Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 7/1 bl. 28-31
  • Wie verdien om Rabbi genoem te word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie verdien om Rabbi genoem te word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Was Moses ’n rabbi?
  • Volg die Meester na
  • Rabbi’s deur die eeue
  • “Moet julle nie Rabbi laat noem nie”
  • Volg die Voorbeeld na
  • Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie
    Die mensdom se soeke na God
  • Die mondelinge wet—Waarom is dit op skrif gestel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Wat is die Tora?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wat is die Talmoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 7/1 bl. 28-31

Wie verdien om Rabbi genoem te word?

’NNIKSVERMOEDENDE toeris se kans om betyds by die lughawe op te daag, was maar skraal. Honderde polisiemanne het die verkeer probeer reël terwyl hulle ’n oog gehou het oor die meer as 300 000 rouklaers wat in Jerusalem se strate saamgedrom het. The Jerusalem Post het gesê dit was “’n begrafnisoptog so groot soos dié wat gewoonlik net gesien word in die geval van presidente, konings of totalitêre diktators”. Wie kon die oorsaak van soveel eerbetoning wees dat dit Israel se hoofstad ure lank tot stilstand gebring het? ’n Geëerde rabbi. Waarom dwing die amp van rabbi soveel eerbied en verering onder die Jode af? Wanneer het die term “rabbi” in gebruik geraak? Op wie is dit met reg van toepassing?

Was Moses ’n rabbi?

Die geëerdste naam in Judaïsme is Moses, die middelaar van Israel se Wetsverbond. Vroom Jode noem hom “Moses ‘ons Rabbi’”. Maar die titel “Rabbi” word nêrens in die Bybel met verwysing na Moses gebruik nie. Trouens, die term “rabbi” kom glad nie in die Hebreeuse Geskrifte voor nie. Maar hoe het dit dan gebeur dat die Jode op dié manier na Moses begin verwys het?

Volgens die Hebreeuse Geskrifte is die verantwoordelikheid en gesag om die Wet aan ander te leer en te verduidelik aan die nakomelinge van Aäron, die priesters van die stam van Levi, gegee (Levitikus 10:8-11; Deuteronomium 24:8; Maleagi 2:7). Maar in die tweede eeu v.G.J. het ’n stille omwenteling in Judaïsme begin, en dit het Joodse denke sedertdien onherroeplik beïnvloed.

Aangaande hierdie geestelike hervorming skryf Daniel Jeremy Silver in A History of Judaism: “In [daardie] tyd het ’n klas niepriesterlike skrifgeleerdes en ander geleerdes die wettigheid van die priesterklas se monopolie om die Tora [Mosaïese Wet] te vertolk begin betwis. Almal was dit eens dat priesters nodig was om dienste in die Tempel te verrig, maar waarom moet hulle die laaste sê oor sake betreffende die Tora hê?” Wie was die aanstigters wat die priesterklas se gesag betwis het? ’n Nuwe groep in Judaïsme wat die Fariseërs genoem is. Silver sê verder: “Die Fariseërs het toelating tot hulle akademies op verdienste, nie op geboorte [priesterlike afkoms] nie, gebaseer, en hulle het ’n nuwe klas Jode in godsdiensleierskap ingebring.”

Teen die eerste eeu G.J. het die gegradueerdes aan hierdie Fariseïese akademies as leermeesters, of meesters, van die Joodse wet begin bekend staan. As blyk van eerbied het ander Jode na hulle begin verwys as “my leermeester”, of “my meester”, in Hebreeus, rabbi.

Niks kon groter regverdiging aan hierdie nuwe titel gegee het nie as om dit op die een wat as die grootste leermeester in die Joodse geskiedenis beskou is, naamlik Moses, van toepassing te maak nie. Dit sou tot gevolg hê dat daar selfs minder klem op die priesterdom gelê sou word terwyl dit die aansien van die al hoe invloedryker Fariseïese leierskap sou verhoog. Moses is dus meer as 1 500 jaar ná sy dood tot “Rabbi” benoem.

Volg die Meester na

Hoewel die uitdrukking “rabbi” (“my meester”) soms deur die volksmassa gebruik is om na ander leraars vir wie hulle agting gehad het te verwys, is die term gewoonlik met verwysing na die prominente leraars onder die Fariseërs, “die wysgere”, gebruik. Met die vernietiging van die tempel in 70 G.J., wat in werklikheid die gesag van die priesterdom beëindig het, het die Fariseïese rabbi’s die onbetwiste leiers van Judaïsme geword. Hulle onbetwiste posisie het die ontwikkeling van ’n soort kultus aangemoedig wat om die rabbynse wysgere gedraai het.

In ’n bespreking van hierdie oorgangstyd in die eerste eeu G.J. sê professor Dov Zlotnick: “‘Navolging van die Wysgere’ het belangriker as die bestudering van die Tora geword.” Die Joodse geleerde Jacob Neusner verduidelik verder: “Die ‘dissipel van die wysgere’ is ’n student wat hom aan ’n rabbi verbind het. Hy doen dit omdat hy die ‘Tora’ wil leer. . . . Die Tora word nie deur middel van die wet geleer nie, maar deur te sien hoe die wet in die handelswyse en dade van die lewende wysgere uitgeleef word. Hulle leer die wet aan ander deur wat hulle doen, nie alleen deur wat hulle sê nie.”

Die Talmoediese geleerde Adin Steinsaltz beaam dit en skryf: “Die wysgere het self gesê: ‘Alledaagse gesprekke, grappe of terloopse uitlatings van wysgere moet bestudeer word.’” Tot watter mate kon dit toegepas word? Steinsaltz sê: “’n Uiterste voorbeeld hiervan was die dissipel wat glo onder die bed van sy groot leraar weggekruip het om uit te vind hoe hy met sy vrou verkeer. Toe hy oor sy nuuskierigheid uitgevra is, het die jong dissipel geantwoord: ‘Dit is Tora en verdien om bestudeer te word’, ’n benadering wat deur rabbi’s en studente as geldig aanvaar word.”

Met die klem op die rabbi pleks van op die Tora—met die dat die Tora deur middel van die rabbi geleer word—het Judaïsme sedert die eerste eeu G.J. ’n rabbi-georiënteerde godsdiens geword. ’n Mens het nader aan God gekom, nie deur die geïnspireerde geskrewe Woord nie, maar deur ’n persoonlike voorbeeld, ’n meester, die rabbi. Die natuurlike gevolg was dus dat die klem verskuif het van die geïnspireerde Skrif na die mondelinge wet en oorleweringe wat deur hierdie rabbi’s geleer is. Sedertdien fokus Joodse lektuur, soos die Talmoed, meer op die besprekings, verhale en gedrag van die rabbi’s as op die verklarings van God.

Rabbi’s deur die eeue

Hoewel die vroeë rabbi’s baie gesag en invloed uitgeoefen het, het hulle nie ’n bestaan uit hulle godsdiensbedrywighede gemaak nie. Die Encyclopaedia Judaica sê: “Die rabbi van die Talmoed was . . . heeltemal anders as die hedendaagse draer van die titel. Die talmoediese rabbi het die Bybel en die Mondelinge Wet verklaar en uitgelê en het amper sonder uitsondering ’n beroep gehad waarmee hy sy brood verdien het. Dit was eers in die Middeleeue dat die rabbi . . . die leermeester, prediker en geestelike hoof van die Joodse gemeente of gemeenskap geword het.”

Toe die rabbi’s hulle posisie in ’n besoldigde beroep begin verander het, het party hulle daarteen uitgespreek. Maimonides, die gevierde 12de-eeuse rabbi wat sy bestaan as ’n geneesheer gemaak het, het teen sulke rabbi’s uitgevaar. “[Hulle] het geldelike eise aan individue en gemeenskappe gestel en het mense, in die opperste dwaasheid, laat dink dat dit verpligtend en gepas is om wysgere en geleerdes en mense wat die Tora bestudeer [finansieel] te help, en gevolglik is hulle Tora hulle ambag. Maar dit alles is verkeerd. Daar is nie in die Tora of in die gesegdes van die wysgere ’n enkele woord wat dit regverdig nie” (Commentary on the Mishnah, Avot 4:5). Maar latere geslagte van rabbi’s het nie op Maimonides se veroordeling ag geslaan nie.

Namate Judaïsme die hedendaagse era ingegaan het, het dit in ’n hervormde, konserwatiewe en ortodokse faksie verdeel. Vir baie Jode het ander sake belangriker as godsdiensopvattings en -gebruike geword. Die posisie van die rabbi is gevolglik verswak. Die rabbi het hoofsaaklik ’n geordende hoof van ’n gemeente geword, wat as ’n betaalde, professionele leraar en raadgewer vir lede van sy groep optree. Maar onder die ultra-ortodokse Chassidiese groepe het die konsep van die rabbi as meester en voorbeeld selfs verder ontwikkel.

Let op die opmerkings van Edward Hoffman in sy boek oor die Chassidiese Chabad-Lubavitch-beweging: “Die vroeë Chassidim het ook beklemtoon dat daar in elke geslag ’n enkele Joodse leier is, ’n zaddik [’n regverdige], wat die ‘Moses’ van sy tyd is, een wie se geleerdheid en toewyding aan ander ongeëwenaard is. Elke groep Chassidim het gemeen dat hulle Rebbe [Jiddisj vir “rabbi”] deur sy ontsagwekkende vroomheid selfs die Almagtige se verordeninge kan beïnvloed. Nie alleen is daar na hom opgesien as ’n voorbeeld weens sy openbarende redevoerings nie, maar daar is gemeen dat sy manier van lewe (‘hoe hy sy skoenveters vasmaak’, soos dit gestel is) die mensdom verhef en subtiele aanduidings van die weg na God gee.”

“Moet julle nie Rabbi laat noem nie”

Jesus, die eerste-eeuse Jood wat die Christelike godsdiens gestig het, het in die tyd gelewe toe die Fariseïese konsep van die rabbi Judaïsme begin oorheers het. Hoewel hy nie ’n Fariseër was nie en nie in hulle akademies opgelei is nie, is hy ook Rabbi genoem.—Markus 9:5; Johannes 1:38; 3:2.

Jesus het die rabbynse neiging in Judaïsme veroordeel en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het op die stoel van Moses gaan sit. Hulle hou van die vernaamste plek by aandmaaltye en die voorste sitplekke in die sinagoges en die begroetinge op die markpleine en om deur die mense Rabbi genoem te word. Maar julle, moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle leermeester, terwyl julle almal broers is.”—Matteus 23:2, 6-8.

Jesus het teen die onderskeid tussen geestelikes en leke gewaarsku wat in Judaïsme begin ontwikkel het. Hy het sulke onbehoorlike verering van mense veroordeel. “Een is julle leermeester”, het hy moedig gesê. Wie was hierdie Een?

Moses, “vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het” en wat deur die wysgere self “ons Rabbi” genoem is, was ’n onvolmaakte man. Selfs hy het foute gemaak (Deuteronomium 32:48-51; 34:10; Prediker 7:20). Pleks van die aandag op Moses as die vernaamste voorbeeld te vestig, het Jehovah vir hom gesê: “’n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.”—Deuteronomium 18:18, 19.

Bybelprofesieë bewys dat hierdie woorde hulle vervulling in Jesus, die Messias, gehad het.a Nie alleen was Jesus “soos” Moses nie; hy was groter as Moses (Hebreërs 3:1-3). Die Skrif toon dat Jesus as ’n volmaakte man gebore is, en anders as Moses het hy God “sonder sonde” gedien.—Hebreërs 4:15.

Volg die Voorbeeld na

Die noukeurige bestudering van elke daad en woord van ’n rabbi het Jode nie nader aan God gebring nie. Hoewel ’n onvolmaakte mens ’n voorbeeld van getrouheid kan wees, sal ons sy foute en onvolmaakthede sowel as sy goeie eienskappe navolg indien ons sy elke daad bestudeer en navolg. Pleks van ons Skepper eer te gee, sal ons dan onbehoorlike eer aan die een gee wat geskep is.—Romeine 1:25.

Maar Jehovah het ’n Voorbeeld vir die mensdom voorsien. Volgens die Skrif het Jesus ’n voormenslike bestaan gehad. Trouens, hy word “die beeld van die onsigbare God, die eersgeborene van die hele skepping” genoem (Kolossense 1:15). Aangesien Jesus tallose millenniums in die hemel as God se “meesterwerker” gedien het, is hy in die beste posisie om ons te help om Jehovah te leer ken.—Spreuke 8:22-30, NW; Johannes 14:9, 10.

Petrus kon dus skryf: ‘Christus het vir julle gely en het vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg’ (1 Petrus 2:21). Die apostel Paulus het Christene aangemoedig om “die blik stip gerig [te] hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus”. Hy het ook verduidelik dat ‘in hom al die skatte van wysheid en van kennis sorgvuldig verborge is’ (Hebreërs 12:2; Kolossense 2:3). Geen ander mens—nie Moses of enige ander rabbynse wysgeer—verdien sulke aandag nie. As enigiemand noukeurig nagevolg moet word, dan is dit Jesus. Knegte van God het geen behoefte aan ’n titel soos rabbi nie, veral nie in die lig van sy hedendaagse konnotasie nie, maar as enigiemand verdien het om Rabbi genoem te word, dan was dit Jesus.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “‘Ons het die Messias gevind’!” in Die Wagtoring van 1 Oktober 1992, bladsye 9-14, vir verdere bewys dat Jesus die beloofde Messias is.

[Foto-erkenning op bladsy 28]

© Brian Hendler 1995. All Rights Reserved

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel