Die Misjna en God se Wet aan Moses
“ONS begin met die indruk dat ons by ’n gesprek aansluit wat al lank aan die gang is oor onderwerpe wat ons nooit kan begryp nie . . . Ons . . . voel asof ons in ’n wagsaal in ’n vreemde land se lughawe sit. Ons verstaan die woorde wat mense sê, maar word verwar deur wat hulle bedoel en waaroor hulle bekommerd is en bowenal deur die dringendheid in hulle stemme.” Dit is hoe die Joodse geleerde Jacob Neusner die gevoelens beskryf wat lesers moontlik het wanneer hulle die Misjna die eerste keer lees. Neusner voeg by: “Die Misjna begin nêrens nie. Dit eindig skielik.”
In A History of Judaism noem Daniel Jeremy Silver die Misjna “die vernaamste teks van rabbynse Judaïsme”. Trouens, hy sê verder: “Die Misjna het die Bybel vervang as die hoofleerplan van deurlopende [Joodse] opvoeding.” Hoe het dit gebeur dat ’n boek met so ’n onduidelike styl so belangrik geword het?
’n Deel van die antwoord is opgesluit in hierdie stelling wat in die Misjna gemaak word: “Moses het die Tora by Sinai ontvang en dit aan Josua oorgedra, Josua aan die oudstes en die oudstes aan die profete. En die profete het dit aan die manne van die groot byeenkoms oorgedra” (Avot 1:1). Die Misjna beweer dat dit inligting bevat wat aan Moses oorgelewer is by die berg Sinai—’n ongeskrewe deel van God se Wet aan Israel. Die manne van die groot byeenkoms (wat later die Sanhedrin genoem is) is beskou as deel van ’n lang opeenvolging van wyse geleerdes, of wysgere, wat sekere leringe mondeling van geslag tot geslag oorgedra het totdat dit uiteindelik in die Misjna opgeteken is. Maar is dit in ooreenstemming met die feite? Wie het werklik die Misjna geskryf, en waarom? Het dit sy oorsprong by Moses op die berg Sinai gehad? Het dit vandag vir ons betekenis?
Judaïsme sonder ’n tempel
Die opvatting dat daar ’n godgegewe mondelinge wet is wat bo en behalwe die geskrewe Wet van Moses gegee is, was iets onbekends toe die Skrif onder inspirasie geskryf is (Exodus 34:27).a Baie eeue later was die Fariseërs die groep binne Judaïsme wat hierdie konsep ontwikkel en bevorder het. Gedurende die eerste eeu G.J. het die Sadduseërs en ander Jode hierdie nie-Bybelse lering teëgestaan. Solank die tempel in Jerusalem die middelpunt van Joodse aanbidding was, was die kwessie van ’n mondelinge wet egter minder belangrik. Aanbidding by die tempel het reëlmatigheid en ’n mate van stabiliteit aan elke Jood se bestaan gegee.
In 70 G.J. het die Joodse nasie egter voor ’n geweldige groot godsdienskrisis te staan gekom. Jerusalem is deur die Romeinse legioene vernietig en meer as ’n miljoen Jode is doodgemaak. Die tempel, die middelpunt van hulle geestelike lewe, was nie meer daar nie. Dit was onmoontlik om volgens die Mosaïese Wet te lewe, wat offerandes en priesterlike diens by die tempel vereis het. Die hoeksteen van Judaïsme was weg. Die Talmoediese geleerde Adin Steinsaltz skryf: “Die vernietiging . . . in 70 G.J. het die heropbouing van die hele struktuur van die godsdienstige lewe dringend noodsaaklik gemaak.” En hulle hét dit weer opgebou.
Selfs voordat die tempel vernietig is, het Johanan Ben Zakkai, ’n gesiene dissipel van die Fariseïese leier Hillel, toestemming ontvang van Vespasianus (wat weldra keiser sou word) om die geestelike middelpunt van Judaïsme en die Sanhedrin van Jerusalem na Jawne te verskuif. Soos Steinsaltz verduidelik, het Johanan Ben Zakkai ná die vernietiging van Jerusalem “voor die uitdaging te staan gekom om ’n nuwe middelpunt vir die volk tot stand te bring en hulle te help om hulle by die nuwe omstandighede aan te pas waarvolgens godsdiensywer na ’n ander fokuspunt gerig moes word noudat die Tempel nie meer daar was nie”. Daardie nuwe fokuspunt was die mondelinge wet.
Noudat die tempel vernietig was, het die Sadduseërs en ander Joodse sektes geen oortuigende alternatief voorgestel nie. Die Fariseërs het die Joodse hoofstroom geword aangesien hulle die opposisie geabsorbeer het. Die voorste rabbi’s het eenheid beklemtoon en het gevolglik opgehou om hulleself Fariseërs te noem, ’n term wat vol sektariese en partysugtige implikasies was. Hulle het eenvoudig bekend geword as die rabbi’s, “die wysgere van Israel”. Hierdie wysgere sou ’n geestelike bouwerk oprig wat hulle konsep van die mondelinge wet sou huisves. Dit sou ’n geestelike struktuur wees wat baie beter bestand sou wees teen aanvalle deur mense as wat die tempel was.
Die bevestiging van die mondelinge wet
Hoewel die rabbynse akademie in Jawne (40 kilometer wes van Jerusalem) nou die hoofsentrum was, het ander akademies wat onderrig in die mondelinge wet gegee het regdeur Israel en selfs tot in Babilon en Rome begin verskyn. Dit het egter ’n probleem geskep. Steinsaltz verduidelik: “Solank al die wysgere bymekaar was en die vernaamste deel van die geleerdheid deur een groep manne [in Jerusalem] nagejaag is, is die eenvormigheid van tradisie bewaar. Maar die vermeerdering in leermeesters en die stigting van aparte skole . . . het tot ’n oorvloed van formuliere en uitdrukkingsvorme gelei.”
Leermeesters van die mondelinge wet is Tannaim genoem, ’n term wat afgelei is van die Aramese grondwoord wat “bestudeer”, “herhaal” of “onderrig” beteken. Dit het hulle studeer- en onderrigmetode van die mondelinge wet, deur middel van intense herhaling en memorisering, beklemtoon. Om die memorisering van mondelinge tradisies te vergemaklik, is elke bepaling of tradisie tot ’n kort, beknopte frase verkort. Hoe minder woorde, hoe beter. Daar is probeer om ’n gestileerde, digterlike vorm te vind, en die frases is dikwels gesing. Maar hierdie bepalings was ongeorden, en dit het grootliks van leermeester tot leermeester verskil.
Die eerste rabbi wat ’n spesifieke vorm en struktuur aan al die verskillende mondelinge tradisies gegee het, was Akiba ben Josef (ca. 50-135 G.J.). Steinsaltz skryf van hom: “Sy tydgenote het sy bedrywighede vergelyk met die werk van ’n arbeider wat in die veld ingaan en alles wat hy vind in sy mandjie sit en dan huis toe gaan en elke soort apart rangskik. Akiba het talle ongeordende onderwerpe bestudeer en hulle in bepaalde kategorieë ingedeel.”
In die tweede eeu G.J.—meer as 60 jaar ná Jerusalem se vernietiging—het Bar Kochba ’n tweede groot Joodse opstand teen Rome aangevoer. Opstand het weer eens rampspoedige gevolge gehad. Akiba en baie van sy dissipels was onder die byna eenmiljoen Joodse slagoffers. Enige hoop om die tempel te herbou, het verdwyn toe die Romeinse keiser Hadrianus Jerusalem verbode terrein vir Jode verklaar het, behalwe tydens die herdenking van die tempel se vernietiging.
Die Tannaim wat ná Akiba gelewe het, het nooit die tempel in Jerusalem gesien nie. Maar die gestruktureerde patroon vir die bestudering van die tradisies van die mondelinge wet het hulle “tempel”, of middelpunt van aanbidding, geword. Die werk wat Akiba en sy dissipels begin het deur hierdie struktuur van die mondelinge wet te versterk, is deur die laaste van die Tannaim, Juda ha-Nasi, voortgesit.
Die elemente van die Misjna
Juda ha-Nasi was ’n afstammeling van Hillel en Gamaliël.b Hy is gedurende die tyd van Bar Kochba se opstand gebore en het teen die einde van die tweede eeu en die begin van die derde eeu G.J. die leier van die Joodse gemeenskap in Israel geword. Die titel ha-Nasi beteken “die prins” en is ’n aanduiding van die aansien wat hy in die oë van sy mede-Jode geniet het. Daar word dikwels na hom as bloot Rabbi verwys. Juda ha-Nasi het aan die hoof van sy eie akademie en die Sanhedrin gestaan, eers in Bet Sje’arim en later in Sepforis in Galilea.
Omdat Juda ha-Nasi besef het dat toekomstige konflikte met Rome die oordrag van die mondelinge wet in gevaar kon stel, het hy besluit om dit ’n struktuur te gee wat die behoud daarvan sou verseker. Hy het die mees vooraanstaande geleerdes van sy tyd by sy akademie versamel. Daar is oor elke punt en tradisie van die mondelinge wet geredeneer. Die opsommings van hierdie besprekings is in ongelooflik bondige frases saamgevat, volgens ’n streng patroon van digterlike Hebreeuse prosa.
Hierdie opsommings is in ses hoofafdelings, of Ordes, volgens die vernaamste onderwerpe georganiseer. Juda het dit in 63 dele, of verhandelinge, onderverdeel. Die geestelike bouwerk was nou voltooi. Tot en met daardie tydstip is sulke tradisies altyd mondeling oorgedra. Maar as ’n bykomende veiligheidsmaatreël is die laaste revolusionêre stap gedoen—om alles op skrif te stel. Hierdie indrukwekkende nuwe geskrewe struktuur wat die mondelinge wet gehuisves het, is die Misjna genoem. Die naam Misjna kom van die Hebreeuse grondwoord sja·nahʹ, wat “herhaal”, “studeer” of “onderrig” beteken. Dit is die ekwivalent van die Aramese tenaʼʹ, waarvan tan·na·ʼimʹ afgelei is, die term wat toegepas is op leermeesters van die Misjna.
Die doel van die Misjna was nie om ’n beslissende wetboek vas te stel nie. Dit het merendeels die uitsonderings behandel en het van die standpunt uitgegaan dat die leser die basiese beginsels ken. Dit het in werklikheid ’n opsomming gegee van wat gedurende die tyd van Juda ha-Nasi in die rabbynse akademies bespreek en geleer is. Die Misjna was bedoel om ’n oorsig van die mondelinge wet te wees vir toekomstige bespreking, ’n raamwerk, of basiese struktuur, waarop gebou kon word.
Die Misjna openbaar niks wat by die berg Sinai aan Moses gegee is nie, maar voorsien eerder insig in die ontwikkeling van die mondelinge wet, ’n konsep wat met die Fariseërs begin het. Inligting wat in die Misjna opgeteken is, werp lig op stellings in die Christelike Griekse Geskrifte en op sekere besprekings tussen Jesus Christus en die Fariseërs. Dit is egter nodig om versigtig te wees, want die gedagtes wat in die Misjna gevind word, weerspieël Joodse beskouings uit die tweede eeu G.J. Die Misjna is die skakel tussen die tweede tempelperiode en die Talmoed.
[Voetnote]
a Sien bladsye 8-11 van die brosjure Will There Ever Be a World Without War?, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania vir verdere inligting.
b Sien die artikel “Gamaliël—Hy het Saulus van Tarsus onderrig” in Die Wagtoring van 15 Julie 1996.
[Venster op bladsy 26]
Die afdelings van die Misjna
Die Misjna is in ses Ordes verdeel. Hulle bestaan uit 63 kleiner boeke, of verhandelinge, wat in hoofstukke en misjnajot, of paragrawe (nie verse nie), verdeel is.
1. ZERAIM (Landbouwette)
Hierdie verhandelinge sluit besprekings in van gebede oor voedsel en wat betrekking het op die landbou. Hulle bevat ook reëls oor tiendes, priesterlike dele, oesoorblyfsels en Sabbatsjare.
2. MOED (Heilige geleenthede, feeste)
Die verhandelinge in hierdie Orde bespreek wette wat verband hou met die Sabbat, die Versoendag en ander feeste.
3. NASJIM (Vroue, huwelikswet)
Dit is verhandelinge wat die huwelik en egskeiding, geloftes, die Nasireërs en gevalle van vermeende egbreuk bespreek.
4. NEZIKIN (Skade en burgerlike reg)
Die verhandelinge in hierdie Orde dek onderwerpe wat te doen het met burgerlike en eiendomsreg, howe en straf, die funksies van die Sanhedrin, afgodediens, geloftes en die Etiek van die Vaders (Avot).
5. KODASJIM (Offerandes)
Hierdie verhandelinge bespreek voorskrifte wat verband hou met diere- en graanoffers, asook die afmetings van die tempel.
6. TOHAROT (Reinigingsrituele)
Hierdie Orde bestaan uit verhandelinge wat rituele reinheid, bad, handewas, velsiektes en die onreinheid van verskillende voorwerpe bespreek.
[Venster op bladsy 28]
Die Misjna en die Christelike Griekse Geskrifte
Matteus 12:1, 2: “In daardie tyd het Jesus op die sabbat deur die graanlande gegaan. Sy dissipels het honger geword en begin om are te pluk en te eet. Toe die Fariseërs dit sien, het hulle vir hom gesê: ‘Kyk! Jou dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie.’” Die Hebreeuse Geskrifte verbied nie wat Jesus se dissipels gedoen het nie. Maar in die Misjna vind ons ’n lys met 39 bedrywighede wat op die Sabbat deur die rabbi’s verbied is.—Sjabbat 7:2.
Matteus 15:3: “Hy [Jesus] het geantwoord en vir hulle gesê: ‘Waarom oortree julle ook die gebod van God weens julle oorlewering?’” Die Misjna bevestig hierdie gesindheid (Sanhedrin 11:3). Ons lees: “Daar was groter strengheid wat [die onderhouding van] die woorde van die Skrifgeleerdes betref as wat [die onderhouding van] die woorde van die [geskrewe] Wet betref. As ’n man sê: ‘Daar is geen verpligting om filakterieë te dra nie’ en hy sodoende die woorde van die Wet oortree, is hy nie strafbaar nie; [maar as hy sê]: ‘Daar moet vyf afskortings daarin wees’ en hy sodoende iets by die woorde van die Skrifgeleerdes voeg, dan is hy strafbaar.”—The Mishnah, deur Herbert Danby, bladsy 400.
Efesiërs 2:14: “Hy [Jesus] is ons vrede, hy wat die twee partye een gemaak en die tussenmuur wat hulle geskei het, vernietig het.” Die Misjna sê: “Binne die Tempelberg was ’n traliereling (die Soreg) wat tien handbreedtes hoog was” (Middot 2:3). Heidene is verbied om verby hierdie punt te gaan en in die binneste voorhowe in te gaan. Die apostel Paulus kon in figuurlike sin na hierdie muur verwys het toe hy in 60 of 61 G.J. aan die Efesiërs geskryf het en dit nog gestaan het. Die simboliese muur was die Wetsverbond, wat Jode en Heidene lank geskei het. Maar in 33 G.J. is daardie muur op grond van Christus se dood tot niet gemaak.