Seëninge of vervloekinge—Daar is ’n keuse!
“Die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe.”—DEUTERONOMIUM 30:19.
1. Watter vermoë is die mens gegee?
JEHOVAH GOD het ons—sy intelligente menseskepsele—met wilsvryheid gemaak. Ons is nie as blote outomate, oftewel robotte, geskep nie, maar is die voorreg en verantwoordelikheid gegee om keuses te maak (Psalm 100:3). Die eerste mense—Adam en Eva—kon kies hoe hulle sou optree, en hulle was aanspreeklik teenoor God vir hulle keuse.
2. Watter keuse het Adam gemaak, en met watter gevolg?
2 Die Skepper het oorvloedig voorsiening gemaak vir menselewe met ewigdurende seëninge op ’n paradysaarde. Waarom is daardie voorneme nog nie verwesenlik nie? Omdat Adam die verkeerde keuse gemaak het. Jehovah het die man beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:16, 17). As Adam gekies het om gehoorsaam te wees, sou ons eerste ouers geseën gewees het. Ongehoorsaamheid het die dood meegebring (Genesis 3:6, 18, 19). Sonde en die dood is dus aan al Adam se nakomelinge oorgedra.—Romeine 5:12.
Seëninge word moontlik gemaak
3. Hoe het God die versekering gegee dat sy voorneme met die mensdom volbring sal word?
3 Jehovah God het ’n middel voorsien waardeur sy voorneme om die mensdom te seën uiteindelik vervul sou word. Hy het self ’n Saad voorspel toe hy in Eden geprofeteer het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15). God het later belowe dat gehoorsame mense geseën sal word deur middel van hierdie Saad, ’n nakomeling van Abraham.—Genesis 22:15-18.
4. Watter reëling het Jehovah getref om die mensdom te seën?
4 Daardie beloofde Saad tot seën van die nasies was Jesus Christus. Aangaande Jesus se rol in Jehovah se reëling om die mensdom te seën, het die Christenapostel Paulus geskryf: “God beveel sy eie liefde by ons aan daarin dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Romeine 5:8). Sondige mense wat God gehoorsaam en gebruik maak van die waarde van Jesus Christus se losprysofferande sal seëninge geniet (Handelinge 4:12). Sal jy gehoorsaamheid en seëninge kies? Ongehoorsaamheid sal iets heel anders tot gevolg hê.
Wat van vervloekinge?
5. Wat is die betekenis van die woord “vloek”?
5 Die teenoorgestelde van ’n seën is ’n vervloeking. Die woord “vloek” beteken om sleg te praat van iemand of om kwaad oor hom uit te spreek. Die Hebreeuse woord qela·lahʹ is afgelei van die grondwerkwoord qa·lalʹ, wat letterlik beteken “om lig te wees”. Wanneer dit egter in figuurlike sin gebruik word, beteken dit om ‘kwaad uit te spreek oor’ of om ‘met veragting te behandel’.—Levitikus 20:9, NW; 2 Samuel 19:43.
6. Watter voorval waarby Elisa betrokke was, het naby eertydse Bet-el plaasgevind?
6 Beskou ’n treffende voorbeeld van vinnige optrede wat met ’n vervloeking verband gehou het. Dit het plaasgevind terwyl God se profeet Elisa van Jerigo af na Bet-el geloop het. Die verslag sê: “Terwyl hy met die pad opgaan, kom daar klein seuntjies uit die stad uit wat met hom spot en vir hom sê: Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop! Toe het hy agter hom omgekyk en hulle gesien en hulle gevloek [“kwaad oor hulle uitgespreek”, NW] in die Naam van die HERE; en twee berinne het uit die bos gekom en van hulle twee-en-veertig kinders verskeur” (2 Konings 2:23, 24). Presies wat Elisa gesê het toe hy daardie spottende kinders vervloek het deur kwaad oor hulle uit te spreek, word nie gesê nie. Daardie mondelinge uitspraak het nietemin resultate gelewer omdat dit in die naam van Jehovah gespreek is deur ’n profeet van God wat in ooreenstemming met die Goddelike wil opgetree het.
7. Wat het met die kinders gebeur wat met Elisa gespot het, en waarom?
7 Die hoofrede vir die gespot was blykbaar omdat Elisa Elia se bekende ampsgewaad gedra het, en die kinders wou geen opvolger van daardie profeet in hulle midde hê nie (2 Konings 2:13). In antwoord op die uitdaging of hy Elia se opvolger is en om hierdie jongmense en hulle ouers behoorlike respek vir Jehovah se profeet te leer, het Elisa in die naam van Elia se God kwaad oor die spottende kinders uitgespreek. Jehovah het getoon dat hy Elisa as sy profeet goedkeur deur die twee berinne uit die bos te laat kom en 42 van daardie spotters te laat verskeur. Jehovah het beslissend opgetree as gevolg van hulle volslae gebrek aan respek vir die kommunikasiekanaal wat hy destyds op aarde gebruik het.
8. Wat het die volk Israel ingestem om te doen, en met watter vooruitsigte?
8 Jare tevore het die Israeliete ’n soortgelyke gebrek aan respek vir God se reëlings geopenbaar. Dit is hoe dit gebeur het: In 1513 v.G.J. het Jehovah die volk Israel begunstig deur hulle uit slawerny in Egipte te bevry asof “op arendsvlerke”. Kort daarna het hulle belowe om God te gehoorsaam. Let op hoe gehoorsaamheid onafskeidelik daaraan verbonde was om God se goedkeuring te ontvang. Jehovah het deur middel van Moses gesê: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.” Daarna het die volk bevestigend geantwoord en gesê: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen” (Exodus 19:4, 5, 8; 24:3). Die Israeliete het gesê dat hulle Jehovah liefgehad het, was aan hom toegewy en het belowe om sy stem te gehoorsaam. As hulle dit gedoen het, sou hulle groot seëninge ontvang het.
9, 10. Wat het die Israeliete gedoen terwyl Moses op die berg Sinai was, en met watter gevolge?
9 Maar voordat die grondbeginsels van daardie ooreenkoms met die “vinger van God” in klip gegrif is, was dit vir God nodig om hulle te vervloek (Exodus 31:18). Waarom was sulke tragiese gevolge welverdiend? Het die Israeliete nie hulle begeerte uitgespreek om alles te doen wat Jehovah gespreek het nie? Ja, in woord het hulle seëninge verlang, maar deur hulle dade het hulle ’n weg gekies wat vervloekinge verdien het.
10 Gedurende ’n tydperk van 40 dae toe Moses op die berg Sinai was en die Tien Gebooie ontvang het, het die Israeliete hulle vroeëre belofte van lojaliteit aan Jehovah verbreek. “Toe die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom”, sê die verslag, “het die volk rondom Aäron versamel en vir hom gesê: Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie” (Exodus 32:1). Dit is nog ’n voorbeeld van ’n oneerbiedige gesindheid wat geopenbaar is teenoor die menslike instrument wat Jehovah destyds gebruik het om sy volk te lei en te rig. Die Israeliete was verlok om Egiptiese afgodediens na te boots, en hulle het die wrange vrugte daarvan gepluk toe sowat 3 000 van hulle in een dag deur die swaard geval het.—Exodus 32:2-6, 25-29.
Seëninge en vervloekinge word uitgespreek
11. Watter instruksies in verband met seëninge en vervloekinge is deur Josua uitgevoer?
11 Kort voor die einde van Israel se 40 jaar lange trek in die woestyn het Moses die seëninge gemeld wat hulle kon geniet as hulle ’n weg van gehoorsaamheid aan God sou kies. Hy het ook die vervloekinge opgenoem wat oor die Israeliete sou kom as hulle gekies het om ongehoorsaam aan Jehovah te wees (Deuteronomium 27:11–28:10). Kort ná Israel die Beloofde Land binnegegaan het, het Josua Moses se instruksies in verband met hierdie seëninge en vervloekinge uitgevoer. Ses stamme van Israel het aan die voet van die berg Ebal gestaan, en die ander ses het hulle posisie voor die berg Gerisim ingeneem. Die Leviete het in die vallei tussen die berge gestaan. Die stamme wat voor die berg Ebal gestaan het, het klaarblyklik “Amen” gesê op die vervloekinge wat in daardie rigting gelees is. Die ander het op die seëninge gereageer wat die Leviete in hulle rigting aan die voet van die berg Gerisim gelees het.—Josua 8:30-35.
12. Wat was sommige van die vervloekinge wat deur die Leviete uitgespreek is?
12 Stel jou voor dat jy die Leviete hoor sê: “Vervloek is die man wat ’n gesnede of gegote beeld maak, ’n gruwel vir die HERE, werk van ’n ambagsman se hande, en dit in die geheim opstel. . . . Vervloek is hy wat sy vader of sy moeder verag. . . . Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê. . . . Vervloek is hy wat ’n blinde op die dwaalweg lei. . . . Vervloek is hy wat die reg van vreemdeling, wees en weduwee verdraai. . . . Vervloek is hy wat met die vrou van sy vader gemeenskap het, want hy het die kombers van sy vader opgelig. . . . Vervloek is hy wat met enige dier gemeenskap het. . . . Vervloek is hy wat met sy suster, die dogter van sy vader of die dogter van sy moeder, gemeenskap het. . . . Vervloek is hy wat met sy skoonmoeder gemeenskap het. . . . Vervloek is hy wat sy naaste in die geheim doodslaan. . . . Vervloek is hy wat ’n omkoopgeskenk aanneem om ’n persoon—onskuldige bloed—dood te slaan. . . . Vervloek is hy wat die woorde van hierdie wet nie hou om dit te doen nie.” Ná elke vervloeking sê die stamme wat voor die berg Ebal staan: “Amen.”—Deuteronomium 27:15-26.
13. Hoe sal jy in jou eie woorde sommige van die seëninge beskryf wat die Leviete uitgespreek het?
13 Stel jou nou voor dat jy diegene voor die berg Gerisim hardop hoor reageer op elke seëning terwyl die Leviete uitroep: “Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld. Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee. Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel. Geseënd sal jy wees by jou ingang, en geseënd sal jy wees by jou uitgang.”—Deuteronomium 28:3-6.
14. Wat moes die Israeliete doen om seëninge te ontvang?
14 Wat moes hulle doen om hierdie seëninge te ontvang? Die verslag sê: “As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God” (Deuteronomium 28:1, 2). Ja, as hulle Goddelike seëninge wou geniet, moes hulle aan God gehoorsaam wees. Maar wat van ons wat vandag lewe? Sal ons persoonlik seëninge en lewe kies deur voort te gaan om te “luister na die stem van die HERE”?—Deuteronomium 30:19, 20.
’n Nadere ondersoek
15. Wat is die hoofgedagte van die seëning wat in Deuteronomium 28:3 opgeteken staan, en hoe kan ons daarby baat vind?
15 Kom ons kyk na sekere seëninge wat ’n Israeliet kon geniet omdat hy Jehovah gehoorsaam het. Byvoorbeeld, Deuteronomium 28:3 sê: “Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld.” Om deur God geseën te word, hang nie af van plek of toewysing nie. Sommige voel dalk vasgevang in hulle omstandighede, miskien omdat hulle in ’n armoedige gebied of in ’n oorloggeteisterde land woon. Ander wil Jehovah dalk baie graag in ’n ander plek dien. Sommige Christenmanne is dalk mismoedig omdat hulle nog nie as ’n bedieningskneg of ’n ouer man in die gemeente aangestel is nie. Soms voel Christenvroue mismoedig omdat hulle nie as pioniers of sendelinge aan die voltydse diens kan deelneem nie. Tog sal elkeen wat ‘na Jehovah se stem luister en al sy vereistes sorgvuldig nakom’ nou en tot in alle ewigheid geseën word.
16. Hoe word die beginsel in Deuteronomium 28:4 deur Jehovah se hedendaagse organisasie ondervind?
16 Deuteronomium 28:4 sê: “Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee.” Die gebruik van die enkelvoudige Hebreeuse voornaamwoord wat as “jou” weergegee word, toon dat dit die persoonlike ondervinding van ’n gehoorsame Israeliet sou wees. Wat van gehoorsame knegte van Jehovah wat vandag lewe? Die wêreldwye vermeerdering en uitbreiding wat tans in die organisasie van Jehovah se Getuies ondervind word, is te danke aan God se seën op die ywerige pogings van meer as 5 000 000 verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk (Markus 13:10). En daar is klaarblyklik potensiaal vir groter vermeerdering omdat meer as 13 000 000 mense die herdenking van die Here se Aandmaal in 1995 bygewoon het. Geniet jy Koninkrykseëninge?
Israel se keuse het ’n verskil gemaak
17. Wat het bepaal of iemand deur seëninge of vervloekinge ‘ingehaal’ sou word?
17 Seëninge sou ’n gehoorsame Israeliet as ’t ware volg. Daar is belowe: “Al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal” (Deuteronomium 28:2). Daar is eweneens oor vervloekinge gesê: “Al hierdie vloeke [sal] oor jou kom en jou inhaal” (Deuteronomium 28:15). Sou jy deur seëninge of deur vervloekinge ‘ingehaal’ gewees het as jy ’n eertydse Israeliet was? Dit sou daarvan afgehang het of jy gehoorsaam of ongehoorsaam aan God was.
18. Hoe kon die Israeliete vervloekinge vermy het?
18 In Deuteronomium 28:15-68 word die pynlike gevolge van ongehoorsaamheid as vervloekinge uiteengesit. Sommige daarvan is presies die teenoorgestelde van die seëninge vir gehoorsaamheid wat in Deuteronomium 28:3-14 opgenoem word. Die volk Israel het dikwels die wrange vrugte van vervloekinge gepluk omdat hulle gekies het om valse godsdiens te beoefen (Esra 9:7; Jeremia 6:6-8; 44:2-6). Hoe tragies tog! Sulke pynlike gevolge kon vermy gewees het deur die regte keuse te maak, naamlik gehoorsaamheid aan Jehovah se heilsame wette en beginsels wat duidelik sê wat goed en kwaad is. Baie mense wat vandag lewe, verduur pyn en tragedie omdat hulle gekies het om in stryd met Bybelbeginsels op te tree deur valse godsdiens te beoefen, hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak, dwelmmiddels te gebruik, sterk drank oormatig te gebruik en so meer. Soos in eertydse Israel en Juda het dit Goddelike afkeuring en onnodige hartseer tot gevolg wanneer ’n mens sulke slegte keuses maak.—Jesaja 65:12-14.
19. Beskryf die toestande wat Juda en Israel geniet het wanneer hulle gekies het om Jehovah te gehoorsaam.
19 Slegs wanneer Israel gehoorsaam aan Jehovah was, het hulle oorvloedige seëninge geniet en het daar vrede geheers. Ons lees byvoorbeeld aangaande die dae van koning Salomo: “Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly. . . . Sodat Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berseba, al die dae van Salomo” (1 Konings 4:20-25). Selfs in koning Dawid se tyd, wat deur baie teenstand van vyande van God gekenmerk is, het die nasie Jehovah se ondersteuning en seën geniet wanneer hulle gekies het om die God van waarheid te gehoorsaam.—2 Samuel 7:28, 29; 8:1-15.
20. Watter vertroue het God in mense?
20 Sal jy gehoorsaam of ongehoorsaam wees aan God? Die Israeliete het ’n keuse gehad. Hoewel ons almal sondige neigings van Adam oorgeërf het, het ons ook keusevryheid as ’n gawe ontvang. Ten spyte van die feit dat ons met Satan, hierdie goddelose wêreld en ons onvolmaakthede te kampe het, kán ons die regte keuse maak. Wat meer is, ons Skepper het die vertroue dat daar ondanks elke beproewing en versoeking diegene sal wees wat die regte keuse sal maak, nie net in woord nie maar ook in daad (1 Petrus 5:8-10). Sal jy onder hulle wees?
21. Wat sal in die volgende artikel ondersoek word?
21 In die volgende artikel sal ons ons gesindhede en dade in die lig van voorbeelde uit die verlede kan oorweeg. Mag elkeen van ons met dankbaarheid reageer op God se woorde deur Moses: “Die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe.”—Deuteronomium 30:19.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe het Jehovah seëninge vir sondige mense moontlik gemaak?
◻ Wat is vervloekinge?
◻ Hoe kon die Israeliete seëninge in plaas van vervloekinge ontvang het?
◻ Watter seëninge het Israel geniet omdat hulle God gehoorsaam het?
[Prent op bladsy 15]
Die Israeliete het voor die berg Gerisim en die berg Ebal vergader
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.