Lewe ná die dood—Hoe, waar, wanneer?
DIE mens se Skepper en Lewegewer gee sy persoonlike waarborg dat mensedood nie noodwendig die lewe vir ewig beëindig nie. Daarbenewens verseker God ons dat dit moontlik is om nie net weer ’n verdere beperkte lewensduur te hê nie, maar om met die vooruitsig te lewe om nooit weer te sterf nie! Die apostel Paulus het dit eenvoudig, maar met sekerheid, gestel: “Hy [God] het aan alle mense ’n waarborg verskaf deurdat hy hom [Christus Jesus] uit die dode opgewek het.”—Handelinge 17:31.
Dit laat natuurlik steeds drie basiese vrae onbeantwoord: Hoe kan ’n dooie persoon weer lewendig word? Wanneer sal dit gebeur? Waar ontstaan daardie nuwe lewe? Regoor die wêreld is uiteenlopende antwoorde op hierdie vrae gegee, maar ’n noodsaaklike sleutel om vas te stel wat die waarheid is, is om ’n juiste begrip te hê van wat met mense gebeur wanneer hulle sterf.
Is onsterflikheid die antwoord?
’n Algemene opvatting is dat ’n deel van alle mense onsterflik is en dat slegs hulle liggame sterf. Jy het sekerlik al so ’n bewering gehoor. Hierdie deel wat na bewering onsterflik is, word onder meer na verwys as die “siel” of “gees”. Daar word gesê dat dit ná die dood van die liggaam voortleef en op ’n ander plek bly lewe. Ronduit gestel, so ’n opvatting kom nie in die Bybel voor nie. Eertydse Hebreeuse Bybelkarakters het weliswaar uitgesien na lewe ná die dood, maar nie deur die voortlewing van die een of ander onsterflike deel van hulle nie. Hulle het vol vertroue na ’n toekomstige terugkeer tot lewe op aarde uitgesien deur die wonderwerk van ’n opstanding.
Die aartsvader Abraham is ’n goeie voorbeeld van iemand wat aan ’n toekomstige opstanding van die dooies geglo het. Hebreërs 11:17-19 beskryf Abraham se gewilligheid om sy seun Isak op te offer en sê: “Deur geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak so goed as geoffer, . . . maar hy het gereken dat God hom selfs uit die dode kon opwek; en daaruit het hy hom dan ook, by wyse van illustrasie, ontvang”, omdat God nie vereis het dat Isak opgeoffer word nie. As verdere bewys van die vroeë opvatting onder die Israeliete dat hulle later tot die lewe sou terugkeer (pleks van onmiddellik in ’n geesteryk voort te leef), het die profeet Hosea geskryf: “Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood.”—Hosea 13:14.
Wanneer het die gedagte van inherente menslike onsterflikheid dus ’n deel van die Joodse denke en opvattings geword? Die Encyclopaedia Judaica erken dat “dit waarskynlik onder Griekse invloed was dat die leerstelling oor die onsterflikheid van die siel in Judaïsme posgevat het”. Vroom Jode het nietemin tot die tyd van Christus steeds aan ’n toekomstige opstanding geglo en daarna uitgesien. Ons kan dit duidelik sien in die gesprek wat Jesus met Marta gevoer het toe haar broer Lasarus gesterf het: “Marta het dus vir Jesus gesê: ‘Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie.’ . . . Jesus het vir haar gesê: ‘Jou broer sal opstaan.’ Marta het vir hom gesê: ‘Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan.’”—Johannes 11:21-24.
Die toestand van die dooies
Daar is weer eens geen rede om hieroor te gis nie. Die eenvoudige Bybelwaarheid is dat die dooies “slaap”, in ’n toestand van onbewustheid is en hoegenaamd niks kan voel en geen kennis het nie. Hierdie waarheid word nie in die Bybel op ’n ingewikkelde, moeilik verstaanbare manier verduidelik nie. Beskou hierdie maklik verstaanbare tekste: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie . . . Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Prediker 9:5, 10). “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”—Psalm 146:3, 4.
’n Mens kan gevolglik begryp waarom Jesus Christus na die dood as ’n slaap verwys het. Die apostel Johannes skryf oor ’n gesprek tussen Jesus en sy dissipels: “Hy [het] vir hulle gesê: ‘Lasarus, ons vriend, het gaan rus, maar ek reis daarheen om hom uit die slaap wakker te maak.’ Daarom het die dissipels vir hom gesê: ‘Here, as hy gaan rus het, sal hy gesond word.’ Jesus het egter van sy dood gepraat. Maar hulle het gedink dat hy van die rus van die slaap praat. Toe het Jesus dus ronduit vir hulle gesê: ‘Lasarus het gesterf.’”—Johannes 11:11-14.
Die hele mens sterf
Die proses van mensedood sluit die hele mens in, nie net die dood van die liggaam nie. Volgens duidelike Bybelse stellings moet ons tot die gevolgtrekking kom dat ’n mens nie ’n onsterflike siel het wat ná die dood van sy liggaam kan voortleef nie. Die Skrif toon duidelik dat ’n siel kan sterf. “Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). Nêrens word die woorde “onsterflik” of “onsterflikheid” gebruik asof dit eie aan die mens is nie.
Die New Catholic Encyclopedia bevat hierdie interessante agtergrond van die Hebreeuse en Griekse woorde wat in die Bybel as “siel” vertaal word: “Siel in die OT [Ou Testament] is nepeš, in die NT [Nuwe Testament] [psu·chè]. . . . Nepeš kom van ’n oorspronklike grondwoord wat waarskynlik beteken om asem te haal, en . . . aangesien asem die lewendes van die dooies onderskei, het nepeš dus die betekenis van lewe of die self of bloot individuele lewe aangeneem. . . . Daar is geen digotomie [verdeling in twee dele] van die liggaam en siel in die OT nie. Die Israeliet het dinge konkreet, in hulle geheel, gesien en het mense dus as persone en nie as samestellings beskou nie. Hoewel die woord nepeš met ons woord siel vertaal word, beteken dit nooit siel as afsonderlik van die liggaam of die individuele persoon nie. . . . Die term [psu·chè] is die woord in die NT wat met nepeš ooreenkom. Dit kan die beginsel van lewe, die lewe self of die lewende wese beteken.”
Jy kan dus sien dat die mens wat voorheen lewendig was, of die lewende siel, ten tye van sy dood ophou bestaan. Die liggaam keer terug tot “stof” of tot die elemente van die aarde, hetsy geleidelik deur begrawing en die daaropvolgende ontbinding of verhaas deur verassing. Jehovah het vir Adam gesê: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Hoe is lewe ná die dood dus moontlik? Dit is omdat die oorledene in God se geheue is. Jehovah het die wonderdadige krag en vermoë om mense te skep, en daarom behoort dit ons nie te verbaas dat hy in sy geheue ’n verslag van die individu se lewenspatroon kan bewaar nie. Ja, alle vooruitsigte vir daardie persoon om weer te lewe, berus by God.
Dit is die betekenis van die woord “gees”, waarvan daar gesê word dat dit na die ware God terugkeer wat dit gegee het. Die geïnspireerde skrywer van die boek Prediker beskryf wat die eindresultaat is en verduidelik: ‘Die stof keer terug na die aarde soos dit gewees het, en die gees keer terug na God wat dit gegee het.’—Prediker 12:7.
Net God kan iemand laat lewe. Toe God die mens in Eden geskep en in sy neus “die asem van die lewe” geblaas het, het Jehovah nie net Adam se longe met lug gevul nie, maar die lewenskrag gebruik om al die selle in sy liggaam lewendig te maak (Genesis 2:7). Omdat hierdie lewenskrag van ouers aan kinders oorgedra kan word deur die proses van bevrugting en geboorte, kom ’n menselewe in werklikheid van God af, hoewel dit natuurlik van die ouers ontvang word.
Die opstanding—’n gelukkige tyd
Die opstanding moenie verwar word met reïnkarnasie, waarvoor daar geen bewys in die Heilige Skrif is nie. Reïnkarnasie is die opvatting dat iemand ná sy dood weer gebore word in een of meer opeenvolgende lewensvorme. Dit is glo óf op ’n hoër vlak óf op ’n laer vlak van bestaan vergeleke met ’n mens se vorige lewe, na gelang van watter soort lewe jy blykbaar in daardie vorige lewe gelei het. Volgens hierdie opvatting kan iemand as ’n mens of as ’n dier “weergebore” word. Dit is heeltemal in stryd met wat die Bybel leer.
Die woord “opstanding” is ’n vertaling van die Griekse woord a·naʹsta·sis, wat letterlik beteken “om weer op te staan”. (Die Hebreeuse vertalers van die Grieks het a·naʹsta·sis met die Hebreeuse woorde teki·jathʹ ham·me·thimʹ vertaal, wat “herlewing van die dooies” beteken.) Die opstanding behels ’n herstel van die lewenspatroon van die individu, ’n lewenspatroon wat God in sy geheue bewaar het. Volgens God se wil vir die individu word die persoon óf in ’n menseliggaam, óf in ’n geesliggaam herstel; tog behou hy sy persoonlike identiteit daar hy dieselfde persoonlikheid en herinneringe het as toe hy gesterf het.
Ja, die Bybel praat van twee soorte opstandings. Die een is ’n opstanding tot lewe in die hemel met ’n geesliggaam; dit is vir betreklik min. Jesus Christus het so ’n opstanding ontvang (1 Petrus 3:18). En hy het getoon dat uitverkorenes onder sy voetstapnavolgers hierdie opstanding sou kry, waarvan die eerstes sy getroue apostels is vir wie hy belowe het: “Ek gaan heen om vir julle ’n plek te berei. . . . Ek [kom] weer en sal julle tuis ontvang by my, sodat julle ook kan wees waar ek is” (Johannes 14:2, 3). Die Bybel verwys hierna as “die eerste opstanding”, wat eerste plaasvind en die belangrikste is. Die Skrif beskryf diegene wat só tot hemelse lewe opgewek word as priesters van God en as konings wat saam met Christus Jesus heers (Openbaring 20:6). Hierdie “eerste opstanding” is vir ’n beperkte getal, en die Skrif openbaar self dat net 144 000 uit getroue manne en vroue geneem sal word. Hulle sal mense wees wat bewys het dat hulle hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah God en Christus Jesus tot hulle dood gehandhaaf het deur daadwerklik vir ander aangaande hulle geloof te getuig.—Openbaring 14:1, 3, 4.
Die opstanding van die dooies is ongetwyfeld ’n tyd van buitengewone vreugde vir diegene wat tot hemelse lewe opgewek word. Maar die vreugde eindig nie daar nie, want daar is ook belowe dat ’n opstanding tot lewe reg hier op aarde gaan plaasvind. Diegene wat opgewek word, sal hulle aansluit by ’n onbeperkte getal wat die einde van die huidige bose stelsel oorleef. Nadat die apostel Johannes die klein getal gesien het wat vir ’n hemelse opstanding in aanmerking kom, het hy ’n visioen ontvang van “’n groot skare, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”. Wat ’n gelukkige tyd sal dit tog wees wanneer miljoene, moontlik miljarde, hier op die aarde opgewek word!—Openbaring 7:9, 16, 17.
Wanneer sal dit plaasvind?
Enige vreugde en geluk sal kortstondig wees indien die dooies terugkeer na ’n aarde wat gevul is met twis, bloedvergieting, besoedeling en geweld—soos die toestand vandag is. Nee, die opstanding moet wag totdat “’n nuwe aarde” eers voorberei is. Dink net, ’n planeet wat gereinig is van mense en instellings wat tot nou toe blykbaar daarop uit was om die aarde te verderf en sy oorspronklike skoonheid te bederf, om nie eens te praat van die ongekende ellende wat hulle sy bewoners aangedoen het nie.—2 Petrus 3:13; Openbaring 11:18.
Die tyd vir die algemene opstanding van die mensdom is uiteraard nog iets toekomstigs. Maar die goeie nuus is dat dit nie ver is nie. Dit moet weliswaar vir die einde van hierdie teenswoordige bose stelsel van dinge wag. Maar daar is oorvloedige bewys dat die tyd vir die skielike begin van die “groot verdrukking” voor die deur is, wat sy klimaks sal bereik in “die groot dag van God die Almagtige”—wat gewoonlik Armageddon genoem word (Matteus 24:3-14, 21; Openbaring 16:14, 16). Dit sal lei tot die verwydering van alle goddeloosheid van hierdie pragtige planeet, Aarde. Dit sal gevolg word deur die Duisendjarige Heerskappy van Christus Jesus, wanneer die aarde geleidelik in ’n paradys omskep sal word.
Die Bybel openbaar dat die opstanding van die dooies gedurende hierdie Duisendjarige Heerskappy sal plaasvind. Dan sal die belofte vervul word wat Jesus gemaak het terwyl hy op die aarde was: “Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy stem sal hoor en sal uitkom . . . tot ’n opstanding.”—Johannes 5:28, 29.
Die uitwerking van die opstandingshoop
Wat ’n wonderlike toekomshoop is hierdie vooruitsig op ’n opstanding tog—’n tyd wanneer die dooies sal herlewe! Watter bemoediging is dit tog terwyl ons te kampe het met die ontberinge van veroudering, siekte, onvoorsiene rampe en droefheid, asook met bloot die daaglikse druk en probleme van die lewe! Dit neem die angel van die dood weg—hoewel dit nie droefheid heeltemal wegneem nie, skei dit ons van diegene wat geen toekomshoop het nie. Die apostel Paulus het hierdie vertroostende uitwerking van die opstandingshoop in hierdie woorde erken: “Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees aangaande dié wat in die dood slaap nie, sodat julle nie treur soos die res wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf en weer opgestaan het, so ook dat God dié wat ontslaap het deur Jesus saam met hom sal bring.”—1 Tessalonisense 4:13, 14.
Ons het dalk reeds die waarheid ondervind van nog ’n opmerking wat die Oosterse man Job gemaak het: “Die mens teer weg soos iets wat verrot is, soos ’n kledingstuk wat deur motte geëet is. Die mens wat uit ’n vrou gebore is, is kort van dae en vol probleme. Hy spruit uit soos ’n blom en kwyn weg; soos ’n verbygaande skaduwee bly bestaan hy nie” (Job 13:28–14:2, New International Version). Ons is ook bewus van die onsekerheid van die lewe en die droewige werklikheid dat “tyd en onvoorsiene gebeurtenis” enigeen van ons kan oorval (Prediker 9:11, NW). Dit is weliswaar so dat geeneen van ons dit geniet om aan die dood te dink nie. Maar die gewisse hoop van ’n opstanding help om die oorweldigende vrees vir die dood weg te neem.
Skep dus moed! Kyk verder as ’n moontlike slaap in die dood na ’n terugkeer tot lewe deur die wonderwerk van die opstanding. Sien vol vertroue uit na die vooruitsig van ’n eindelose lewe in die toekoms, en voeg hierby die vreugde dat ons weet so ’n geseënde tyd is voor die deur.