Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 10/1 bl. 3-4
  • Ons moet droom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons moet droom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die wêreld van drome
  • Is drome boodskappe van God af?
    Ontwaak!—2001
  • Drome
    Redenering uit die Skrif
  • Hoe jy die slaap kan kry wat jy nodig het
    Ontwaak!—2004
  • Drome wat van God kom
    Ontwaak!—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 10/1 bl. 3-4

Ons moet droom

HET jy drome? Jy kan met gerustheid aanneem dat jy wel drome het, want ons almal droom terwyl ons slaap, selfs al beweer ons die teendeel. Daar word gereken dat meer as 95 persent van alle drome nie onthou word nie. Watter drome onthou jy? In werklikheid onthou ons gewoonlik dié wat ons het net voordat ons wakker word.

Droomnavorsers het bevind dat slaap ’n progressiewe proses is wat in die eerste paar uur die diepste is en naderhand ligter word. Drome vind veral plaas gedurende tye van vinnige oogbeweging, wat REM-slaap genoem word. Dit word met tye van nie-REM-slaap afgewissel. Elke siklus van nie-REM/REM-slaap duur ongeveer 90 minute, en hierdie siklusse word vyf of ses keer gedurende die nag herhaal, en die laaste een vind plaas net voordat ons wakker word.

Jy misgis jou as jy dink dat jou brein op ’n lae vlak van bedrywigheid is terwyl jy slaap. Daar is bevind dat die brein bedrywiger is tydens drome as gedurende sommige tye wanneer ’n mens wakker is, met uitsondering van sekere neurone in die breinstam, wat met konsentrasie en geheue verband hou. Dit lyk asof hulle gedurende REM-slaap rus. Maar oor die algemeen het die senuselle in die brein onafgebroke intersellulêre kommunikasie.

Ons brein is ’n verbasend ingewikkelde deel van die liggaam met miljarde elemente wat seine teen ’n tempo van ongeveer honderd tot twee- of driehonderd per sekonde uitstuur. Daar is meer elemente in een mensebrein as wat daar mense op die aarde is. Party navorsers skat dat dit van 20 miljard tot meer as 50 miljard elemente bevat. Die ingewikkeldheid daarvan bevestig wat die Bybelskrywer Dawid oor die menseliggaam gesê het: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke!”—Psalm 139:14.

Die wêreld van drome

Wanneer ons wakker is, stuur ons vyf sintuie voortdurend inligting en beelde na die brein, maar wanneer ons slaap gebeur dit nie. Die brein skep self beelde sonder enige sintuiglike insette van buite. Gevolglik is dít wat ons in drome sien en wat ons daarin doen soms soos hallusinasies. Dit stel ons in staat om dinge te doen wat strydig met die natuurwette is, soos om soos Peter Pan te vlieg of om van ’n krans af te val sonder om seer te kry. Ons kan ’n verwronge tydsgevoel ervaar sodat die verlede soos die hede voel. Of as ons probeer weghardloop, voel dit asof ons geen beheer oor ons bewegings het nie—ons bene wil nie reageer nie. Dinge wat diep indrukke op ons maak en ondervindinge wat ons het terwyl ons wakker is, kan natuurlik ons drome beïnvloed. Baie mense wat die verskriklike gruwels van oorlog deurgemaak het, kan dit nie maklik vergeet nie, en party kan ook nie die gevoel van hoe hulle deur ’n misdadiger aangeval is, vergeet nie. Sulke ontstellende ondervindinge terwyl ons wakker is, kan in ons drome opkom en nagmerries veroorsaak. Alledaagse dinge waaroor ons dink wanneer ons gaan slaap, kan ook in ons drome opkom.

Partykeer wanneer ons ’n probleem probeer oplos, word die oplossing vir ons duidelik terwyl ons slaap. Dit dui moontlik daarop dat ons slapensure nie net deur drome gevul word nie. ’n Deel daarvan bestaan uit denke.

’n Boek oor drome en ons brein sê: “Die algemeenste vorm van verstandelike bedrywigheid terwyl ’n mens slaap, is nie om te droom nie, maar om te dink. Wanneer ons slaap, gaan die denkproses nie met sintuiglike illusies gepaard nie, en dit is nie bisar nie. Dit is geneig om oor algemene dinge te handel, het dikwels te doen met die werklike gebeure van gister of môre en is gewoonlik alledaags, onoorspronklik en herhalend.”

Party mense meen dat die onderwerpe van hulle drome spesiale boodskappe vir hulle het. Om hulle in staat te stel om die drome te laat uitlê, hou hulle ’n notaboekie langs hulle bed sodat hulle dit kan neerskryf wanneer hulle wakker word. The Dream Game, deur Ann Faraday, sê aangaande die nuttigheid van boeke wat betekenis aan droomsimbole probeer heg: “Boeke oor drome waarin ’n mens die betekenisse van temas en simbole in drome opsoek, is almal ewe waardeloos, hetsy dit tradisioneel is of op die een of ander moderne sielkundige teorie gebaseer is.”

Omdat drome blykbaar hoofsaaklik in die brein ontstaan, is dit onredelik om te dink dat hulle spesiale boodskappe vir ons het. Ons moet hulle as ’n normale funksie van die brein beskou wat dit help om gesond te bly.

Maar wat van diegene wat sê dat hulle van ’n familielid of vriend se dood gedroom het en die volgende dag gehoor het dat die persoon dood is? Toon dit nie dat drome die toekoms kan voorspel nie? In die volgende artikel sal ons ondersoek instel na wat agter profetiese drome sit.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel