Hoe moet ons tot God bid?
TOE ’n dissipel Jesus gevra het om hom te leer bid, het hy nie geweier om dit te doen nie. Volgens Lukas 11:2-4 was sy antwoord: “Wanneer julle bid, sê: Vader, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Gee ons hierdie dag ons daaglikse brood. En vergewe ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat by ons in die skuld is. En lei ons nie in versoeking nie” (Katolieke Douay Version). Dit staan algemeen bekend as die Onse Vader. Dit bevat ’n magdom inligting.
Om maar een ding te noem, die heel eerste woord sê vir ons tot wie ons ons gebede moet rig—tot ons Vader. Let op dat Jesus hoegenaamd geen ruimte gelaat het vir gebede tot ’n ander persoon, beeld, “heilige” of selfs tot hom nie. God het per slot van rekening gesê: “Ek sal nie my heerlikheid aan ’n ander gee, of my lof aan gesnede dinge nie” (Jesaja 42:8, Dy). Ons hemelse Vader luister derhalwe nie na gebede wat tot enigiets of enigiemand anders as tot hom gerig word nie, ongeag hoe opreg die aanbidder dalk is. In die Bybel word net Jehovah God die “Hoorder van die gebed” genoem.—Psalm 65:3.
Party sê dalk dat “heiliges” bloot vir hulle as voorsprake by God optree. Maar Jesus self het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie. En wat julle ook al in my naam vra, dit sal ek doen, sodat die Vader in verband met die Seun verheerlik kan word” (Johannes 14:6, 13). Jesus het dus die idee uitgeskakel dat enigiemand wat ’n heilige genoem word as voorspraak kan dien. Let ook op wat die apostel Paulus aangaande Christus gesê het: “Hy het nie net vir ons gesterf nie—hy het uit die dood opgestaan, en daar aan God se regterhand staan hy en pleit vir ons.” “Hy lewe vir ewig om vir almal wat deur hom na God kom voorspraak te doen.”—Romeine 8:34; Hebreërs 7:25, Katolieke Jerusalem Bible.
Die naam wat geheilig moet word
Die volgende woorde van Jesus se gebed was: “Laat u naam geheilig word.” Hoe kan ’n mens die naam van God heilig, oftewel afsonder, tensy jy weet wat dit is en dit gebruik? God word meer as 6 000 keer in die “Ou Testament” deur die persoonlike naam Jehovah geïdentifiseer.
’n Voetnoot oor Exodus 6:3 in die Katolieke Douay Version sê aangaande God se naam: “Sommige moderniste het die naam Jehovah versin . . . , want die ware uitspraak van die naam [van God], wat in die Hebreeuse teks is, het weens langdurige onbruik nou heeltemal verlore gegaan.” Daarom gebruik die Katolieke New Jerusalem Bible die naam Yahweh. Hoewel party geleerdes daardie uitspraak verkies, is “Jehovah” ’n gegronde en langgevestigde manier om die Goddelike naam in Afrikaans uit te spreek. Ander tale het hulle eie manier om die Goddelike naam uit te spreek. Die hoofsaak is dat ons die naam gebruik sodat ons dit kan heilig. Het jou kerk jou geleer om die naam Jehovah te gebruik wanneer jy bid?
Gepaste onderwerpe vir gebed
Jesus het sy dissipels vervolgens leer bid: “Laat u koninkryk kom.” Die Evangelie van Matteus voeg die woorde by: “Laat u wil op die aarde geskied net soos in die hemel” (Matteus 6:10, Dy). God se Koninkryk is ’n regering in die hande van Jesus Christus (Jesaja 9:5, 6). Volgens Bybelprofesieë sal dit binnekort alle menseregerings vervang en ’n era van wêreldwye vrede inlei (Psalm 72:1-7; Daniël 2:44; Openbaring 21:3-5). Ware Christene bid dus gereeld dat die Koninkryk moet kom. Het jou kerk jou geleer om dit te doen?
Dit is interessant dat Jesus ook getoon het dat ons gebede persoonlike sake waaroor ons besorg is, kan insluit. Hy het gesê: “Gee ons hierdie dag ons daaglikse brood. En vergewe ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat by ons in die skuld is. En lei ons nie in versoeking nie” (Lukas 11:3, 4, Dy). Jesus se woorde impliseer dat ons God se leiding in alledaagse sake kan vra, dat ons Jehovah oor enigiets kan nader wat ons dalk bekommer of wat ons gemoedsrus versteur. As ons gereeld op hierdie manier versoeke tot God rig, help dit ons om te besef hoe afhanklik ons van hom is. Ons word sodoende meer bewus van sy invloed in ons lewe. Dit is eweneens voordelig om God daagliks te vra om ons oortredinge te vergewe. Sodoende word ons meer bewus van ons swakhede—en verdraagsamer teenoor ander se tekortkominge. Jesus se aansporing dat ons bid vir verlossing van versoeking is ook gepas, veral in die lig van die sedelike verdorwenheid van hierdie wêreld. In ooreenstemming met daardie gebed is ons versigtig om omstandighede en situasies te vermy wat tot sonde kan lei.
Dit ly dus geen twyfel nie dat die Onse Vader vir ons baie sê oor gebede wat God behaag. Maar was dit Jesus se bedoeling dat ons hierdie gebed neem en dit eenvoudig gereeld opsê?
Verdere raad oor gebed
Jesus het verdere instruksies oor gebed gegee. In Matteus 6:5, 6 lees ons: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die huigelaars wees nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die breë strate te staan en bid om deur die mense gesien te kan word. . . . Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer in, en nadat jy jou deur toegemaak het, bid tot jou Vader wat in die geheim is; dan sal jou Vader wat in die geheim toekyk jou vergoed.” Hierdie woorde leer ons dat gebed nie op ’n vertonerige, opsigtelike manier gedoen moet word om iemand te beïndruk nie. Stort jy jou hart voor Jehovah uit wanneer jy alleen is, soos die Bybel ons aanspoor om te doen?—Psalm 62:9.
Jesus het hierdie waarskuwing gegee: “Moenie in julle gebede babbel soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle hulleself hoorbaar maak deur baie woorde te gebruik” (Matteus 6:7, JB). Dit is duidelik dat Jesus nie die memorisering van gebede goedgekeur het nie—en nog minder dat mense dit uit die een of ander boek lees. Sy woorde skakel ook die gebruik van die rosekrans uit.
’n Katolieke misboek erken: “Ons beste gebed is moontlik ons eie spontane gedagtes wanneer ons ons tot hom wend uit dankbaarheid of in nood, in tye van hartseer of in ons gereelde daaglikse verering van hom.” Jesus se eie gebede was spontaan, nie iets wat hy gememoriseer het nie. Lees byvoorbeeld die gebed van Jesus wat in Johannes hoofstuk 17 opgeteken is. Dit stem ooreen met die modelgebed en beklemtoon Jesus se begeerte om te sien dat Jehovah se naam geheilig word. Jesus se gebed was spontaan en het uit die diepte van sy hart gekom.
Gebede waarna God luister
As jy geleer is om gememoriseerde gebede te doen, om tot “heiliges” of tot beelde te bid of om godsdiensvoorwerpe, soos die rosekrans, te gebruik, kan dit aanvanklik intimiderend lyk om te bid soos Jesus gesê het ons moet. Die sleutel is egter om God te leer ken—sy naam, sy voornemens, sy persoonlikheid. Jy kan dit doen deur ’n deeglike studie van die Bybel te maak (Johannes 17:3). Jehovah se Getuies is gereed en gewillig om jou in hierdie verband te help. Hulle het immers al miljoene regoor die wêreld gehelp om te “smaak en [te] sien dat die HERE goed is”! (Psalm 34:9). Hoe beter jy God leer ken, hoe meer sal jy beweeg word om hom in gebed te loof. En hoe nader jy aan Jehovah kom deur eerbiedige gebed, hoe intiemer sal jou verhouding met hom word.
Alle ware aanbidders van God word derhalwe aangespoor om ‘onophoudelik te bid’ (1 Tessalonisense 5:17). Maak seker dat jou gebede waarlik in ooreenstemming met die Bybel is, waaronder die instruksies wat Jesus Christus gegee het. Sodoende kan jy seker wees dat jou gebede God se goedkeuring sal wegdra.
[Prent op bladsy 7]
Hoe meer ons omtrent Jehovah leer, hoe meer word ons beweeg om uit die hart tot hom te bid