Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 6/15 bl. 17-22
  • Seëninge of vervloekinge—voorbeelde vir ons vandag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Seëninge of vervloekinge—voorbeelde vir ons vandag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarskuwing teen afgodediens
  • ’n Waarskuwing teen hoerery
  • Waarskuwing teen opstandige klagtes
  • Waarskuwing teen murmurering
  • Leer, en geniet die seëninge
  • Moenie vergeetagtige hoorders word nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • ‘Doen alles sonder murmurering’
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Ons moet ons toewyding “dag vir dag” naleef
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Seëninge of vervloekinge—Daar is ’n keuse!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 6/15 bl. 17-22

Seëninge of vervloekinge—voorbeelde vir ons vandag

“Hierdie dinge het hulle as voorbeelde bly oorkom, en dit is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het.”—1 KORINTIËRS 10:11.

1. Watter soort ondersoek moet ons doen, net soos ’n mens ’n stuk gereedskap sal ondersoek?

ROES kan ’n stuk gereedskap wat van yster gemaak is, ongemerk onder ’n laag verf begin wegvreet. Die roes word dalk eers ná ’n lang tyd op die oppervlak sigbaar. Die gesindhede en begeertes van ’n mens se hart kan op soortgelyke wyse begin versleg lank voordat dit ernstige gevolge het of selfs deur ander opgemerk word. Soos dit verstandig van ons sal wees om ’n stuk gereedskap te ondersoek om te sien of dit begin roes, so kan ’n noukeurige ondersoek van ons hart en die tydige onderhoud daarvan ons Christelike onkreukbaarheid beskerm. Met ander woorde, ons kan seëninge van God af ontvang, en ons kan Goddelike vervloekinge vermy. Party dink dalk dat die seëninge en vervloekinge wat oor eertydse Israel uitgespreek is van min belang is vir diegene wat in die tyd van die voleinding van hierdie stelsel van dinge lewe (Josua 8:34, 35; Matteus 13:49, 50; 24:3). Dit is egter nie so nie. Ons kan groot voordeel trek uit die waarskuwende voorbeelde van Israel, soos in 1 Korintiërs hoofstuk 10 uiteengesit word.

2. Wat sê 1 Korintiërs 10:5, 6 oor Israel se ondervindinge in die wildernis?

2 Die apostel Paulus vergelyk die Israeliete onder Moses met Christene onder Christus (1 Korintiërs 10:1-4). Hoewel die volk Israel die Beloofde Land kon binnegaan, “het God teenoor die meeste van hulle nie sy goedkeuring geopenbaar nie, want hulle is in die wildernis neergevel”. Paulus het dus vir mede-Christene gesê: “En hierdie dinge het voorbeelde vir ons geword, dat ons nie mense moet wees wat skadelike dinge begeer, net soos hulle dit begeer het nie” (1 Korintiërs 10:5, 6). Begeertes word in die hart gekoester, daarom moet ons ag slaan op die waarskuwende voorbeelde wat Paulus aanhaal.

Waarskuwing teen afgodediens

3. Hoe het die Israeliete met betrekking tot die goue kalf gesondig?

3 Paulus se eerste waarskuwing is: “Moet ook nie, soos party van hulle, afgodedienaars word nie; net soos daar geskrywe staan: ‘Die volk het gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om ’n vrolike tyd te hê’” (1 Korintiërs 10:7). Hierdie waarskuwende voorbeeld hou verband met die Israeliete wat weer die weë van Egipte begin volg het en ’n afgodiese goue kalf gemaak het (Exodus, hoofstuk 32). Die dissipel Stefanus het die onderliggende probleem geïdentifiseer: “Aan [Moses, God se verteenwoordiger] het ons voorvaders geweier om gehoorsaam te word, maar hulle het hom weggestoot en hulle het in hulle harte na Egipte teruggedraai deur vir Aäron te sê: ‘Maak vir ons gode om voor ons uit te gaan. Want hierdie Moses, wat ons uit die land Egipte uitgelei het—ons weet nie wat met hom gebeur het nie.’ Toe het hulle in daardie dae ’n kalf gemaak en ’n offerande aan die afgod gebring en hulle in die werke van hulle hande begin verheug” (Handelinge 7:39-41). Let op dat die weerspannige Israeliete “in hulle harte” verkeerde begeertes gekoester het wat tot afgodediens gelei het. ‘Hulle het ’n kalf gemaak en ’n offerande aan die afgod gebring.’ Hulle het hulle verder “in die werke van hulle hande begin verheug”. Hulle het musiek gemaak, gesing, gedans, geëet en gedrink. Die afgodediens was klaarblyklik aanloklik en vermaaklik.

4, 5. Watter afgodiese gebruike moet ons vermy?

4 Antitipiese Egipte—Satan se wêreld—is feitlik aanbidders van vermaak (1 Johannes 5:19; Openbaring 11:8). Dit verafgood akteurs, sangers en sportsterre, asook hulle danse, hulle musiek, hulle idees van pret en plesier. Talle het al in die versoeking gekom om hulle aan vermaaklikheid oor te gee hoewel hulle terselfdertyd sê dat hulle Jehovah aanbid. Wanneer ’n Christen weens ’n oortreding tereggewys moet word, kan sy geestelike swak toestand dikwels teruggevoer word na alkoholgebruik, dansery en vermaak wat op die een of ander manier aan afgodediens grens (Exodus 32:5, 6, 17, 18). Party soorte vermaak is heilsaam en genotvol. Maar vandag bevredig die meeste wêreldse musiek, danse, rolprente en video’s verderflike vleeslike begeertes.

5 Ware Christene swig nie voor afgodediens nie (2 Korintiërs 6:16; 1 Johannes 5:21). Mag elkeen van ons net so versigtig wees om nie verslaaf te raak aan afgodiese vermaak en daardeur die gevaar te loop om die skadelike gevolge te dra van ’n lewe wat om wêreldse plesier draai nie. As ons ons aan wêreldse invloede blootstel, kan skadelike begeertes en gesindhede byna onmerkbaar in ons verstand en hart posvat. Wanneer dit nie reggestel word nie, kan dit uiteindelik tot gevolg hê dat ’n mens ‘neergevel word in die wildernis’ van Satan se stelsel.

6. Watter positiewe stappe moet ons dalk doen wat vermaak betref?

6 Soos Moses tydens die voorval met die goue kalf, sê “die getroue en verstandige slaaf” as ’t ware: “Wie is aan Jehovah se kant? Kom na my toe!” As ons positiewe stappe doen om te toon dat ons ware aanbidding onversetlik ondersteun, kan dit lewensreddend wees. Moses se stam van Levi het sonder versuim opgetree om verderflike invloede uit te delg (Matteus 24:45-47; Exodus 32:26-28, NW). Jy moet dus jou keuse van vermaak, musiek, video’s en so meer sorgvuldig ondersoek. As dit op die een of ander manier verdorwe is, moet jy standpunt inneem aan Jehovah se kant. Deur biddend op God te vertrou, moet jy veranderinge in jou keuse van vermaak en musiek maak en die geestelik skadelike materiaal vernietig, net soos Moses die goue kalf vernietig het.—Exodus 32:20; Deuteronomium 9:21.

7. Hoe kan ons die figuurlike hart beskerm?

7 Hoe kan ons verderwing van die hart teëwerk? Deur God se Woord ywerig te bestudeer en die waarhede daarvan in ons verstand en hart te laat insink (Romeine 12:1, 2). Ons moet Christelike vergaderinge natuurlik gereeld bywoon (Hebreërs 10:24, 25). As ons vergaderinge bywoon sonder om aktief daaraan deel te neem, is dit soos om oor ’n roesplek te verf. Dit gee ons dalk ’n kortstondige glans, maar dit los nie die onderliggende probleem op nie. Ons moet eerder deur voorbereiding, bepeinsing en aktiewe deelname tydens vergaderinge verderflike invloede wat dalk in die diepste dele van ons figuurlike hart begin posvat met wortel en tak verwyder. Dit sal ons help om aan God se Woord vas te hou en sal ons versterk om toetse van ons geloof te verduur en “in alle opsigte sonder gebrek” te word.—Jakobus 1:3, 4; Spreuke 15:28.

