Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 9/1 bl. 8-14
  • Die wet voor Christus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wet voor Christus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Mosaïese Wet—die doel daarvan
  • ’n Wet gekenmerk deur barmhartigheid en medelye
  • Die misbruik van die Wet
  • Die besmetting van Fariseïsme
  • Leer uit die dwaasheid van die Fariseërs
  • “Die wet van Jehovah is volmaak”
    Kom nader aan Jehovah
  • Die wet van die Christus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Die mondelinge wet—Waarom is dit op skrif gestel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Die vroeë Christene en die Mosaese Wet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 9/1 bl. 8-14

Die wet voor Christus

“Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.”—PSALM 119:97.

1. Wat beheer die beweging van die hemelliggame?

VAN kleintyd af het Job waarskynlik in verwondering na die sterre gekyk. Sy ouers het hom heel moontlik name vir die groot sterrebeelde geleer asook wat hulle van die wette geweet het wat die beweging van die sterrebeelde deur die hemelruim beheer. Mense van die ou tyd het per slot van rekening die bestendige beweging van hierdie ontsaglike, sierlike sterrepatrone gebruik om die veranderende seisoene te bepaal. Maar ondanks die feit dat Job dit baie keer sprakeloos gadegeslaan het, het hy nie geweet watter geweldige kragte hierdie sterreformasies bymekaarhou nie. Hy kon dus nouliks ’n antwoord gee toe Jehovah God hom gevra het: “Verstaan jy die wette van die hemel?” (Job 38:31-33, The New Jerusalem Bible). Ja, die sterre word deur wette beheer—wette wat so presies en ingewikkeld is dat hedendaagse wetenskaplikes dit nie ten volle verstaan nie.

2. Waarom kan daar gesê word dat die hele skepping deur wette beheer word?

2 Jehovah is die grootste Wetgewer in die heelal. Al sy werke word deur wette beheer. Voordat die fisiese heelal bestaan het, het sy geliefde Seun, “die eersgeborene van die hele skepping”, sy Vader se wette getrou gehoorsaam! (Kolossense 1:15). Die engele word ook deur wette gerig (Psalm 103:20). Selfs diere word deur wette beheer terwyl hulle die instinktiewe opdragte gehoorsaam wat hulle Skepper in hulle geprogrammeer het.—Spreuke 30:24-28, NW; Jeremia 8:7.

3. (a) Waarom het die mensdom wette nodig? (b) Deur middel waarvan het Jehovah oor die nasie Israel geregeer?

3 Wat van die mens? Hoewel ons met gawes soos intelligensie, sedelikheid en geestelikheid geseën is, het ons steeds in sekere mate Goddelike wette nodig om ons in die gebruik van hierdie gawes te lei. Ons eerste ouers, Adam en Eva, was volmaak en gevolglik was net ’n paar wette nodig om hulle leiding te gee. Liefde vir hulle hemelse Vader moes vir hulle voldoende rede gewees het om hom met graagte te gehoorsaam. Maar hulle was ongehoorsaam (Genesis 1:26-28; 2:15-17; 3:6-19). Gevolglik was hulle nakomelinge sondig en het hulle baie meer wette nodig gehad om hulle van leiding te voorsien. Mettertyd het Jehovah liefdevol in hierdie behoefte voorsien. Hy het aan Noag spesifieke wette gegee wat hy aan sy gesin moes oordra (Genesis 9:1-7). Eeue later het God, deur middel van Moses, vir die nuwe nasie Israel ’n uitvoerige, geskrewe Wet gegee. Dit was die eerste keer dat Jehovah deur middel van Goddelike wet oor ’n hele nasie geregeer het. ’n Ondersoek van daardie Wet sal ons help om te verstaan watter belangrike rol Goddelike wet vandag in die lewe van Christene speel.

Die Mosaïese Wet—die doel daarvan

4. Waarom sou dit ’n uitdaging vir die uitverkore nakomelinge van Abraham wees om die beloofde Saad voort te bring?

4 Die apostel Paulus, ’n ywerige student van die Wet, het gevra: “Waarom dan die Wet?” (Galasiërs 3:19). Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons onthou dat Jehovah sy vriend Abraham belowe het dat sy geslagslyn ’n Saad sou voortbring wat groot seëninge vir alle nasies sou meebring (Genesis 22:18). Maar hierin het ’n uitdaging gelê: Abraham se uitverkore nakomelinge, die Israeliete, was nie almal persone wat Jehovah liefgehad het nie. Met verloop van tyd het die meeste van hulle getoon dat hulle hardnekkig en wederstrewig is—party was byna onregeerbaar! (Exodus 32:9; Deuteronomium 9:7). Vir sulkes was die feit dat hulle onder God se volk was bloot ’n kwessie van geboorte, nie iets wat hulle gekies het nie.

5. (a) Wat het Jehovah die Israeliete deur middel van die Mosaïese Wet geleer? (b) Hoe moes die Wet die gedrag beïnvloed van dié wat daarvolgens gelewe het?

5 Hoe kon so ’n volk die beloofde Saad voortbring en deur hom bevoordeel word? Jehovah het hulle nie soos robotte beheer nie, maar hulle eerder deur middel van wette geleer (Psalm 119:33-35; Jesaja 48:17). Trouens, die Hebreeuse woord vir “wet”, too·rahʹ, beteken “onderrigting”. Wat het dit hulle geleer? Dit het die Israeliete hoofsaaklik geleer dat hulle die Messias, wat hulle uit hulle sondige toestand sou loskoop, nodig gehad het (Galasiërs 3:24). Die Wet het ook godvrugtige vrees en gehoorsaamheid geleer. In ooreenstemming met die Abrahamitiese belofte moes die Israeliete by alle nasies as getuies van Jehovah dien. Die Wet moes hulle dus ’n verhewe, edele gedragskode leer wat Jehovah in ’n goeie lig sou stel; dit sou Israel help om afgeskeie van die verdorwe gebruike van die nasies om hulle te bly.—Levitikus 18:24, 25; Jesaja 43:10-12.

6. (a) Ongeveer hoeveel verordeninge bevat die Mosaïese Wet, en waarom moet dit nie as buitensporig beskou word nie? (Sien voetnoot.) (b) Watter insig kan ons deur ’n studie van die Mosaïese Wet verkry?

6 Dit is geen wonder dat die Mosaïese Wet baie verordeninge bevat nie—meer as 600.a Hierdie geskrewe wet het bepaal wat op die gebied van aanbidding, die regering, sedelikheid, die gereg en selfs dieet en higiëne gedoen moes word. Maar beteken dit dat die Wet bloot ’n versameling koue regulasies en saaklike gebooie was? Hoegenaamd nie! ’n Studie van hierdie Wet gee ons ’n diepe insig in Jehovah se liefdevolle persoonlikheid. Kyk na ’n paar voorbeelde.

’n Wet gekenmerk deur barmhartigheid en medelye

7, 8. (a) Hoe het die Wet barmhartigheid en medelye beklemtoon? (b) Hoe het Jehovah in die geval van Dawid die Wet op ’n barmhartige wyse toegepas?

7 Die Wet het barmhartigheid en medelye beklemtoon, veral teenoor die geringes of die hulpeloses. Weduwees en weeskinders is uitgesonder vir beskerming (Exodus 22:22-24). Werkdiere is teen wreedheid beskerm. Basiese eiendomsregte is gerespekteer (Deuteronomium 24:10; 25:4). Hoewel die Wet vereis het dat die doodstraf vir moord opgelê word, is barmhartigheid betoon in gevalle van onopsetlike doodslag (Numeri 35:11). Israelitiese regters het klaarblyklik die vryheid gehad om te besluit oor die straf wat vir sekere oortredings opgelê sou word, afhangende van die gesindheid van die oortreder.—Vergelyk Exodus 22:7 en Levitikus 6:1-7.

8 Jehovah het die voorbeeld vir regters gestel deur die Wet met fermheid toe te pas waar dit nodig was maar met barmhartigheid waar dit ook al moontlik was. Aan koning Dawid, wat egbreuk en moord gepleeg het, is barmhartigheid betoon. Dit beteken nie dat hy ongestraf gebly het nie, want Jehovah het hom nie teen die verskriklike gevolge van sy sonde beskerm nie. Maar weens die Koninkryksverbond en omdat Dawid van nature ’n barmhartige man was en ’n diep berouvolle hartstoestand gehad het, is hy nie tereggestel nie.—1 Samuel 24:5-8; 2 Samuel 7:16; Psalm 51:3-6; Jakobus 2:13.

9. Watter rol het liefde in die Mosaïese Wet gespeel?

9 Daarbenewens het die Mosaïese Wet liefde beklemtoon. Stel jou voor dat een van vandag se nasies ’n regskode het wat liefde vereis! Die Mosaïese Wet het dus nie net moord verbied nie; dit het beveel: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18). Nie net het dit die onregverdige behandeling van die vreemdeling verbied nie; dit het beveel: “Jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland” (Levitikus 19:34). Nie net het dit egbreuk onwettig verklaar nie; dit het die man beveel om aan sy eie vrou vreugde te verskaf! (Deuteronomium 24:5). In die boek Deuteronomium alleen word Hebreeuse woorde wat die eienskap liefde aandui sowat 20 keer gebruik. Jehovah het die Israeliete van sy eie liefde verseker—in die verlede, die hede en die toekoms (Deuteronomium 4:37; 7:12-14). Die grootste gebod van die Mosaïese Wet was in werklikheid: “Jy [moet] die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag” (Deuteronomium 6:5). Jesus het gesê dat die hele Wet aan hierdie gebod hang, tesame met die gebod om jou naaste lief te hê (Levitikus 19:18; Matteus 22:37-40). Geen wonder nie dat die psalmis geskryf het: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.”—Psalm 119:97.

Die misbruik van die Wet

10. Hoe het die Jode oor die algemeen die Mosaïese Wet beskou?

10 Hoe tragies is dit tog dat Israel oor die algemeen nie die Mosaïese Wet waardeer het nie! Die volk was ongehoorsaam aan die Wet, het dit geïgnoreer of het daarvan vergeet. Hulle het rein aanbidding met die walglike godsdiensgebruike van ander nasies besoedel (2 Konings 17:16, 17; Psalm 106:13, 35-38). En hulle was ook op ander maniere nie getrou aan die Wet nie.

11, 12. (a) Hoe het groepe godsdiensleiers ná die dae van Esra skade aan die Wet gedoen? (Sien venster.) (b) Waarom het die eertydse rabbi’s dit nodig geag om ‘’n muur om die Wet te bou’?

11 Van die grootste skade is aan die Wet gedoen deur die einste persone wat beweer het dat hulle dit aan ander leer en dit bewaar. Dit het plaasgevind in die dae ná die getroue skrifgeleerde Esra, wat in die vyfde eeu v.G.J. gelewe het. Esra het hard teen die verderflike invloede van ander nasies gestry en het beklemtoon dat die Wet gelees en aan ander geleer moes word (Esra 7:10; Nehemia 8:6-9). Party onderrigters van die Wet het beweer dat hulle in Esra se voetspore volg en het die “Groot Sinagoge”, soos dit mettertyd bekend gestaan het, gestig. Een van hulle spreuke was die voorskrif: “Bou ’n muur om die Wet.” Hierdie onderrigters het geredeneer dat die Wet soos ’n kosbare tuin is. Sodat niemand in hierdie tuin oortree deur sy wette te skend nie, het hulle verdere wette gemaak, die “Mondelinge Wet”, om te voorkom dat die volk na aan so ’n oortreding kom.

12 Party redeneer dalk dat Joodse leiers goeie rede gehad het om so te voel. Ná Esra se dag is die Jode deur vreemde magte, veral Griekeland, oorheers. Om die invloed van die Griekse filosofie en kultuur teë te werk, het groepe godsdiensleiers onder die Jode ontstaan. (Sien venster, bladsy 10.) Mettertyd het party van hierdie groepe die Levitiese priesterskap as onderrigters van die Wet begin ewenaar en selfs oortref. (Vergelyk Maleagi 2:7.) Teen 200 v.G.J. het die mondelinge wette die Joodse lewe begin beïnvloed. Aanvanklik moes hierdie wette nie neergeskryf word nie sodat hulle nie as gelyk aan die geskrewe Wet beskou word nie. Maar menslike denke is geleidelik voor Goddelike denke gestel sodat hierdie “muur” uiteindelik die “tuin” wat dit veronderstel was om te beskerm in werklikheid skade aangedoen het.

Die besmetting van Fariseïsme

13. Hoe het sommige Joodse godsdiensleiers die feit geregverdig dat hulle talle reëls gemaak het?

13 Die rabbi’s het gemeen dat die Tora, oftewel Mosaïese Wet, ’n antwoord op elke moontlike vraag moet bevat, aangesien dit volmaak is. Hierdie opvatting het nie werklik eerbied weerspieël nie. Dit het die rabbi’s in werklikheid die vryheid gegee om slim menslike redenasies te gebruik sodat dit gelyk het asof God se Woord die grondslag vir reëls oor allerhande geskille was—waarvan party persoonlik en ander eenvoudig onbeduidend was.

14. (a) Hoe het die Joodse godsdiensleiers die skriftuurlike voorskrif van afgeskeidenheid van die nasies tot ’n onskriftuurlike uiterste gedryf? (b) Wat toon dat rabbynse reëls nie daarin geslaag het om die Joodse volk teen heidense invloede te beskerm nie?

14 Die godsdiensleiers het keer op keer skriftuurlike voorskrifte geneem en dit tot uiterstes toe gedryf. Die Mosaïese Wet het byvoorbeeld afgeskeidenheid van die nasies aangemoedig, maar die rabbi’s het ’n vorm van onredelike veragting verkondig vir alles wat nie-Joods was. Hulle het geleer dat ’n Jood nie sy beeste in ’n heidense herberg moes laat nie omdat ‘hulle vermoed dat heidene hulle aan bestialiteit skuldig maak’. ’n Joodse vrou is nie toegelaat om ’n heidense vrou wat geboorte gee by te staan nie omdat sy daardeur “sou help om ’n kind vir afgodediens in die wêreld te bring”. Aangesien die rabbi’s tereg agterdogtig was oor Griekse gimnasiums, het hulle alle atletiese oefeninge verbied. Die geskiedenis bewys dat dit alles van weinig nut was om die Jode teen heidense opvattings te beskerm. Trouens, die Fariseërs het self later die heidense Griekse leerstelling van die onsterflikheid van die siel geleer!—Esegiël 18:4.

15. Hoe het die Joodse godsdiensleiers die wette in verband met reiniging en bloedskande verdraai?

15 Die Fariseërs het ook die reinigingswette verdraai. Daar is gesê dat die Fariseërs selfs die son sou reinig as hulle die kans gegee is. Hulle wet het bepaal dat ’n mens onrein sou wees as jy nie onmiddellik “’n draai loop” as jy ’n behoefte daaraan het nie! Om jou hande te was, het ’n ingewikkelde ritueel geword, met reëls wat bepaal het watter hand eerste gewas moes word en hoe dit gewas moes word. Vroue is veral as onrein beskou. Op grond van die skriftuurlike opdrag om nie “naby” enige bloedverwant te kom nie (in werklikheid ’n wet teen bloedskande), het die rabbi’s bepaal dat ’n man nie agter sy vrou moes loop nie; en hy moes nie in die markplein met haar praat nie.—Levitikus 18:6.

16, 17. Hoe het die mondelinge wet toevoegings gemaak tot die gebod om ’n weeklikse Sabbat te hou, en wat het dit tot gevolg gehad?

16 Die bespotting wat die mondelinge wet geestelik gesproke van die Sabbatswet gemaak het, is veral goed bekend. God het Israel ’n eenvoudige gebod gegee: Moenie enige werk op die sewende dag van die week doen nie (Exodus 20:8-11). Die mondelinge wet het egter verder gegaan en sowat 39 soorte verbode werk omskryf, onder meer om ’n knoop te maak of los te maak, om twee steke te maak, om twee Hebreeuse letters neer te skryf, ensovoorts. Dan het elkeen van hierdie soorte verbode werk eindelose ander reëls gehad. Watter knope is verbied en watter is toegelaat? Die mondelinge wet het met arbitrêre regulasies geantwoord. Genesing is mettertyd as verbode werk beskou. Dit was byvoorbeeld verbode om ’n gebreekte ledemaat op die Sabbat te spalk. ’n Man met tandpyn kon asyn gebruik om sy kos te geur, maar hy moes nie die asyn deur sy tande suig nie. Dit sou dalk sy tand gesond maak!

17 Omdat die Sabbatswet dus onder honderde mensgemaakte reëls begrawe is, het die geestelike betekenis daarvan vir die meeste Jode verlore gegaan. Toe Jesus Christus, die “Here van die sabbat”, verstommende, hartverblydende wonderwerke op die Sabbat gedoen het, was die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie daardeur beïndruk nie. Hulle was net bekommerd oor die feit dat hy skynbaar hulle regulasies geïgnoreer het.—Matteus 12:8, 10-14.

Leer uit die dwaasheid van die Fariseërs

18. Wat was die gevolg toe mondelinge wette en tradisies by die Mosaïese Wet gevoeg is? Lig dit toe.

18 Kortweg kan ons sê dat hierdie bykomende wette en tradisies op baie dieselfde wyse aan die Mosaïese Wet vasgeheg geraak het as wat eendmossels aan die romp van ’n skip vasgeheg raak. ’n Skeepseienaar doen groot moeite om hierdie lastige diertjies van sy skip te skraap omdat hulle die vaartuig stadiger maak en die roeswerende verf vernietig. Die mondelinge wette en tradisies het die Wet insgelyks belas en dit aan skadelike misbruik blootgestel. Maar in plaas van sulke bykomstige wette te verwyder, het die rabbi’s voortdurend meer bygevoeg. Teen die tyd dat die Messias gekom het om die Wet te vervul, was die “skip” so aangepak met “eendmossels” dat dit skaars gedryf het! (Vergelyk Spreuke 16:25.) In plaas van die Wetsverbond te beskerm, het hierdie godsdiensleiers dwaas opgetree en dit versaak. Maar waarom het hulle “muur” van wette gefaal?

19. (a) Waarom het die “muur om die Wet” gefaal? (b) Wat toon dat die Joodse godsdiensleiers nie ware geloof gehad het nie?

19 Die leiers van Judaïsme het nie verstaan dat die stryd teen verderwing in die hart geveg word en nie op die bladsye van wetboeke nie (Jeremia 4:14). Die sleutel tot oorwinning is liefde—liefde vir Jehovah, vir sy wet en sy regverdige beginsels. Sulke liefde bring ’n ooreenstemmende haat voort vir die dinge wat Jehovah haat (Psalm 97:10; 119:104). Diegene wie se hart dus met liefde gevul is, bly getrou aan Jehovah se wette in hierdie verdorwe wêreld. Die Joodse godsdiensleiers het die groot voorreg gehad om die mense te leer en sodoende sulke liefde te bevorder en aan te wakker. Waarom het hulle nie daarin geslaag nie? Hulle het klaarblyklik nie geloof gehad nie (Matteus 23:23, voetnoot in naslaanuitgawe). As hulle geloof in die krag van Jehovah se gees gehad het om op die harte van getroue mense in te werk, sou hulle dit nie nodig geag het om streng beheer oor ander se lewe te neem nie (Jesaja 59:1; Esegiël 34:4). Omdat hulle nie geloof gehad het nie, het hulle nie geloof in ander opgebou nie; hulle het die volk met mensgemaakte gebooie belas.—Matteus 15:3, 9; 23:4.

20, 21. (a) Watter algemene uitwerking het ’n tradisiegeoriënteerde denkwyse op Judaïsme gehad? (b) Watter les leer ons uit wat met Judaïsme gebeur het?

20 Daardie Joodse leiers het nie liefde bevorder nie. Hulle tradisies het ’n godsdiens voortgebring wat behep was met die uiterlike, met meganiese gehoorsaamheid ter wille van vertoon—’n vrugbare broeiplek vir huigelary (Matteus 23:25-28). Hulle regulasies het tallose redes geskep om ander te oordeel. Daarom het die trotse, outoritêre Fariseërs geregverdig gevoel om Jesus Christus self te kritiseer. Hulle het die hoofdoel van die Wet uit die oog verloor en die een ware Messias verwerp. Gevolglik moes hy vir die Joodse nasie sê: “Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat.”—Matteus 23:38; Galasiërs 3:23, 24.

21 Watter les leer ons hieruit? Dit is duidelik dat ’n onbuigsame, tradisiegeoriënteerde denkwyse nie die rein aanbidding van Jehovah bevorder nie! Maar beteken dit dat hedendaagse aanbidders van Jehovah geen reëls moet hê tensy dit spesifiek in die Heilige Skrif uiteengesit word nie? Nee. Vir ’n volledige antwoord, laat ons nou kyk na hoe Jesus Christus die Mosaïese Wet met ’n nuwe en beter wet vervang het.

[Voetnoot]

a Dit is natuurlik steeds baie min in vergelyking met die regstelsels van hedendaagse nasies. Teen die vroeë negentigerjare het die federale wette van die Verenigde State byvoorbeeld meer as 125 000 bladsye beslaan, en duisende nuwe wette word elke jaar bygevoeg.

Kan jy verduidelik?

◻ Hoe word die hele skepping deur Goddelike wette beheer?

◻ Wat was die hoofdoel van die Mosaïese Wet?

◻ Wat toon dat die Mosaïese Wet barmhartigheid en medelye beklemtoon het?

◻ Waarom het die Joodse godsdiensleiers tallose reëls by die Mosaïese Wet gevoeg, en wat was die gevolg?

[Venster op bladsy 10]

Die Joodse godsdiensleiers

Skrifgeleerdes: Hulle het hulleself as Esra se opvolgers en as die uitlêers van die Wet beskou. Volgens die boek A History of the Jews “was die skrifgeleerdes nie almal edel van karakter nie, en hulle pogings om versteekte betekenisse in die wet te sien, het dikwels in sinlose formules en dwase beperkings ontaard. Dit het ingewortelde gebruike geword, wat weldra ’n onversetlike tiran geword het.”

Chassidim: Die naam beteken “vromes” of “heiliges”. Hulle word vir die eerste keer in ongeveer 200 v.G.J. as ’n klas genoem en was invloedryk op politieke gebied, asook fanatiese verdedigers van die suiwerheid van die Wet teen die tirannie van Griekse invloed. Die Chassidim het in drie groepe verdeel: die Fariseërs, die Sadduseërs en die Essene.

Fariseërs: Sommige geleerdes meen dat die naam afgelei is van die woorde vir “Afgesonderdes” of “Separatiste”. Hulle was inderdaad fanaties in hulle pogings om afgeskeie van die heidene te wees, maar hulle het ook hulle broederskap as afgeskeie van—en verhewe bo—die gewone Joodse mense beskou wat oningelig oor die ingewikkeldhede van die mondelinge wet was. Een geskiedskrywer het oor die Fariseërs gesê: “In sy geheel gesien, het hulle manne soos kinders behandel en die kleinste besonderhede van rituele plegtighede geformaliseer en omskryf.” ’n Ander geleerde het gesê: “Fariseïsme het ’n menigte regsreëls voortgebring wat alle situasies gedek het, met die onvermydelike gevolg dat hulle onbenullighede vergroot het en in die proses gewigtiger sake verklein het (Mt. 23:23).”

Sadduseërs: ’n Groep wat noue bande met die aristokrasie en die priesterdom gehad het. Hulle het die skrifgeleerdes en die Fariseërs kragtig teëgestaan en het gesê dat die mondelinge wet nie die geldigheid van die geskrewe Wet gehad het nie. Die feit dat hulle hierdie stryd verloor het, word deur die Misjna self getoon: “Die woorde van die Skrifgeleerdes moet met groter strengheid [onderhou word] as wat die woorde van die [geskrewe] Wet [onderhou moet word].” Die Talmoed, wat baie kommentare oor die mondelinge wet ingesluit het, het later selfs gesê: “Die woorde van die skrifgeleerdes is . . . kosbaarder as die woorde van die Tora.”

Essene: ’n Groep askete wat hulleself in afgesonderde gemeenskappe afgeskei het. Volgens The Interpreter’s Dictionary of the Bible was die Essene selfs eksklusiewer as die Fariseërs en “kon soms groter fariseërs as die Fariseërs self wees”.

[Prent op bladsy 8]

Job se ouers het hom waarskynlik aangaande die wette geleer wat die sterrebeelde beheer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel