Gamaliël—Hy het Saulus van Tarsus onderrig
’NGROOT stilte het oor die skare gekom. Net oomblikke vroeër het hulle amper die apostel Paulus doodgemaak. Saulus van Tarsus, soos hy ook bekend was, is deur Romeinse soldate gered en het nou voor die volk gestaan op ’n trap naby die tempel in Jerusalem.
Nadat Paulus met sy hand vir hulle beduie het om stil te word, het hy in Hebreeus begin praat en gesê: “Manne, broers en vaders, hoor nou my verdediging teenoor julle. . . . Ek is ’n Jood, gebore in Tarsus van Silisië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamaliël, onderrig volgens die strengheid van die voorvaderlike Wet, ywerig vir God net soos julle almal vandag is.”—Handelinge 22:1-3.
Hoekom het Paulus, terwyl hy in doodsgevaar verkeer het, sy verdediging begin deur te sê dat hy aan die voete van Gamaliël opgevoed is? Wie was Gamaliël, en wat het dit behels om deur hom onderrig te wees? Het hierdie opleiding Saulus beïnvloed selfs nadat hy die Christenapostel Paulus geword het?
Wie was Gamaliël?
Gamaliël was ’n welbekende Fariseër. Hy was die kleinseun van Hillel die Oudste, wat ’n grondlegger was van een van die twee groot denkrigtings in Fariseïese Judaïsme.a Hillel se benadering is as verdraagsamer as dié van sy teenstander, Sjammai, beskou. Ná die vernietiging van Jerusalem se tempel in 70 G.J. is Bet Hillel (die Huis van Hillel) bo Bet Sjammai (die Huis van Sjammai) verkies. Die Huis van Hillel het die amptelike vorm van Judaïsme geword, aangesien alle ander sektes met die vernietiging van die tempel verdwyn het. Die beslissings van Bet Hillel is dikwels die basis van die Joodse wet in die Misjna, wat die grondslag van die Talmoed geword het, en die invloed van Gamaliël was blykbaar ’n groot faktor wat tot Bet Hillel se oorheersing bygedra het.
Gamaliël is so hooggeag dat hy die eerste een was om rabban genoem te word, ’n titel wat hoër as rabbi is. Trouens, Gamaliël het sulke hoë aansien geniet dat die Misjna van hom sê: “Toe rabban Gamaliël die oudste gesterf het, het die heerlikheid van die Tora tot ’n einde gekom en het reinheid en vroomheid [lett. “afgeskeidenheid”] vergaan.”—Sotah 9:15.
Onderrig deur Gamaliël—Hoe?
Wat het die apostel Paulus bedoel toe hy vir die skare in Jerusalem gesê het dat hy ‘aan die voete van Gamaliël opgevoed is’? Wat het dit behels om ’n dissipel van ’n leermeester soos Gamaliël te wees?
Professor Dov Zlotnick van die Joodse Teologiese Seminarie van Amerika skryf aangaande sulke opleiding: “Die juistheid van die mondelinge wet, en gevolglik die betroubaarheid daarvan, hang byna heeltemal af van die meester-dissipel-verhouding: die sorg waarmee die meester in die wet onderrig en die ywer waarmee die dissipel dit leer. . . . Dissipels is derhalwe aangespoor om aan die voete van die geleerdes te sit . . . ‘en hulle woorde dorstig in te drink.’”—Avot 1:4, die Misjna.
In sy boek A History of the Jewish People in the Time of Jesus Christ werp Emil Schürer lig op die metodes van die eerste-eeuse rabbynse leermeesters. Hy skryf: “Die beroemder Rabbi’s het dikwels ’n groot aantal jongmense wat onderrig wou word om hulle versamel, met die doel om hulle deeglik vertroud te maak met die talle onderafdelings van die uitvoerige ‘mondelinge wet’. . . . Die onderrigting het uit herhaalde en voortdurende oefening van die geheue bestaan. . . . Die leermeester het verskeie regsvrae aan sy leerlinge voorgelê sodat hulle daaroor kon beslis en hulle dit dan laat antwoord of dit self beantwoord. Die leerlinge is ook toegelaat om vrae aan die leermeester te stel.”
Uit die standpunt van die rabbi’s was daar vir die leerlinge baie meer op die spel as om bloot slaagpunte te behaal. Diegene wat onder sulke leermeesters studeer het, is gewaarsku: “Wie ook al ’n enkele ding vergeet van wat hy geleer het—kan volgens die Skrif met sy lewe daarvoor betaal” (Avot 3:8). Die grootste lof is die student toegeswaai wat soos “’n gepleisterde put was wat nie ’n druppel water verloor nie” (Avot 2:8). Dit was die soort opleiding wat Paulus, wat toe onder sy Hebreeuse naam Saulus van Tarsus bekend was, van Gamaliël ontvang het.
Die gees van Gamaliël se leringe
In ooreenstemming met Fariseïese lering het Gamaliël geloof in die mondelinge wet aangemoedig. Hy het dus groter nadruk gelê op die oorleweringe van die rabbi’s as op die geïnspireerde Skrif (Matteus 15:3-9). Volgens die Misjna het Gamaliël gesê: “Kry vir jou ’n leermeester [’n rabbi] en bevry jou van twyfelgedagtes, want jy moenie deur raaiery jou tiende te groot maak nie” (Avot 1:16). Dit het beteken dat iemand wat ’n besluit moes neem nie self oor iets moes redeneer of sy gewete moes volg wanneer die Hebreeuse Geskrifte nie uitdruklik gesê het wat gedoen moes word nie. Hy moes eerder vir hom ’n bekwame rabbi soek wat vir hom sou besluit. Volgens Gamaliël kon ’n mens net op hierdie wyse verhoed dat jy sondig.—Vergelyk Romeine 14:1-12.
Maar Gamaliël was oor die algemeen bekend vir ’n verdraagsamer, liberaler gesindheid in sy godsdienstige regsbeslissings. Byvoorbeeld, hy het vroue in ag geneem toe hy beslis het dat hy “’n vrou [sou] toelaat om weer te trou volgens die getuienis van ’n enkele getuie [van haar man se dood]” (Jevamot 16:7, die Misjna). Daarbenewens het Gamaliël ’n aantal beperkings op die uitreiking van skeibriewe ingestel om geskeide vrouens te beskerm.
Hierdie gees is ook te sien in Gamaliël se handelinge met die vroeë volgelinge van Jesus Christus. Toe ander Joodse leiers volgens die boek Handelinge Jesus se apostels wat hulle in hegtenis geneem het, wou doodmaak omdat hulle gepreek het, het “’n sekere man . . . in die Sanhedrin opgestaan, ’n Fariseër met die naam Gamaliël, ’n leermeester van die Wet wat by die hele volk in aansien was, en hy het bevel gegee dat die manne vir ’n klein rukkie na buite geneem moet word. En hy het vir hulle gesê: ‘Manne van Israel, let op julleself met betrekking tot wat julle van plan is om met hierdie manne te doen. . . . Ek [sê] . . . vir julle: Moet julle nie met hierdie manne bemoei nie, maar laat staan hulle; . . . anders kan daar miskien bevind word dat julle eintlik teen God stry.’” Hulle het op Gamaliël se raad ag geslaan, en die apostels is vrygelaat.—Handelinge 5:34-40.
Wat het dit vir Paulus beteken?
Paulus is deur een van die grootste rabbynse leermeesters van die eerste eeu G.J. opgelei en opgevoed. Die apostel se verwysing na Gamaliël het die skare in Jerusalem ongetwyfeld aandagtig na sy toespraak laat luister. Maar hy het met hulle oor ’n Leermeester gepraat wat baie groter as Gamaliël was—Jesus, die Messias. Dit was nou as ’n dissipel van Jesus, en nie van Gamaliël nie, wat Paulus die skare toegespreek het.—Handelinge 22:4-21.
Het die opleiding wat Paulus van Gamaliël ontvang het die inhoud van sy onderrigting as ’n Christen beïnvloed? Die streng onderrigting in die Skrif en Joodse wet was waarskynlik nuttig vir Paulus as ’n Christenonderrigter. Tog toon Paulus se Goddelik geïnspireerde briewe wat in die Bybel gevind word duidelik dat hy die kern van Gamaliël se Fariseïese opvattings verwerp het. Paulus het sy mede-Jode en alle ander mense na Jesus Christus gerig, nie na die rabbi’s van Judaïsme of na mensgemaakte oorleweringe nie.—Romeine 10:1-4.
Paulus sou groot aansien geniet het as hy ’n dissipel van Gamaliël gebly het. Ander uit Gamaliël se kring het die toekoms van Judaïsme help vorm. Gamaliël se seun Simeon, moontlik ’n medestudent van Paulus, het byvoorbeeld ’n belangrike rol in die Joodse opstand teen Rome gespeel. Ná die vernietiging van die tempel het Gamaliël se kleinseun Gamaliël II die gesag van die Sanhedrin herstel en dit na Javneh verskuif. Gamaliël II se kleinseun Juda Ha-Nasi was die samesteller van die Misjna, wat tot in ons dag die hoeksteen van Joodse denke geword het.
As ’n student van Gamaliël kon Saulus van Tarsus baie prominent in Judaïsme geword het. Tog het Paulus aangaande so ’n loopbaan geskryf: “Die dinge wat vir my gewin was, dié het ek weens die Christus as verlies beskou. Ja, wat dit betref, ek beskou alles ook inderdaad as verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus, my Here. Weens hom het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis, sodat ek Christus kan wen.”—Filippense 3:7, 8.
Deur sy loopbaan as ’n Fariseër agter te laat en ’n volgeling van Jesus Christus te word, het Paulus sy voormalige leermeester se raad prakties toegepas om te waak sodat daar nie “bevind word dat [hy] eintlik teen God stry” nie. Toe Paulus opgehou het om Jesus se dissipels te vervolg, het hy opgehou om teen God te stry. Hy het eerder een van “God se medewerkers” geword deur ’n volgeling van Christus te word.—1 Korintiërs 3:9.
Die boodskap van die ware Christelike godsdiens word steeds vandag deur ywerige Getuies van Jehovah verkondig. Baie van hulle het soos Paulus groot veranderinge in hulle lewe aangebring. Party het selfs belowende loopbane prysgegee sodat hulle ’n groter aandeel kan hê aan die Koninkrykspredikingswerk, ’n werk wat waarlik “uit God” is (Handelinge 5:39). Hoe bly is hulle tog dat hulle eerder Paulus se voorbeeld gevolg het as dié van sy voormalige leermeester, Gamaliël!
[Voetnoot]
a Party bronne sê dat Gamaliël die seun van Hillel was. Die Talmoed is onduidelik wat hierdie saak betref.
[Prent op bladsy 28]
Saulus van Tarsus het as die apostel Paulus die goeie nuus aan mense van die nasies verkondig