’n Waarskuwing teen hoerery

8-10. (a) Na watter waarskuwende voorbeeld verwys 1 Korintiërs 10:8? (b) Hoe kan ons Jesus se woorde in Matteus 5:27, 28 tot ons voordeel toepas?

8 In Paulus se volgende voorbeeld word ons gemaan: “Laat ons ook nie hoerery beoefen, soos party van hulle hoerery gepleeg het nie, sodat hulle geval het, drie-en-twintigduisend van hulle op een dag” (1 Korintiërs 10:8).a Die apostel het na die tyd verwys toe die Israeliete voor valse gode neergebuig het en ‘gehoereer het met die dogters van die Moabiete’ (Numeri 25:1-9). Geslagsonsedelikheid is dodelik! As ons onsedelike gedagtes en begeertes vrye teuels gee, is dit soos om die hart te laat “roes”. Jesus het gesê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar ek sê vir julle dat elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”—Matteus 5:27, 28.

9 Die gevolg van die verdorwe denke van die ongehoorsame engele voor die Vloed in Noag se dag getuig van wat gebeur as iemand ‘kyk om hartstog vir ’n vrou te hê’ (Genesis 6:1, 2). Onthou ook dat een van die tragiesste gebeurtenisse in koning Dawid se lewe veroorsaak is omdat hy aangehou het om onbehoorlik na ’n vrou te kyk (2 Samuel 11:1-4). In teenstelling hiermee het die regverdige getroude man Job ‘’n verbond met sy oë gesluit dat hy nie sou ag gee op ’n jonkvrou nie’, en sodoende het hy onsedelikheid vermy en sy onkreukbaarheid gehandhaaf (Job 31:1-3, 6-11). Die oë kan met die vensters van die hart vergelyk word. En dit is uit ’n verdorwe hart waaruit baie goddelose dinge kom.—Markus 7:20-23.

10 As ons Jesus se woorde toepas, sal ons nie verkeerde gedagtes vrye teuels gee deur na pornografiese lektuur te kyk of deur onsedelike gedagtes teenoor ’n mede-Christen, ’n werksmaat of enigiemand anders te koester nie. Roes word nie uit metaal verwyder deur bloot die geroeste dele af te borsel nie. Moet dus nie onsedelike gedagtes en neigings ligtelik ignoreer asof dit van min belang is nie. Jy moet besliste stappe doen om jou van onsedelike neigings te bevry. (Vergelyk Matteus 5:29, 30.) Paulus vermaan medegelowiges: “Maak . . . julle liggaamsdele wat op die aarde is dood wat betref hoerery, onreinheid, geslagslus, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodery is. Weens dié dinge kom die gramskap van God.” Ja, weens dinge soos geslagsonsedelikheid “kom die gramskap van God” as blyk van sy vervloeking. Ons moet dus ons liggaamsdele ‘doodmaak’ wat hierdie dinge betref.—Kolossense 3:5, 6.

Waarskuwing teen opstandige klagtes

11, 12. (a) Watter waarskuwing word in 1 Korintiërs 10:9 gegee, en na watter gebeurtenis word verwys? (b) Watter uitwerking moet Paulus se waarskuwing op ons hê?

11 Paulus waarsku vervolgens: “Laat ons Jehovah ook nie op die proef stel, soos party van hulle hom op die proef gestel het nie, sodat hulle deur die slange omgekom het” (1 Korintiërs 10:9). Terwyl hulle in die woestyn naby die grens van Edom rondgetrek het, het die Israeliete “teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos”, die manna wat wonderbaarlik voorsien is (Numeri 21:4, 5). Dink net! Daardie Israeliete het ‘teen God gespreek’ en sy voorsienings veragtelik genoem!

12 Die Israeliete het deur hulle klagtes Jehovah se geduld op die proef gestel. Hulle is nie ongestraf gelaat nie, want Jehovah het giftige slange onder hulle ingestuur, en baie het aan slangbyte gesterf. Nadat die volk berou getoon het en Moses om hulle ontwil voorspraak gedoen het, is die plaag stopgesit (Numeri 21:6-9). Hierdie gebeurtenis moet beslis vir ons as ’n waarskuwing dien om nie ’n opstandige, klaende gees te openbaar nie, veral teen God en sy teokratiese reëlings.

Waarskuwing teen murmurering

13. Waarteen waarsku 1 Korintiërs 10:10, en watter opstand het Paulus in gedagte gehad?

13 Paulus haal sy laaste voorbeeld aan wat met die Israeliete in die woestyn verband hou en skryf: “Moet ook nie murmureerders wees, net soos party van hulle gemurmureer het nie, sodat hulle deur die vernietiger omgekom het” (1 Korintiërs 10:10). Opstandigheid het uitgebreek toe Korag, Datan, Abiram en hulle metgeselle onteokraties opgetree het en Moses en Aäron se gesag betwis het (Numeri 16:1-3). Ná die vernietiging van die rebelle het die Israeliete begin murmureer. Dit was omdat hulle begin redeneer het dat die vernietiging van die opstandelinge onregverdig was. Numeri 16:41 sê: “Die volgende dag het die hele vergadering van die kinders van Israel teen Moses en Aäron gemurmureer en gesê: Júlle het die volk van die HERE gedood.” Omdat hulle foutgevind het met die manier waarop regspraak by daardie geleentheid uitgeoefen is, het 14-700 Israeliete omgekom in ’n plaag wat God gestuur het.—Numeri 16:49.

14, 15. (a) Wat was een van die sondes van die “goddelose mense” wat in die gemeente ingeglip het? (b) Wat kan ons leer uit die voorval waarby Korag betrokke was?

14 In die eerste eeu G.J. het “goddelose mense” wat valse leraars sowel as murmureerders was in die Christengemeente ingeglip. Hierdie manne het ‘heerskappy verontagsaam en smadend gepraat van heerlikes’, gesalfde manne aan wie die geestelike toesig van die gemeente destyds toevertrou is. Die dissipel Judas het ook aangaande die goddelose afvalliges gesê: “Hierdie mense is murmureerders, klaers oor hulle lewenslot, wat volgens hulle eie begeertes handel” (Judas 3, 4, 8, 16). Vandag word sommige persone murmureerders omdat hulle toelaat dat ’n geestelik verderflike gesindheid in hulle hart ontwikkel. Hulle vestig dikwels die aandag op die onvolmaakthede van diegene wat toesig hou oor die gemeente en begin teen hulle murmureer. Hulle murmurering en klaery kan selfs daartoe lei dat hulle die publikasies van die ‘getroue slaaf’ kritiseer.

15 Dit is gepas om opregte vrae oor ’n skriftuurlike onderwerp te vra. Maar sê nou ons ontwikkel ’n negatiewe gesindheid wat geopenbaar word in kritiese besprekings onder ’n intieme groep vriende? Dit sal goed wees om ons af te vra: ‘Waar gaan dit waarskynlik eindig? Sal dit nie baie beter wees om op te hou murmureer en nederig om wysheid te bid nie?’ (Jakobus 1:5-8; Judas 17-21). Korag en sy ondersteuners wat teen Moses en Aäron se gesag in opstand gekom het, was dalk so oortuig daarvan dat hulle standpunt geldig was dat hulle nie hulle beweegredes ondersoek het nie. Hulle was nietemin heeltemal verkeerd. So ook die Israeliete wat oor die vernietiging van Korag en die ander opstandelinge gemurmureer het. Hoe verstandig is dit tog om ons deur sulke voorbeelde te laat beweeg om ons motiewe te ondersoek, murmurering of klaery te verdryf en Jehovah toe te laat om ons te louter!—Psalm 17:1-3, NW.

