Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 7/15 bl. 24-25
  • Aftrede—’n Oop deur tot teokratiese bedrywigheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aftrede—’n Oop deur tot teokratiese bedrywigheid?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Soortgelyke materiaal
  • Aftrede—’n Deur tot groter bedrywigheid?
    Ons Koninkryksbediening—2003
  • Kan jy ingaan by “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei”?
    Ons Koninkryksbediening—2007
  • “Jy sal ’n goeie pionier wees!”
    Ons Koninkryksbediening—2010
  • Die seëninge van die pionierbediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 7/15 bl. 24-25

Aftrede—’n Oop deur tot teokratiese bedrywigheid?

AFTREDE—vir baie beteken dit die einde van ’n lang tydperk van spanning en moeite. Nadat hulle in ’n saai of dol roetine vasgevang was, sien talle uit na hulle aftrede as iets wat vir hulle ’n deur tot jare van gemak en persoonlike vryheid sal oopmaak. Maar daardie deur lei alte dikwels tot verveeldheid en lusteloosheid. Ontspanning en stokperdjies verskaf eenvoudig nie die gevoel van eiewaarde wat werk verskaf nie.

Aftrede kan “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei” vir Jehovah se Getuies open (1 Korintiërs 16:9). Hoewel veroudering met probleme en beperkinge gepaardgaan, het party bejaardes gevind dat hulle met Jehovah se hulp méér in sy diens kan doen. Beskou die ondervindinge van ’n paar bejaarde Christene in Nederland. Gedurende die 1995-diensjaar was 269 van die meer as 1 223 pioniers (voltydse Koninkryksverkondigers) 50 jaar of ouer. Van hulle was 81 al 65 jaar oud of ouer.

Party is in staat om in die pionierdiens te wees deur eenvoudig die besige roetine vol te hou waaraan hulle gewoond geraak het terwyl hulle gewerk het. (Vergelyk Filippense 3:16.) ’n Afgetrede Christen met die naam Karel vertel: “Toe ek nog gewerk het, het ek gewoonlik om 7:30 vm. ingeval. Toe ek op pensioen gegaan het, het ek besluit om by dieselfde roetine te hou. Ek het die dag begin deur elke oggend om sewe-uur tydskrifwerk voor die spoorwegstasie te doen.”

Noukeurige beplanning is ook ’n sleutel tot welslae (Spreuke 21:5). Party kon byvoorbeeld genoeg geld opsy sit om hulle in hulle bediening te onderhou. Ander het besluit om persoonlike uitgawes te besnoei en deeltydse werk te kry. Beskou die voorbeeld van Theodore en Ann. Hulle het die getroude lewe as pioniers begin totdat gesinsverpligtinge hulle genoodsaak het om uit die pionierdiens te tree. Maar hulle pioniergees het lewendig gebly! Namate hulle dogters grootgeword het, is hulle voortdurend aangemoedig om pioniers te word. Nog belangriker, Theodore en Ann het ’n goeie voorbeeld gestel deur dikwels as hulppioniers te dien. Namate die meisies ouer geword het, het Theodore en Ann minder tyd aan sekulêre werk begin bestee sodat hulle meer tyd vir velddiens kon hê.

Nadat hulle dogters die voltydse bediening betree en die huis verlaat het, het Ann as ’n pionier begin dien. Sy het Theodore eendag aangemoedig om uit sy werk te bedank. “Ons al twee kan pioniers wees”, het sy gesê. Theodore het sy werkgewer van sy planne vertel. Tot sy verbasing het sy baas aangebied om hom te help deur hom deeltydse werk te gee en gesê: “Ek reken jy wil voltyds vir jou baas daar bo [in die hemel] werk.” Nou geniet Theodore en Ann dit om saam aan die pionierdiens deel te neem.

Party het aan die pionierdiens begin deelneem in reaksie op omstandighede wat in hulle lewe ontstaan het. Die tragiese dood van hulle dogter en kleindogter het een bejaarde egpaar ernstig laat nadink oor hoe hulle hulle oorblywende jare gebruik (Prediker 7:2). Pleks van deur smart oorweldig te word, het hulle die voltydse diens betree en geniet dit nou al langer as agt jaar!

Dit verg weliswaar ware vasberadenheid om in die voltydse bediening te bly. Ernst en sy vrou, Riek, het byvoorbeeld pioniers geword kort ná hulle kinders uit die huis is. Nie lank hierna nie het ’n voormalige sakevennoot vir Ernst ’n aantreklike betrekking aangebied. Ernst se antwoord was: “Ons het die allerbeste werkgewer, en ons is nie bereid om uit sy diens te tree nie!” Omdat Ernst en sy vrou in “diens” by Jehovah gebly het, het ander diensvoorregte vir hulle moontlik geword. Hulle het meer as 20 jaar in die kringwerk gedien en is tot vandag toe pioniers. Het hulle spyt oor hulle selfopofferende lewensweg? ’n Tydjie gelede het die egpaar geskryf: “As dit Jehovah se wil is, gaan ons oor drie maande ons 50ste huweliksherdenking vier, wat dikwels die goue bruilof genoem word. Maar ons sê met volle oortuiging dat ons ware goue jare begin het toe ons pioniers geword het.”

Baie vind dat die deur wat tot groter bedrywigheid lei ook tot groter vreugde lei! Een broer wat twee weke ná hy 65 geword het die pionierdiens betree het, sê: “Ek moet sê dat daar nog nooit ’n tydperk in my lewe was waarin ek soveel seëninge ontvang het soos die laaste tien jaar wat ek in die pionierdiens is nie.” ’n Egpaar wat al meer as sewe jaar in die pionierdiens is, sê: “Wat anders behoort ’n egpaar van ons ouderdom en in ons omstandighede te doen? Ons sien dikwels mense soos ons in die gebied—wat ’n gemaklike lewe by die huis lei en net vet, oud en styf word. Die diens hou ons verstandelik en liggaamlik gesond. Ons is altyd bymekaar. Ons lag baie, en ons geniet die lewe.”

Nie alle bejaardes het natuurlik omstandighede wat hulle toelaat om in die pionierdiens te wees nie. Hierdie Christene kan verseker wees dat Jehovah waardeer wat hulle ook al in sy diens kan doen. (Vergelyk Markus 12:41-44.) Een gestremde suster moet byvoorbeeld in ’n verpleeginrigting bly. ’n Deur van bedrywigheid is egter steeds vir haar oop! ’n Dokter het haar gevra hoe sy haar tyd omkry. Sy vertel: “Ek het vir hom gesê dat ek nooit genoeg tyd het nie. Hy kon dit nie verstaan nie. Ek het vir hom gesê dat dit die geval is omdat my dae propvol bevredigende bedrywighede is. Ek is nie eensaam nie, maar ek soek diegene wat wel eensaam is en probeer vir hulle vertel wat God in die toekoms vir die mensdom gaan bring.” Sy som sake op deur te sê: “’n Mens kan nie te veel van iemand verwag wat byna 80 is nie. Bid vir my sodat ek nog baie mense na Jehovah kan lei.”

Gaan jy binnekort aftree? Die deur tot gemak is dalk baie aanloklik, maar dit is nie die deur tot ’n geestelike seëning nie. Oorweeg jou omstandighede biddend. Moontlik kan jy by die deur ingaan wat tot groter bedrywigheid in Jehovah se diens lei.

[Prente op bladsy 25]

Aftrede kan tot groter bedrywigheid in die bediening lei

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel