Koninkryksverkondigers berig
“Al u gebooie is waarheid”
KORT voor sy dood het Moses die volk Israel aangespoor om al Jehovah se gebooie te gehoorsaam. Hy het gesê: “Gee ag op al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, dat julle dit jul kinders beveel om al die woorde van hierdie wet sorgvuldig te hou. Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe.”—Deuteronomium 32:46, 47.
Honderde jare later het die psalmis die belangrikheid van al God se leringe beklemtoon toe hy gesê het: “U, o HERE, is naby, en al u gebooie is waarheid” (Psalm 119:151). In die eerste eeu het Jesus self melding gemaak van die waarde van “elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan” (Matteus 4:4). En onder God se leiding het die apostel Paulus geskryf dat ‘die hele Skrif deur God geïnspireer en nuttig is’.—2 Timoteus 3:16.
Dit is duidelik dat Jehovah God van sy aanbidders verwag om die hele boodskap wat vir ons in die bladsye van sy Woord vervat is ernstig te ondersoek. Daar is nie ’n enkele gedeelte in die Bybel wat waardeloos is nie. Dit is hoe Jehovah se Getuies oor God se Woord voel, soos die volgende ondervinding uit Mauritius toelig.
Mnr. D—— het in ’n afgeleë dorpie gewoon, waar hy ’n nagwag was. Hy het lank opreg na die regte manier gesoek om God te aanbid. Snags terwyl hy op wag was, het hy die Bybel begin lees. Uiteindelik het hy dit van voor tot agter gelees. Hy het geleer dat God se naam Jehovah is—’n naam wat baie keer in sy Hindi-Bybel voorkom. Hy het die boek Openbaring veral fassinerend gevind.
Toe het hy hom afgevra of daar ’n godsdiens is wat die Bybel in sy geheel volg. Hy het opgelet dat die godsdienste waarmee hy bekend was op hulle beste maar net dele van die Bybel gevolg het. Party godsdienste het die Hebreeuse Geskrifte aanvaar en die Christelike Griekse Geskrifte verwerp. Ander godsdienste het die Hebreeuse Geskrifte geïgnoreer en het gemeen dat slegs die Christelike Griekse Geskrifte praktiese waarde het.
Eendag het mnr. D—— ’n egpaar sien natreën, en hy het hulle genooi om in sy huis te kom skuil. Hulle was Jehovah se Getuies. Die vrou het die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! in haar hand gehad.a Mnr. D—— het onmiddellik gevra of hy die boek kan kry. Die Getuies het gemeen dat die inligting oor die profesieë in Openbaring te diep vir hom is, en daarom het hulle in plaas daarvan vir hom ’n ander publikasie aangebied. Maar mnr. D—— het daarop aangedring dat hy die Openbaring-boek wil hê.
Toe hy sy eksemplaar ontvang het, het hy die boek in ’n kort tydjie deurgelees. Hy het toe tot ’n Bybelstudie met Jehovah se Getuies ingestem. Hy is weldra beïndruk deur die feit dat die Getuies groot waarde aan die hele Bybel heg. Hy het vergaderinge by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gereeld begin bywoon, waar die Hebreeuse Geskrifte sowel as die Christelike Griekse Geskrifte noukeurig bestudeer word. Hy is nou ’n Koninkryksverkondiger en ’n gedoopte lid van die Christengemeente.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.