Ware veiligheid—’n ontwykende doelwit
ARNOLD was ’n kind wat lief was vir sy opgestopte speelgoedtiertjie. Hy het dit oral saamgesleep—as hy gespeel het, na die etenstafel toe, na sy bed toe. Die tiertjie het hom getroos en veilig laat voel. Eendag was daar ’n krisis. Die tiertjie was skoonveld!
Terwyl Arnold gehuil het, het sy ma, pa en drie ouer broers hulle groot huis gefynkam op soek na die tiertjie. Uiteindelik het een van hulle dit in ’n laai gekry. Blykbaar het Arnold dit daarin gesit en toe vergeet waar dit is. Arnold het sy tiertjie teruggekry en sy trane afgevee. Hy het weer gelukkig en veilig gevoel.
Hoe goed sou dit tog wees as alle probleme so maklik opgelos kon word—so eenvoudig soos om ’n speelgoedtiertjie in ’n laai te kry! Maar vir die meeste mense is vrae in verband met veiligheid baie ernstiger en ingewikkelder as dit. Omtrent oral vra mense hulle af: ‘Sal ek ’n slagoffer van misdaad of geweld word? Loop ek gevaar om my werk te verloor? Is my gesin van genoeg voedsel verseker? Sal ander my weens my godsdiens of my etniese agtergrond vermy?’
’n Ontsaglike aantal mense het geen gevoel van veiligheid nie. Volgens die Verenigde Nasies het bykans drie miljard mense nie toegang tot die behandeling van algemene siektes of tot noodsaaklike geneesmiddels nie. Meer as ’n miljard mense krepeer in uiterste armoede. Byna ’n miljard mense het nie voldoende werk nie, hoewel hulle in staat is om te werk. Die aantal vlugtelinge neem toe. Teen die einde van 1994 was ongeveer 1 uit elke 115 mense op aarde al gedwing om van hulle huis af weg te vlug. Miljoene lewens word vernietig deur die dwelmhandel, wat ’n jaarlikse omset van R1,8 miljard het en aanleiding gee tot tallose misdade en gewelddade. Oorlog verwoes die lewe van miljoene. Gedurende 1993 alleen was 42 lande in groot konflikte betrokke, terwyl nog 37 politieke geweld ondervind het.
Oorlog, armoede, misdaad en ander bedreigings vir menseveiligheid hou onderling met mekaar verband en neem toe. Daar is geen tiertjie-in-die-laai-oplossing vir hierdie probleme nie. Trouens, mense sal dit glad nie oplos nie.
“Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie”, waarsku God se Woord, die Bybel. Op wie kan ons dan vertrou? Hierdie skrifgedeelte sê verder: “Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God, wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is.”—Psalm 146:3-6.
Waarom kan ons op Jehovah vertrou om veiligheid op hierdie aarde te bewerkstellig? Is dit moontlik om nou veilige, gelukkige lewens te geniet? Hoe sal God die struikelblokke in die pad na menseveiligheid uit die weg ruim?