Betaal aan Caesar terug wat aan Caesar behoort
“Gee aan almal wat hulle toekom.”—ROMEINE 13:7.
1, 2. (a) Hoe moet Christene volgens Jesus hulle verpligtinge teenoor God en Caesar in ewewig hou? (b) Wat is vir Jehovah se Getuies allereers van belang?
VOLGENS Jesus is daar dinge wat ons aan God verskuldig is en dinge wat ons aan Caesar, oftewel die Staat, verskuldig is. Jesus het gesê: “Betaal aan Caesar terug wat aan Caesar behoort, maar aan God wat aan God behoort.” In hierdie paar woorde het hy sy vyande van stryk gebring en mooi opgesom watter gebalanseerde gesindheid ons in ons verhouding met God en in ons handelinge met die Staat moet hê. Dit is geen wonder dat sy luisteraars “hulle oor hom begin verwonder” het nie!—Markus 12:17.
2 Dit is natuurlik vir Jehovah se knegte allereers van belang dat hulle aan God terugbetaal wat aan God behoort (Psalm 116:12-14). Terwyl hulle dit doen, vergeet hulle egter nie dat Jesus gesê het dat hulle sekere dinge aan Caesar moet gee nie. Hulle Bybelopgeleide gewete vereis dat hulle biddend oorweeg in watter mate hulle kan terugbetaal wat Caesar verlang (Romeine 13:7). In hedendaagse tye het baie regsgeleerdes besef dat regeringsmag beperkings het en dat alle mense en regerings binne die grense van die natuurreg moet funksioneer.
3, 4. Watter interessante kommentare is oor natuurreg, geopenbaarde wet en menslike wet gelewer?
3 Die apostel Paulus het na hierdie natuurreg verwys toe hy oor mense van die wêreld geskryf het: ‘Wat omtrent God bekend kan wees, is onder hulle openbaar, want God het dit aan hulle openbaar gemaak. Want sy onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid, sodat hulle onverskoonbaar is.’ As hulle daarop reageer, sal die natuurreg selfs op die gewetens van hierdie ongelowiges ’n uitwerking hê. Daarom het Paulus verder gesê: “Telkens as mense van die nasies wat geen wet het nie van nature die dinge van die wet doen, is hierdie mense, al het hulle geen wet nie, ’n wet vir hulleself. Dit is húlle wat toon dat die wese van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam met hulle getuig.”—Romeine 1:19, 20; 2:14, 15.
4 In die 18de eeu het die beroemde Engelse regsgeleerde William Blackstone geskryf: “Hierdie wet van die natuur [natuurreg], wat net so oud soos die mensdom is en deur God self bepaal is, is natuurlik hoër in verpligting as enige ander wet. Dit is oor die hele aarde, in alle lande en te alle tye bindend: geen menslike wette is hoegenaamd geldig as dit hiermee strydig is nie.” Blackstone het voorts gepraat van “geopenbaarde wet”, soos in die Bybel aangetref word, en hy het opgemerk: “Op hierdie twee grondslae, die wet van die natuur en die wet van die openbaring, berus alle menslike wette; met ander woorde, geen menslike wette moet toegelaat word om hierdie wette te weerspreek nie.” Dit is in ooreenstemming met wat Jesus oor God en Caesar gesê het, soos in Markus 12:17 opgeteken staan. Dit is duidelik dat daar gebiede is waar God perke stel aan wat Caesar van ’n Christen kan vereis. Die Sanhedrin het hulle in juis so ’n gebied bevind toe hulle die apostels beveel het om op te hou om oor Jesus te preek. Die apostels het gevolglik tereg geantwoord: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:28, 29.
“Wat aan God behoort”
5, 6. (a) Wat moet Christene in die lig van die geboorte van die Koninkryk in 1914 des te meer in gedagte hou? (b) Hoe lewer ’n Christen bewys dat hy ’n bedienaar is?
5 Christene moes veral sedert 1914, toe Jehovah God, die Almagtige, deur middel van Christus se Messiaanse Koninkryk as koning begin heers het, seker maak dat hulle nie aan Caesar gee wat aan God behoort nie (Openbaring 11:15, 17). God se wet vereis nou meer as ooit tevore dat Christene “geen deel van die wêreld” moet wees nie (Johannes 17:16). Aangesien hulle aan God, hulle Lewegewer, toegewy is, moet hulle duidelik toon dat hulle nie meer aan hulleself behoort nie (Psalm 100:2, 3). Soos Paulus geskryf het: “Ons behoort aan Jehovah” (Romeine 14:8). Wat meer is, wanneer ’n Christen hom laat doop, word hy as ’n bedienaar van God georden, sodat hy saam met Paulus kan sê: ‘God het ons inderdaad voldoende bekwaam gemaak om bedienaars te wees.’—2 Korintiërs 3:5, 6.
6 Die apostel Paulus het ook geskryf: “Ek [verheerlik] my bediening” (Romeine 11:13). Ons moet ongetwyfeld dieselfde doen. Hetsy ons ’n voltydse of deeltydse aandeel aan die bediening het, ons hou in gedagte dat Jehovah self ons bediening aan ons gegee het (2 Korintiërs 2:17). Aangesien party ons posisie dalk sal bevraagteken, moet elke toegewyde, gedoopte Christen gereed wees om duidelike en oortuigende bewys te lewer dat hy waarlik ’n bedienaar van die goeie nuus is (1 Petrus 3:15). Sy bediening moet ook in sy gedrag weerspieël word. As ’n bedienaar van God moet ’n Christen rein sedes voorstaan en beoefen, gesinseenheid bevorder, eerlik wees asook wet en orde respekteer (Romeine 12:17, 18; 1 Tessalonisense 5:15). ’n Christen se verhouding met God en die bediening wat God hom gegee het, is die belangrikste dinge in sy lewe. Hy kan dit nie op bevel van Caesar prysgee nie. Dit moet ongetwyfeld onder die dinge gereken word “wat aan God behoort”.
“Wat aan Caesar behoort”
7. Watter reputasie het Jehovah se Getuies wat die betaling van belasting betref?
7 Jehovah se Getuies weet dat hulle ‘onderdanigheid aan die hoër owerhede’, die goewermentele regeerders, verskuldig is (Romeine 13:1). Wanneer Caesar, die Staat, dus regmatige eise stel, laat hulle Bybelopgeleide gewete hulle toe om aan hierdie eise te voldoen. Ware Christene is byvoorbeeld onder die voorbeeldigste belastingbetalers ter wêreld. In Duitsland het die koerant Münchner Merkur aangaande Jehovah se Getuies gesê: “Hulle is die eerlikste en pligsgetrouste belastingbetalers in die Bondsrepubliek.” In Italië het die koerant La Stampa gesê: “Hulle [Jehovah se Getuies] is die lojaalste burgers wat enigiemand kan begeer: hulle ontwyk nie belasting of probeer nie om ongerieflike wette vir eiegewin te ontduik nie.” Jehovah se knegte doen dit ‘weens hulle gewete’.—Romeine 13:5, 6.
8. Is dit wat ons aan Caesar verskuldig is, beperk tot die betaling van belasting?
8 Is dit “wat aan Caesar behoort” beperk tot die betaling van belasting? Nee. Paulus het ander dinge, soos vrees en eer, genoem. In sy Critical and Exegetical Hand-Book to the Gospel of Matthew het die Duitse geleerde Heinrich Meyer geskryf: “Onder die uitdrukking [wat aan Caesar behoort] . . . moet ons nie bloot staatsbelasting verstaan nie, maar alles waarop Caesar geregtig was op grond van sy regmatige heerskappy.” Geskiedskrywer E. W. Barnes het in sy boek The Rise of Christianity gesê dat ’n Christen belasting sou betaal as hy dit verskuldig was en “eweneens alle ander Staatsverpligtinge sou aanvaar, op voorwaarde dat daar nie van hom verwag is om aan Caesar te gee wat aan God behoort het nie”.
9, 10. Waarom huiwer ’n Christen dalk om aan Caesar terug te betaal wat hom toekom, maar watter feite moet in gedagte gehou word?
9 Watter dinge kan die Staat vereis sonder om inbreuk te maak op die dinge wat tereg aan God behoort? Party het gemeen dat hulle geoorloof is om geld in die vorm van belasting aan Caesar te gee, maar niks anders nie. Hulle sal beslis nie gelukkig voel om enigiets aan Caesar te gee wat moontlik tyd in beslag sal neem wat vir teokratiese bedrywighede gebruik kan word nie. Hoewel ons ‘Jehovah ons God met ons hele hart, siel, verstand en krag moet liefhê’, verwag Jehovah nietemin nie dat ons al ons tyd aan heilige diens bestee nie (Markus 12:30; Filippense 3:3). ’n Getroude Christen word byvoorbeeld gemaan om tyd daaraan te bestee om sy of haar huweliksmaat te behaag. Sulke bedrywighede is nie verkeerd nie, maar die apostel Paulus sê dat dit “die dinge van die wêreld” is, nie “die dinge van die Here” nie.—1 Korintiërs 7:32-34; vergelyk 1 Timoteus 5:8.
10 Christus het sy volgelinge daarbenewens toestemming gegee om belasting ‘terug te betaal’, en dit behels ongetwyfeld die gebruik van tyd wat aan Jehovah gewy is—aangesien ons hele lewe op hierdie manier toegewy is. As die gemiddelde belasting in ’n land 33 persent van die inkomste is (dit is hoër in party lande), beteken dit dat die gemiddelde werker elke jaar vier maande van sy inkomste aan die Staatskas betaal. Met ander woorde, die gemiddelde werker sal teen die tyd dat hy aftree sowat 15 jaar daaraan bestee het om die belastinggeld te verdien wat “Caesar” vereis. Dink ook aan skoolopleiding. In die meeste lande vereis die wet dat ouers hulle kinders ’n minimum aantal jare moet laat skoolgaan. Die aantal jare van skoolopleiding verskil van land tot land. In die meeste plekke is dit ’n aansienlike tyd. Sulke skoolopleiding is weliswaar gewoonlik voordelig, maar dit is Caesar wat besluit watter deel van ’n kind se lewe op hierdie manier gebruik moet word, en Christenouers onderwerp hulle aan Caesar se besluit.
Militêre diensplig
11, 12. (a) Waarop dring Caesar in baie lande aan? (b) Hoe het die vroeë Christene militêre diens beskou?
11 Iets anders waarop Caesar in party lande aandring, is militêre diensplig. In die 20ste eeu is hierdie reëling deur die meeste nasies in oorlogstyd ingestel en deur sommige ook in vredestyd. In Frankryk is hierdie verpligting jare lank bloedbelasting genoem, wat beteken het dat elke jong man bereid moes wees om sy lewe vir die Staat af te lê. Is dit iets wat diegene wat aan Jehovah toegewy is gewetensgetrou kan gee? Hoe het die eerste-eeuse Christene hierdie saak beskou?
12 Hoewel die vroegste Christene probeer het om goeie burgers te wees, het hulle geloof hulle daarvan weerhou om ’n ander se lewe te neem of om hulle eie lewe vir die Staat op te offer. The Encyclopedia of Religion sê: “Die vroeë kerkvaders, met inbegrip van Tertullianus en Origines, het bevestig dat Christene nie toegelaat is om ’n menselewe te neem nie, ’n beginsel wat hulle daarvan weerhou het om by die Romeinse leër aan te sluit.” In sy boek The Early Church and the World skryf professor C. J. Cadoux: “Ten minste tot die bewind van Markus Aurelius [161-180 G.J.] sou geen Christen ná sy doop ’n soldaat word nie.”
13. Waarom beskou die meeste mense in die Christendom nie militêre diens soos die vroeë Christene dit beskou het nie?
13 Waarom het lede van die Christendom se kerke nie vandag dieselfde beskouing hieroor nie? As gevolg van ’n radikale verandering wat in die vierde eeu plaasgevind het. Die Katolieke publikasie A History of the Christian Councils verduidelik: “Talle Christene, . . . onder die heidense keisers, het geloofsbesware met betrekking tot militêre diens gehad en het volstrek geweier om die wapen op te neem, anders het hulle gedros. Die Sinode [van Arles wat in 314 G.J. gehou is], het by oorweging van die veranderings wat deur Konstantyn ingestel is, bekend gemaak dat Christene onder verpligting staan om in oorlog te dien, . . . aangesien die Kerk in vrede (in pace) verkeer onder ’n prins wat Christene goedgesind is.” As gevolg van hierdie versaking van Jesus se leringe, van daardie tyd af tot nou toe, het die geestelikes van die Christendom hulle kuddes aangespoor om in die leërs van die nasies te dien, hoewel sommige individue ’n standpunt as gewetensbeswaardes ingeneem het.
14, 15. (a) Op grond waarvan eis Christene in sommige plekke vrystelling van militêre diens? (b) Watter skriftuurlike beginsels sal ’n Christen help om ’n regte besluit te neem as hy nie vrystelling van militêre diens kan kry nie?
14 Is hedendaagse Christene verplig om die meerderheid in hierdie saak te volg? Nee. As ’n toegewyde, gedoopte Christen in ’n land woon waar vrystelling van militêre diens aan godsdiensbedienaars toegestaan word, kan hy van hierdie voorsiening gebruik maak, want hy is trouens ’n bedienaar (2 Timoteus 4:5). ’n Aantal lande, waaronder die Verenigde State en Australië, het selfs in oorlogstyd sulke vrystelling toegestaan. En in baie lande waar daar selfs tydens vredestyd verpligte militêre diensplig gedoen word, word Jehovah se Getuies, as godsdiensbedienaars, vrystelling toegestaan. Gevolglik kan hulle voortgaan om die mense deur hulle openbare diens te help.
15 Maar wat staan die Christen te doen as hy in ’n land woon waar vrystelling nie aan godsdiensbedienaars toegestaan word nie? Dan sal hy ’n persoonlike besluit ooreenkomstig sy Bybelopgeleide gewete moet neem (Galasiërs 6:5). Hoewel hy Caesar se gesag in aanmerking sal neem, sal hy met groot sorg oorweeg wat hy aan Jehovah verskuldig is (Psalm 36:10; 116:12-14; Handelinge 17:28). Die Christen sal onthou dat liefde vir al sy medegelowiges, selfs dié wat in ander lande woon of aan ander stamme behoort, die kenmerk van ’n ware Christen is (Johannes 13:34, 35; 1 Petrus 2:17). Hy sal ook nie die skriftuurlike beginsels in tekste soos Jesaja 2:2-4; Matteus 26:52; Romeine 12:18; 14:19; 2 Korintiërs 10:4 en Hebreërs 12:14 vergeet nie.
Burgerlike diens
16. Watter niemilitêre diens eis Caesar in party lande van diegene wat weier om militêre diens te doen?
16 Maar daar is lande waar die Staat, hoewel dit nie vrystelling van godsdiensbedienaars toelaat nie, nietemin erken dat party individue beswaar kan maak teen militêre diens. Baie van hierdie lande maak daarvoor voorsiening dat sulke gewetensbeswaardes nie gedwing word om militêre diens te doen nie. In sommige plekke word verpligte burgerlike diens, soos nuttige werk in die gemeenskap, as niemilitêre diensplig beskou. Kan ’n toegewyde Christen sulke diens doen? Weer eens sal ’n toegewyde, gedoopte Christen op grond van sy Bybelopgeleide gewete sy eie besluit moet neem.
17. Is daar ’n Bybelse presedent vir niemilitêre burgerlike diens?
17 Verpligte diens is blykbaar in Bybeltye beoefen. Een geskiedboek sê: “Buiten die belasting en ander gelde wat van die inwoners van Judea gehef is, was daar ook ’n herediens [onbetaalde arbeid wat deur staatsinstansies vereis is]. Dit was ’n ou instelling in die Ooste, wat deur die Hellenistiese en Romeinse owerheid behou is. . . . Die Nuwe Testament haal ook voorbeelde van herediens in Judea aan, wat toon hoe wydverspreid dit was. In ooreenstemming met hierdie gebruik het die soldate Simon van Sirene gekommandeer om Jesus se kruis [folterpaal] te dra (Matteus 5:41; 27:32; Markus 15:21; Lukas 23:26).”
18. Watter soort niemilitêre, niegodsdienstige gemeenskapsdiens sal Jehovah se Getuies dikwels verrig?
18 In party lande vereis die Staat of plaaslike owerheid eweneens vandag dat burgers aan verskillende vorme van gemeenskapsdiens deelneem. Soms is dit vir ’n spesifieke taak, soos om putte te grawe of paaie te bou; soms word dit op ’n gereelde grondslag gedoen, soos om paaie, skole of hospitale weekliks skoon te maak. Waar sulke burgerlike diens die gemeenskap tot voordeel strek en nie met valse godsdiens verband hou nie of nie om ’n ander rede teen die gewetens van Jehovah se Getuies indruis nie, het hulle dikwels daartoe ingewillig (1 Petrus 2:13-15). Dit het gewoonlik ’n uitstekende getuienis tot gevolg gehad en het soms diegene tot swye gebring wat die Getuies valslik daarvan beskuldig dat hulle teen die regering is.—Vergelyk Matteus 10:18.
19. Hoe moet ’n Christen die saak benader as Caesar van hom verlang om ’n tyd lank niemilitêre diensplig te doen?
19 Maar sê nou die Staat vereis dat ’n Christen ’n tyd lank burgerlike diens doen wat ’n deel uitmaak van diensplig onder ’n burgerlike owerheid? Weer eens moet Christene hulle eie besluit neem wat op ’n ingeligte gewete gegrond is. “Ons sal almal voor die regterstoel van God staan” (Romeine 14:10). Christene wat ’n besluit moet neem oor iets wat Caesar vereis, moet die saak biddend bestudeer en daaroor peins.a Dit sal dalk ook verstandig wees om die saak met ryp Christene in die gemeente te bespreek. Hierna moet ’n persoonlike besluit geneem word.—Spreuke 2:1-5; Filippense 4:5.
20. Watter vrae en skriftuurlike beginsels help ’n Christen om oor die saak van niemilitêre nasionale burgerlike diens te redeneer?
20 Terwyl Christene sulke navorsing doen, sal hulle ’n aantal Bybelbeginsels in aanmerking neem. Paulus het gesê dat ons ‘gehoorsaam moet wees aan regerings en owerhede as heersers, gereed moet wees vir elke goeie werk, redelik moet wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag moet lê’ (Titus 3:1, 2). Terselfdertyd sal dit goed wees as Christene ondersoek instel na die voorgestelde burgerlike diens. Sal hulle Christelike neutraliteit kan handhaaf as hulle dit aanvaar? (Miga 4:3, 5; Johannes 17:16). Sal dit hulle by die een of ander valse godsdiens betrek? (Openbaring 18:4, 20, 21). Sal hierdie werk hulle verhinder of onredelik inperk om hulle Christelike verantwoordelikhede na te kom? (Matteus 24:14; Hebreërs 10:24, 25). Sal hulle aan die ander kant kan voortgaan om geestelike vooruitgang te maak en miskien selfs aan die voltydse bediening kan deelneem terwyl hulle die vereiste diens verrig?—Hebreërs 6:11, 12.
21. Ongeag sy besluit, hoe moet die gemeente ’n broer beskou wat die saak van niemilitêre nasionale burgerlike diens behartig?
21 Gestel die Christen se eerlike antwoorde op sulke vrae laat hom tot die slotsom kom dat die nasionale burgerlike diens ’n “goeie werk” is wat hy in gehoorsaamheid aan die owerheid kan doen? Dit is sy besluit voor Jehovah. Aangestelde ouer manne en ander moet die gewete van die broer ten volle respekteer en hom steeds as ’n Christen met ’n goeie naam beskou. As ’n Christen egter meen dat hy nie hierdie burgerlike diens kan verrig nie, moet sy standpunt ook gerespekteer word. Ook hy behou sy goeie naam en moet liefdevolle ondersteuning ontvang.—1 Korintiërs 10:29; 2 Korintiërs 1:24; 1 Petrus 3:16.
22. Wat sal ons aanhou doen, ongeag die situasie waarvoor ons te staan kom?
22 As Christene sal ons nie ophou om “aan hom wat eer verlang, sulke eer” te gee nie (Romeine 13:7). Ons sal goeie orde respekteer en daarna streef om vreedsame, wetsgehoorsame burgers te wees (Psalm 34:15). Ons kan selfs bid “aangaande konings en almal wat ’n hoë posisie beklee” wanneer hierdie manne besluite moet neem wat ons Christelike lewe en werk raak. Aangesien ons aan Caesar terugbetaal wat aan Caesar behoort, hoop ons dat “ons kan voortgaan om ’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid en erns te lei” (1 Timoteus 2:1, 2). Ons sal bowenal voortgaan om die goeie nuus van die Koninkryk as die mensdom se enigste hoop te verkondig en gewetensgetrou aan God terugbetaal wat aan God behoort.
[Voetnoot]
a Sien Die Wagtoring van 1 Augustus 1964, bladsy 357, paragraaf 21.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat is allereers vir ’n Christen van belang terwyl hy sy verhouding met Caesar en Jehovah in ewewig hou?
◻ Wat is ons aan Jehovah verskuldig wat ons nooit aan Caesar kan gee nie?
◻ Wat is party dinge wat ons tereg aan Caesar teruggee?
◻ Watter tekste help ons om ’n regte besluit te neem wat militêre diensplig betref?
◻ Wat is ’n paar dinge om in gedagte te hou indien ons vir niemilitêre nasionale burgerlike diens opgeroep word?
◻ Wat moet ons aanhou doen wat Jehovah en Caesar betref?
[Prent op bladsy 16]
Die apostels het vir die Sanhedrin gesê: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”