Beoefen geloof wat tot die ewige lewe lei
“[Ons het] geloof wat tot die lewensbehoud van die siel lei.”—HEBREËRS 10:39, “NW”.
1. Wat erken ’n Katolieke ensiklopedie oor die Bybel se gebruik van die woord “siel”?
DIE Bybel sê nêrens dat mense ’n onsterflike siel het wat na die dood van die liggaam bly leef en vir ewig in die geesteryk voortleef nie. Selfs die New Catholic Encyclopedia erken: “Die idee dat die siel na die dood voortleef, kan nie geredelik in die Bybel onderskei word nie. . . . Volgens die O[u] T[estament] is die siel nie ’n deel van die mens nie, maar die hele mens—die mens as ’n lewende wese. In die N[uwe] T[estament] beteken dit eweneens menselewe: die lewe van ’n individu.” Mense het dus nie siele nie, hulle is siele.
2. (a) Waar het die opvatting dat die siel onsterflik is, ontstaan? (b) Wat is die waarheid oor die mens se toestand na die dood?
2 Soos die vorige artikel getoon het, is die opvatting dat die siel onsterflik is ’n heidense konsep wat tot vroeë geskiedkundige tye teruggevoer kan word. Die bron daarvan is die een wat God se duidelike verklaring weerspreek het dat die mens ‘sekerlik sal sterwe’ as hy ongehoorsaam is (Genesis 2:17). Dit was die teenstander, Satan die Duiwel, wat gesê het: “Julle sal gewis nie sterwe nie” (Genesis 3:4). En dit was ’n leuen (Johannes 8:44). Later het Satan die leerstelling oor die onsterflikheid van die mensesiel bevorder. Maar die waarheid oor die mens se toestand na die dood is opgeteken in God se geïnspireerde Woord in Prediker 9:5: “Die dooies weet glad niks nie.”—Sien ook Romeine 5:12.
Die hoop op die ewige lewe
3. Oor watter hoop sê die Bybel baie?
3 Hoewel die Bybel duidelik toon dat daar nie so iets soos ’n onsterflike siel is nie, het dit baie te sê oor die ewige lewe. Die hoop op eindelose lewe was ’n grondleerstelling van Jesus. Hy het gesê: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Wat diegene betref wat geloof in God en Christus beoefen, het Jesus gesê: “Ek gee hulle die ewige lewe” (Johannes 10:28). Hy het met volkome vertroue gesê: “Wie in My glo, het die ewige lewe. . . . Hy [sal] lewe tot in ewigheid” (Johannes 6:47, 51). En hy het ook gesê: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16).
4. Wat het Jesus gesê oor die hoop op die toekoms?
4 Hoe sal die Bybel se belofte van ewige lewe verwesenlik word, aangesien daar geen onsterflike siel is wat na die dood voortleef nie? Jesus het meer informasie hieroor gegee toe hy Martha en Maria besoek het nadat hulle broer Lasarus gesterf het. Hy het vir Martha gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.” Hy het vir Martha gevra: “Glo jy dit?” Sy het geantwoord: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God.”—Johannes 11:25-27.
5, 6. Wat het die feit dat Jesus Lasarus weer lewend gemaak het, gedemonstreer?
5 Om te toon dat hy, as die Seun van God, krag gegee is om die dooies weer lewend te maak, het Jesus na Lasarus se graf gegaan. Lasarus was reeds vier dae dood, en sy liggaam het al begin ontbind. Nogtans “het [Jesus] met ’n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ’n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan” (Johannes 11:43, 44). Die dooie Lasarus is weer lewend gemaak!
6 Lasarus is nie uit die hemel of elders in die geesteryk teruggebring nie. Hy het nie na die geesteryk gegaan toe hy gesterf het nie, maar was in ’n onbewuste toestand in die graf, waar al die afgestorwenes is (Psalm 146:4; Johannes 3:13; Handelinge 2:34). Dit sal nie sin hê om te dink dat die onsterflike siel van Lasarus hemelse saligheid geniet het en dat daardie siel toe uit die hemel geruk is om met sy onvolmaakte liggaam op aarde herenig te word sodat dit weer eens in ’n wêreld vol lyding, siekte en die dood kon lewe nie. Maar aangesien hy nie in die hemel was nie, is sy opwekking tot die lewe verwelkom, want dit het beteken dat hy langer kon lewe en met sy geliefdes herenig is. Later sou hy weer sterf.