Leer, en geniet die seëninge

16. Wat is die kern van die vermaning in 1 Korintiërs 10:11, 12?

16 Onder Goddelike inspirasie sluit Paulus die lys van waarskuwende boodskappe af met die vermaning: “En hierdie dinge het hulle as voorbeelde bly oorkom, en dit is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het. Gevolglik moet hy wat dink dat hy staan, oppas dat hy nie val nie” (1 Korintiërs 10:11, 12). Mag ons ons posisie in die Christengemeente nie as vanselfsprekend aanvaar nie.

17. Wat moet ons doen as ons ’n verkeerde beweegrede in ons hart bespeur?

17 Soos yster geneig is om te roes, het ons as nakomelinge van sondige Adam eweneens ’n oorgeërfde neiging tot slegtheid (Genesis 8:21; Romeine 5:12). Ons moet dus nie mismoedig wees as ons ’n verkeerde beweegrede in ons hart bespeur nie. Laat ons eerder besliste stappe doen. Wanneer yster aan vogtige lug of korroderende toestande blootgestel word, roes dit baie vinniger. Ons moenie toelaat dat ons aan die “lug” van Satan se wêreld, met sy afskuwelike vermaak, wydverspreide onsedelikheid en negatiewe gedagtepatroon, blootgestel word nie.—Efesiërs 2:1, 2.

18. Wat het Jehovah met betrekking tot die verkeerde neigings van die mensdom gedoen?

18 Jehovah het die mensdom van ’n middel voorsien om die verkeerde neigings wat ons oorgeërf het, teë te werk. Hy het sy enigverwekte Seun gegee sodat diegene wat geloof in hom beoefen die ewige lewe kan hê (Johannes 3:16). As ons Jesus se voetstappe noukeurig volg en ’n Christelike persoonlikheid openbaar, sal ons ’n seën vir ander wees (1 Petrus 2:21). Ons sal ook nie vervloekinge nie, maar seëninge van God af ontvang.

19. Hoe kan ons daarby baat vind as ons skriftuurlike voorbeelde in ag neem?

19 Hoewel ons wat vandag lewe net so geneig is om foute te maak soos die eertydse Israeliete, het ons God se volledige geskrewe Woord om ons te lei. Daaruit leer ons van Jehovah se handelinge met die mensdom sowel as van sy eienskappe wat toegelig word deur die voorbeeld van Jesus, ‘die weerspieëling van God se heerlikheid en die presiese afdruksel van Sy wese’ (Hebreërs 1:1-3; Johannes 14:9, 10). Deur gebed en ywerige studie van die Skrif kan ons “die denke van Christus” hê (1 Korintiërs 2:16). Wanneer ons voor versoekings en ander toetse van ons geloof te staan kom, kan ons daarby baat vind om eertydse skriftuurlike voorbeelde en veral die voortreflike voorbeeld van Jesus Christus in ag te neem. As ons dit doen, sal ons nie die gevolge van Goddelike vervloekinge hoef te ondervind nie. Ons sal eerder nou Jehovah se guns geniet en sy seëninge tot in ewigheid.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 15 Julie 1992, bladsy 4.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe kan ons Paulus se raad toepas om nie afgodedienaars te word nie?

◻ Wat kan ons doen sodat ons sal ag slaan op die apostel se waarskuwing teen hoerery?

◻ Waarom moet ons murmurering en klaery vermy?

◻ Hoe kan ons Goddelike seëninge ontvang en nie vervloekinge nie?

[Prent op bladsy 18]

As ons Goddelike seëninge wil hê, moet ons afgodediens vermy

[Prente op bladsy 20]

Net soos roes verwyder moet word, moet ons positiewe stappe doen om verkeerde begeertes uit ons hart te verwyder

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel