Tier! Tier!
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË
‘EK HET eenkeer op ’n smal bergrug geloop’, sê dr. Charles McDougal, wat die tier baie jare lank in die Koninklike Nasionale Chitwan-wildtuin in Nepal bestudeer het. ‘Terwyl ek geloop het, het ’n tier van die anderkant af gekom. Ons het so te sê op die top ontmoet, en daar was min spasie tussen ons—ongeveer 15 treë.’ Dr. McDougal het doodstil gestaan. Hy het die tier nie direk in die oë gekyk nie, aangesien ’n tier dit as ’n uitdaging beskou, maar eerder oor die skouer van die tier gekyk. Die tier het in ’n kruipende posisie gebly, maar nie probeer aanval nie. Ná etlike lang minute het dr. McDougal ’n paar treë agteruit gegee. ‘Toe’, sê hy, ‘het ek eenvoudig omgedraai en teruggeloop in die rigting waarvandaan ek gekom het.’
By die eeuwisseling was daar 100-000 tiers in hulle natuurlike habitat in Asië, waaronder sowat 40 000 in Indië. Maar teen 1973 het die getalle van hierdie pragtige diere wêreldwyd tot onder 4000 gedaal, hoofsaaklik vanweë jagtery. Die tier, die grootste kat op aarde, se voortbestaan is deur die mens bedreig. Maar is die tier ’n bedreiging vir mense? Wat is die werklike geaardheid van hierdie kat? Is pogings om hulle van uitsterwing te red suksesvol?
Die tier se gesinslewe
Geduldige waarneming oor etlike jare het natuurkenners gehelp om die lewe van die tier beter te verstaan. Kom ons verbeel ons dat ons besoek aflê by ’n tipiese tiergesin in die pragtige woude van Ranthambhore, in die noorde van Indië. Die mannetjie is byna 3 meter lank van sy neus tot by sy stertpunt, en hy weeg sowat 200 kilogram. Sy wyfie is omtrent 2,7 meter lank en weeg ongeveer 140 kilogram.a Daar is drie welpies, een mannetjie en twee wyfies.
In hierdie woude kan die temperatuur bo 45° C styg, maar die tiergesin vind koelte onder die blaarryke bome. En hulle kan altyd in die koel water van ’n nabygeleë meer gaan swem. Katte wat swem? Ja, tiers is lief vir water! Trouens, hulle kan meer as vyf kilometer swem sonder om te rus.
Sonlig val deur die bome op die tiers se blink oranje pelse, wat dit laat lyk asof dit gloei. Die swart strepe glinster, en die wit merke bo hulle gelerige oë flits helder. Nadat ons die drie welpies ’n rukkie dophou, word dit vir ons maklik om hulle uit te ken aan hulle verskillende strepe en merke op hulle gesigte.
Hoe ’n tier grootword
Toe die tierwyfie haar welpies verwag het, het sy ’n geskikte lêplek uitgekies, wat goed versteek is deur digte plantegroei. Daarvandaan geniet die gesin nou ’n uitsig oor ’n vlakte met ’n drinkgat wat ander diere aantrek. Die tierwyfie het hierdie plek gekies sodat sy kan jag sonder om ver van haar welpies te wees.
Die welpies het van geboorte af baie aandag ontvang. Gedurende hulle kleintyd het hulle moeder hulle tussen haar pote geliefkoos, aan hulle geruik en hulle gelek terwyl sy saggies geknor het. Toe die welpies ouer geword het, het hulle wegkruipertjie begin speel en skyngevegte gehad. Hoewel tierwelpies nie kan spin nie, begin hulle wanneer hulle omtrent ’n jaar oud is harde blaasgeluide maak wanneer hulle moeder ná ’n afwesigheid terugkeer.
Die welpies hou baie daarvan om saam met hulle moeder in die water te swem en te speel. Stel jou die tierwyfie voor waar sy aan die kant van die meer sit met haar stert in die water. Elke nou en dan pluk sy haar stert uit om haar warm liggaam ’n koue stort te gee. En gepraat van sterte, die welpies word nooit moeg om hulle moeder se stert te probeer vang terwyl sy dit heen en weer swiep nie. Die tierwyfie speel nie net met haar welpies wanneer sy dit doen nie, maar sy leer hulle ook die kuns om iets te bespring, wat hulle later sal gebruik wanneer hulle begin jag. Die welpies geniet dit ook om bome te klim. Maar wanneer hulle omtrent 15 maande oud is, word hulle te groot en swaar om dit maklik te klim.
Die vader se rol
Tot onlangs toe het baie gemeen dat die tierwyfie haar welpies alleen grootmaak en dat die mannetjie hulle sal doodmaak as hy die geleentheid kry. Met die meeste tiers is dit egter nie die geval nie. Die tiermannetjie verdwyn wel lang tye in die oerwoud terwyl hy sy gebied van meer as 50 vierkante kilometer deurkruis. Maar hy besoek ook sy gesin. Wanneer hy dit doen, sal hy dalk saam met die tierwyfie en die welpies gaan jag en selfs die vangs met hulle deel. Die aggressiewer mannetjieswelpie sal dalk eerste begin eet. As hy egter gulsig sy susters te lank weghou, sal sy moeder hom wegstoot of selfs met haar poot klap sodat die wyfiewelpies hulle regmatige deel van die fees kan kry.
Die welpies geniet dit om met hulle kolos van ’n vader te speel. ’n Gunstelingplek hiervoor is die nabygeleë drinkgat. Die vader loop versigtig agteruit in die water in totdat net sy kop uitsteek. (Tiers hou nie daarvan as water in hulle oë spat nie!) Hy los sy welpies dan om aan hom te ruik terwyl hy hulle gesigte lek. Dit is duidelik dat daar ’n sterk gesinsband is.
Mensvreters?
Boeke en rolprente beeld tiers dikwels as wrede, aggressiewe diere uit, wat mense bekruip en aanval, en hulle dan aan stukke skeur en verslind. Maar dit is glad nie die waarheid nie. Tiers is nie almal mensvreters nie. As ’n tier ’n mens in die woud sien, verkies hy gewoonlik om net stilletjies weg te glip. Dit is interessant dat die reuk van mense blykbaar nie ’n uitwerking op ’n tier het nie.
’n Honger tier kan egter in sekere omstandighede wel gevaarlik word. As hy weens ouderdom sy tande verloor het of deur mense beseer is, is hy dalk nie in staat om normaalweg te jag nie. Die tier se natuurlike prooi raak dalk ook skaars as die mens die tier se habitat indring. Om sulke redes word daar elke jaar ongeveer 50 mense in Indië deur tiers doodgemaak, maar dit is honderd keer minder as die getal wat deur slange doodgemaak word. Tieraanvalle vind hoofsaaklik in die moerasse van die Gangesdelta plaas.
Volgens dr. McDougal is tiers nie so gevaarlik soos die meeste mense dink nie. Hoewel ’n tier kan aanval as ’n mens onverwags op hom afkom, “is die tier ’n doodkalm, rustige dier”, sê hy. “As ’n mens ’n tier raakloop—selfs baie naby aan hom kom—sal hy gewoonlik nie aanval nie.”
Tussen tiers is aggressie ongewoon. ’n Jong tier kan byvoorbeeld in ’n ander tier se gebied indwaal en hom vasloop teen die mannetjie wie se gebied dit is. Dit word gevolg deur diep gromme, bloedstollende brulle en kwaai neus-aan-neus-knorrery. Maar wanneer die ouer mannetjie sy baasskap toon, sal die jonger dier gewoonlik op sy rug rol met sy pote in die lug as ’n teken van onderwerping, en die konfrontasie is verby.
Die toekoms van die groot kat
Die mens is die enigste werklike bedreiging vir die tier en nie die tier ’n bedreiging vir die mens nie. Daar word tans pogings aangewend om die tier van uitwissing te red. Verskeie lande in Asië het tierreservate gestig. In 1973 is ’n spesiale program met die naam Project Tiger in die Nasionale Corbett-park, in die noorde van Indië, van stapel gestuur. Fondse en toerusting vir Project Tiger het van regoor die wêreld ingestroom. Eindelik is 18 tierreservate in Indië opsy gesit, met ’n totale oppervlak van meer as 28 000 vierkante kilometer. Teen 1978 is tiers ook op die lys vir bedreigde spesies geplaas. Dit het verstommende resultate gelewer! Voordat tierjagtery verbied is, het die tiers ontwykend en hoofsaaklik nagdiere geword weens hulle vrees vir mense. Maar ná ’n paar jaar van beskerming het tiers helder oordag in die reservate begin rondbeweeg en jag!
Tog is daar steeds ’n bedreiging vir die tier: die internasionale aanvraag na tradisionele Asiatiese geneesmiddels wat van die tier se liggaamsdele gemaak word. ’n Sak tierbene kan byvoorbeeld meer as R2000 in Indië haal; en wanneer die bene verwerk is en die markte van die Verre-Ooste bereik het, het die waarde daarvan tot meer as R100 000 gestyg. Met soveel geld ter sprake word arm dorpelinge in die versoeking gebring om met tierdiewe saam te werk om boswagters uit te oorlê. In die begin is pogings om die tier te red as suksesvol beskou. Maar sedert 1988 het die situasie ’n ernstige wending geneem. Vandag is daar net sowat 27 tiers in Ranthambhore, vergeleke met die 40 wat daar 20 jaar gelede was. En wêreldwyd is daar dalk net 5000 tiers!
Tot en met die einde van die vorige eeu het tiers en mense in Indië in relatiewe harmonie saambestaan. Sal hulle dit ooit weer kan doen? Voorlopig kan die opgewonde uitroep “Tier! Tier!” steeds beteken dat een van die wêreld se grootste katte gesien is. Ons sal moet wag en sien of bewaringsprogramme die veiligheid van die tier in die toekoms sal verseker. Maar die Bybel verseker ons dat die hele aarde eendag ’n paradys soos die Tuin van Eden sal wees. Dan sal die mens en wilde diere soos die tier in vrede op die aarde saamwoon.—Jesaja 11:6-9.
[Voetnoot]
a Siberiese tiers, die grootste subspesie, kan meer as 320 kilogram weeg en 4 meter lank word.
[Venster/Prent op bladsy 17]
Die Wit Tier
’n Nasionale skat in Indië, die seldsame wit tier, is die gevolg van ’n resessiewe mutante geen. In 1951 is ’n wit mannetjieswelpie in Indië se Rewa-woud gevang. Hy het met ’n normaal gekleurde tierwyfie gepaar en normale werpsels is gebore. Maar toe ’n wyfie van een van hierdie werpsels met die wit mannetjie gepaar het, het sy geboorte gegee aan vier wit welpies. Noukeurige teling het dit vir mense op baie plekke moontlik gemaak om hierdie seldsame skoonheid in hulle dieretuine te sien.
[Prent op bladsy 16]
Katte wat swem? Ja!
[Prent op bladsy 17]
Tiers is nie so gevaarlik soos die meeste mense dink nie