7, 8. (a) By watter ander geleenthede het Jesus die dooies opgewek? (b) Waarom het Jesus daardie wonderwerke om mense tot die lewe op te wek gedoen?
7 Toe Jesus ’n jong meisie opgewek het wat dood was, was haar ouers “buite hulleself van vreugde” (Markus 5:42, NW). Maar daardie meisie het ook uiteindelik weer gesterf. Toe Jesus die weduwee van Nain se dooie seun opgewek het, ‘het vrees almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik het’ (Lukas 7:16). Maar daardie man het ook uiteindelik gesterf. The New International Dictionary of New Testament Theology bevestig aangaande hierdie wonderwerke: “Diegene wat Christus in sy aardse bediening opgewek het, moes sterf, aangesien hierdie opstandings hulle nie onsterflik gemaak het nie.”
8 Waarom het Jesus hulle uit die dood opgewek? Nie om hulle op daardie tydstip die ewige lewe te gee nie, maar om te demonstreer dat hy die Messias is en om te toon watter krag God hom gegee het. Dit het geloof gebou in die hoop op die opstanding en die ewige lewe onder die toekomstige heerskappy van God se hemelse Koninkryk in die hande van Christus.—Mattheüs 6:9, 10; Johannes 11:41, 42.
9. Hoe het Martha en Paulus Jesus se leer oor die opstandingshoop reg verstaan?
9 Martha was weens haar vriendskap met Jesus bewus van hierdie hoop, want sy het vroeër aangaande Lasarus vir hom gesê: “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag” (Johannes 11:24). Sy het geweet dat die opstanding nie sou plaasvind op sy (Lasarus se) laaste dag nie, maar in die toekoms, “in die laaste dag”—die Oordeelsdag, wanneer die dooies onder God se Koninkryksheerskappy opgewek sal word. Die apostel Paulus het dit ook geweet, want hy het gesê: “[God het] ’n dag bepaal . . . waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel” (Handelinge 17:31). Paulus het ook gesê dat “daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:15). Hy het nie gesê dat die opstanding reeds besig was om plaas te vind nie, maar dat dit in die toekoms—onder Koninkryksheerskappy—“sal wees”.
10. Watter kommentaar lewer ’n Franse professor oor die Christendom se opvattings oor die opstanding vergeleke met die Bybel se duidelike leer?
10 In die boek Immortality of the Soul or Resurrection of the Dead? skryf Franse Protestantse professor Oscar Cullmann: “Daar is ’n radikale verskil tussen die Christelike hoop dat die dooies sal opstaan en die Griekse opvatting dat die siel onsterflik is. . . . Hoewel die Christelike godsdiens later ’n skakel tussen hierdie twee opvattings gevorm het en die deursnee-Christen hulle vandag geheel en al met mekaar verwar, sien ek geen rede om dit wat ek en die meeste geleerdes as die waarheid beskou te verberg nie. . . . Die lewe en denke van die Nuwe Testament word heeltemal oorheers deur geloof in die opstanding. . . . Die hele mens, wat werklik dood is, word deur ’n nuwe skeppingsdaad van God weer lewend gemaak.”
Opstanding—Waar?
11, 12. (a) Wat is God se voorneme met die mens en met hierdie aarde? (b) Hoe het Jesus getoon dat God se voorneme met die aarde nie verander het nie?
11 Toe God mense geskep het, het hy hulle die aarde as hulle ewige tuiste gegee en was dit sy voorneme om hierdie planeet met regverdige mense te vul (Genesis 1:26-28; Psalm 115:16). Die Bybel praat van Jehovah as “Hy . . . wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word”.—Jesaja 45:18.
12 Ondanks duisende jare van onvolmaaktheid en die dood sedert die mens se opstand, is dit steeds God se voorneme dat die aarde die mens se ewige tuiste moet wees: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheüs 5:5). Toe Jesus dooies dus weer lewend gemaak het, het hy hulle hier op die aarde opgewek, en ander het hulle onmiddellik herken as die persone wat dood was. Dit het bevestig dat die dooies onder Koninkryksheerskappy tot lewe op die aarde teruggebring sal word om die geleentheid te hê om vir ewig daarop te woon (Openbaring 20:12, 13). Dit sal ’n vervulling wees van God se voorneme met die mens en met die aarde.—Jesaja 46:9-11; 55:11; Titus 1:1, 2.
13. Voor watter dilemma staan die Christendom se kerke, en hoe probeer hulle dit oplos?
13 Maar aangesien die Christendom se kerke in die onsterflikheid van die siel glo, skep dit ’n dilemma vir hulle: Hoe kan hulle die opstanding van “die hele mens”, soos Jesus gedemonstreer het, versoen met hulle geloof in ’n onsterflike siel wat reeds in die hemel of in die hel bestaan? The Catholic Encyclopedia beweer: “Die Vierde Lateraanse Konsilie leer dat alle mense, hetsy uitverkore of veroordeel, ‘weer met hulle eie liggame wat hulle nou het, sal opstaan’.” Dit voeg by: “Aangesien die liggaam deel het aan die siel se misdade en deugde, eis die geregtigheid van God blykbaar dat die liggaam deel het aan die siel se straf en beloning.” Volgens hierdie opvatting sal die liggaam in die hemel of in die hel met die siel herenig word. Hoe lank? “Die verrese liggame van heiliges sowel as sondaars sal met onsterflikheid beklee word”, beweer daardie bron.
14. Hoe probeer ’n Jesuïeteskrywer die Christendom se beskouing oor die opstanding van die liggaam verduidelik?
14 In die boek The Future Life, deur Jesuïet J. C. Sasia, lees ons: “Die hemelse lewe behoort dus ook deur die verheerlikte sintuie [van die liggaam wat met die siel herenig is] geniet te word.” Wat liggame betref wat in die hel met hulle siele herenig word, beweer daardie bron: “In die hel, na die opstanding [van die liggaam], sal elke sintuig van die menseliggaam sy eie besondere straf ondergaan . . . Die tassintuig in die besonder sal gefolter word, omdat die veroordeeldes God veral deur die sondes van die vlees mishaag het. . . . Hulle assosiasie met hulle liggame sal vir hulle selfs meer foltering en ellende veroorsaak.”
15. Waarom is dit godslasterlik om te leer dat God mense vir ewig in die hel pynig?
15 Die aanvaarding van die heidense konsep van die onsterflikheid van die siel het dus vir die Christendom die deur oopgemaak om ook die heidense konsep te aanvaar van die verskriklike ewige foltering van siele—en selfs liggame—in die hel. Maar Jehovah het oor die eertydse gebruik om kinders as offerandes aan valse gode te verbrand, gesê: ‘Hulle het hulle seuns met vuur verbrand as brandoffers aan Baäl—iets wat Ek nie beveel of uitgespreek het nie, of wat in my hart nie opgekom het nie’ (Jeremia 19:5). Dit is dus godslasterlik om te leer dat God mense vir ewig pynig terwyl sy eie Woord duidelik toon dat onberouvolle oortreders vernietig sal word, nie meer sal bestaan nie. “Elke siel wat nie na dié Profeet [Jesus] luister nie, sal . . . uitgeroei word.”—Handelinge 3:23; sien ook Mattheüs 10:28; Lukas 17:27; Johannes 3:16; 2 Petrus 2:12; Judas 5.
Onsterflikheid
16. Wat leer die Bybel oor onsterflikheid?
16 Maar leer die Bybel nie dat mense hemel toe geneem sal word om daar onsterflike lewens te lei nie? Ja. Maar dit het niks te doen met onsterflike mensesiele nie. Onsterflikheid word verkry wanneer iemand as ’n geesskepsel opgewek word (soos Jesus opgewek is) en nie omdat hy ’n onsterflike siel het wat na die dood voortleef nie. Die toekomstige beloning van onsterflikheid is in die vooruitsig gestel vir sommige mense wat soos Christus getrou is en sou eers verwesenlik word wanneer Christus Koninkryksmag in die hemel verkry, nie onmiddellik nadat Christus in die eerste eeu na die hemel opgevaar het nie.—Psalm 110:1; 1 Korinthiërs 15:53, 54.
17. Hoeveel mense sal onsterflikheid verkry, en watter rol speel hulle in God se voorneme met die aarde?
17 Verder is daardie hoop aan betreklik min mense voorgehou. Jesus het hulle ’n “klein kuddetjie” genoem (Lukas 12:32). Hierdie groep, 144 000 in getal, word as onsterflike geesskepsele tot hemelse lewe opgewek om saam met Christus in sy hemelse Koninkryk oor die aarde te heers (2 Petrus 3:13; Openbaring 7:4; 14:1, 4; 20:4). Die aarde waaroor hulle heers, sal mettertyd deur volmaakte mense, ongetwyfeld duisendmiljoene van hulle, bewoon word. Baie van daardie mense sal diegene wees wat in die ‘opstanding van die regverdiges sowel as onregverdiges’ na die aarde terugkeer (Handelinge 24:15). Maar benewens diegene wat uit die dood opgewek word, sal daar ander wees wat lewe in die nuwe wêreld sal kry. Wie is hierdie ander?
‘Nooit sterwe nie’
18. Watter verstommende ding het Jesus voorspel benewens die hoop op die opstanding vir dooie mense?
18 Hoewel die gewisse hoop vir dooie mense die opstanding is, is daar in ons tyd ’n ander wonderlike hoop. Dit hou verband met wat Jesus verder vir Martha vertel het. Nadat hy gesê het: “Wie in my glo, sal lewe [in die opstanding] al het hy ook gesterwe”, het Jesus bygevoeg: “En elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” (Johannes 11:25, 26). In hierdie laaste verklaring het Jesus iets verstommends voorspel: Daar sal ’n tyd kom wanneer mense wat lewe nie meer hoef te sterf nie! Maar wanneer sal dit wees?
19. (a) Gedurende watter tydperk sal die hoop om nooit te sterf nie verwesenlik word? (b) Hoe beskryf die Bybel diegene wat die hoop het om nooit te sterf nie?
19 Nou—ons dag—is die tyd wanneer daardie belofte verwesenlik sal word! Al die bewyse toon dat ons baie na aan die einde van hierdie bose wêreld is (Mattheüs 24:3-14; 2 Timotheüs 3:1-5, 13). Mense wat vandag geloof in God en in sy Seun beoefen, het dus die wonderlike hoop om hierdie stelsel se einde te oorlewe en om in God se nuwe wêreld voort te leef—sonder om ooit te sterf! Openbaring 7:9, 14 praat van hulle as “’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale . . . [wat] uit die groot verdrukking kom” en deur God gespaar is omdat hulle geloof beoefen het. Jesus het van die komende einde van hierdie huidige bose stelsel gepraat as ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie”.—Mattheüs 24:21; sien ook Spreuke 2:21, 22; Psalm 37:10, 11, 34.
20, 21. Hoe beoefen miljoene vandag geloof in God en Christus, en wat sal baie van hulle nie nodig hê nie?
20 Oor die hele wêreld beoefen miljoene van die groot menigte wat vir ewig op aarde wil lewe reeds geloof in God se beloftes en in die een aan wie hy mag gegee het om “die opstanding en die lewe” te wees, Jesus Christus. En hulle het hulle aan God toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer (Mattheüs 28:19). Hulle erken dat hulle hul redding geheel en al te danke het aan “God wat op die troon sit, en aan die Lam”, Jesus Christus.—Openbaring 7:10.
21 Die lede van die groot menigte wat hierdie wêreld se einde oorlewe, sal nie ’n opstanding uit die dood nodig hê nie, omdat hulle ‘nooit sal sterwe tot in ewigheid nie’! Doen jy stappe om ’n lid van hierdie groep te wees? Indien wel, wag daar ’n verstommende, unieke voorreg op jou—die voorreg om die einde van Satan se bose stelsel te oorlewe en om in ’n regverdige nuwe era ingelei te word wat vir jou volmaakte gesondheid en ewige lewe op ’n paradysaarde sal bring! (Lukas 23:43, NW; Openbaring 21:4, 5). As jy leer wat God se wil is en daarin volhard om dit te doen, toon jy dat jy ‘nie van die soort is wat terugdeins tot vernietiging nie’. Jy kan ook “geloof [hê] wat tot die lewensbehoud van die siel lei”.—Hebreërs 10:39, NW; 1 Johannes 2:15-17; Openbaring 7:15.
Vrae ter hersiening
◻ Wat is die ware hoop vir die dode?
◻ Waarom is die Christendom se opvatting oor die opstanding van die liggaam ’n belediging vir God?
◻ Wat leer die Bybel oor onsterflikheid?
◻ Watter verstommende hoop kan mense vandag hê?