooggeplaaste geesseun het ’n verraaier geword, sy vertrouensposisie misbruik en daarin geslaag om die eerste mensepaar te oorreed om saam met hom ’n opstandige, verraderlike weg in te slaan.—Genesis 3:1-6.

Die oorvloed slegte nuus wat die mensdom aanskou het, het op daardie tydstip begin. Dit is geen wonder dat slinkse planne, bedrog, leuens, onwaarhede en halwe waarhede so ’n groot deel van die slegte nuus uitgemaak het wat ons wêreld sedertdien getref het nie. Jesus Christus het al die skuld op Satan die Duiwel gewerp as die bron van slegte nuus toe hy vir die godsdiensleiers van Sy dag gesê het: “Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen. Hy was ’n mensemoordenaar toe hy begin het, en hy het nie in die waarheid vasgestaan nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy die leuen spreek, spreek hy ooreenkomstig sy eie geaardheid, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.”—Johannes 8:44.

Namate die mensebevolking toegeneem het, het slegte nuus daarmee saam toegeneem. Dit beteken natuurlik nie dat daar nie tye van vreugde en geluk was nie, want daar was baie dinge in die lewe wat redes tot vreugde was. Nogtans was die donker wolke van probleme en verdriet tot nou toe ’n kenmerk van elke mensegeslag.

Daar is nog ’n onderliggende oorsaak van hierdie droewige toedrag van sake. Dit is ons oorgeërfde neiging om te sondig en onheil oor onsself te bring. Jehovah toon presies wat hierdie onvermydelike oorsaak van slegte nuus is deur te sê: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af.”—Genesis 8:21.

Waarom die skerp toename in slegte nuus?

Daar is egter ’n rede waarom slegte nuus in hierdie 20ste eeu skerp toegeneem het. Hierdie rede is duidelik in die Bybel uiteengesit, wat voorspel het dat die mensdom in die 20ste eeu ’n unieke tydperk sou ingaan wat as “die laaste dae” of “die tyd van die einde” bekend sou staan (2 Timoteus 3:1; Daniël 12:4). Bybelprofesieë en Bybelchronologie identifiseer hierdie “eindtydperk”, wat in 1914 begin het. Sien gerus hoofstuk 11 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir breedvoerige skriftuurlike bewys hiervan.

Die laaste dae sou met ’n gebeurtenis begin wat vanself tot ’n toename in slegte nuus op die aarde sou lei. Wat was dit? Dit was die neerwerping van Satan die Duiwel en sy demoonleërs uit die hemel. Jy kan hierdie aanskoulike beskrywing van die onvermydelike toename in slegte nuus in Openbaring 12:9, 12 lees: “Die groot draak [is] neergeslinger, die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei; hy is na die aarde neergeslinger, en sy engele is saam met hom neergeslinger. . . . ‘Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het.’”

Ongeag hoeveel tyd daar dus voor die einde van die laaste dae oor is, ons kan verwag dat daar steeds slegte nuus sal wees en dat dit selfs sal vermeerder en vererger.

Dit sal nie altyd so wees nie

Die bewoners van die aarde kan hulle daarin verheug dat die ellendige stand van sake wat vandag se epidemie van slegte nuus veroorsaak, nie altyd sal bestaan nie. Trouens, ons kan met vertroue sê dat die dae van volgehoue slegte nuus getel is. Ongeag hoe dit dalk voorkom, die situasie is nie hopeloos nie. Die einde van alle slegte nuus is op hande en sal beslis op God se vasgestelde tyd kom.

Ons kan hiervan seker wees omdat daar voorspel is dat die laaste dae ’n klimaks sal bereik of sal eindig met God se vernietiging en verwydering van alle oorsake van slegte nuus. Hy sal die goddelose mense verwyder wat tweedrag saai en wat weier om te verander en hulle verkeerde weë te laat staan. Dit sal ’n klimaks bereik in die oorlog van die groot dag van God die Almagtige, wat algemeen as die oorlog van Armageddon bekend staan (Openbaring 16:16). Onmiddellik hierna sal Satan die Duiwel en sy horde demoonmagte buite aksie gestel word. Openbaring 20:1-3 beskryf hoe Satan, die bron van alle slegte nuus, gebind gaan word: “Ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp, die oorspronklike slang, wat die Duiwel en Satan is, en hom vir duisend jaar gebind. En hy het hom in die afgrond geslinger en dit gesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou mislei . . . nie.”

Ná hierdie dramatiese gebeure sal daar ’n tyd van ongekende goeie nuus vir die aarde en sy bewoners aanbreek. Hierdie bewoners sal die miljoene insluit wat die finale oorlog van Armageddon oorleef het en die miljarde wat uit die grafte opgewek sal word. Hierdie allerbeste goeie nuus word in die laaste boek van die Bybel beskryf: “Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.

Kan jy jou daardie gelukkige tyd voorstel? Inderdaad ’n glorieryke toekoms waar slegte nuus nie meer bestaan nie. Ja, alle slegte nuus sal dan iets van die verlede wees en sal nie weer gehoor word nie. Goeie nuus sal dan aan die orde van die dag wees en sal tot in alle ewigheid volop voorkom.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel