Daar is niks beter as die waarheid nie
Soos vertel deur G. N. Van der Bijl
In Junie 1941 is ek aan die Gestapo oorgelewer en na die Sachsenhausen-konsentrasiekamp geneem naby Berlyn, Duitsland. Ek het as gevangene nommer 38190 daar gebly tot die berugte doodstog in April 1945. Maar voordat ek daardie gebeure beskryf, wil ek verduidelik hoe ek ’n gevangene geword het.
EK IS gebore in Rotterdam, Nederland, kort nadat die Eerste Wêreldoorlog in 1914 begin het. My pa het vir die spoorweë gewerk, en ons klein woonstelletjie was naby die treinspoor. Teen die einde van die oorlog in 1918 het ek baie so genoemde krisistreine vinnig verby sien gaan. Hulle was ongetwyfeld vol gewonde soldate wat van die front af huis toe geneem is.
Toe ek 12 was, het ek die skool verlaat om te gaan werk. Agt jaar later het ek as ’n hofmeester op ’n passasierskip begin werk, en die volgende vier jaar het ek tussen Nederland en die Verenigde State gevaar.
Toe ons in die middel van 1939 in die hawe van New York vasgemeer was, het nog ’n wêreldoorlog gedreig. Toe ’n man dus aan boord van ons skip kom en my die boek Government aanbied, wat van ’n regverdige regering gepraat het, het ek dit met graagte geneem. Toe ek weer in Rotterdam aankom, het ek werk op land begin soek, aangesien die lewe op see nie meer veilig gelyk het nie. Op 1 September het Duitsland Pole binnegeval en is die nasies in die Tweede Wêreldoorlog gedompel.
Ek leer Bybelwaarheid
Een Sondagoggend in Maart 1940 het ek by my getroude broer gekuier toe een van Jehovah se Getuies die deurklokkie lui. Ek het hom vertel dat ek reeds die boek Government het en hom uitgevra oor die hemel en wie daarheen gaan. Ek het so ’n duidelike en redelike antwoord gekry dat ek by myself gesê het: ‘Dit is die waarheid.’ Ek het hom my adres gegee en hom genooi om my tuis te kom besoek.
Ná slegs drie besoeke, waartydens ons diepgaande Bybelbesprekings gehad het, het ek die Getuie begin vergesel in die predikingswerk van huis tot huis. Toe ons by die gebied aankom, het hy my gewys waar om te begin, en ek was op my eie. Dit is hoe baie nuwelinge in daardie dae met die predikingswerk begin het. Ek is aangeraai om altyd in ’n voorportaal te wees wanneer ek die lektuur aanbied sodat ek nie op straat gesien word nie. In daardie vroeë dae van die oorlog moes ons versigtig wees.
Drie weke later, op 10 Mei 1940, het die Duitse leër Nederland binnegeval, en op 29 Mei het Reich-kommissaris Seyss-Inquart afgekondig dat die organisasie van Jehovah se Getuies verbied is. Ons het net in klein groepies bymekaargekom en was versigtig sodat ons vergaderplekke geheim sou bly. Ons is veral deur die besoeke van reisende opsieners versterk.
Ek was ’n strawwe roker, en toe ek die Getuie wat met my gestudeer het ’n sigaret aanbied en uitvind dat hy nie rook nie, het ek gesê: “Ek sal nooit kan ophou rook nie!” Maar terwyl ek kort daarna in die straat afgestap het, het ek gedink: ‘As ek ’n Getuie gaan wees, wil ek ’n ware Getuie wees.’ Ek het dus nooit weer gerook nie.
Ek neem my standpunt in vir die waarheid
In Junie 1940, minder as drie maande nadat ek die Getuie by my broer se deur ontmoet het, het ek my toewyding aan Jehovah gesimboliseer en is ek gedoop. ’n Paar maande later, in Oktober 1940, het ek die voltydse bediening as ’n pionier betree. Destyds is ek iets gegee wat ons ’n pionierbaadjie genoem het. Dit het baie sakke vir boeke en boekies gehad en kon onder ’n jas gedra word.
So te sê van die begin van die Duitse besetting af is Jehovah se Getuies stelselmatig opgespoor en gearresteer. Een oggend in Februarie 1941 was ek in die veldbediening saam met ’n paar ander Getuies. Terwyl hulle mense aan die een kant van ’n blok met huise besoek het, het ek om die ander kant gewerk tot ek hulle sou ontmoet. Mettertyd het ek gaan kyk waar hulle so lank bly en ’n man teëgekom wat gevra het: “Het jy ook van hierdie boekies?”
“Ja”, het ek geantwoord. Daarop het hy my gearresteer en na die polisiekantoor geneem. Ek is bykans vier weke lank aangehou. Die meeste van die beamptes was vriendelik. Mits iemand nie aan die Gestapo oorgelewer is nie, kon hy vrygelaat word deur bloot ’n geskrewe verklaring te onderteken dat hy nie meer Bybellektuur sal versprei nie. Toe ek gevra is om so ’n verklaring te onderteken, het ek geantwoord: “Selfs as julle my een- of tweemiljoen gulde aanbied, sal ek dit nog steeds nie onderteken nie.”
Nadat ek nog ’n rukkie langer aangehou is, is ek aan die Gestapo oorgelewer. Toe is ek na die Sachsenhausen-konsentrasiekamp in Duitsland geneem.
Die lewe in Sachsenhausen
Toe ek in Junie 1941 daar aankom, was daar reeds sowat 150 Getuies—meestal Duitsers—in Sachsenhausen. As nuwe gevangenes is ons na ’n deel van die kamp geneem wat Alleenopsluiting genoem is. Daar het ons Christenbroers ons onder hulle vlerke geneem en ons voorberei op wat om te verwag. ’n Week later het nog ’n groep Getuies uit Nederland aangekom. Ons is aanvanklik beveel om van sewe-uur die oggend tot sesuur die aand voor die barak te staan. Soms moes gevangenes dit ’n week of langer elke dag doen.
Ten spyte van die wrede behandeling het die broers besef dat dit noodsaaklik is om georganiseerd te bly en om geestelike voedsel in te neem. Elke dag is iemand toegewys om gedagtes oor ’n Bybelteks voor te berei. Later het individuele Getuies daardie persoon op die vergaderplein genader en geluister na wat hy voorberei het. Op die een of ander manier is lektuur gereeld in die kamp ingesmokkel, en ons het in werklikheid elke Sondag bymekaargekom en hierdie Bybellektuur saam gestudeer.
’n Eksemplaar van die boek Kinders, wat in die somer van 1941 by die streekbyeenkoms in St. Louis in die Verenigde State vrygestel is, is op die een of ander wyse in Sachsenhausen ingesmokkel. Om die kanse dat die boek gevind en vernietig kon word tot die minimum te beperk, het ons dit uitmekaar gehaal, en die dele is onder die broers versprei sodat almal beurte kon maak om dit te lees.
Ná ’n ruk het die kampbestuur uitgevind dat ons vergaderinge hou. Die Getuies is dus verdeel en in verskillende barakke gesit. Dit het ons ’n gulde geleentheid gebied om vir ander gevangenes te preek, en gevolglik het baie Pole, Oekraïners en ander die waarheid aangeneem.
Die Nazi’s het geen geheim daarvan gemaak dat hulle die Bibelforscher, soos Jehovah se Getuies genoem is, wou breek of doodmaak nie. Gevolglik is swaar druk op ons uitgeoefen. Ons is vertel dat ons vrygelaat kon word as ons ’n verklaring onderteken waarin ons ons geloof verloën. Party broers het begin redeneer: “As ek vry is, kan ek meer in Jehovah se diens doen.” Hoewel ’n paar dit onderteken het, het die meeste van ons broers getrou gebly ten spyte van al die ontbering, vernedering en mishandeling. Daar is nooit weer iets gehoor van sommige van dié wat hulle geloof prysgegee het nie. Maar gelukkig het ander later teruggekeer en is hulle nog steeds bedrywige Getuies.
Ons is dikwels gedwing om toe te kyk terwyl gevangenes wrede lyfstraf toegedien is, soos 25 houe met ’n stok. Eenkeer moes ons kyk hoe vier mans gehang word. Daardie ondervindinge het werklik ’n uitwerking op ’n mens gehad. Een broer, ’n lang, aantreklike man wat in dieselfde barak as ek was, het vir my gesê: “Voordat ek hierheen gekom het, het ek flou geword sodra ek bloed sien. Maar nou is ek gewoond daaraan.” Hoewel ons dalk daaraan gewoond geraak het, het ons nogtans nie gevoelloos geword nie. Ek moet sê dat ek nooit ’n wrok of haat teen ons vervolgers gekoester het nie.
Nadat ek ’n ruk lank saam met ’n span gewerk het, is ek in die hospitaal opgeneem met ’n hoë koors. ’n Vriendelike Noorweegse dokter en ’n Tsjeggo-Slowaakse verpleegster het my gehelp, en hulle goedhartigheid het heel waarskynlik my lewe gered.
Die doodstog
Teen April 1945 was dit duidelik dat Duitsland besig was om die oorlog te verloor. Die Westerse bondgenote was vinnig aan die opmars vanuit die weste, en die Russe vanuit die ooste. Dit was onmoontlik vir die Nazi’s om die honderdduisende in die konsentrasiekampe dood te maak en binne ’n paar dae van hulle liggame ontslae te raak sonder om enige spoor agter te laat. Hulle het dus besluit om die siekes dood te maak en die res van die gevangenes na die naaste seehawens te verskuif. Hulle was van plan om hulle daar op skepe te laai en die skepe op see te sink.
Die tog van sowat 26000 gevangenes uit Sachsenhausen het die nag van 20 April begin. Voordat ons die kamp verlaat het, het ons ons siek broers uit die sieke-afdeling gered. ’n Waentjie is gekry waarop hulle vervoer kon word. Ons was altesaam 230 uit ses verskillende lande. Onder die siekes was broer Arthur Winkler, wat grootliks tot die uitbreiding van die werk in Nederland bygedra het. Die Getuies het die agterhoede gevorm, en ons het mekaar voortdurend aangemoedig om aan te hou stap.
Om mee te begin, het ons 36 uur lank gestap sonder om te rus. Terwyl ek geloop het, het ek selfs aan die slaap geraak weens pure swaarkry en uitputting. Maar van agterbly of rus was daar geen sprake nie, want dan het jy gevaar geloop om deur die wagte geskiet te word. Snags het ons in die oop veld of in die woud geslaap. Daar was min of geen kos. Wanneer die hongerpyne te erg geword het, het ek die tandepasta gelek wat die Sweedse Rooi Kruis ons gegee het.
Op een stadium het ons vier dae in die woud deurgebring omdat die Duitse wagte nie geweet het waar die Russiese en Amerikaanse troepe was nie. Dit was ’n bestiering, want ons het Lübeck-baai gevolglik nie betyds bereik om aan boord van die skepe te gaan wat veronderstel was om ons na ons watergraf te neem nie. Uiteindelik, ná 12 dae en ’n tog van ongeveer 200 kilometer, het ons die Crivitz-woud bereik. Dit was nie ver van Schwerin nie, ’n stad wat ongeveer 50 kilometer van Lübeck af was.
Die Russe was aan ons regterkant en die Amerikaners aan ons linkerkant. Aan die dreuning van die groot kanonne en die aanhoudende geweervuur het ons geweet dat ons naby die gevegsfront was. Die Duitse wagte het paniekerig geword; party het gevlug, en ander het hulle militêre uniforms omgeruil vir gevangenisklere wat hulle van die dooies afgeneem het, in die hoop dat hulle nie herken sou word nie. Te midde van die verwarring het die Getuies bymekaargekom om te bid vir leiding.
Die broers wat die leiding geneem het, het besluit dat ons die volgende dag in die vroeë oggendure moet vertrek en in die rigting van die Amerikaanse linies moet gaan. Hoewel bykans die helfte van die gevangenes wat die doodstog begin het langs die pad gesterf het of doodgemaak is, het al die Getuies behoue gebly.
Ek het ’n geleentheid saam met Kanadese militêre personeel gekry na die stad Nijmegen toe, waar een van my susters gebly het. Maar toe ek by die plek kom, het ek uitgevind dat sy getrek het. Ek het dus na Rotterdam toe begin loop. Gelukkig is ek langs die pad deur iemand in ’n privaat voertuig opgelaai wat my reguit na my bestemming geneem het.
Die waarheid is my lewe
Dieselfde dag dat ek in Rotterdam aangekom het, het ek weer aansoek gedoen om die pionierdiens te betree. Drie weke later was ek in my toewysing in die stad Zutphen, waar ek die volgende jaar en ’n half gedien het. Gedurende daardie tyd het ek van my liggaamskrag herwin. Toe is ek aangestel as ’n kringopsiener, soos reisende opsieners genoem word. ’n Paar maande later is ek genooi na die Wagtoring-Bybelskool Gilead in South Lansing, New York. Nadat ek in Februarie 1949 aan die 12de klas van hierdie skool gegradueer het, is ek na België gestuur.
Ek het in verskeie aspekte van die bediening in België gedien, met inbegrip van amper agt jaar by die takkantoor en dekades in die reisende werk as ’n kringopsiener sowel as ’n streekopsiener. In 1958 het ek met Justine getrou, wat my in die reisende werk vergesel het. Noudat ek bejaard is, het ek nog steeds die vreugde om op beperkte wyse te dien as ’n waarnemende reisende opsiener.
Wanneer ek op my bediening terugkyk, kan ek waarlik sê: “Daar is niks beter as die waarheid nie.” Dit was natuurlik nie altyd maklik nie. Ek het agterkom dat ek uit my foute en tekortkominge moet leer. Wanneer ek dus met jongmense praat, sê ek dikwels vir hulle: “Julle sal ook foute begaan en julle miskien selfs aan ernstige oortredings skuldig maak, maar moenie leuens vertel nie. Bespreek die saak met julle ouers of met ’n ouer man en maak dan die nodige aanpassings.”
Gedurende die byna 50 jaar van my voltydse bediening in België, het ek die voorreg gehad om te sien hoe diegene wat ek eens as kinders geken het as ouer manne en kringopsieners dien. En ek het gesien hoe die sowat 1700 Koninkryksverkondigers in die land tot meer as 27000 vermeerder.
Ek vra: “Kan daar ’n geseënder lewenswyse wees as om Jehovah te dien?” Daar was nog nooit nie, daar is nie nou nie en daar sal nooit wees nie. My bede is dat Jehovah sal voortgaan om my en my vrou te lei en te seën sodat ons hom vir ewig kan bly dien.
[Prent op bladsy 26]
Saam met my vrou kort ná ons troue in 1958