Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 9/1 bl. 14-19
  • Die wet van die Christus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wet van die Christus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die nuwe verbond
  • Die wet wat tot vryheid behoort
  • Jesus en die Fariseërs
  • Is die wet van die Christus permissief?
  • Die Christendom besoedel die wet van die Christus
  • Leer uit die foute van die Christendom
  • Die wet voor Christus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • “Die wet van Jehovah is volmaak”
    Kom nader aan Jehovah
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 9/1 bl. 14-19

Die wet van die Christus

“[Ek is] onder die wet ten opsigte van Christus.”—1 KORINTIËRS 9:21.

1, 2. (a) Hoe kon baie van die mensdom se foute voorkom gewees het? (b) Watter les uit die geskiedenis van Judaïsme het die Christendom nie geleer nie?

“VOLKE en regerings het nog nooit enigiets uit die geskiedenis geleer of op beginsels gereageer wat daaruit afgelei is nie.” Dit is wat ’n 19de-eeuse Duitse filosoof gesê het. Trouens, die verloop van die mens se geskiedenis is al beskryf as ’n “opmars van dwaasheid”, ’n reeks afgryslike flaters en krisisse waarvan baie voorkom kon gewees het as die mensdom net bereid was om uit hulle foute van die verlede te leer.

2 Dieselfde weiering om uit foute van die verlede te leer, kom in hierdie bespreking van Goddelike wet na vore. Jehovah God het die Mosaïese Wet met ’n wet vervang wat selfs beter is—die wet van die Christus. Tog het die leiers van die Christendom, wat beweer dat hulle hierdie wet aan ander leer en daarvolgens lewe, nie uit die verskriklike dwaasheid van die Fariseërs geleer nie. Die Christendom het dus die wet van die Christus verdraai en dit misbruik net soos Judaïsme met die Wet van Moses gedoen het. Hoe is dit moontlik? Laat ons eerstens hierdie wet bespreek—wat dit is, wie daardeur gelei word, hoe hulle daardeur gelei word en wat dit van die Mosaïese Wet onderskei. Dan sal ons ondersoek hoe die Christendom dit misbruik het. Mag ons dus uit die geskiedenis leer en daarby baat vind!

Die nuwe verbond

3. Watter belofte het Jehovah in verband met ’n nuwe verbond gemaak?

3 Wie anders as Jehovah God kon op ’n volmaakte Wet verbeter? Die Mosaïese Wetsverbond was volmaak (Psalm 19:8). Ten spyte daarvan het Jehovah belowe: “Kyk, daar kom dae, . . . dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het [nie].” Die Tien Gebooie—die kern van die Mosaïese Wet—is op kliptafels geskryf. Maar aangaande die nuwe verbond het Jehovah gesê: “Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart.”—Jeremia 31:31-34.

4. (a) Watter Israel is by die nuwe verbond ingesluit? (b) Wie benewens geestelike Israeliete is onder die wet van die Christus?

4 Wie sou in hierdie nuwe verbond ingesluit word? Beslis nie die letterlike “huis van Israel” deur wie die Middelaar van hierdie verbond verwerp is nie (Hebreërs 9:15). Nee, hierdie nuwe “Israel” sou die “Israel van God” wees, ’n nasie van geestelike Israeliete (Galasiërs 6:16; Romeine 2:28, 29). Later sou “’n groot skare” uit alle nasies wat ook daarna sou streef om Jehovah te aanbid by hierdie klein, geesgesalfde groep Christene aansluit (Openbaring 7:9, 10; Sagaria 8:23). Hoewel hulle nie in die nuwe verbond ingesluit word nie, sou hulle hulle ook aan wette moes onderwerp. (Vergelyk Levitikus 24:22; Numeri 15:15.) As “een kudde” onder “een herder” sou almal “onder die wet ten opsigte van Christus” wees, soos die apostel Paulus geskryf het (Johannes 10:16; 1 Korintiërs 9:21). Paulus het hierdie nuwe verbond ’n “beter verbond” genoem. Waarom? In die eerste plek is dit op beloftes gegrond wat reeds vervul is en nie op skaduwees van toekomstige dinge nie.—Hebreërs 8:6; 9:11-14.

5. Wat is die doel van die nuwe verbond, en waarom sal dit sukses behaal?

5 Wat is die doel van hierdie verbond? Dit is om ’n nasie van konings en priesters voort te bring om die hele mensdom te seën (Exodus 19:6; 1 Petrus 2:9; Openbaring 5:10). Die Mosaïese Wetsverbond het nooit hierdie nasie in die volste sin voortgebring nie, want Israel in sy geheel het in opstand gekom en sy geleentheid verbeur. (Vergelyk Romeine 11:17-21.) Maar die nuwe verbond sal beslis sukses behaal, want dit hou verband met ’n heel ander soort wet. Hoe is dit anders?

Die wet wat tot vryheid behoort

6, 7. Hoe gee die wet van die Christus groter vryheid as die Mosaïese Wet?

6 Die wet van die Christus word herhaaldelik met vryheid in verband gebring (Johannes 8:31, 32). Dit word beskryf as “die wet van ’n vry volk” en “die volmaakte wet . . . wat tot vryheid behoort” (Jakobus 1:25; 2:12). Alle vryheid onder die mens is natuurlik relatief. Hierdie wet gee nogtans baie groter vryheid as die Mosaïese Wet wat dit voorafgegaan het. Hoe so?

7 Vir eers word niemand onder die wet van die Christus gebore nie. Faktore soos ras en geboorteplek is nie ter sake nie. Ware Christene maak self hierdie keuse in hulle hart om die juk van gehoorsaamheid aan hierdie wet te aanvaar. Wanneer hulle dit doen, vind hulle dat dit ’n sagte juk, ’n ligte vrag is (Matteus 11:28-30). Die Mosaïese Wet was buitendien ook bedoel om die mens te leer dat hy sondig is en ’n losprysofferande om hom los te koop bitter nodig het (Galasiërs 3:19). Die wet van die Christus leer dat die Messias gekom het, die losprys met sy lewe betaal het en die weg vir ons gebaan het om van die verskriklike oorheersing van sonde en die dood bevry te word! (Romeine 5:20, 21). As ons daarby baat wil vind, moet ons ‘geloof beoefen’ in daardie offerande.—Johannes 3:16.

8. Wat sluit die wet van die Christus in, maar waarom hoef ’n mens nie honderde wette te memoriseer om daarvolgens te lewe nie?

8 Om ‘geloof te beoefen’, behels dat ’n mens volgens die wet van die Christus lewe. Dit sluit in dat jy al Christus se gebooie gehoorsaam. Beteken dit dat ’n mens honderde wette en verordeninge moet memoriseer? Nee. Hoewel Moses, die middelaar van die ou verbond, die Mosaïese Wet neergeskryf het, het Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, nooit ’n enkele wet neergeskryf nie. In plaas daarvan het hy hierdie wet uitgelewe. Deur middel van sy volmaakte lewensweg het hy ’n voorbeeld gestel vir almal om te volg (1 Petrus 2:21). Miskien is dit waarom daar na die vroeë Christene se aanbidding as “Die Weg” verwys is (Handelinge 9:2; 19:9, 23; 22:4; 24:22). Vir hulle was die wet van die Christus in die lewe van die Christus beliggaam. Om Jesus na te volg, het beteken dat ’n mens hierdie wet moes gehoorsaam. Hulle diepe liefde vir hom het beteken dat hierdie wet inderdaad op hulle hart geskryf was, soos geprofeteer is (Jeremia 31:33; 1 Petrus 4:8). En iemand wat uit liefde gehoorsaam is, voel nooit onderdruk nie—nog ’n rede waarom die wet van die Christus “die wet van ’n vry volk” genoem kan word.

9. Wat is die kern van die wet van die Christus, en in watter opsig sluit hierdie wet ’n nuwe gebod in?

9 As liefde in die Mosaïese Wet belangrik was, dan is dit die kern van die Christelike wet. Die wet van die Christus sluit dus ’n nuwe gebod in—Christene moet selfopofferende liefde vir mekaar hê. Hulle moet liefhê soos Jesus liefgehad het; hy het gewillig sy lewe ten behoewe van sy vriende opgeoffer (Johannes 13:34, 35; 15:13). Daar kan dus gesê word dat die wet van die Christus ’n selfs voortrefliker blyk van teokrasie is as wat die Wet van Moses was. Soos hierdie tydskrif al gesê het: “Teokrasie is heerskappy deur God; God is liefde; teokrasie is dus heerskappy deur liefde.”

Jesus en die Fariseërs

10. Hoe het Jesus se onderrigting van dié van die Fariseërs verskil?

10 Dit verbaas ons dus glad nie dat Jesus met die Joodse godsdiensleiers van sy dag gebots het nie. ’n “Volmaakte wet . . . wat tot vryheid behoort” was die laaste ding waaraan die skrifgeleerdes en die Fariseërs gedink het. Hulle het die volk deur mensgemaakte regulasies probeer beheer. Hulle onderrigting het onderdrukkend, veroordelend, negatief geword. In skerp teenstelling hiermee was Jesus se onderrigting besonder opbouend en positief! Hy was prakties en het aan die ware behoeftes en sorge van die mense aandag geskenk. Hy het hulle op ’n eenvoudige wyse en met opregte gevoel geleer deur illustrasies te gebruik wat op alledaagse dinge gegrond was en deur op die gesag van God se Woord staat te maak. Daarom was “die skare verstom . . . oor sy manier van leer” (Matteus 7:28). Ja, Jesus se onderrigting het hulle harte bereik!

11. Hoe het Jesus getoon dat die Mosaïese Wet met redelikheid en barmhartigheid toegepas moes word?

11 Jesus het nie meer regulasies by die Mosaïese Wet gevoeg nie, maar eerder getoon hoe die Jode nog altyd veronderstel was om daardie Wet toe te pas—met redelikheid en barmhartigheid. Dink byvoorbeeld terug aan die geleentheid toe ’n vrou wat aan bloedvloeiing gely het na hom toe gekom het. Volgens die Mosaïese Wet sou enigiemand wat sy aanraak onrein word, en daarom was sy beslis nie veronderstel om met ’n skare mense te meng nie! (Levitikus 15:25-27). Maar sy wou so graag genees word dat sy haar weg deur die skare gebaan het en aan Jesus se bokleed geraak het. Die bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Het hy haar berispe omdat sy die Wet oortree het? Nee; hy het eerder haar wanhopige situasie verstaan en die Wet se grootste voorskrif aan die dag gelê—liefde. Hy het met empatie vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede, en wees van jou ernstige siekte genees.”—Markus 5:25-34.

Is die wet van die Christus permissief?

12. (a) Waarom moet ons nie aanneem dat die wet van die Christus permissief is nie? (b) Wat toon dat baie wette tot baie skuiwergate aanleiding gee?

12 Moet ons dus die gevolgtrekking maak dat die wet van die Christus permissief is omdat dit “tot vryheid behoort”, terwyl die Fariseërs, met al hulle mondelinge tradisies, mense se gedrag ten minste binne streng perke gehou het? Nee. Hedendaagse regstelsels toon dat hoe meer wette daar is, hoe meer skuiwergate vind mense daarin.a In Jesus se dag het die oorvloed van Fariseïese reëls mense aangemoedig om skuiwergate te soek, om werke meganies te doen sonder enige liefde en om ’n selfvoldane uiterlike aan te kweek om ’n verdorwe innerlike te verberg.—Matteus 23:23, 24.

13. Waarom het die wet van die Christus ’n hoër gedragstandaard as enige geskrewe regskode tot gevolg?

13 In teenstelling hiermee bevorder die wet van die Christus nie sulke gesindhede nie. Trouens, om ’n wet te gehoorsaam wat op liefde vir Jehovah gegrond is en wat gehoorsaam word deur Christus se selfopofferende liefde vir ander na te volg, het ’n baie hoër gedragstandaard tot gevolg as wat die geval is wanneer ’n formele regskode gevolg word. Liefde soek nie skuiwergate nie; dit weerhou ons daarvan om skadelike dinge te doen wat dalk nie uitdruklik deur ’n regskode verbied word nie. (Sien Matteus 5:27, 28.) Die wet van die Christus sal ons dus beweeg om dinge vir ander te doen—om vrygewigheid, gasvryheid en liefde te betoon—op maniere wat geen formele wet ons kan laat doen nie.—Handelinge 20:35; 2 Korintiërs 9:7; Hebreërs 13:16.

14. Watter uitwerking het die feit dat die eerste-eeuse Christengemeente volgens die wet van die Christus gelewe het op hulle gehad?

14 In die mate dat die lede van die vroeë Christengemeente volgens die wet van die Christus gelewe het, het hulle ’n hartlike, liefdevolle atmosfeer geniet wat betreklik vry was van die onbuigsame, veroordelende en huigelagtige gesindhede wat so algemeen was in die sinagoges van daardie tyd. Lede van hierdie nuwe gemeentes moes sekerlik besef het dat hulle volgens “die wet van ’n vry volk” lewe!

15. Wat was sommige van Satan se vroeë pogings om die Christengemeente te verderf?

15 Satan was egter gretig om die Christengemeente van binne af te verderf, net soos hy die nasie Israel verderf het. Die apostel Paulus het gewaarsku teen wolfagtige manne wat ‘verdraaide dinge sou spreek’ en die kudde van God sou onderdruk (Handelinge 20:29, 30). Hy het te doen gehad met Judaïseerders, wat die relatiewe vryheid van die wet van die Christus probeer verruil het vir slawerny aan die Mosaiese Wet, wat in Christus vervul is (Matteus 5:17; Handelinge 15:1; Romeine 10:4). Nadat die laaste apostel gesterf het, was daar niks om die afvalligheid teë te hou nie. Verdorwenheid het dus algemeen geword.—2 Tessalonisense 2:6, 7.

Die Christendom besoedel die wet van die Christus

16, 17. (a) Watter vorme het verderwing in die Christendom aangeneem? (b) Hoe het die wette van die Katolieke Kerk ’n verdraaide beskouing van seks bevorder?

16 Soos in die geval van Judaïsme het verderwing meer as een vorm in die Christendom aangeneem. Hulle het ook in die strik van valse leerstellings en losse sedes getrap. En die pogings wat hulle aangewend het om hulle kudde teen eksterne invloede te beskerm, het dikwels enige oorblywende spoor van rein aanbidding ondermyn. Onbuigsame en onskriftuurlike wette het geweldig toegeneem.

17 Die Katolieke Kerk het die voortou geneem in die skepping van ’n groot aantal kerkwette. Hierdie wette gee veral ’n verdraaide beskouing van seksuele sake. Volgens die boek Sexuality and Catholicism het die kerk die Griekse filosofie van Stoïsisme aangeneem wat alle vorme van plesier met agterdog bejeën het. Mettertyd het die kerk geleer dat alle seksuele genot, onder andere normale geslagsomgang binne die huwelik, sonde is. (Vergelyk Spreuke 5:18, 19.) Daar is beweer dat seks vir voortplanting bedoel is, en vir niks anders nie. Die kerkwet het dus enige vorm van geboortebeperking as ’n baie ernstige sonde veroordeel en het soms jare lange boetedoening daarvoor vereis. Daarbenewens is alle priesters verbied om te trou; ’n verordening wat tot wydverspreide ongeoorloofde seks aanleiding gegee het, onder andere kindermolestering.—1 Timoteus 4:1-3.

18. Wat het die toename in kerkwette tot gevolg gehad?

18 Namate kerkwette toegeneem het, is hulle in boeke saamgestel. Dit het die Bybel begin verberg en vervang. (Vergelyk Matteus 15:3, 9.) Soos Judaïsme het Katolisisme sekulêre geskrifte gewantrou en baie daarvan as ’n bedreiging beskou. Hierdie beskouing het weldra baie verder gegaan as die Bybel se verstandige waarskuwing oor die saak (Prediker 12:12; Kolossense 2:8). Hieronimus, ’n kerkskrywer van die vierde eeu G.J., het uitgeroep: “O Here, as ek ooit weer wêreldse boeke besit of lees, het ek u verloën.” Mettertyd het die kerk boeke begin sensor—selfs dié oor sekulêre onderwerpe. Die 17de-eeuse sterrekundige Galileo is derhalwe onder sensuur geplaas omdat hy geskryf het dat die aarde om die son wentel. Omdat die kerk daarop aangedring het dat hulle op alle gebiede die hoogste gesag moes wees—selfs oor sterrekunde—het dit op die lange duur daartoe gelei dat geloof in die Bybel ondermyn is.

19. Hoe het die kloosters onbuigsame outoritarisme bevorder?

19 Die kerk se reëls was veral opmerklik in die kloosters, waar monnike hulle van hierdie wêreld afgeskei het om ’n lewe van selfverloëning te lei. Die meeste Katolieke kloosters het “Die kloosterreël van St. Benedictus” gevolg. Die ab (’n term wat van die Aramese woord vir “vader” afgelei is) het met absolute gesag geheers. (Vergelyk Matteus 23:9.) As ’n monnik ’n geskenk van sy ouers ontvang het, sou die ab besluit of daardie monnik of ’n ander een dit moes kry. Benewens dat growwe praatjies veroordeel is, het een reël alle ligte geselsery en grappe verbied en gesê: “Geen dissipel sal sulke dinge spreek nie.”

20. Wat toon dat Protestantisme ook bedrewe in onskriftuurlike outoritarisme was?

20 Protestantisme, wat die onskriftuurlike uiterstes van Katolisisme probeer hervorm het, het kort voor lank net so bedrewe daarin geword om outoritêre reëls te maak wat geen grondslag in die wet van die Christus het nie. Die vername hervormer Johannes Calvyn is byvoorbeeld “die wetgewer van die herstelde Kerk” genoem. Hy het Genève met ’n menigte streng reëls geregeer wat deur “Ouderlinge” toegepas is wie se “werk”, volgens Calvyn, “dit is om oor almal se lewe toesig te hou”. (Vergelyk 2 Korintiërs 1:24.) Die kerk het die herberge beheer en het bepaal watter onderwerpe vir gesprekke toelaatbaar was. Daar is swaar strawwe opgelê as mense oortree het deur ligsinnige liedjies te sing of te dans.b

Leer uit die foute van die Christendom

21. Wat was die algemene gevolg van die Christendom se neiging om ‘verder te gaan as die dinge wat geskrywe staan’?

21 Het al hierdie reëls en wette die Christendom teen verderwing beskerm? Net die teenoorgestelde is waar! Die Christendom het vandag in honderde sektes versplinter wat wissel van die uitermate streng tot die erg permissiewe. Hulle almal het op die een of ander manier ‘verder gegaan as die dinge wat geskrywe staan’ en het toegelaat dat menslike denke die kudde beheer en met Goddelike wet inmeng.—1 Korintiërs 4:6.

22. Waarom het die Christendom se afvalligheid nie die einde van die wet van die Christus beteken nie?

22 Die geskiedenis van die wet van die Christus is egter nie ’n tragedie nie. Jehovah God sal nooit toelaat dat blote mense Goddelike wet uitwis nie. Die Christelike wet word beslis vandag onder ware Christene toegepas, en hulle het die groot voorreg om daarvolgens te lewe. Maar nadat ons ondersoek het wat Judaïsme en die Christendom met die Goddelike wet gedoen het, wonder ons dalk: ‘Hoe lewe ons volgens die wet van die Christus terwyl ons die strik vermy om God se Woord met menslike redenasies en reëls te besoedel wat die gees van die Goddelike wet ondermyn? Watter gebalanseerde beskouing moet die wet van die Christus vandag in ons inboesem?’ Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.

[Voetnote]

a Die Fariseërs is grootliks verantwoordelik vir die vorm van Judaïsme wat vandag bestaan, en daarom is dit nie verbasend dat Judaïsme nog steeds skuiwergate in sy talle bygevoegde Sabbatsbeperkings soek nie. Byvoorbeeld, ’n besoeker aan ’n ortodokse Joodse hospitaal op die Sabbat sal dalk vind dat die hyser outomaties op elke vloer stop sodat die passasiers nie ’n hyserknoppie hoef te druk en sodoende ’n sondige “werk” doen nie. Sommige ortodokse dokters skryf voorskrifte in ink uit wat binne ’n paar dae sal verdwyn. Waarom? Volgens die Misjna “werk” ’n mens as jy skryf, maar dit definieer “skryf” as iets wat ’n permanente merk laat.

b Servetus, wat party van Calvyn se teologiese opvattings betwis het, is as ’n ketter op die brandstapel verbrand.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat is die kern van die wet van die Christus?

◻ Hoe het Jesus se manier van onderrigting van dié van die Fariseërs verskil?

◻ Hoe het Satan ’n onbuigsame, reëlgeoriënteerde gees gebruik om die Christendom te verderf?

◻ Wat is ’n paar van die positiewe gevolge as mense volgens die wet van die Christus lewe?

[Prent op bladsy 16]

Jesus het die Mosaïese Wet op ’n redelike en barmhartige wyse toegepas

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel